Читать книгу Infanta - Деон Мейер - Страница 11

8

Оглавление

“Jou pa het jou misbruik,” sê die dominee met sekerheid.

“Nee,” sê sy. “Daar’s baie call girls wat só sê. Die stiefpa het met my gelol. Of die ma se boyfriend. Of die pa. Ek kan dit nie sê nie. Dit was nie sy probleem nie.”

Sy soek die teleurstelling op sy gesig, maar hy wys niks.

“Weet jy wat sal ek wens as ek net een wens kan kry? Om te kan weet wat met hom gebeur het. Ek wonder so baie daaroor. Wat het hy gesien wat hom verander het? Ek weet dit was op die grens. Ek weet min of meer watter jaar, ek het dit al uitgewerk. Iewers in Suidwes of Angola. Maar wat was dit?

“As ek net meer van hom kan onthou soos hy voor dit was. Maar ek kan nie. Ek onthou net die bad times. Ek dink hy was altyd ernstig. En stil. Hy moes seker … Hulle het nie almal só van die grens af teruggekom nie, so hy moes ’n sekere soort mens gewees het. Hy moes die, wat is die woord …”

“Potensiaal?”

“Ja. Hy moes die potensiaal gehad het.”

Sy soek iets om met haar hande te doen. Sy leun vooroor en neem die suikerlepel uit die wit porseleinpotjie. Dit het ’n dorpswapen aan die punt van die geboë steel. Sy vryf die metaal met die kussing van haar duim, voel die gegote lyne daarvan.

“Die skool het elke jaar ’n kermis gehou. Op ’n Vrydag in Oktober. In die middag was daar boeresport en in die aand was daar stalletjies. Tombola en skyfskiet. Braaivleis. Almal was daar, die hele dorp. Jy het ná die boeresport huis toe gegaan en gaan mooimaak. Vir die aand. Ek was veertien. Ek het make-up by Lenie Heysteck geleen en ek het my eerste denim gekoop met my spaargeld. Ek het ’n sky blue bloes aangehad en my hare was lank en ek dink ek het mooi gelyk. Ek het voor die spieël in my kamer gesit daardie aand met maskara wat by die bloes pas en my lippe was rooi, miskien te veel grimering, want ek was nog stupid, maar ek weet ek het so mooi gevoel. Dis iets wat mans nie verstaan nie. Om mooi te voel.

“Sê nou maar net ek het daardie aand my swart handsakkie gevat, sitkamer toe geloop en hy het vir my gesê: ‘Jy lyk beautiful, Christine.’ Sê nou maar net hy het opgestaan, my hand gevat en gesê: ‘Wil jy dans, prinses?’”

Sy druk die ronding van die suikerlepel teen haar mond. Sy voel die emosie, oud en bekend.

“Dis nie wat gebeur het nie,” sê die dominee.

“Nee,” sê sy. “Dit is nie wat gebeur het nie.”

* * *

Tobela het die adres van Khoza se broer in Khayelitsha gememoriseer, maar hy ry nie reguit soontoe nie. Op die ingewing van die oomblik wyk hy twee afritte wes van die lughawe van sy roete af, en ry Guguletu toe, gaan soek die huisie waar hy en Miriam en Pakamile gebly het. Hy parkeer oorkant die straat, skakel die enjin af.

Die tuintjie wat hy en die seun met soveel sorg en moeite en water uit die Vlakte-sand opgetower het, is nou vaal in die laatsomer. Daar is ander gordyne voor die voorste kamer se venster.

Hy en Miriam het in daardie kamer geslaap.

In die straat af is daar ’n gejil van kinderstemme. Hy kyk, sien die seuns wat sokker speel, hemde wat uithang, kouse op die enkels. Pakamile het elke middag op daardie straathoek vir hom staan en wag, hier van halfses se kant af. Hy het met ’n Honda Benly gery, daardie kanniedood-motorfietsie waarop hy soos ’n langbeenspinnekop gelyk het, en die kind se gesig het verhelder wanneer hy om die draai kom en dan het hy gehardloop, saam met die motorfiets, die laaste honderd tree tot by hul hek.

So bly om hom te sien, so honger om met hom te gesels, so ywerig vir die werk, in die voortuin tussen die sonneblomme, en agter, in die groentetuin vol rankboontjies en witpampoene en plomp rooi tamaties.

Hy steek sy hand stadig uit na die sleutel, traag om die herinneringe te laat gaan.

Hoekom is alles van hom af weggevat?

Dan ry hy, terug N2 toe, verby die lughawe. Hy neem die afrit en draai regs en Khayelitsha is om hom – verkeer en mense, geboutjies, huise, sand en reuke en klanke, groot advertensies vir Castle en Coke en Toyota, handgemaakte uithangborde vir tuisnywerhede, haarkappers en paneelkloppers, groentestalletjies langs die pad, honde en beeste. ’n Stad weg van die stad, uitgestrek oor die duineveld.

Hy kies sy roete versigtig, volgens die kaart wat hy bestudeer het, want dit is maklik om hier te verdwaal, die straataanwysers min, die paaie soms breed, soms onmoontlik nou. Hy hou stil voor die huis, ’n baksteengeboutjie in die middel van die erf. Boumateriaal staan rond, ’n ekstra kamer is vensterhoogte in aanbou, ’n ou Mazda 323 staan op blokke, half onder ’n bokseil.

Hy klim uit, stap na die voordeur en klop. Binne speel musiek, Amerikaanse rap. Hy klop weer, harder, en die deur gaan oop. ’n Jong meisie, sewentien of agttien, in T-hemp en denim. “Ja?”

“Is dit die huis van Lukas Khoza?”

“Hy is nie hier nie.”

“Ek het ’n boodskap vir John.”

Haar oë vernou. “Watse boodskap?”

“Werk.”

“John is nie hier nie.”

“Dis jammer,” sê hy. “Hy sou van die job gehou het.” Hy draai weg, steek dan vas. “Sal jy vir hom sê?”

“As ek hom sien. Wie is jy?”

“Sê vir hom die ou wat die vet werkwenke gee, was hier. Hy sal weet.” Hy draai weer om, asof hy belangstelling verloor het.

“John was lanklaas hier. Ek weet nie eens waar hy is nie.”

Hy drentel bakkie se kant toe en sê met ’n ophaal van die skouers: “Dan gee ek maar die werk vir iemand anders.”

“Wag. Miskien weet my pa.”

“Lukas? Is hy hier?”

“Hy’s by die werk. In Maitland. By die slagpale.”

“Miskien ry ek daarlangs. Dankie.”

Sy groet nie. Sy staan in die deur, ’n heup teen die kosyn, en hou hom dop. Hy wonder, terwyl hy agter die stuurwiel inskuif, of sy die waarheid praat.

* * *

Sy vertel die dominee van die aand toe haar pa haar ’n hoer genoem het. Toe hy oor haar in die badkamer gestaan het waar sy huilend met ’n waslap en water en seep die grimering afgeskrop het terwyl hy vir haar sê nie in sý huis nie. Daar sal nie hoerery in sý huis wees nie. Die aand toe dit begin het. Toe die ding binne haar gebeur het. Terwyl sy die tirade herroep, is sy ook bewus van wat tussen haar en die predikant gebeur, want dit is bekende terrein. Sy is besig om Die Rede te verskaf en hy wil dit hoor. Hulle. Mans kyk na haar, as sy klaar haar werk gedoen het, as sy met sagte hande en strelende stem haar lyf vir hulle oopgemaak het en hulle wil hê daar moet ’n hartseer storie wees. Dit is ’n primitiewe ding. Hulle wil hê sy moet eintlik goed wees. Die hoer met die goue hart. Die hoer wat so ámper ’n gewone meisie was. Die predikant het dit ook – hy kyk stip na haar, so gereed om haar met empatie te aanvaar. Maar by hom sal die ander ding minstens afwesig wees: Haar kliënte wat, feitlik sonder uitsondering, wil weet of dit ook ’n seksding is – eintlik goed, maar eintlik jags. Hul fantasie van die nimfomaan-mite. Van dít alles is sy bewus terwyl haar woorde die storie skilder.

“Ek het so baie daaroor gedink, want dit is waar dit begin het. Daardie aand. Nou nog, as ek daaraan dink, is daar al hierdie anger. Ek wou net mooi lyk. Vir myself. Vir my pa. Vir my maats. Hy wou dit nie sien nie, net al hierdie ander goed, hierdie evil. En toe raak die godsdiensding net erger. Hy het ons verbied om te dans en te fliek en oor te slaap en te kuier. Hy het ons versmoor.”

Die predikant skud sy kop asof hy wil sê: “Die dinge wat ouers doen.”

“En ek kan nie ’n grip op dit kry nie. Gerhard, my broer, het niks gedoen nie. Ons het dieselfde ouers en dieselfde huis en alles gehad, maar hy het niks gedoen nie. Hy het net stil geword en gelees in sy kamer, weggekruip in sy stories en in sy kop. En ek? Ek het gaan moeilikheid soek. Ek wou wees presies waarvoor my pa bang was. Hoekom? Hoekom is ek só gebou? Hoekom is ek só gemaak?”

* * *

Die predikant kyk na haar terwyl sy praat, kyk na haar hande en haar oë, na die uitdrukkings wat mekaar so vinnig op haar gelaat afwissel. Hy sien die maniërismes, die hare wat sy so behendig gebruik, die vingers wat met klein bewegings haar woorde en sinne punktueer, die ledemate wat ’n ononderbroke en soms doelbewuste lyftaal praat. Hy plaas dit alles by die woorde en die inhoud, die seer en die opregtheid en oënskynlike intelligensie, en hy snap iets van haar: Sy geniet dit. Op ’n sekere vlak, waarskynlik onbewus, hou sy van dié kalklig. Asof haar psige, ondanks die rommel wat daarop lê, iewers ongeskonde skuil.

* * *

Teen twaalfuur, sy neus in die moorddossier, oorrompel die honger vir Griessel in sy kantoor. En dan onthou hy daar is nie vandag ’n toebroodjie nie, nie ’n kospakkie netjies toegedraai in plastiek nie.

Hy kyk op van die dokumente, die vertrek skielik groot hier om hom. Wat gaan hy doen? Hoe gaan hy regkom?

* * *

Tobela maak ’n fout met Lukas Khoza. Hy kry hom by die slagpale, in ’n bloedbevlekte wit plastiekvoorskoot, besig om met ’n dik rooi tuinslang die bloed van die slagvloer se vaalwit teëls te spuit. Hulle stap na buite, waar Khoza wil gaan rook.

Hy sê hy soek na sy broer, John, want hy het werk vir hom.

“Watse werk?”

“Jy weet, werk.”

Khoza kyk afkeurend na hom. “Nee, ek weet nie en ek wíl nie weet nie. My broer is gemors en as jy sý soort is, is jý ook.” Hy staan uitdagend, sigaret in die hand, tussen die slagpalegebou en veekampe. Varke, groot en pienk, draai rusteloos agter die staalhekke, asof hulle onraad vermoed.

“Jy weet nie eens van watse werk ek praat nie,” sê Tobela, bewus daarvan dat hy die verkeerde benadering gekies het, dat hy ’n veralgemening gemaak het.

“Seker die gewone werk wat hy doen. Steel. Roof. Hy gaan my ma se hart breek.”

“Nie dié keer nie.”

“Jy lieg.”

“Ek lieg nie. Ek sweer. Ek soek hom nie om hom te laat misdaad doen nie,” sê hy met drif.

“Ek weet nie waar hy is nie.” Khoza trap die stompie ergerlik dood onder die dik sool van sy wit stewels en loop na die deur agter hom.

“Is daar iemand anders wat weet?”

Khoza steek vas, sy antagonisme minder. “Miskien.”

Tobela wag.

Khoza huiwer lank. “Die Yellow Rose,” sê hy en maak die deur oop. ’n Hoë gil, soos dié van ’n mens, klink van binne af op. Agter Tobela roer die varke skielik dringend en beur teen die reling.

Infanta

Подняться наверх