Читать книгу Hartland - Deon Opperman - Страница 30

— XI —

Оглавление

Adriaan weet waar om na sy vrou te gaan soek wanneer hy tuis kom. Op die bankie in die tuin, waar sy altyd sit wanneer sy die hel in is.

Hy is laat.

Sy sit en geniet die laaste bietjie sonskyn van die laat namiddag. Laat haar gemoed kalmeer. Is dit nie tipies van die Cilliers-familie dat hulle hulle nie steur aan ander mense nie? En Adriaan, die mak Cilliers, gryp sy goeters en verkas na ’n kamstige vergadering. Sy moes die hele middag met oupa en ouma Venter sit en praat. Adriaan kan soms maar ’n droë drol wees. Maar as hy nie daar is nie, droog die praatjies met haar ouers gou op.

Adriaan stap oor die grasperk na haar, gaan sit langs haar.

“Ek dog jy sou terug wees voor Ma en Pa waai.”

Hy haal vererg sy bril af, vee met sy hand oor sy moeë oë. “Moenie my nou druk nie, Antoinette.”

Sy bly ’n oomblik lank stil. Dis maar goed Adriaan het nie sy bril op om te sien hoe sy ’n amper verveelde trek oor haar gesig onderdruk nie. “Waaroor was die vergadering?”

Adriaan trek sy oë op skrefies. “Jan het kanker ... en sy dae is getel.”

“Sê weer?” Die nuus het Antoinette in ’n luim van hoopvolheid ingeruk.

“Jan het kanker. Hy gaan nie meer lank leef nie.”

Adriaan plaas weer sy bril terug op sy neus, maar sien nie veel raak nie.

Stadig nou, Nettie, versigtig. Sy probeer die nuus verwerk sonder om opgewonde te klink. Wat sou al die gevolge wees? Promosie vir Adriaan? Die finansiële voordele verbonde aan die mees senior pos in African Queen Cosmetics? Jip, miskien en vir seker ... Hoeveel keer het sy en Adriaan nie al gefantaseer oor hoe dit sou wees as hy baas van sy eie onderneming kon wees nie? Wat hulle nie alles sou gedoen het nie, waarheen gereis het? Nou ... nou is dit binne hulle bereik. Sy kan aanvoel dat Adriaan erg ontsteld is. Sy is net nie seker of dit oor Jan se siekte is nie. Het daar dalk iets anders gebeur ...?

“Hoekom is ek nie na die vergadering genooi nie?” Probeer julle iets vir ons vrouens wegsteek? Vir my spesifiek wegsteek, dís wat sy eintlik wil sê, maar sy hou haar in. Antoinette staan op en kyk af op Adriaan.

Hy laat hom nie intimideer nie en staan ook dadelik op, sodat hy haar op gelyke vlak in die oë kan kyk. “Want dis nie waaroor die vergadering gegaan het nie.”

Wragtag! Hier ís iets aan die gang.

“Ek weet al vir die laaste paar weke,” sê Adriaan. “Jan het gevra dat ek dit met niemand bespreek nie ... nie eens met jou nie.”

“Hoekom nie?” roep sy uit.

“Hy wou eers vir Elna en Bertus vertel en hy wou nie vir hulle deur ’n email laat weet nie. Jy kan dit tog sekerlik verstaan.”

Sy bly ’n rukkie stil. “Oukei, dit verstaan ek. Ek’s in die gesig gevat, maar ek verstaan. Waaroor was die vergadering dan?”

“Om die toekoms van die maatskappy te bespreek ... ná sy dood.”

“En ...?”

“En ... hy’t vir Bertus die pos van hoof uitvoerende beampte aangebied ...” Adriaan is saaklik. Sy moenie agterkom hóé seergemaak hy voel nie.

“En ...?”

“Bertus het dit van die hand gewys.”

Skote Petoors, Bertus! dink Antoinette. Nou laat sy die glimlag huiwerend om haar mondhoeke ontplooi. “Adriaan ... wil jy vir my sê dat ...?”

“Nee. Hy’t een of twee ander manne in gedagte vir die pos.” Hy haal sy skouers op. Hy weet watse ambisieuse drome nou besig is om in Antoinette se kop pos te vat. Dit maak haar ook blind vir sy gekweste gevoelens. “Ek bly hoof van operasies. En hy’t sy aandele eweredig tussen Boetjan en Elna verdeel, en stemreg oor Elna se aandele vir my en Boetjan gegee.”

As Jan begin uitdeel het, moes daar tog ietsie na Adriaan gekom het, dink Antoinette. “En vir jou?”

“Ek sê mos: Hy’t my stemreg oor die helfte van Elna se aandele gegee.”

Antoinette kan haarself nie langer in toom hou nie. “Stemreg shmah shmah! Ek praat van aandele.”

“Nee.”

“Wil jy my vertel dat ná al hierdie jare se bloed en sweet en opoffering hy jou nie ’n enkele aandeel gaan gee nie?”

Adriaan kan sien hoe Antoinette se ambisies haar tred laat verloor met die werklikheid. “Nee, en hy’s ook nie verplig om dit te doen nie.”

“Ek’s jammer, maar dis vir my onaanvaarbaar.”

Miskien het Adriaan verwag dat hy en Antoinette by hierdie punt sal kom – dáár waar sy net die finansiële gewin raaksien. Laat ander hulle bekommer oor die smart wat dit voorafgaan. Dis meer as duidelik dat sy meen hy het geen planne gereed om die situasie te probeer beredder nie. Eintlik het hy nie, maar dit beteken nie dat sy só kleinerend mag dink oor die pa van hul kinders nie.

“En dis vir my onaanvaarbaar dat jy sommer dadelik aanneem dat ek nie ’n plan het nie!”

Antoinette deins terug vir sy groot toornigheid.

“As Bertus die pos aanvaar het ... ja, dan sou ons ’n probleem gehad het. Hy’s familie. Maar as Jan ’n vreemde ou aanstel, kan ek jou nou sê gaan daardie ou nie lank ná Jan se dood in daardie pos oorleef nie. Niemand, anders as Jan, ken die besigheid so goed soos ek nie. Nie eers Zweli nie. Ek het al vergeet wat daai mannetjie nog moet leer. Ek sal Boetjan aan my kant kry en tussen die twee van ons sal ons baie gou vir Zweli oortuig dat ek die beste mens vir die job is. En as ek eers aan die hoof van die besigheid staan ... dan, my vrou, sal ons ons waarde kry, of ek nou aandele besit of nie.”

Antoinette beweeg nader aan haar man, ’n gelouterde vrou, gereed om onderdanig te wees. Sy sit haar arms om Adriaan se nek. “Ek’s jammer my skat ... dit was nie my bedoeling om jou te onderskat nie ... maar jy weet hoe beskermend ek oor jou voel. As dit nie vir jou was nie, was daai maatskappy nie ’n skadu van wat hy vandag is nie. Ek wil net die beste vir jou hê, dis al.”

“En ek vir jou.”

“My kryger.” Antoinette soen vir Adriaan. Dit beteken: Ons argument is verby. Dit beteken: Die aand is nog lank.

Adriaan druk haar teen hom vas. Sy woorde beier nog in sy eie ore, maar sy lyf dink aan die vrou teenaan hom.

Die telefoon lui in Adriaan en Antoinette se voorportaal.

Agterna kan Antoinette nie onthou presies hoekom dit sy was wat dit geantwoord het nie. Dis tog Elisabeth wat altyd antwoord. Bang dat haar ma of pa aan die gesels raak met iemand wat na háár op soek is. Maar nou, laatmiddag op dié Sondag, Jan se Sondag, sit Elisabeth in die sitkamer en probeer Adriaan ompraat om haar toe te laat om oorsee te gaan. Op haar eie, ’n sprongjaar in Kanada by haar nefie Neil. Sy weet goed wat Adriaan se argument is. Daar sal iets met haar gebeur. Iets! Wat kan met haar verkeerd gaan as sy onder die dak van tant Elna en oom Bertus woon? Dinge is egter nie só eenvoudig nie, verduidelik Adriaan aan sy hardkoppige dogter. Dit gaan nie oor backpack of nie backpack nie. Hy dink aan haar toekoms wat op hande is. ’n Wit mens sonder ’n graad staan geen kans in hierdie land nie. Sy moet begin met haar studies. Nou? Elisabeth herinner hom, met heelwat moeite, daaraan dat sy beslis universiteit toe wil gaan. Net nie nou dadelik nie. Sy wil eers die wêreld ’n bietjie sien. ’n Breuk tussen haar skooljare en studentedae skep.

En wat sê hy? “Ons sal dit met jou ma moet bespreek.”

Bid jou aan!

Op hierdie presiese oomblik kom Antoinette van die telefoon in die voorportaal ingestap.

Die eerste ding waaraan Adriaan dink wanneer hy Antoinette se gesig sien, is dat sy pas ’n spook gesien het. Sy is asbleek en staar onsiende voor haar uit. By die skuifdeur gaan staan sy, leun teen die kosyn aan.

“Antoinette ...” Adriaan kom huiwerig nader, onseker oor dit wat sy vrou ontstel het. Hy onthou dat die telefoon gelui het.

Sy kom tot verhaal. “Dit was die polisie. Hulle is by my pa en ma se huis ...” Sy kyk onseker van Elisabeth na Adriaan. “Daar was ’n inbraak by hulle huis ... net ná hulle van ons af daar aangekom het ...”

“En ...?”

“Hulle’s albei vermoor ... in hulle slaapkamer ... execution style ... met Pa se eie geweer.”

Hartland

Подняться наверх