Читать книгу Toring van Jasmyn - Derick van der Walt - Страница 13

Оглавление

HOOFSTUK 7

Markus en Nina sit in die binneplein van die Hotel van Trane. Markus dink oor die trane. Daar’s nie regtig vir hom ’n punt aan die hotel se trane nie. Hoekom huil die engeltjie?

Nina strek haar bene voor haar uit in die sonnetjie – “vir ’n bietjie Istanbulse kleur,” sê sy.

Markus luister nie juis na haar aanhoudende gebabbel nie. Sy kop is by die suite op die vierde vloer waar kopgekrap word oor die PowerPoint-voorlegging wat blykbaar so ingewikkeld is dat net Neil Privaatskool daarmee kan help.

“Kom saam met my speserymark toe, Boetie. Almal sê dis absoluut awesome. Ons kan maklik met die trem daar kom. Ek het op die app gekyk.”

“Moenie vir my Boetie sê nie. Daar is nou te veel boeties in jou lewe. Ons gaan maklik deurmekaar raak.”

Nina trek haar bene terug tot onder die stoel en sit regop.

“Weet jy, Markus, dis ook nie vir my maklik nie – Ma en Pa … Ek haal dit net nie soos jy op die res van die wêreld uit nie. Die lewe gaan aan. ’n Mens kan nie op een plek vashaak nie.”

Markus voel hoe hy sy moer strip vir hierdie preek wat hy nie wil hê nie, maar hy hou hom in. Hy staan op.

“Nee, dankie, speserye is nie my scene nie.” Hy maak die glasdeur na hulle kamer oop, gaan lê op sy bed en staar na die plafon.

Hy sit later regop en kyk of hy selfoonboodskappe het. Nie eens naby nie. Hy loer deur die venster. Nina sit nie meer buite nie. Hy gaan mal word as hy die res van die oggend in hierdie vertrek moet rondsit tot eenuur wanneer hy die Sonskyngroepie iewers vir knoffel moet ontmoet.

Volgens sy selfoon is dit nou halftien die oggend in Pretoria. Hy skakel sy rekenaar aan en maak Skype oop. Hy stuur vir sy ma ’n boodskap met sy foon.

Hy sukkel ’n ruk en toe skielik, die gekraak op Skype.

“Hallo, Ma.”

“Markus! Dis lekker om van jou te hoor. Geniet julle die vakansie?”

Sy lyk bly om hom te sien. Sy ma met die nuwe kort hare.

“Wat het Ma se hare getref?” Hy sukkel om sy sit op die harde stoel voor die spieëltafel te kry.

“Eet julle oukei?” ignoreer sy die vraag.

“Die kos is weird. Nina freak uit asof sy nog nooit iets beters in haar lewe geeët het nie. Maar ek sien in een van die hotel se brosjures hier is ’n McDonald’s iewers. Ek moet nog gaan soek. Ek gaan maar cheese burgers eet as ek honger word. Is Ma oukei?”

“Ja, wat. Waar is Nina?”

“Ek wil huis toe kom. Dis nie my scene hierdie nie.”

Hy het nou nie meer ’n saak met wie wat daarvan dink of daaroor te sê het oor hoe ondankbaar hy is om nie dié stokou plek te waardeer nie.

“Waar is Nina?” vra sy ma weer.

“Sy is na die speserymark toe. Nuwe boetie help vir pa.”

“Probeer nice wees, Markus. Neil is deur ’n moeilike tyd.”

“Maar gaan hy nou by ons kom bly?” Markus kyk afwagtend na die rekenaarskerm. Hy ken sy ma. Sy kan nie jok nie. Jy sien en voel dit ’n myl ver as sy probeer.

“Hy moet self besluit. Hy het ook familie in die Kaap – sy ma se suster. Daar’s ook ’n oom wat iewers in die Noord-Kaap met beeste boer. Hy kan daar ook gaan bly as wil. Maar soos ek sê, hy moet self besluit.”

Markus staar bewegingloos na die skerm.

“Hy is welkom om by ons te kom bly, al is dit net tot die einde van die jaar,” voeg sy by.

Markus antwoord nie.

Sy ma vee ongemaklik oor haar nuwe hare. “Miskien moet jy probeer om vriendeliker met hom te wees. Julle kan lekker maats word. Jy wou mos nog altyd ’n boetie gehad het? Onthou jy toe jy klein was, het jy altyd—”

“Hy’s ’n wise-ass. Ek wil hom nie as ’n boetie hê nie. Dis nie my skuld wat met hom gebeur het nie! En Nina maak nou asof sy nie ’n régte broer het nie,” val hy sy ma in die rede.

Daar is dit nou op die tafel. Almal moet maar daarvan dink net wat hulle wil. Markus Combrink gaan nie meer vir mense sê wat hulle wil hoor nie. Hy speel verleë met die rekenaar se muis. Hy wag. Dit moet nou kom – sy ma se preek.

Maar sy ma sê niks nie, kyk net na hom. Al ken hy sy ma, kan hy nie hierdie uitdrukking lees nie.

“Dis oukei, Markus. Lief vir jou.”

Die beeld word dynserig. Sy ma kom en gaan en dan is die verbinding verbreek. Hy probeer weer om by haar uit te kom, maar sonder sukses. Hy verwens die hotel se swak internetverbinding.

Hy skakel die rekenaar af en trek sy tekkies aan. Dis tyd om te gaan kyk of Istanbul meer as net winkeltjies en kerke is.

Hy dwaal doelloos deur die strate en kies dan koers in ’n noordelike rigting, weg van die spul toeriste met hulle selfiestokke wat hom die creeps gee. Die toeriste én die selfiestokke. Die strate bly besig met voertuie wat op en af jaag en rakelings by mekaar verbyskuur.

Hy kan nog vaagweg rigting hou. Die Blou Moskee is ’n hele ent agter hom. Hy moet net die Blou Moskee as baken gebruik, dan sal hy weer maklik die hotel kry.

Die wêreld lyk tog anders. Hier is nie meer oulike restaurantjies en cute winkeltjies nie. Die mense op die besige sypaadjies lyk ook anders as dié wat in Sultanahmet ronddrentel. Hulle lyk na gewone mense op pad werk toe.

Hy gaan sit op ’n sementbank in ’n parkie en hou die mense dop wat op die sypaadjies buite die parkie voor hom verbystap. Vroue in burkas, mans met pakke aan en aktetasse, jong ouens met donker hare in jeans en T-hemde en donkerbrille wat hulle oë bedek. Hulle laai bokse uit afleweringsvoertuie en van hulle motorfietse af en dra dit vinnig by winkels in. Hier en daar is toeriste met hul kameras wat dit verder as die toeristebuurt gewaag het.

Hy staan op en stap verder. Die winkels lyk nou meer na gewone winkels waar jy klere en selfone kan koop. Tasse, skoene, juwele. Kos net waar jy kyk: bakke olywe, fetakaas, songedroogde tamaties en vreemde goed wat hy nie ken nie. Kopers skep wegneemetes uit die bakke in polistireenhouers en laat dit by die kasregister weeg. Dit lyk vir Markus asof hulle per gewig betaal.

Voor die venster van ’n kleinerige klerewinkel gaan hy staan. Dis ’n mansklerewinkel. In die venster staan ’n paar winkelpoppe. Een het ’n denim en ’n swart T-hemp aan. Maar dis die donkerbruin onderbaadjie en donkerbruin boots wat die pop aanhet waarna Markus kyk. ’n Bruin leeronderbaadjie en ’n paar bruin leerboots wat skrik vir niks nie. Markus Combrink, is dit waarvoor jy Istanbul toe moes kom?

“Welcome to Istanbul,” prewel hy saggies terwyl hy na die winkelpop staar. Hy voel bietjie skuldig dat die klere in die venster vir hom mooier as die Blou Moskee is. Hy kan net dink wat Nina sou sê as sy dit moes weet: “Markus, jy is partymaal erg oppervlakkig.” Dít het sy al baie gesê.

Hy wonder of hy is. Klere was nog nooit regtig sy ding nie, maar dié kan jy nie miskyk nie. As hy en Jamie weer gaan partytjie hou in Pretoria, gaan hulle skoolpelle nie glo wat hulle sien nie. “Is dit ou Markus? Slaan my dood!” En Carien Lombard gaan vir die eerste keer in haar lewe régtig na hom kyk. Waar was jy al die jare, Markus Combrink? gaan sy dink.

Hy buk vooroor en kyk of hy die prys kan sien. Daar is nie etikette aan die kledingstukke nie.

Hy kom regop en loer versigtig om die winkel se deur. Hy stap huiwerig binne. Dis skemer binne die winkel.

’n Jong, baie mooi meisie met lang donker hare stap nader en vra of sy kan help. Haar Engels is nie baie goed nie. Sy dra Westerse klere. Hy kan nog nie uitmaak hoekom party vrouens van kop tot tone in swart burkas geklee is nie. Jy sien net die oë uitsteek, maar ander, soos dié meisie wat duidelik Turks is, lyk asof sy haar klere in die Menlynsentrum in Pretoria koop.

Hy beduie na die winkelpop in die venster en vra wat die leerbaadjie en die boots kos.

“Van waar is jy?” vra sy nuuskierig.

Hy sukkel om te verstaan en kyk onbegrypend na haar.

“Jou land, waar jy bly?”

“Suid-Afrika.”

“Baie spesiale prys vir iemand van Suid-Afrika,” sê sy terwyl sy na die uitstalling in die venster stap.

Ja, ja, dink Markus vies. Hy dink aan die artikel op die internet wat Nina een aand in Pretoria vir hulle voorgelees het. Wees wakker, die mense weet jy’s ’n toeris. Hulle verneuk jou om elke hoek en draai, veral die taxibestuurders.

Hy stap agter die meisie aan. “Net die boots en die onderbaadjie.” Hy voel skielik benoud. Hy wil hier wegkom.

Sy stap tot by die geldlaai en maak ’n berekening op ’n sakrekenaar. “Vir die onderbaadjie, 200 lira …” Sy tik weer op die sakrekenaar: “En vir die skoene, 220 lira. Baie spesiale prys.”

Hy maak somme in sy kop. Dis meer as twee duisend rand. Dis heeltemal te veel. Hy het net omtrent ’n duisend rand se lira in sy sak en dit is min of meer al sakgeld wat hy vir die vakansie het. En hy moes lank spaar daarvoor. Hy moet nog vir Jamie en sy ma elkeen iets koop. Hy wonder of ’n yskasmagneet of twee gaan tel as ’n geskenk uit Istanbul.

Hy stap venster toe en voel aan die onderbaadjie. Dis sag. Hy ruik daaraan. Dit ruik na iets wat hy nie ken nie. Skoon. Dit ruik net reg. Hy kyk weer na die stewels.

“Watter nommer dra jy?” vra die meisie.

Markus huiwer. Miskien moet hy dit net aanpas. Dalk voel dit glad nie reg nie, dan kan hy hier wegstap en van die boots en die onderbaadjie vergeet.

“Nommer agt.” Hy weet nie of hulle hier in Istanbul ander nommers vir skoengroottes gebruik nie, maar dit lyk asof die meisie verstaan.

Sy kom terug van agter die winkel en maak ’n wit doos oop. Hou die regterstewel na hom uit. “Probeer.” Sy gooi haar swart hare oor haar skouer.

Hy trek sy tekkie uit, bly dat hy nie vandag sokkies aanhet waar sy groottone uitsteek nie. Hy trek die stewel aan en staan op. Dit voel gemaklik. Hy trek die ander een aan en stap tot by die spieël in die hoek. Bekyk homself.

Die meisie hou die onderbaadjie na hom uit. Hy trek dit oor sy sweterige T-hemp aan. Al is sy hemp nie swart soos die winkelpop s’n nie, lyk dit reg. Dis ’n outfit gemaak vir Markus Combrink van Pretoria.

“Welcome to Istanbul,” prewel hy weer sag vir sy gesig in die spieël.

Maar hy kan nie die onderbaadjie én die stewels bekostig nie. Hy besluit op laasgenoemde.

“Ek het nie genoeg geld nie,” sê hy vir die meisie, wat dadelik vertel van die kitsbank op die hoek.

Markus skud sy kop.

“Deposito, net tien persent, en dan kan jy dit later kom haal. Ons sal dit vir jou daar agter hou.” Sy beduie met haar kop na die agterkant van die skemer winkel.

Markus dink terwyl hy weer sy tekkies aantrek. Hy sal vrek nice met sy pa en sekere ander lede van die Sonskyngroepie moet wees as hy hulle geld gaan nodig hê om die stewels te betaal. Nina kry hom darem dikwels jammer as sy sakgeld op is en dan gee sy maar ’n paar note. Sy vra nooit dat hy dit terugbetaal nie. Hy sal vir tyd moet speel. Miskien het hy nog bietjie geld oor teen die einde van die vakansie en dan hoef hy nie so baie by sy pa en Nina te leen nie. Maar dalk moet hy dié geldsake vinnig agter die rug kry sodat hy nie die hele vakansie daaroor hoef te stres nie.

Hy kyk deur die venster na die mense wat voor die winkel se venster verbyloop, haastig op pad iewers heen.

“Hoe lank sal jy dit vir my hou?”

“Twee weke,” sê die meisie. “Ek sal vir jou ’n bewys vir die deposito gee,” voeg sy by.

Markus haal sy beursie uit sy sak, tel die lira vir die deposito daaruit af en gee dit vir die meisie. Sy pak die stewels terug in die doos en hang weer die onderbaadjie oor die winkelpop se skouers. Dan stap sy na die agterkant van die winkel en verdwyn by ’n deur in. Wanneer sy terugkom, gaan staan sy agter die glastoonbank by die geldlaai. Sy wink hom nader en hou ’n notaboekie na hom uit. “Jou naam, telefoonnommer en die hotel se naam waar jy bly.”

Sy skryf tydsaam in ’n ander boekie, skeur die bewys van betaling vir die deposito uit en gee dit vir hom. Sy gee ook vir hom ’n kaartjie met die winkel se adres en ander besonderhede daarop. “As jy verdwaal, vra ’n taxi om jou te bring.”

Terwyl hy deur toe stap, hoor hy haar weer agter hom sê: “Jy is gelukkig. Baie spesiale prys.”

Toe hy buite kom en sy oë teen die skerp son knip, dink hy dat hy sy kaarte baie mooi sal moet speel met die Sonskyngroepie, anders is dit nie meer “Welcome to Istanbul” nie.

Toring van Jasmyn

Подняться наверх