Читать книгу Infanta - Деон Мейер - Страница 8

5

Оглавление

Speurder-inspekteur Bennie Griessel maak sy oë oop en sy vrou staan hier oor hom, met een hand wat sy skouer skud, haar stem ’n dringende fluister: “Bennie,” sê sy. “Bennie, asseblief.”

Hy lê op die bank in die sitkamer, dit weet hy. Hy moes hier aan die slaap geraak het. Hy ruik koffie, sy kop dik en seer, een arm onder hom, sonder gevoel, die bloedsomloop afgesny deur die gewig van sy lyf.

“Ons moet praat, Bennie.”

Hy kreun, probeer regop sit.

“Ek het vir jou koffie gebring.”

Hy sien haar, die diep lyne op haar gesig. Sy staan steeds gebukkend oor hom.

“Hoe laat is dit?” Sy woorde sukkel om sy stembande te vind.

“Dit is vyfuur, Bennie.” Sy gaan sit hier langs hom op die rusbank. “Drink die koffie.”

Hy moet dit met sy linkerhand vat. Die beker is warm teen sy palm.

“Dis vroeg,” sê hy.

“Ek wil met jou praat voor die kinders wakker word.”

Die boodskap van haar stemtoon en woorde dring tot hom deur. Hy skuif regop en die koffie stort op sy klere – hy het nog gister s’n aan. “Wat het ek gedoen?”

Sy wys met haar vinger oor die oopplanvertrek. Die bottel Jack Daniel’s staan op die eetkamertafel langs sy onaangeraakte bord gekookte kos. Die asbak loop oor en ’n glas lê stukkend langs die omgekeerde kroegstoele by die ontbyttoonbank.

Hy sluk aan die koffie. Dit brand sy mond, maar dit neem die siek smaak van die nag weg. “Ek is jammer,” sê hy.

“Jammer is nie meer goed genoeg nie,” sê sy.

“Anna …”

“Nee, Bennie, ek kan nie meer nie. Ek kan nie meer nie.” Haar stemtoon is sonder infleksie.

“Here, Anna.” Hy steek sy hand na haar toe uit, sien hoe dit bewe, die dronkenskap nog nie uit sy lyf uit nie. Toe hy aan haar skouer wil vat, beweeg sy weg van sy aanraking en dan sien hy die klein swelsel aan haar mond, reeds besig om wynrooi te verkleur.

“Dis klaar. Sewentien jaar. Dis genoeg. Dis meer as wat enigiemand kan vra.”

“Anna, ek … dit was die drank, jy weet ek het dit nie bedoel nie. Asseblief, jy weet dis nie ék nie.”

“Jou seun het jou gisteraand van daardie stoel af gehelp, Bennie. Kan jy dit onthou? Weet jy wat jy vir hom gesê het? Kan jy onthou hoe jy gevloek en geskel het, tot jou oë omgedop het? Nee, Bennie, jy kan nie – jy kan nooit onthou nie. Weet jy wat hy vir jou gesê het, jou seun? Toe jy daar lê met jou oop mond en jou stink asem? Weet jy?” Die huil lê vlak, maar sy onderdruk dit.

“Wat het hy gesê?”

“Hy het gesê hy haat jou.”

Hy neem dit in. “En Carla?”

“Carla het haarself in haar kamer toegesluit.”

“Ek sal met hulle praat, Anna, ek sal regmaak. Hulle weet dit is die werk. Hulle weet ek is anders …”

“Nee, Bennie.”

Hy hoor die finaliteit en sy hart trek saam. “Anna, asseblief.”

Sy kyk nie na hom nie. Haar vinger trek die swelsel teen haar mond na en sy praat weg van hom af. “Dis wat ek elke keer vir hulle sê: dis die werk. Hy’s ’n goeie pa, dis net sy werk, julle moet verstaan. Maar ek glo dit nie meer nie. Húlle glo dit nie meer nie … Want dit is jy, Bennie. Dit is jy. Daar’s ander polisiemanne wat elke dag deur dieselfde ding gaan, maar hulle suip nie. Hulle vloek nie en hulle skel nie en hulle breek nie goed nie en slaan nie vrouens nie. Nou is dit klaar. Nou is dit heeltemal klaar.”

“Ek sal ophou, Anna, jy weet ek hét al. Ek kán. Jy weet ek kan.”

“Vir ses weke? Dit is jou rekord. Ses weke. My kinders het meer as dit nodig. Hulle verdien meer as dit. Ék verdien beter as dit.”

“Óns kinders …”

“’n Dronk man kan nie ’n pa wees nie.”

Die selfbejammering oorval hom. Die vrees. “Ek kan nie help nie, Anna. Ek kan dit nie help nie, ek is swak, ek het jou nodig. Asseblief, ek het julle nodig – ek kan nie sonder julle nie.”

“Ons het jou nie meer nodig nie, Bennie.” Sy staan op en dan sien hy die twee tasse wat agter haar op die vloer staan.

“Jy kan nie. Dis my huis hierdie.” Smekend.

“Wil jy hê ons moet op straat gaan sit? Want dit is óf jy óf ons. Jy moet kies, want ons bly nie meer onder een dak saam nie. Jy het ses maande, Bennie – dis wat ons jou gee. Ses maande om te kies tussen ons en die drank. As jy kan droog bly, kan jy terugkom, maar dit is jou laaste kans. Jy kan Sondae die kinders sien, as jy wil. Jy sal kom klop by die deur en as jy na drank ruik, sluit ek dit in jou gesig. As jy dronk is, hoef jy nie eens terug te kom nie.”

“Anna …” Hy voel hoe die trane in hom opwel. Sy kan dit nie doen nie, sy weet nie hoe verskriklik moeilik dit is nie.

“Spaar my dit, Bennie, ek ken elke een van jou truuks. Moet ek jou tasse buitetoe dra, of gaan jy hulle self vat?”

“Ek moet bad, ek moet eers was, ek kan nie só hier uitgaan nie.”

“Dan dra ek hulle self,” sê sy en neem ’n tas in elke hand.

* * *

Daar is ’n vae wanhoop in die speurder se kantoor. Dossiere lê in deurmekaar stapels, die karige meubels is afgeleef en die verouderde plakkate teen die muur maak hol aansprake oor misdaadbekamping. ’n Portret van Mbeki hang skeef in ’n goedkoop, dun raam. Die vloerteëls is kleurloos grys. In een hoek staan ’n stukkende waaier – stofdeeltjies het saamgepak aan die metaalrooster voor die lemme.

Oor alles hang ’n bedompigheid, ’n bedrukte reuk van mislukking. Tobela sit op ’n staalstoel met grysblou stoffering waarvan die spons geel by ’n hoek uitpeul. Die speurder staan met sy rug teen die muur. Hy kyk deur ’n vuil venster uit op die parkeerterrein. Hy het smal hangskouers en daar is grys kolle in sy kennebaard.

“Ek gee dit vir Misdaadintelligensie by die provinsiale hoofkantoor. Hulle sit dit op die nasionale databasis. Dis hoe dit werk.”

“’n Databasis van voortvlugtiges?”

“Jy kan maar so sê.”

“Hoe groot is dié databasis?”

“Groot.”

“En hulle name sit net daar op ’n rekenaar?”

Die speurder sug. “Nee, meneer Mpayipheli – die foto’s, misdaadrekords, die name en adresse van familie en kontakte is deel van die dossier. Dit word alles saamgestuur en versprei. Ons volg op wat ons kan opvolg. Khoza het mense in die Kaap. Ramphele se ma is hier in Umtata. Hulle sal besoek word …”

“Gaan jy Kaap toe?”

“Nee. Die polisie in die Kaap sal navrae rig.”

“Wat beteken ‘navrae rig’?”

“Iemand sal gaan vra, meneer Mpayipheli, of Khoza se familie iets van hom gehoor het.”

“En dan sê hulle ‘nee’ en dan gebeur daar niks?”

Weer ’n sug, dieper, gelate. “Daar is realiteite waaraan ek en jy nie kan verander nie.”

“Dit is wat baie swart mense van apartheid ook gesê het.”

“Ek dink darem daar’s ’n verskil hier.”

“Sê my net, wat is die kanse? Dat julle hulle gaan vang?”

Die speurder kom weg van die muur af, stadig. Hy trek ’n stoel voor hom uit en gaan sit, sy hande saamgevou. Hy praat langsaam, soos iemand met ’n groot moegheid. “Ek kan vir jou sê die kanse is goed, maar jy moet dit reg verstaan. Khoza het ’n vorige veroordeling – hy wás al binne, agttien maande gedoen vir huisbraak. Toe die gewapende roof by die garage, die skietery … en nou die ontsnapping. Daar is ’n patroon. ’n Spiraal. Mense soos hy hou nie op nie, die misdade raak net meer ernstig. En daarom is die kanse goed. Ek kan nie vir jou sê ons gaan hulle nóú vang nie. Ek kan nie vir jou sê wánneer ons hulle gaan vang nie. Maar ons sál, want hulle sal nie uit die moeilikheid bly nie.”

“Hoe lank, dink jy?”

“Ek sal self nie kan sê nie.”

“Skat.”

Die speurder skud sy kop. “Ek weet nie. Nege maande? ’n Jaar?”

“Ek kan nie só lank wag nie.”

“Ek is jammer vir jou verlies, meneer Mpayipheli. Ek verstaan hoe jy voel. Maar jy moet onthou, jy is maar een slagoffer van baie. Kyk hoe lê die dossiere hier. Daar’s ’n slagoffer in elke een. En al gaan praat jy tot by die PK, dit gaan nie ’n verskil maak nie.”

“Die PK?”

“Provinsiale Kommissaris.”

“Ek wil nie met die Provinsiale Kommissaris gaan praat nie. Ek praat met jóú.”

“En ek het vir jou gesê hoe dit is.”

Hy wys na die dokument op die tafel en sê sag: “Ek soek ’n afskrif van die dossier.”

Die speurder reageer nie dadelik nie. ’n Frons begin stadig oor sy voorkop keep, moontlikhede ontvou.

“Ek mag nie.”

Tobela knik sy kop met begrip. “Hoeveel?”

Die oë wat metend op hom rus, wat ’n bedrag probeer aflei. Die speurder trek sy skouers reguit. “Vyfduisend.”

“Dis te veel,” sê hy en staan op, begin deur toe stap.

“Drie.”

“Vyfhonderd.”

“Dis my werk wat in gedrang is. Nie vir vyfhonderd rand nie.”

“Niemand sal ooit weet nie. Jou werk is veilig. Sewe-vyftig.”

“’n Duisend,” sê hy hoopvol.

Tobela draai om. “’n Duisend. Hoe lank gaan dit vir jou vat om dit te dupliseer?”

“Ek sal dit vanaand moet doen. Kom môre.”

“Nee, vanaand.”

Die speurder kyk na hom, die oë nie meer heeltemal so moeg nie. “Hoekom so haastig?”

“Waar ontmoet ek jou?”

* * *

Die armoede is verskriklik hier. Huisies van plank en sink, die reuk van verval en onverwyderde vullis. Hitte slaan verlammend uit die stof op.

Mevrou Ramphele jaag vier kinders – twee tieners, twee kleuters – uit die kaia en sy vra hom om te sit. Dit is netjies binne, skoon, maar warm, sodat die sweet sy hemp in groot sirkels vlek. Daar is skoolboeke op ’n tafeltjie, foto’s van kinders teen die lendelam kas.

Sy dink hy is polisie en hy laat dit so en sy maak verskoning vir haar seun, sy sê hy was nie so nie, hy was ’n goeie kind, hy is deur Khoza verlei en dít is so maklik hier, waar niemand niks het nie en daar geen hoop is nie. Andrew het gaan werk soek, tot in die Kaap, hy het standerd agt gedoen en toe het hy gesê hy kan nie dat sy ma so sukkel nie, hy kan later probeer skool klaarmaak. Daar was nie werk nie. Niks. Oos-Londen, Uitenhage, Port Elizabeth, Jeffreysbaai, Knysna, George, Mosselbaai, Kaapstad … Te veel mense en te min werk. Hy het nou en dan ’n geldjie gestuur, sy weet nie waar dit vandaan kom nie, sy kan maar net hoop dit was nie van misdaad nie.

Weet sy waarheen Andrew nou sal gaan? Ken hy mense in die Kaap?

Nie waarvan sy weet nie.

Was hy hier?

Sy kyk hom in die oë en sy sê nee en hy wonder hoeveel van enigiets wat sy gesê het die waarheid is.

* * *

Hulle het die grafsteen kom opsit.

Pakamile Nzululwazi. Seun van Miriam Nzululwazi. Seun van Tobela Mpayipheli. 1996 – 2004. Rus in vrede.

’n Eenvoudige steen uit graniet en marmer tussen die groen gras by die rivier. Hy staan teen die peperboom en dink dit was die kind se gunstelingplek. Hy het hom soms deur die kombuisvenster dopgehou en die klein lyfie hier afgeëts gesien sit, op sy hurke, soms net starend na die bruin water wat stadig verbyvloei. Soms met ’n stok in die hand, besig om patrone en letters in die sand te maak – dan het hy gewonder waar Pakamile se gedagtes is. En die moontlikheid dat dit by sy ma is, het hom groot pyn besorg, want dit was nie iets wat hy kon wegvat nie, dit was nie ’n seer wat hy kon gesond maak nie.

Hy het soms probeer om daaroor te praat, maar versigtig, want hy wou nie die ou wond doelbewus oopkrap nie. Dan het hy gevra: “Hoe gaan dit met jou, Pakamile?” En: “Is daar iets wat jou pla?” En: “Is jy gelukkig?”

Dan het die seun met sy natuurlike blymoedigheid gesê dit gaan goed, hy is so baie gelukkig, want hy het vir hóm, hy het vir Tobela en hulle het die plaas en die beeste en alles. Maar daar was altyd die vermoede dat dit nie die volle waarheid was nie, dat die kind ’n geheime plek in sy kop gehad het waar hy alleen sy verlies gaan besoek.

Agt jaar, waarin hy iewers ’n wegloperpa verloor het, en toe ’n sorgsame ma.

Dit kan mos nie die somtotaal van ’n mens se lewe wees nie. Dit kan mos nie reg wees nie. Daar moet mos ’n hemel wees, iewers … Hy kyk op na die blou lug en hy wonder. Was Miriam daar, tussen groen, golwende heuwels, om vir Pakamile te verwelkom? Sal daar vir die kind speelplek en maters en liefde wees? Al die rasse gelyk, in oorvloed, almal met dieselfde sin vir geregtigheid? Waters waar rus is. En God, ’n forse swart figuur, koninklik, ’n vol grys baard en wyse oë, wat elkeen in die Groot Kraal met ’n omhelsing en sagte woorde begroet, maar wat met groot pyn oor die deinende landskap van groen soetgras uitkyk na dié aarde wat stukkend is. Wat sy kop skud omdat niemand iets doen nie, omdat almal so blind is vir Sy doel. Want Hy het hulle nie só gemaak nie.

Hy loop stadig op teen die hoogte na die opstal en gaan staan weer bo.

Sy grond, so ver as wat hy kan sien.

Die besef dat hy dit nie meer wil hê nie. Die plaas het vir hom nutteloos geword. Hy het dit gekoop vóór Miriam en Pakamile. Toe was dit ’n simbool, ’n droom, ’n nuwe lewe – en nou is dit niks, ’n meulsteen, ’n herinnering aan moontlikhede wat nie meer bestaan nie. Wat help dit jy het grond, maar jy het niks?

Infanta

Подняться наверх