Читать книгу Hartland - Deon Opperman - Страница 31

— XII —

Оглавление

Jan is moeg. En hy het pyn. Die vergadering was uitmergelend. Nou soek hy sy vrou. Nadat die ander weg is, het hy nog by die raadsaal aangebly. Jan het gedink aan Boetjan, wat soveel het om in te haal, en Elna. Liewe, liefste Elna, wat ’n groot storm tegemoetgaan. Hy het gedink aan Adriaan, die verwyt wat vanmiddag so vlak in sy oë gelê het. Verwyt wat al vier-en-twintig jaar aankom. Adriaan wat nie weet dat alles wat hy het dáár is danksy ’n ernstige pleidooi wat hul ma by Jan gelewer het om na Adriaan om te sien nie, soveel jare gelede. Adriaan is sy broer en daarom het hy hom lief, maar die man wat Adriaan is, daardie soort mens kan hy nooit werklik liefhê nie. Adriaan wie se karakter so vol kwinte is dat hy glad nie besef Jan is bewus van sy groot verwyt nie. Adriaan se verwyt, en sy vrou se grootste verwyt.

Jan kyk af na sy hande. Sien dat hy onbewustelik begin prentjies teken het. Sy hand volg sy gedagtes. Prentjies op ’n skryfblok gemaak, gedagtevlugte gekarteer. Prentjies deurgetrek. Prentjies oorgeteken. Lyne en diagramme, moontlike parallelle. Uiteindelik was hy tevrede dat hy voorsiening vir alle gebeurlikhede gemaak het. Hy het die velle uit sy skryfblok geskeur en na sy kantoor gestap, die versnipper­masjien aangeskakel en die velle apart, een vir een, deur die lemme gevoer.

Hy wil nog ’n laaste keer met Maria praat, haar vertel van die laaste prentjie.

Nou vind hy haar op die voetenent van hul bed, ’n papier in die hand. Sy voel saggies aan die papier, streel dit selfs teer.

“En as jy nou so alleen sit?” vra Jan.

“Ek dink aan Francois.”

Hy gaan sit langs haar.

“Dink jy hy sal my kan vergewe?” vra Maria.

“Wie?”

“Boetjan.”

“Hopelik sal hy ons albei vergewe.”

Hulle sit ’n rukkie in stilte voordat Maria voortgaan. “Hoe maak mens jou kinders groot sonder om hulle seer te maak?”

“G’n idee nie.”

“Dis my skuld dat hy gedrink het.”

“Dit was ons skuld.”

Stilte.

“Ek wens ek het vroeër geweet wat gebeur het,” sê Maria.

“Ek wens ek het jou vroeër vertel.”

Stilte. “Die kapelaan se brief ...?”

Maria knik.

Hoe kan sy Jan verkwalik vir die liefde waarmee hy haar probeer beskerm het? En toe die leuen eers posgevat het ... Gelukkig het sy nog tyd om sake met Boetjan uit te stryk, sy, die veroordelende Maria. Sy kyk steeds swyend na die brief in haar hand. Dan lig sy haar kop: “Weet jy ... maak nie saak hoe Francois gesterf het nie ... of hy tentpenne ingeslaan of oor ’n slagveld gestorm het, hy was daar omdat ons geglo het dat dit die regte ding was om te doen.”

“Ons het dit almal geglo.”

Nou, met die hele waarheid in haar gemoed uitgelê soos dit hoort, nou haal die hartseer haar van voor af in. Maria begin huil.

Jan sien hoe oorstelp sy is en trek haar saggies teen sy bors aan. Ná ’n ruk kom Maria tot stille berusting.

Só sit hulle totdat die selfoon hulle terugroep na die hede.

Maria gaan antwoord.

Sy luister. Fluister ’n paar woorde.

In stilte druk sy die foon dood. Sy kyk stadig op. Maar sy sien niks, net die drogbeelde van ’n pistool wat agter ouma en oupa Venter se kop gedruk word, en albei wat vorentoe kantel, die dood tegemoet.

* * *

Die dood. Maria hou haar selfoon weg van haar oor af, kyk verdwaas daarna.

Die dood.

Hoeveel maal sy gesig gesien. Onverwags.

Sy plaas die foon stil terug op die spieëltafel voor haar. Met die vingerpunte lig en roerloos op die telefoon word sy willoos vasgevang in die maling van haar gedagtes. Soveel keer in die verlede, toe die seuns nog jonk was, het sy by hulle skool gestaan en kyk hoe die ou landsvlag gehys word, die volkslied saamgesing. Dit was vir haar altyd ’n roerende melodie. Maar eers toe sy daardie brief van die kapelaan vasgehou het, het sy besef wat sy al daai jare gesing het: Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra. Toe het sy besef: Oorlewing en opoffering voed mekaar soos die hemel en die aarde mekaar voed ... en dat vooruitgang – van klip, tot spies, tot geweer, tot mortierbom – niks meer is nie as die gedaantewisseling van wat nog altyd agter dieselfde berg gelê het.

My man het ’n besigheid gebou, dink sy. Ek ... het drie kinders vir ’n volk gebaar.

En ek sukkel nou om ’n volkslied te sing.

Hartland

Подняться наверх