Читать книгу Toring van Jasmyn - Derick van der Walt - Страница 5

Оглавление

Dit is miskien die woorde op die lang ou se swart T-hemp wat jou laat vermoed dat hy ’n Amerikaner kan wees: Always be yourself, unless you can be Batman (then always be Batman).

Dalk ook sy bruingebrande gesig en die blonde krulhare. Jy kan hom maklik op ’n branderplank voorstel.

Die twee jong meisies wat weerskante van hom stap, ewe blond, geniet die lang ou se slimmighede, kan jy sien. Hulle giggel, skuif sonbrille reg, voel of die toppies nog in plek is. Die meisie met die blonde vlegsel, regs van die moontlike Amerikaner, se sandale is goudkleurig en haar toonnaels bloedrooi geverf.

Jy merk ook die vrouens in swart burkas tussen die vele toeriste op. Hulle beur ongeduldig, miskien effens geïrriteerd sê die lyftaal, deur die menigte.

Die Turkse jong mans in die gedruis op die sypaadjies kan jy ook nie miskyk nie. Jy eien hulle aan hulle donker oë en donker hare. Hulle is haastig, duidelik op pad iewers heen, nie hier op ’n besigtigingstoer saam met die toeriste nie.

Die blonde groepie buk kort-kort en ruik nuuskierig aan die veelkleurige inhoud van die wit erdeskottels voor winkels waarin speserye hoog gestapel staan. Jy ruik kaneel, komyn, gedroogde tiemie, mentblare, koljander, paprika.

Soms neem een van die lede van die blonde groepie ’n foto, selfies meestal. Hulle streel oor die rye en rye tekstiele wat in stringe van pale voor stalletjies se donker openinge hang. Daar’s diepblou, opaal, room, goud, herfsgele en -bruine, skelpers en -pienk. Iewers kan jy ’n vrou treurig in Arabies hoor sing, begelei deur ’n snaarinstrument, dit kan ’n siter wees. Daar is ’n aanhoudende gekliek van kameras en ’n opgewonde gebabbel van die toeriste afkomstig van elke uithoek van die aarde.

Die stegie mond in ’n keisteenplein uit waar restaurantjies soos mossels om ’n rots gerangskik is. Vrolike sambrele, tafeltjies met mooi tafeldoeke, rondskarrelende kelners, vreemde maar verleidelike geure vanuit stomende houers, is jou eerste indrukke. Die etendes voor die restaurante se gesels laat jou aan die vrolike gedruis van ’n waterval dink.

Die jong man met ’n swart bofbalpet op, wat skielik uit ’n agterstraat verskyn, sal waarskynlik nie jou aandag trek nie, dalk net as jy hom terloops uit die hoek van jou oog raaksien.

Hy loop vinnig na die restaurantjie op die hoek met die helderblou sambrele waar toeriste opgewonde die oggend se ervarings en inkopies bespreek. Die inhoud van inkopiesakke word triomfantlik op tafeltjies uitgepak.

Die pakkie in bruin papier toegedraai wat die man met die swart pet styf teen sy bors hou, sal waarskynlik ook nét per ongeluk jou oog vang. Hy stap die restaurant vinnig binne en sekondes later verskyn hy weer by die deur. Hy kyk vinnig heen en weer en stap dan haastig oor die plein.

In ’n systraatjie kan jy vaagweg die geluid van ’n motorfiets hoor wat vinnig wegtrek.

Jy sien eers die helder wit lig voordat jy die slag hoor. Die lig is verblindend en verhelder die binneplein met sy mooi keistene en vrolike sambrele na iets onwerkliks. So wit en so helder is alles.

Dan hoor jy die oorverdowende slag. Vir ’n paar sekondes daarna is dit stil. Dan ruik en sien jy die rook en die vlamme wat by die restaurant se vensters uitpeul. Jy sien ook die sambrele wat aan flarde die wêreld vol lê op die binneplein, tafels en stoele omgekeer, borde en glase stukkend op die plein se stene.

Jy hoor die gekerm en die geskree om hulp, sien die straaltjies bloed wat stadig spinnerakke oor die mooi keistene vorm.

Eenkant lê ’n spierwit voet sonder die res van die lyf, ’n goue sandaal nog in plek, die naels bloedrooi geverf.

Toring van Jasmyn

Подняться наверх