Читать книгу Hartland - Deon Opperman - Страница 26
— VII —
ОглавлениеDie stilte van sy studeerkamer, dis wat Rudi nou wil hê. Alleen. Stilte. Niemand wat met hom praat nie. Hy wil alles uit sy gedagtes weer, ’n skoon lei hê as ’t ware, sodat hy kan dink. Sodat hy kan besluit. Want besluit sal hy moet. Hy sal móét reageer op Hannes se versoek, hoe onaangenaam die gedagte ook al mag wees. Met vanaand se kort preek kan hy nie werk nie. Dit is in elk geval reeds geskryf. Om nou daaraan te torring, sal net meebring dat hy weer begin worstel met sy gewete, en met Hannes. Nou sit hy met die gemeente se administratiewe sake, dinge wat hy kan doen sonder om te veel daaroor te dink, sodat sy gedagtes tot stilstand kan kom. Sleurwerk wat die denke rem tot sy hande en oë net in hul meganiese gang met die werk voor hom kan voortgaan.
Daar is ’n klop aan die deur.
“Binne.”
Gerhard steek sy kop om die deur, kom dan binne. Soos dit Sondae gaan, het hy nog nie sy kerkpak uitgetrek nie. “Jammer om Pa te pla,” sê hy.
Rudi kyk kwalik op. “Gerhard, as jy nie omgee nie, ek’s besig op die oomblik.”
Gerhard bly staan. Rudi besef dat die kind net wil hê hy moet luister, hoor wat hom kwel, en dan sal Rudi besef dat hy Gerhard nie kan ignoreer nie. Ander aande miskien, maar nie vanaand nie.
“Ek weet, Pa, maar ek wil net gou vir Pa vertel van ’n eienaardige ding wat met my gebeur het vandag.”
Rudi kyk steeds nie op nie. “Soos ek gesê het, ek’s besig ...”
“Ja, Pa, maar dit het my ’n bietjie ontstel en ek het Pa se raad nodig. Toe ek vanoggend ná die diens na my kar toe stap, was daar ’n vreemde vrou naby my kar. Sy het oorkant die straat gestaan en na my gestaar, toe stap ek oor na haar.”
Rudi spring op, stem wat bulder. “My magtag, Gerhard!” Hy gryp sy bril wild voor sy oë weg. “Jy’s nie meer ’n kind nie. Watter deel van ‘ek is besig’ verstaan jy nie?”
Gerhard is geskok – absoluut verstom deur sy pa se uitbarsting. Só ken hy hom nie. “Jammer, Pa ... ek het nie gedink ...”
“Wel, miskien is dit tyd dat jy begin dink!”
Skoorvoetend beweeg Gerhard na die deur, ’n laaste verbaasde blik op sy pa, wat reeds hard aan die werk is.
Rudi bedaar, vee met sy hande oor sy gesig. Hy voel miserabel oor sy uitbarsting. Sy gewete pak nog ’n vrag op sy geboë skouers.
Wat sal Rika daarvan dink? wonder hy.
Wat maak dit saak wat sy dink? Sy kan hom nie help nie.
Hy wag.
Só ken hy haar: ’n minuut of wat vir hom om te bedaar, dan sal daar ’n klop aan die deur wees.
Rudi kyk op sy horlosie, staar die sekondewyser deur twee minute.
Hy het hom met een ding misgis.
Rika klop nie aan die deur nie.
Sy stap die studeerkamer binne, druk die deur ferm agter haar toe. “As jy my nie nou vertel wat aangaan nie, gaan daar moeilikheid wees.”
Rudi sit sy pen voor hom neer op die slagveld van gemeentelike administrasie. Hy staar nikssiende voor hom uit, sy gedagtes versplinter deur die uitbarsting. Dan hef hy sy moeë oë op na sy vrou.
Hulle het al dikwels daaroor gepraat – daardie punt wat in die verhouding tussen twee mense bereik word wanneer dit vir albei duidelik is dat niks ooit weer soos vantevore sal wees nie. Iets het verander wat albei partye laat verander het.
Altyd ander mense se probleem. By sommige van hul gemeentelede was dit motorongelukke, by ander owerspelige verhoudings of ander vorme van ontug.
Rudi en Rika kon in die veilige domein van hul kombuis oor ’n koppie tee ander se lewe in oënskou neem. Hulle kon besluit in watter mate hulle kon ingryp in die lewe van ander. Voorbidding en gesprek sou deug, mits die gekweldes behoefte het aan sulke dinge. Soms is die lewe so onderstebo gekeer dat mense oogklappe wil aansit, nie bewus wil wees van die res van die mensdom nie. Hulle wil alleen wees. Oorgelaat aan hul eie gedagtes. Omdat hulle weet hulle is verby die punt waar hulle nog kon omgedraai het.
Wat Rika die meeste skok van Rudi se verhaal, is dat die punt van omdraai so lank gelede verby is. Dit ís vir hom ’n verleentheid, maar hy het nie verwag dat sy só onmiddellik daarop sou fokus nie. Dat dit ’n sonde is wat ouer is as hul huwelik.
Hy was kapelaan, besig met grensdiens vir sy land. Sy lewe daarna? Hy het altyd gesê dat hy wandel in God se Ewige Lig. Maar nou weet hy – én sy – dat dit ’n lewe was wat onder ’n wolk koers gekry het. ’n Wolk waarvan hy nie self bewus was nie. Hannes het dit aan hom kom openbaar. ’n Gewetenswolk wat ontstaan het uit woorde en dade wat behoort aan ’n ander, vroeër lewe.
Rudi spaar Rika niks nie. Wat sou dit hom help om te swyg oor die dinge wat hom nou so kwel?
Hy staan agter sy lessenaar – ’n plat kateder vir die herder wat wonder of hy nog ’n kudde verdien. Rika sit oorkant hom, hewig ontstel deur die onchristelike stommiteit van haar man se dade.
Hy verseker haar dat hy spyt het oor sy dade, maar dit is nou eenmaal dit. Hy beweeg rondom die tafel terwyl sy haar ergerlikheid uitspu in ’n verwyt: “Hoe kon jý ooit sulke dinge aan ’n jong man gesê het?”
Daar is ’n moegheid wat Rudi se gepraat onderlê. By Rika wel die woede weer op. Weer en weer en weer.
Dít is wat verander het.
Hulle weet dit en kan niks daaraan doen nie.
Rudi se gesag verdamp met elke asemhaling. Rika groei, eens die veroordeelde vaal vrou, nou die veroordelaar.
“Ek was self jonk,” probeer hy verduidelik.
Haar woorde, wanneer dit kom, eggo die verdoemende stem van sy gewete. “Ja, maar jy was reeds geletterd en geleerd. Jy was sy dominee, die een wat daardie jong soldate se siele moes koester as hulle na jou uitgereik het.”
Dit was ’n ander tyd, fluister hy.
“My magtag, Rudi ...”
“My vrou, jou taal asseblief.” Rudi val terug op ou gewoontes, vergeefs.
Rika dink reeds in ’n ander sleutel. “Moenie met my oor taal praat nie. ’n Ander tyd? In die sake van die siel is daar nie ‘’n ander tyd’ nie. Dis ewig en dieselfde ...”
Rika beweeg om die tafel, gaan staan waar Rudi sy hele geskiedenis van agter sy platgevalle kateder aan haar openbaar het. “Was dit nie jou eie woorde ’n paar weke gelede in die kerk nie?” Haar stem raak dieper, afgemete. Dit is ’n stem wat Rudi nie ken nie. “Verander die Here sy wet en gebod van tyd tot tyd? Die tien gebooie staan soos hulle staan sedert Moses hulle van die berg afgedra het. Hulle verander nie ‘van tyd tot tyd’ nie. God is liefde – verander dit van tyd tot tyd?”
“Ek kan nie met jou praat as jy histeries is nie.”
“Histeries? Jy’t my getug omdat ek gister by Jan en Maria se braai ’n tweede glasie wyn wou hê, maar jy sê vir ’n agtienjarige seun om ’n krygsgevangene in die naam van God te martel!”
“Dit was in negentien twee-en-tagtig, my magtag!”
“Taal, my man.”
Rudi besef nou in watter mate die balans in hul huwelik verskuif het. “Ek’s jammer.”
Rika is bewus dat haar ore begin suis, ’n vreemde stilte wat die oomblik lank laat voel. Daar was dae, nog voor hul troue, dat hulle by hierdie woorde sou uitgebars het van die lag – of liewer, haar geskater, en Rudi se beleefde kuggies, of wat hy ook al as lag beskou.
Sy kom ’n fraksie nader, sodat hy geen illusies kan hê oor haar gevoelens nie. “Al hierdie jare het ek jou en jou gemeente gedien, maar om jou die eerlike waarheid te sê, Rudi, ek is nou nie seker wat ek gedien het nie.”
Sy draai weg van hom en begin uitstap.
“Rika ... Rika ek ...”
Voor die deur draai sy terug. “Die vraag is: Sal jy die bloed van sy hande kan afwas? Om nie eers te praat van die bloed op joune nie.”
Rudi antwoord nie. In haar woorde herken hy die presiese kwelling wat hom sedert Hannes se koms afrem.
Ek het gedoen wat ek moes doen, dink hy. Ek het nie ’n keuse gehad nie.
Rudi bly staar na die deur. Dis wat Pontius Pilatus ook gesê het, kom dit by hom op.
Lank bly hy só staan, verslane.