Читать книгу Hartland - Deon Opperman - Страница 25
— VI —
ОглавлениеDie môrestond het goud in die mond, dink Ouma die volgende oggend wanneer sy haar teen haar opgehoopte kussings tuismaak, maar die naaste wat sy hierdie tyd van die dag aan goud kom, is die vergulde letterwerk op die wit leeromslag van haar Bybel. Ouma begin haar dag soos sy haas elke dag van haar lewe begin het. Lees eers ’n stuk uit Gods Woord, sluit dan haar oë in gebed. Soms dommel sy op hierdie punt weer in. Dit hinder haar nie dat haar gedagtes vanuit die gebedsgesprek met God verseil raak in drome nie – soms droom sy van onse Hemelse Vader en voel dit vir haar dat haar gebed meer vrugbaar as andersins is.
’n Klop aan die deur versteur haar. Sy roep dat die klopper moet binnekom, slaan haar oë weer neer op die bladsye waar haar Bybel oopgeslaan is. Uit die hoek van haar oog sien sy Jan en Maria binnekom. Jan tel die gemakstoel voor die venster op en trek dit nader aan haar bed.
“Ek wil nie ontbyt hê nie,” sê sy terwyl sy haar plek in die Bybel merk en dit toemaak. “My maag kou nou nog aan gister se vleis.”
Ouma raak agterdogtig wanneer Jan niks sê nie, net in die stoel gaan sit.
Maria staan skuins agter die stoel.
Wat is aan die gang? Iets hier is nie normaal nie.
“Het Ma lekker geslaap?” vra Jan.
Iets is beslis nie pluis nie, besluit Ouma. “Het jy nou by my bed kom sit om te vra of ek lekker geslaap het?”
“Ma, ek’s bevrees ek het nuus wat Ma gaan ontstel.”
So! Dit wat sy gevrees het, gaan bewaarheid word. Jan en Maria is op pad, agter Elna hulle aan, wie weet. Fort. En wat dan van haar? Verwag hulle dat sy by Adriaan moet gaan bly, of, hemel behoede, by daai verlepte Rudi en Rika? “Ek weet al klaar,” sê sy bitter. “Jy pak jou tasse. Jy gaan weg.”
“Op ’n manier is Ma reg,” antwoord Jan bedaard. “Behalwe dat waar ek heen gaan ek nie tasse nodig sal hê nie. Ek het kanker, Ma.”
Ouma kyk haar seun in die oë. Haar vrese vir emigrasie vergete – wat sy sien, is die kleuter wat in die tuin speel, die student wat trots kom vertel hoe goed hy geslaag het, die jongeling wat haar vertroulik kom meedeel dat hy smoorverlief is, asof sy dit nie geweet het nie.
“Dis nie reg nie,” prewel sy. Sy kyk na Maria, sien die diepe hartseer wat so vroeg in die dag al sy hale op haar gelaat neerlê, dan weer na Jan. “’n Kind is nie veronderstel om voor,” die gedagte slaan die pyn in haar hart los, “voor sy ouers dood te gaan nie.”
Jan is effens verlig. Sy ma het die nuus sonder te baie drama laat insink, of is hy oorgerus? “Wel, soos Ma weet, sal ek en Rika ten volle met Ma saamstem. Maar ongelukkig is dit nie hoe dit uitgewerk het nie.”
Maar Ouma voel iemand moet die blaam dra – vir enigiets, al is dit nie Jan se dood nie. Sy lig haar blik na Maria. “Het jy hiervan geweet?” vra sy uitdagend, beskuldigend.
“Natuurlik, Ma.”
Ouma sien dat Maria staan en huil, maar dit keer haar nie. “En julle sê my niks.”
Maria en Jan het hulle voorberei op sekere vrae, dit kan Ouma sien. “Ons het vir die regte oomblik gewag, Ma.”
“Jy bedoel ...” Ouma se gedagtes val van een aaklige uiterste na ’n ander. “Jy bedoel julle’t gehoop dat ek voor my seun die gees sal gee en dan hoef julle my nie te sê nie.”
Dit is asof Ouma ’n teken aan Jan en Maria gegee het. Jan staan op, sy rug na Ouma gekeer, en hy beduie vir Maria sy moet kom sit. Soos sy Jan ken, weet Ouma dat Jan reaksies uitgewerk het vir elke manier waarop sy dalk sou reageer.
Maria haal diep asem.
“Om die waarheid te sê, Ma: ja. Maar om my lewe te red kan ek nie nou dink hoekom ons so bedagsaam was nie.”
“Uiteindelik. ’n Brokkie eerlikheid. En wat gaan jy doen wanneer ...?” Sekere dinge sal sy nooit kan ontwyk nie, weet Ouma.
“Ek gaan hier bly ... by Ma.”
Ouma snuif-snuif.
“En as ek die dag nie meer hier is nie?”
“Aangesien Ma vanaand ’n ‘brokkie eerlikheid’ so waardeer, sal ek Ma sê: Ek gaan in ons huisie in die Dordogne in Frankryk bly.”
“Moenie laat ek jou hier hou nie. My voorouers het kaalvoet oor die Drakensberge geloop. Ek kan vir myself sorg.”
Maria het haar skoonma baie lief, ondanks Ouma se gedrag. Iewers in hierdie woorde, weet Maria, is die bejaarde vrou besig om met haarself te spot, maak sy ’n deurtjie oop waardeur haar skoondogter en sy weer nader aan mekaar kan beweeg. “Ek is seker Ma kan.” Maria kan kwalik deur die trane in haar oë sien, maar sy probeer nogtans vir haar skoonma glimlag.
Die antwoord laat Ouma verstil. Daar is geen verkwalikings meer nie. Jan draai om van waar hy by die venster staan en uitstaar het, en kom sit langs sy ma. Hy neem haar hand in syne, weer die seun wat by sy ma soek om troos en leiding. “Ons dra almal swaar, Ma,” sê hy.
Ouma trek sy hand nader aan haar bors. “Geluk,” sy sukkel om die trane langer terug te hou, “met jou verjaarsdag, my seun.”