Читать книгу Infanta - Деон Мейер - Страница 10

7

Оглавление

Hy ry met die bakkie Kaap toe, want die motorfiets sal te opsigtelik wees. Sy tas is langs hom op die sitplek. Van Port Elizabeth na Knysna. Hy sien die berge en die woude en hy wonder, soos altyd, hoe dit gelyk het ’n duisend jaar gelede, toe hier nog net Khoi en San was en die olifante in die digte bos getrompetter het. Anderkant George sit die huise van die rykes soos bonkige bosluise teen die duine, in stille mededinging om vasbytplek vir ’n beter see-uitsig te kry. Groot huise, heeljaar deur leeg, om dalk in Desember gevul te word vir ’n maand. Hy dink aan mevrou Ramphele se sinkkaia op die verskroeide vlakte buite Umtata, vyf mense in twee vertrekke, en hy weet die verskille in dié land is te groot.

Maar dit sal nooit groot genoeg wees om die dood van ’n kind te regverdig nie. Hy wonder of Khoza en Ramphele hier verby is, of hulle dié pad gery het.

Mosselbaai, verby Swellendam en oor die Breede, Caledon en eindelik, laat in die middag, kom hy oor Sir Lowrys. Die Kaap lê uitgestrek daar ver onder en die son skyn in sy oë waar dit laag oor Tafelberg hang. Hy voel geen blydskap oor die terugkeer nie, want die herinneringe wat dié plek bring, lê nou ongemaklik in hom.

Hy ry Parow toe. Daar is ’n hotelletjie in Voortrekkerweg wat hy kan onthou, die New President, waar almal bly wat anoniem wil wees, ongeag jou ras of kleur.

Dit is waar hy sal begin.

* * *

Griessel staan voor die Ernstige en Geweldsmisdaadeenheid se gebou in Bishop Lavis en oorweeg die moontlikhede.

Hy kan die tas uit die kattebak haal en dit verby Mavis by ontvangs sleep, om die hoek en in die gang af tot by een van die groot badkamers wat behoue gebly het toe die ou Polisiekollege die nuwe EGM-kantore geword het. Sodat hy kan gaan stort en sy tande borsel en die stoppelbaard in die gebleikte spieël gaan afkrap en skoon klere aantrek. Maar dan gaan elke fokken poliesman in die Skiereiland binne ’n halfuur weet Bennie Griessel is deur sy vrou uit die huis uit gegooi. Dit is hoe dit werk in die Mag.

Of hy kan nét so, onwelriekend en verkreukel, instap na sy kantoor toe en sê hy het die hele nag deur gewerk, maar dit is ’n storie wat net tydelik die skyn sal bewaar.

Daar is ’n bottel Jack in sy lessenaar se laai en drie pakkies Clorets – twee slukke vir die senuwees, twee Clorets vir die asem en hy’s reg soos ’n roer. Here, om die dik, bruin vloeistof oor sy keel te voel afgly, al die pad hemel toe. Hy stamp die kattebak toe. Fok die stort, hy weet wat hy nodig het.

Hy stap haastig, skielik lighartig. Fok jou, Anna. Sy kan dit nie doen nie, hy sal ’n fokken prokureur gaan sien, een soos Kemp wat nie kak vat van mens of dier nie. Hy’s die fokken broodwinner, dronkgat en al, hoe kan sy hom uitgooi, hy het vir daardie huis betaal, elke meubelstuk. Hy groet vir Mavis, gaan om die hoek, op met die trappe, delf in sy broeksak vir die sleutel. Sy hand bewe. Hy kry die deur oop, maak dit agter hom toe, loop om, trek die onderste laai oop, lig die strafproseshandleiding op en voel die koue glas van die bottel. Hy haal dit uit, skroefdop af, tyd vir ’n smeerdiens, die olieliggie brand al rooi. Hy grynslag vir sy skerpheid en dan gaan sy deur oop en Mat Joubert staan daar met ’n afkeurende trek op sy gesig.

“Bennie.”

Hy staan net so, die bottel se bek vyftien sentimeter weg van verligting.

“Fok, Mat.”

Joubert maak die deur agter hom toe. “Bêre die gemors, Bennie.”

Hy beweeg nie, kan nie sy slegte geluk glo nie. So fokken naby.

“Bennie!”

Die bottel bewe, soos sy hele lyf. “Ek kan nie help nie,” sê hy sag. Hy kan nie vir Joubert in die oë kyk nie. Die senior superintendent kom staan hier by hom, neem die bottel uit sy hand. Hy laat dit onwillig los.

“Gee my die prop.”

Hy oorhandig dit plegtig.

“Sit, Bennie.”

Hy gaan sit en Joubert stamp die bottel op die lessenaar neer, leun sy groot lyf terug teen die lessenaar, bene reguit, arms gevou.

“Wat gaan aan met jou?”

Wat help dit hy sê enigiets?

“Nou’s jy ’n vroueslaner én ’n oggendsuiper?”

Sy het vir Joubert gebel. Om hom uit te skop was nie genoeg nie – Anna moes hom ook professioneel verneder.

“Jissis,” sê hy met gevoel.

“Jissis wát, Bennie?”

“Ag fok, Mat, wat help dit ek sê enigiets? Wat help dit? Ek’s ’n fokop. Jý weet dit en Ánna weet dit en ék weet dit. Wat is daar nog oor om te sê? Ek’s jammer ek leef?” Hy wag vir die een of ander reaksie, maar dit kom nie. Die stilte hang in die vertrek, tot hy moet weet of hy dalk simpatie gaan kry en versigtig opkyk en sy bevelvoerder se uitdrukkinglose gesig sien. Joubert se oë vernou stadig en ’n rooi gloed versprei oor sy gelaat en hy weet die baas is die bliksem in en hy retireer. Joubert gryp hom woordeloos, ruk hom aan sy arm en nek uit die stoel op, druk hom deur toe.

“Mat,” sê hy, “jissis, wat nou?” Hy voel die aansienlike krag in die greep.

“Bly stil, Bennie,” sis Joubert en stuur hom af met die trappe, hul voeteval hard op die kaal oppervlak. Verby Mavis deur die voorportaal, Joubert se hand swaar in sy blaaie. Dan is hulle buite, in die skerp sonlig. Nog nooit het Joubert hardhandig met hom geraak nie. Hul skoene knars oor die parkeerterrein, na die senior superintendent se motor toe. Hy sê weer “Mat”, want daar is ’n drukking hier op sy binnegoed. Dié humeur was nog nooit op hom gerig nie. Joubert reageer nie. Hy pluk die motordeur oop, sy groot hand hier agter op Griessel se nek, druk hom in, die deur klap toe.

Joubert klim aan die bestuurderskant in en draai die sleutel. Hulle vlieg weg met skreeuende bande en dit is asof dié geluid ’n stortvloed van woede in Joubert losmaak. “’n Martelgat,” spoeg hy uit met absolute afkeer. “Ek vang jou met ’n fokken bottel in die hand en dis die beste wat jy kan doen? Martelgat gooi? Jy suip en jy moer vrouens en al wat ek sien, is selfbejammering. Bennie, die fok weet, dit is nie goed genoeg nie. Veertien jaar, veertien fokken jaar wat ek saam met jou werk en ek het nog nooit ’n mens gesien wat sy eie lewe so totaal en al kan opfok sonder enige hulp van buite nie. Jy moes ’n fokken direkteur gewees het, en waar sit jy, Bennie? Drie en veertig en jy’s ’n inspekteur met ’n dors so groot soos die Sahara en jy slaan jou vrou en jy trek jou skouertjies op en sê ‘ek kan nie help nie, Mat’. Jy fokken slaan jou vrou? Waar kom dit vandaan? Van wanneer af?” Joubert se hande praat saam en speeksel spat teen die voorste ruit en die enjin brul teen te hoë revolusies. “Jy’s jammer jy fokken leef?”

Hulle ry Voortrekkerweg se kant toe. Griessel staar voor hom uit. Hy voel weer die Jack in sy hand, die smagting binne.

Toe daar ’n stilte kom, sê hy: “Dit was gisteraand die eerste keer.”

“Die eerste keer? Is dit ’n fokken verskoning? Maak dit alles reg? Jy’s ’n poliesman, Bennie. Jy weet dit is nie ’n argument se gat nie. En jy lieg. Sy sê dit dreig al maande. Drie weke gelede het jy haar rondgestamp, maar jy was te dronk om dit ordentlik te doen. En die kinders, Bennie? Wat doen jy aan hulle? Jou twee kinders wat moet sien hoe hulle dronk pa moederloos by die huis kom en hulle ma aanrand. Ek moet jou toesluit saam met die skuim, sy moet ’n fokken saak teen jou maak, maar al wat dit gaan regkry, is om nog skade aan die kinders te doen. En wat doen jy? Sy gooi jou uit en jy hardloop bottel toe. Dis net drank, Bennie, dis al waaraan jy dink. En aan jouself. Wat de fok gaan aan daar binne in jou kop? Wat het van jou verstand geword?”

Vir ’n oomblik wil hy antwoord, wil hy skree: “Ek weet nie, ek weet nie, ek wil nie so wees nie, ek weet nie hoe ek hier gekom het nie, los my uit!” Want hy ken dié vrae, en hy ken die antwoorde – dit is alles nutteloos, dit maak nie ’n verskil nie. Hy bly net stil.

In Voortrekkerweg is die verkeer druk, die verkeerslig rooi. Joubert gee die stuurwiel ’n dwarsklap uit frustrasie en Griessel wonder waarheen hulle gaan. Sanatorium toe? Dit sal nie die eerste keer wees dat Joubert hom daar aflaai nie.

Die senior superintendent blaas sy asem luid uit.

“Weet jy waaraan dink ek, Bennie? Die hele tyd.” Die stem is nou sagter. “Aan die ou wat my vriend was. Die sersantjie wat hier aangekom het uit Parow uit, groen en voortvarend, die ou wat die hele klomp windgat-speurders by Moord-en-Roof kom wys het hoe jy polisiewerk doen. Die outjie van Parow – waar is hy, waarheen is hy? Daardie een wat gelag het en vir alles ’n slim antwoord gehad het. En ’n legende was. Fok, Bennie, jy was goed, jy het alles gehad. Jy het instink gehad, jy het aansien gehad. Jy het ’n toekoms gehad. En jy het dit doodgedrink. Doodge-fokken-drink.”

Stilte.

“Drie en veertig,” sê Joubert en dis asof hy van voor af kwaad word. Hy vleg tussen die motors voor hom deur.

Nog ’n verkeerslig.

“En jy’s nog ’n fokken kind.”

En dan is dit stil in die kar. Griessel kyk nie meer waarheen hulle ry nie, hy dink aan die bottel wat so naby aan sy mond was en niemand sal verstaan nie, jy moet daar wees waar hý al was. Jy moet die behoefte ken. Joubert het ook gedrink in die ou dae, hard gekuier, maar hy ken nie dié plek nie. Hy weet nie en daarom verstaan hy nie en wanneer hy weer uitkyk, is hulle in Bellville, Carl Cronjéstraat.

Joubert draai af. Hy ry nou kalmer. Daar is ’n park, bome en gras en ’n paar banke. Hy hou stil. “Kom, Bennie,” sê hy en klim uit.

Wat maak hulle hier? Hy maak die deur langsaam oop.

Joubert loop vooruit. Waarheen gaan hy – gaan hy hom bliksem hier tussen die bome? Wat gaan dit help? Die verkeer op die N1 hier bo dreun en sis, maar niemand sal iets sien nie. Hy loop onwillig agterna.

Joubert gaan staan tussen die bome, wys met ’n voorvinger. Wanneer Griessel langs hom kom, sien hy die figuur op die grond.

“Ken jy hom, Bennie?”

Onder koerante en kartonne en ’n onmoontlik smerige kombers beweeg die figuur toe hy die stem hoor. Die vuil gesig draai na bo, baie baard en hare en klein potblou ogies, diep in hul kasse.

“Ken jy hom?”

“Dis Swart Piet,” sê Griessel.

“Hei,” sê Swart Piet.

“Nee,” sê Joubert. “Hier lê Bennie Griessel.”

“Gaan julle my moer?” vra die man. ’n Shoprite-winkeltrollie staan agter sy nes geparkeer. Daar is ’n stukkende stofsuier in.

“Nee,” sê Joubert.

Swart Piet kyk skeef na die groot man voor hom. “Ken ek jou?”

“So lyk jy, Bennie. Oor ses maande. Oor ’n jaar.”

Die man steek ’n bakhand na hulle uit. “Het jy tien rand?”

“Vir wat?”

“Brood.”

“Die vloeibare weergawe,” sê Joubert.

“Jy’s seker met die helmet gebore,” sê die man en lag met ’n tandlose kekkel.

“Waar’s jou vrou en kinders, Swart Piet?”

“Long time ago. Net ’n rand? Of vyf?”

“Sê vir hom, Piet. Sê vir hom watse werk jy gedoen het.”

“Breinchirurg. What does it matter?”

“Is dít wat jy wil hê?” Joubert kyk na Griessel. “Is dít wat jy wil wees?”

Griessel kry niks om te sê nie. Hy sien net Swart Piet se hand, ’n bevlekte klou.

Joubert draai om en stap terug motor toe.

“Hei,” sê die man. “Wat is sy storie?”

Griessel kyk na Joubert se rug toe hy wegstap. Hy wou hom nie bliksem nie. Al die pad uitgery hiernatoe vir ’n kinderlike sedeles. Vir ’n oomblik het hy die groot man lief. Dan snap hy iets anders, draai om en vra: “Was jy ’n poliesman?”

“Lyk ek vir jou na ’n doos?”

“Wat was jy?”

“Health inspector in Milnerton.”

“Health inspector?”

“Help ’n honger man, pêl. Twee rand.”

“’n Health inspector,” sê Griessel. Hy voel die kwaad binne ontplof.

“O fok,” sê Swart Piet. “Is jy die ou van die Saddles steakhouse?”

Griessel draai om, agter Joubert aan. “Hy was ’n gesondheidsinspekteur,” skree hy en loop, doelgerig.

“Okay, ’n rand, pêl. Wat is ’n rand tussen vriende?”

Die senior superintendent sit al agter die stuur.

Griessel draf nou. “Jy kan dit nie doen nie,” skree hy. Tot by die venster. “Jy wil my vergelyk met ’n fokken gesondheidsinspekteur?”

“Nee. Met ’n fokop wat nie kan ophou drink nie.”

“Het jy hom gevra hoekom hy drink, Mat? Het jy hom gevra?”

“Vir hom maak dit nie meer saak nie.”

“Fok jou,” sê Griessel, die moegheid en die dranklus en die vernedering wat saamspan. “Ek laat my nie vergelyk met ’n kakkerlakkyker nie. Hoeveel lyke moes hy al omdraai? Hoeveel? Sê my. Hoeveel kindermoorde? Hoeveel vroue en ou tannies wat doodgebliksem is vir ’n selfoon of ’n twintigrand-ring? Jy soek die ou Bennie? Jy soek die fokker uit Parow wat vir niks geskrik het nie? Ék soek hom ook. Elke dag, elke oggend as ek opstaan, soek ek hom. Want hy het minstens geweet hy is aan die regte kant. Hy het gedink hy maak ’n verskil. Hy het geglo as hy lank genoeg en hard genoeg werk, sal ons wen, die een of ander tyd, fok die range en fok die bevordering, geregtigheid sal seëvier en dit is al wat saak maak, ons is die goeie ouens. Die ou van Parow is dood, Mat. Soos ’n drol. En hoekom? Wat het gebeur? Wat gebeur nou? Dis ’n fokken oormag. Ons wen nie, ons verloor. Húlle word meer en óns word minder. Wat help dit? Wat help al die ure en die moeilikheid? Is ons beloon? Is vir ons dankie gesê? Hoe harder ons werk, hoe meer kak almal op ons. Kyk hier. Dis ’n wit vel dié. Wat beteken dit? Ses en twintig jaar in die Mag en dit beteken fokkol. Dis nie die drank nie – ek is nie ’n inspekteurtjie oor die drank nie. Jy weet dit. Affirmative action. My hele fokken lewe gegee, al daai kak gevat en die affirmative action hou nie op nie. Tien jaar nou al. Het ek geloop, soos De Kok en Rens en Jan Broekman? Kyk waar sit hulle, sekuriteitsfirma en hulle maak geld soos bossies en ry BMW’s en hulle is elke middag vyfuur by die huis. En waar is ek? ’n Honderd oop dossiere en my vrou gooi my uit en ek is ’n alkoholis … Maar ek is nog fokken hiér, Mat. Ek het nie gefokken dros nie.”

En dan is sy brandstof op en hy gaan leun teen die motor aan, sy kop op sy bors.

“Ek is nog fokken hiér.”

“Hei,” skree Swart Piet van tussen die bome.

“Bennie,” sê Joubert sag.

Hy kyk stadig op. “Wat?”

“Kom ons ry.”

“Hei!”

Toe hy omloop na die ander deur toe, kom die man se stem helder en hoog: “Hei, julle! Fok julle!”

Infanta

Подняться наверх