Читать книгу Hartland - Deon Opperman - Страница 29
— X —
ОглавлениеNeil het feitlik die hele middag in Jan se swembad deurgebring. Hy wou eers by sy ouma gaan sit en gesels, maar toe hy agterkom sy sit in haar rolstoel en slaap, het hy afgesit poel toe.
Hy hoor hoe sy pa en ma aan die redekawel is die oomblik wanneer hulle in hul rooi gehuurde motor deur die sekuriteitshek kom.
Dis ’n argument wat hy al verskeie kere gehoor het. Soms is hulle bewus daarvan dat hy in die geselskap is, soms nie. Eintlik ietwat boring, maar hy luister, wagtend op die geringste teken dat sy pa se mening besig is om te versag. Vir sy ma is dit ’n gesprek van verlammende hartseer. Die eerste keer dat Neil dit gehoor het, was voordat hulle uit Waterkloofrif na Westmount in Vancouver getrek het. Die heftigheid daarvan het in hul motor afgespeel teen die verbyflitsende Cedardale en West Vancouver, nes dit nou seker van oom Jan se kantoor in Arcadia af hierheen gewoed het. Wanneer Bertus hul gehuurde motor voor Jan en Maria se huis tot stilstand bring, is hulle nog fel aan die verwyt.
Elna en Bertus gooi gelyktydig hul deure oop.
“Dis die kans van ’n leeftyd, Bertus!” roep Elna oor die dak van die motor na Bertus uit.
“Het jy om jou gekyk? Toe ons van die lughawe hiernatoe gery het, het jy om jou gekyk? Dis alles omgekeer – die beskaafde mense lewe agter tralies en die kriminele loop op straat.”
Neil sien hoe sy ma nader aan sy pa beweeg. Sy hou sy skouer met die een hand vas, sodat hy nie kan beweeg nie. “Ek verstaan hoekom jy voel soos jy voel, maar ...”
En vir die hoeveelste keer herinner sy pa sy ma aan die presiese rede hoekom hulle Kanada toe is. Hoekom hy sy geloof in sy geboorteland verloor het. “Vergewe my, Elna, maar jy verstaan nie hoe ek voel nie!” roep hy uit. “Gaan jy na ’n vergadering toe waar jy verwag om tot die raad van ’n maatskappy bevorder te word, net om dan te hoor dat jy nie net daardie bevordering nie kry nie, maar dat jy afgedank word om plek vir ’n swart aanstelling te maak, en kom sê dan vir my jy weet hoe ek voel?”
“Maar dit is anders dié. Dis my Pa se maatskappy. Jy kan nie afgedank word nie.”
“Vir hoe lank? Huh? Vir hoe lank? As jy nie kan sien waarheen hierdie land gaan nie, dan is jy blind. Het jy daardie plakkaat teen die paal gesien – The South African list of hundred per cent black-owned companies. Ek sien nie enige plakkate vir hundred per cent white-owned companies nie! En dan praat ek nie eens van die feit dat hierdie land een van die hoogste misdaadsyfers in die wêreld het nie!”
“Dis nie asof ons in Kanada in die paradys leef nie.”
“Ek sê dit weer – daar’s g’n manier dat ek my seun in hierdie land gaan grootmaak nie.”
“Hy is my seun ook! Of het jy dit vergeet?”
“Gaaf. As jy hom hier wil grootmaak, is jy welkom, maar ek gaan terug na my huis in Kanada.”
“Bertus, kan jy nie verstaan nie? Wat Pa aanbied, is nie net ’n gulde geleentheid nie, dis ’n deel van my pa se lewe. Dis nie net ’n erfporsie nie ... dis my erfenis.”
“En as ek Pa reg verstaan het, dan sal jy dit nog steeds kry, sonder stemreg oor jou aandele, ja, maar jy sal nog steeds jou erflating kry.”
“Jy weet hoe jy in Kanada sukkel. Dit gaan jou nog jare neem om jou besigheid op te bou tot ’n vlak soos wat Pa jou nou aanbied.”
“Ten minste sal ek nie in vrees lewe terwyl ek dit doen nie. Klaar!”
Neil se pa keer sy rug op sy ma en stap weg.
As sy pa net na sy ma wil luister! Maar hy het ore vir niks en niemand nie.