Читать книгу Koors - Деон Мейер - Страница 25

21

Оглавление

Aankomsdag

Dit is wat ons dit noem. Aankomsdag. 8 April. ’n Openbare vakansiedag, al vier-en-dertig jaar lank.

Pa was daarteen. Nero Dlamini was daarteen. Al twee het gesê dit was bloot die datum waarop die grootste enkele groep saam aangekom het. Dit herinner te veel aan Van Riebeeckdag, toe die eerste Europese setlaars in 1652 in die Kaap aangekom het in die Era voor Die Koors. Wat toevallig op 6 April was, baie naby aan Aankomsdag se datum. ’n Mens wil nie ’n saadjie saai wat later in tweespalt en onmin kan ontkiem nie.

Maar Aankomsdag is wat die mense wou gehad het, en Aankomsdag het dit gebly.

* * *

My springbokvel hang in sy raam, styf gespan en met sout ingevryf. My hande stink, al skrop ek hulle met Sunlight Liquid.

Ek neul en ek neul tot Pa sê ek kan maar hoog op die koppie gaan sit en wag vir Die Aankoms.

Ek ry met die vierwiel, ek kry ’n plekkie waar ek kan uitkyk oor die damwal, die pad wat ek en Pa die eerste keer hiernatoe gery het. Want hulle kom uit die noorde.

Gisteraand het Hennie Flaai gesê hulle kom van Tshwane en Centurion, Johannesburg en Sandton, Lenasia en Soweto, Nigel en Standerton, Randfontein en Rustenburg af. Dit is waar hy pamflette uit sy vliegtuig gaan strooi het.

Daar was by Westonaria ’n veertiental mans met aanvalsgewere wat die groeiende groep beroof het. Wat juwele gesoek het. En geld, kan jy dit glo, hulle het geld gesoek, sê Hennie Flaai. Nou, in hierdie tye. Niemand is darem beseer nie, al is meeste van die kos en water in die busse gevat.

Op pad het die konvooi mense bymekaar gemaak in Potchefstroom en Warrenton. Dit was voor Hennie van die groep geweet het. Hy het die stoet voertuie – ’n luukse toerbus, ’n voorstedelike bus, ’n klompie minibusse en bakkies en motors – eers anderkant Wolmaransstad raakgesien, hy was op pad na ons toe. Toe land hy voor hulle en hy gesels. En toe gee hy lugdekking, vooruit gevlieg om te kyk of daar onheil is. Daar was nie nog teenspoed nie.

Gisteraand het Hennie Flaai gesê hy het hulle in Kimberley gelos en vir ons kom sê hulle behoort voormiddag al aan te kom.

Toe gaan sit oom Hennie by Melinda Swanevelder, en hy gesels, en sy sit net en luister. En Pa sê vir my en Domingo: “Hy sal groot geduld met haar moet hê.”

* * *

Pa vra vir Domingo waar hy oorspronklik vandaan kom en Domingo antwoord: “Hier, en daar.” En hy begin Pa uitvra oor wat hy beplan met die gemeenskap, asof hy nog nie weet of hy wil bly nie. Ek sit daar en hoop Pa gee al die regte antwoorde, want ek wil hê Domingo moet bly.

Vanoggend, toe ons klaar ontbyt geëet het, sê Domingo: “Ek het gedink, being single … There’s no sense taking a whole house. Is dit okay as ek net eers hier in die orphanage intrek. Hier’s baie kamers oop.”

Toe sê Pa: “Natuurlik.” En dit is hoe die ou Pride Rock-gastehuis sy nuwe naam gekry het. Die Orphanage.

Ek maak ’n vuis onder die tafel en ek fluister: “Yes!”

Pa vra vir my: “Hoe ver is daai vel van jou?”

Op die heuwel waar ek wag vir Die Aankoms en ek uitkyk oor die groot, diep Vanderkloofdam en die damwal, waar die water nie meer met dieselfde donderende massa oorloop nie, dink ek dis goed dat Domingo bly. Want hy moet aan ons kant wees.

* * *

Die konvooi kom wanneer ek al baie honger is, eers hier teen twee-uur. Ek wil nie my uitkykpunt verlaat nie, want dan mis ek hulle. Maar ek raak baie ongeduldig. Dan sien ek die bus wat om die heuwel oorkant die rivier kom en die wye draai van die damwal vat. Agter hom, ’n ouer bus, en agter hulle die motors en bakkies.

Ek gryp die radio en sê: “Hulle is hier, Pa. Hulle is op die wal, ek sien hulle.”

“Dankie, Nico.” Ek hoor hy lag. Ek weet dit is vir my groot opgewondenheid.

Ek kyk hoe hulle in die middel van die damwal stilhou en eers vertoef, en seker vir almal ’n kans gee om te kyk na die water en die kloof van die rivier. Hulle ry. Ek klouter haastig teen die heuwel af tot waar die vierwiel staan, oor rotse en klippe, deur doringbosse en -bome. Dit voel na ’n ewigheid.

En dan jaag ek terug. Om hulle te verwelkom, en om iets te gaan eet.

* * *

Ek sien dit so ’n bietjie van ’n afstand af, en eers jare later sal ek nadink daaroor, sal ek filosofeer oor die belangrikheid en veelseggendheid van dié toneel.

Daardie dag weet ek dit is ’n stukkie geskiedenis, soveel soos ’n opgewonde dertienjarige, uitgehonger vir ander se geselskap en vir maats van sy portuur, daarvan kan snap. Die werklike gewig van die oomblik en van die mense wat daarby betrokke is, sal eers veel later kom.

Die luukse bus staan al in die middel van die pad wanneer ek met die vierwiel stilhou. En twee mans klim uit en loop na Pa en Hennie Flaai en Domingo, Melinda Swanevelder en Beryl en al sestien kinders wat staan en wag in die middel van Proteastraat. Die eerste man uit die bus is bejaard, sy hare spierwit, hy’s in ’n wit toga met ’n goue oorhangsel en ’n vreemde hoed. Hy het ’n herderstaf in sy regterhand, van hout en silwer. Met sy linkerhand steun hy op die arm van die ander een – ’n jonger, indrukwekkende man met ’n breë bors, wat langer is as almal.

Dit is wat ek sien, wat ek vaslê om eendag oor te vertel, om vir ander te sê ek was by, ek was dáár, ek was deel daarvan.

Ek hardloop en gaan neem my plek in tussen Pa en Domingo.

“Die een met die rok, dis die biskop, nè, oom Hennie?” fluister ek vir Hennie Flaai.

“Dis ’n toga,” sê Pa met ’n lag in sy stem.

“Ja, Nico, dis die biskop,” sê Hennie Flaai ootmoedig. Hy het ons vertel van die Anglikaanse kerkman wat deel is van die groep, wat hulle leier geword het.

Die gryse biskop skuifel oor die pad na Pa toe. Hy sprei sy arms wyd, hy glimlag en hy sê in Engels met ’n vae Skotse aksent: “Jy moet die skrywer van die pamflet wees.”

“Ek is,” sê Pa. Hy loop nader en skud sy hand.

Die breëborsman langs hom roep uit: “Halleluja!”

“Amen,” sê die biskop. “Ek is vader James Rankin. Dit is my kollega, pastoor Nkosi Sebego.”

Pa skud die forse Sebego se hand. “Julle is almal welkom,” sê hy.

“Prys die Heer,” sê Sebego. Hy draai om en wys vir die ander mense in die bus om uit te klim. Daar is ’n goedgunstige glimlag op sy gesig en ’n intensiteit in sy oë. Maar dan kyk hy terug, en fokus op Domingo.

Met mense wat uit die busse en bakkies en motors klim, wat uitroep, gesels, aangestap kom, dink ek dit is dalk net ek wat sien hoe pastoor Nkosi Sebego se glimlag omkeer na ’n frons van meting, agterdog en eindelik, ’n onpeilbare afkeer.

Domingo se gesig is strak en onleesbaar agter die donkerbril.

Koors

Подняться наверх