Читать книгу Toring van Jasmyn - Derick van der Walt - Страница 10

Оглавление

HOOFSTUK 4

Jy sal nie sommer die geroeste draadhekkie in die hoë, ruwe baksteenmuur tussen die twee ou geboue raaksien nie. Dis ’n stil Istanbulse straat, iewers aan die buitewyke van die stad. Al is dit net enkele blokke van die geroesemoes van die besige toeristedeel, is jy hier in ’n ander wêreld. Hier is nie helder verligte vensters en veelkleurige aandenkings vir toeriste te koop nie.

Die straat lyk strak en koud in die ligte van die enkele straatlampe op die smal sypaadjies. Daar is geen ligte in die geboue aan weerskante van die straat nie. Van die geboue se vensters is gekraak. Dis duidelik ’n meer vervalle deel van die stad.

As dit gereën het, sal jy dalk nou en dan ’n taxi spookagtig met geel ligte deur ’n waterpoel hoor verbysjoesj. Dalk sal jy ’n ou man wandelend met ’n hond by die hekkie sien verbystap. Miskien sal jy ook ’n enkele sakeman sien wat sy brood in dié deel van die stad verdien, kop onderstebo vinnig op pad huis toe met ’n aktetas aan die hand.

As jy die geroeste hekkie in die ruwe hoë baksteenmuur sou oopstoot, sal dit saggies kraak. Jy sal beslis verbaas wees om die oorgroeide tuin met ruie bome en struike voor jou te sien. In die aand is die tuin in donkerte gehul. Jy sal voel-voel deur die tuin moet stap tot by die flou liggie aan die agterkant, wat jy gelukkig sou wees om deur die toegegroeide tuin raak te sien.

Die liggie skyn flou bokant ’n houtdeur wat iewers heen moet lei. Dis nie maklik om te bepaal waarheen nie. Dit lyk nie asof daar ’n gebou van die een of ander aard agter die deur kan wees nie. Weer net ’n ruwe baksteenmuur.

As jy versigtig op een van die groot klippe weerskante van die deur sou klim, op jou tone staan, en rek om deur een van die klein, vuil venstertjies langs die deur te loer, sal jy dalk verras wees om die klein vertrek, wat lyk asof dit uit klip gekap is, te sien. Dit lyk soos ’n klein grot. Stowwerig, met net die enkele plat houttafel in die middel van die vertrek.

En as jy gelukkig is om op die regte tyd deur die venster te loer, sal jy ook sekerlik verbaas wees om die groep jong mans kruisbeen om ’n lae tafel in die middel van die vertrek te sien sit, sommer so op die kaal klipvloer. Nee, hier en daar sit een tog op ’n kussing.

Jy sou miskien ook die vreemde letters wat in die strokie sement bokant die deur gegraveer is, opmerk.

As jy moes raai, sou jy dink dat van die jong mans rondom die tafel dalk nog op skool kan wees. Miskien moet hulle nog later vanaand gaan huiswerk doen. Maar jy sal ook sien daar is ’n paar met harde baard tussen die groep van sowat tien.

’n Paar kerse op die tafel sorg vir ’n bietjie lig. Verder is die vertrek donker.

Wat die jong mans in gemeen het, is die swart broeke en swart T-hemde en die rooi bandanas om die voorkoppe gebind. Sommige dra rooi doeke om hulle nekke. Hulle sit vooroor gebuk by die plat tafel.

As jy nader sou kom en mooi kyk, sal jy sien dis ’n kaart wat op die tafel oopgevou is. Jy sal dalk nie weet dat dit ’n kaart van hierdie ou stad met sy baie stegies en koepels is nie. Hulle staar aandagtig daarna.

Aan die kop van die tafel, links, sal ’n ou met donker ernstige oë sit. Hy praat gedemp en beduie na die kaart. Die ander luister aandagtig. Een van die jonger seuns mag miskien ’n vraag vra. Die ou met die ernstige oë antwoord dan geluidloos en beduie weer na die kaart. Daar is soms ’n geluidlose geredekawel, of so mag dit lyk. Almal stem duidelik nie altyd saam met wat die ou aan die kop van die tafel te sê het nie.

Dit lyk asof hy die laaste sê het. Die ander bly stil wanneer hy die kaart opvou en in sy rugsak stop.

Dan staan almal op en vir ’n oomblik is die koppe vooroorgebuig. Hulle prewel gesamentlik iets en maak vinnig ’n teken met hulle linkerhande. Die drie vingers wat hulle voor hulle uithou, lyk effens na ’n voëlpoot. As jy steeds op die klip staan, moet jy nou vinnig skuiling soek voordat hulle jou sien.

Die houtdeur gaan oop en die jong mans sluip in enkelgelid tussen die donker struike deur na die hekkie. Niemand praat ’n woord nie. By die hek gaan hulle staan. Die ou met die ernstige oë stoot die hekkie versigtig oop. Kyk heen en weer. Kyk oor sy skouer en knik vir die res.

Dan verdwyn hulle een-een by die hekkie uit die nag in.

Toring van Jasmyn

Подняться наверх