Читать книгу Toring van Jasmyn - Derick van der Walt - Страница 11

Оглавление

HOOFSTUK 5

Markus gaan saam met sy medereisigers op die Angel’s Tears Hotel se daktuin ontbyt eet. Hulle klim steunend die klomp smal trappies na bo. Hysbakke gaan waarskynlik nog ’n paar eeue vat om hier te kom, dink Markus. Hy vertel nie vir die ander dat hy reeds op die daktuin was nie.

In die daglig lyk Istanbul anders, miskien vriendeliker en minder scary as in die aand, dink Markus. Die lug is dynserig met ligte wolkies wat lyk asof jy maklik daaraan kan vat, so naby is hulle. ’n Paar meeue vlieg raserig verby. Die daktuin het ’n mooi uitsig op die Bosporus en as hy omdraai, sien hy die beroemde Blou Moskee, wat in die dag minder soos ’n verjaarsdagkoek lyk. Dié moskee is glo ook op die Sonskyngroepie se lysie vir die dag.

Die daktuin se eienaardige groen gras blink in die sonlig. Soos die vorige aand, buk Markus om daaraan te vat. Fake, soos baie van die foto’s en boodskappe wat sy klasmaats op Facebook plaas – so plastiekerig. Hy onthou vaagweg sulke grillerige blink gras langs sy oupa se graf op Zastron in die Vrystaat.

Wit plastiekstoele en tafels staan onder sambrele op die Facebook-gras en vele vreemde mense van talle vreemde lande tou voor die lang bruin toonbank binne, waar hulle vreemde goed in hul borde skep. Die opskepvertrek word deur ’n groot glasdeur van die sit-area buite geskei.

Hulle gaan sit by ’n tafel teenaan die daktuin se reling wat oor die see kyk. ’n Meeu kom sit ewe ougat op hulle tafel. “Sjoesj!” jaag Markus die meeu weg, wat krassend wegvlieg.

Markus hou Neil onderlangs dop. Neil se gesig sê nie eintlik wat in sy kop aangaan nie. ’n Lang, stil seun, soos sy ma Neil beskryf het voordat hulle hom ’n paar dae gelede vir die eerste keer ontmoet het. Neil se pa en hulle pa was vir drie jaar vennote in ’n konsultasie-firma, maar die gesinne het nooit oor en weer gekuier nie. Sy pa se beleid: Hou werk en kuier uitmekaar.

“Ontferm jou ’n bietjie oor hom, Nina.” Sy ma se woorde. “Hy is deur ’n moeilike tyd.”

Niks van “Ontferm jou ’n bietjie oor hom, Markus” nie. Nie dat hy hom juis oor iemand wil ontferm nie. Veral nie in hierdie deurmekaar plek nie. En watse simpel woord is “ontferm” nie? Dit maak geen sin nie.

Hy kyk na die Bosporus, die geruislose swart see. Op ’n manier hou hy daarvan, besluit Markus. Dis anders as die see in Suid-Afrika waaraan hy gewoond is. Daar’s nie groot branders en deurskynende groen golwe en kindertjies wat vrolik op wit strande agter groot opblaasballe aan hardloop nie. Die swart see maak hom rustig.

“Het jy gisteraand die muezzin gehoor, Markus?” vra Nina. “Die ou wat so oor die luidsprekers gesing het. Hy roep die Turkse mense vir die aandgebed. Dit was absoluut awesome. Ek het hoendervleis gekry,” sê Nina opgewonde.

“Ek weet wat ’n muezzin is, Nina,” jok Markus.

“Kom ons gaan skep,” sê hulle pa ongeduldig voordat Nina iets kan terugsê.

In die klein ruimte binne die eetvertrek is daar ook sitplek met kussings op lang houtbanke by lang houttafels. Die sitplekke hier lyk gemakliker as die harde plastiekstoele buite, maar Markus is bly hulle sit nie hier nie. Dis warm en benoud. Hallo, aircon. Wanneer gaan Jan van Riebeeck vir julle een bring?

Net ’n paar dae, dink hy weer. Hy sal dit maak.

Dit is toe beslis ’n vreemde spulletjie op die ontbytvertrek se houttoonbank, sien Markus toe hulle agter die ander gaste in ’n tou voor die toonbank inval. Hy ruik vis en lemoensap en koffie, dit ruik na sterk koffie. Die Turkse vrou agter die toonbank beduie trots na die konkoksies waarna Markus wantrouig loer. Sy sê ’n paar onverstaanbare Turkse woorde voordat sy omdraai en iets in die pan op die stoof agter haar begin braai. Die spulletjie in die pan lyk nie vir Markus alte lekker nie. Beslis vis, ruik hy.

Dit gaan nie vanoggend vis wees nie, besluit hy. Hy probeer Nina se opgewonde getjirp en ge-oe en ge-aa oor die bakkie olywe, vreemde kase, die dik wit jogurt, die pot heuning en die vreemde brode ignoreer, al irriteer sy die hel uit hom uit.

En toe die sjokoladekoek eenkant op ’n bordjie. So ’n groot, plat nommer in baie blokkies gesny, met ietsie wits daaroor gesif. Dalk versiersuiker. Sjokoladekoek vir ontbyt? Sy ma sal die horries kry.

Darem roereier. Die eier is nogal baie valerig – weird, maar hy moet iets in sy leë maag kry. Hy het krag nodig om vandag die Sonskyngroepie se toer in hierdie plek te oorleef. Hy skep hier en daar van die kos wat vaagweg lyk na goed wat jy in Pick n Pay in Pretoria kan koop. En toe twee stukke sjokoladekoek op ’n klein bordjie. Hy proe eerste aan die sjokoladekoek. Mmm. Sjokoladekoek op ’n leë maag werk. Dit werk baie mooi vir hom.

Nina praat opgewonde oor al die vreemde smake en “teksture”. Ag, Nina, dink Markus vies.

“Pa móét hierdie eiervrug proe,” sê Nina. Hulle pa is besig met sy selfoon. Hy maak sy mond oop vir Nina se teelepel wat in sy rigting mik sonder om sy oë van die selfoon te haal. ’n Teelepel word tot in nuwe boetie se mond gedruk.

“Delicimo,” sê hulle pa sonder om dit te bedoel, kan Markus hoor. Hy het nie regtig geproe nie.

“Nice,” sê Neil. Markus wonder ook oor dáái nice.

Neil beduie na ’n groot swart skip wat verbyvaar. “Die skip is leeg. As die geel lyn wat rondom die skip loop uitsteek, is die skip leeg. As hy vol is, is die streep onder die water.”

Goue medalje vir jou. Die wandelende Wikipedia. Markus staan op en gaan haal nog ’n stuk koek. Hy gaan nie die grillerige vaalgeel roereier eet nie.

Terug by die tafel haal hy sy foon uit sy sak en kyk vir boodskappe terwyl hulle nog toegang tot die hotel se internet het. Geen boodskap vanuit die suide van Afrika nie. Nie eens van Jamie nie. Dis seker alte lekker-lekker op Ballito se strand. Vergeet van Markus Combrink, dink hy afgehaal terwyl hy die foon terug in sy broeksak druk.

“Neil,” sê hulle pa terwyl hy sy mond met ’n papierservet afvee. “Ons sal oor jou toekoms moet besluit. Ek dink in elk geval jy moet graad 11 in Pretoria klaarmaak, voordat jy planne vir volgende jaar maak. Dis miskien nie so ’n goeie idee om in ’n vreemde skool in ’n ander provinsie matriek te skryf nie.”

Markus kyk afwagtend na Neil, wat verleë met die tafeldoek speel. Hier kom dit nou, dink Markus. Neil kyk weg.

“Ek sal nog sien,” sê hy nadat hy ’n ruk met die tafeldoek gespeel het. “Dankie dat oom-hulle my saamgebring het.”

Markus wonder weer oor hierdie ou.

En toe is dit kerke en katedrale vir die res van die oggend. Die Blou Moskee (gaap), die Aya Sophia (gaap), die Süleymaniye-moskee (gaap).

En Nina met die selfiestok.

“Is jy ernstig? Weet jy hoe simpel lyk ’n mens met ’n selfiestok? Wil jy nou soos daai spul wees?” vra Markus en beduie na die gekoek en gekloek by die hoek van die Süleymaniye waar ’n klomp toeriste selfies neem.

Nina neem vinnig ’n foto van hom voordat hy kan koes. “Daar’s hy. Een vir my Facebook-bladsy om te wys wat ’n paartie-poeper my klein boetie in Istanbul is.”

Klein boetie. Dis seker omdat daar nou ook ’n groot boetie is. Hy wil sommer wegstap, maar hy weet nie waarheen nie.

Nina en Neil kan nie uitgepraat raak oor die miljoene mosaïekteëltjies in die Blou Moskee, waar hulle hulle skoene moes uittrek en op stink kouse die vervelige plek moes verken nie. Jy sit jou skoene in ’n plastieksakkie en prop die sakkie in iets wat soos ’n houtboekrak lyk. Dan staar jy soos al die ander mense vanoor die wêreld oopmond na die dak.

Markus sien sy pa is nie heeltemal so touristy as wat hy behoort te wees nie. Hy is kort-kort met sy selfoon besig en hy gaan lekker huil oor die vet klap wat hy van Vodacom gaan kry wanneer hulle terug is in Suid-Afrika, want jy werk met jou eie data weg van die hotel af. Sy pa stres oor sy toespraak wat hy oormôre by die konferensie moet lewer, vermoed Markus.

Later eet hulle by ’n straatkafee naby die Blou Moskee. Broodjies en vreemde doopsouse.

Nina lees tydsaam hardop van die spyskaart af. “Haydari, dis die jogurtagtige een,” sy beduie. “En hummus, dis die een van kekerertjies. Ma het dit al gemaak, onthou jy, Markus? En daai rooierige een is …” Sy kyk weer na die spyskaart. “Muhammara.” Sy proe. “Sjoe, hy’t ’n byt.”

Markus proe versigtig van die hummus wat hy nie kan onthou sy ma al gemaak het nie. Die ene knoffel. Hy probeer weer Nina se simpel ge-oe en ge-aa ignoreer. Hy en knoffel is nie baie close nie, maar hy eet dit omdat hy honger is.

Nog net ’n paar dae, dan is hy terug in Pretoria – met of sonder ’n nuwe boetie.

Hy gaan nét vir sy ma iets koop met sy geld, en miskien iets vir Jamie, maar hoe duur Jamie se present gaan wees, sal hy nog besluit. Dit hang baie af van die boodskappe vanuit down under. Beslis vir sy ma ’n paar stringe van die Turkish Delight wat lyk asof dit aan ’n Kersboom hoort. ’n Paar pienk stringetjies met rooswater gegeur en met neute in. Sy ma is mal oor neute, maar sy is gewoonlik op ’n dieet. Miskien moet hy liewer vir haar ’n mooi lampie koop.

“Ons asems gaan lekker stink van al die knoffel,” sê hy aan niemand in die besonder nie.

“So what? Ons asems mág stink. Ons is op vakansie,” sê Nina.

“Jy moet chill, Markus,” lag Neil. “Jy vat die lewe te ernstig op.”

Chill jouself, wil Markus sê, maar hy besluit om Neil te ignoreer. Om iemand te ignoreer, is nogal erg. Hy wat Markus is, weet hoe simpel hy voel as hy vir iemand ’n boodskap met sy foon gestuur het en hy kry niks terug nie. Stilbly is ook ’n antwoord, sê sy ma altyd.

Hulle pa kyk van sy selfoon af op. “Ek sal my voorlegging moet aanpas. Die ekonomiese aanwysers het die afgelope vier en twintig uur baie verander. Dit het implikasies vir die Turkse ekonomie. Weet jy hoe werk PowerPoint, Neil?”

“So ’n bietjie. Ek sal oom vanaand help.” Neil vat nog ’n happie brood met ’n skep baba ganoush op, so ’n eiervrugnommer.

Definitief nuwe boetie, dink Markus afgehaal. Hy weet alles van PowerPoint af. Sy pa kon hom net sowel gevra het. Hoe kan sy pa nie onthou dat hy hom laas in Pretoria met ’n PowerPoint-voorlegging gehelp het nie? Hy kyk na Neil, wat nie genoeg van die spul knoffelsouse kan kry nie. Wat het ons hier? Hierdie lang, stil dude wat niks verraai van wat in sy kop aangaan nie. Sulke mooi maniere, dié seun, het Markus se ma gesê.

Hy staan op. “Ek gaan ’n toilet soek.” Hy skuif sy stoel agteruit. Dit lyk nie asof iemand hom hoor nie. Hulle praat nog onophoudelik oor die Aya Sophia se dakpanele terwyl hulle hulle aan die ryk souse vergryp. ’n Maer kat hardloop verskrik weg toe hy opstaan. Wat is die storie met al die katte? wonder Markus vies.

Die kelner beduie die toilet is af met die trappe. Waar anders? In hierdie plek moet jy gedurig trappe klim. As dit nie af is nie, dan is dit op, maar klim sal jy klim.

* * *

LL

Die Combrinks werk toe so.

•Oom H: Oukei ou lyk dit vir my, maar sy kop is altyd op ’n ander plek en sy oë op sy selfoon. You won’t believe die selstorie. Dis soos in erg. Ek dink hy stres oor alles wat hy by die konferensie moet doen. (Iewers gelees jy kan aan jou selfoon verslaaf raak.)

•Nina: Cute en ons bond bietjie. Sy is baie fun al praat sy nogal baie. (Adrie in jou klas, you get the picture.) Chill, jy is BAIE ouliker as Nina, en sy het ’n ou by die huis.

•Markus: Hy lyk ’n bietjie na ’n spoilt brat wat van niks en niemand hou nie. Maar ek dink hy het issues wat hy nie met ons share nie en dit het niks met hierdie plek te doen nie. Miskien gaan daar dinge in sy kop aan wat ons nie van weet nie. Ek kyk nog die spulletjie uit.

Verlang ’n hond uit ’n bos uit na jou.

N

Toring van Jasmyn

Подняться наверх