Читать книгу Toring van Jasmyn - Derick van der Walt - Страница 12

Оглавление

HOOFSTUK 6

In hulle huisie nie ver van die besige Sultanahmet af nie, het Meryem die sitkamer se mat oor die wasgoeddraad in die klein agterplasie gehang. Dis gewoonlik ’n gesukkel. Sy doen elke week net een. Die matte is swaar.

Vandag is dit die mat in haar en haar ma se kamer. Sy het dit met ’n gesteun uit die kliphuisie en by die klein agterdeur uit gesleep. Maar sy kla nie. In hierdie huis moet almal help om te doen wat gedoen moet word.

Haar ma is winkel toe om die su böreği – pasteie propvol kaas en spinasie – en die bakke börek – goudbruin deegrolle, volgestop met maalvleis – te gaan aflewer. Die vrouens in hulle familie wonder jaloers oor haar ma se maalvleisresep, maar haar ma kyk anderpad as haar maalvleisresep ter sprake kom. Hoor niks, sê niks.

Meryem glimlag. Haar ma tog! En hoe het hulle lewe nie die afgelope twee jaar verander vandat haar pa weg is nie. Haar ma is soos iemand wat nie links of regs kyk nie, beur net doelgerig vorentoe teen die wind in. Hoor niks nie, sien niks nie, soos met haar maalvleisresep.

Sy en haar ma het tot in die oggendure in die klein kombuisie gespook om al die kos gemaak te kry. Dis elke aand se ding.

Azir, haar neef, kom laai haar ma elke oggend met sy taxi op en karwei haar en die vele bakke wat op die kar se agtersitplek en in die kattebak gelaai word, na die winkel naby die Sultanahmet-plein waar dit aan die toeriste en die plaaslike inwoners verkoop word. “Party eet sommer so terwyl hulle loop en rondkyk, Meryem,” vertel haar ma wanneer hulle saans deeg knie in die kombuis vir die volgende dag se sarsie. Die toeriste is mál oor haar su böreği, sê haar ma dan trots. Hulle kom terug om weer te koop.

Haar ma werk ook bedags in die winkel se kombuis en kom eers by die huis wanneer dit begin donker word en Azir haar weer met die leë bakke by die huis kom aflaai.

Dis Meryem se werk om al die leë bakke te was in die klein sinkopwasbak op die agterstoep. Sahib is te moeg om hulle met die voorbereiding van die kos vir die volgende dag te help wanneer hy laat van die speserymark af kom.

Sahib moes baklei vir dié staanplek nadat hulle pa weg is. “’n Seun!” het van die mans in die speserymark onthuts gemompel. Maar Sahib het gemaak of hy nie hoor nie. “My pa se plek is my pa se plek,” het hy net gesê. En aangehou totdat hy sy staan mooi tussen die ouer mans gekry het. En nou is hy miskien een van hulle, vermoed Sahib. “Meryem, hulle skinder oor als met my. Tot oor die Galatasaray wat so vrek sleg gespeel het sover vanjaar.”

Meryem glimlag. Sahib se sokkerspan, Galatasaray. Haar broer met die pikswart oë.

Wanneer hy saans moeg by die huis kom en sy motorfiets by die syhek van die agterplaas instoot, gaan sit hy kruisbeen op die mat in die voorkamer met ’n glas granaattee langs hom op die tafel. Hy pak die munte en geldnote in hopies en tel die dag se wins. Dan lyk hy vir Meryem soos sy haar pa onthou: die frons op die voorkop, daai trek om die mond. Kyk, hulle vat nie nonsens nie. Jy moenie eens probeer nie.

Sahib tel die hopies altyd ’n tweede keer, net om seker te maak. Dan sit hy die munte in die blou lapsak, vou dit dubbel en gaan bêre dit onder die matras in sy kamer om die volgende dag bank toe te vat.

Wanneer die blou sak veilig onder sy matras is, tap Sahib water in die sinkbad in die agterplaas. Hy maak water warm in die groot kastrol op die stoof. As dit ’n baie lang dag was, maak hy tot drie groot kastrolle op die stoof warm. Trek die gordyn wat oor die wasgoeddraad hang toe om hom van die res van die huishouding af te skort.

Sahib lê eers lank doodstil. Jy hoor nie ’n geluid nie. Meryem weet hy lê in die warm water en dink. En hy maak planne. Sy weet nie hoe Sahib se planne werk nie; hy praat nie daaroor nie.

Wanneer hy klaar geëet het, gaan lê Sahib op die bed in sy kamertjie langs die agterstoep. Hy lê gewoonlik met sy hande agter sy kop na die plafon en staar voordat hy aan die slaap raak. Sy loer soms versigtig om die deur.

Dan wonder sy waar sy met ’n glas tee op die agterstoeptrappie sit en na die vaal sterre in die lug staar: Wat gaan van Sahib word wat nie skool klaargemaak het nie en nogal kwaad is vir die wêreld? Gaan hy vir altyd en altyd op hulle pa se plek in die speserymark kan staan en praatjies maak met die ryk toeriste van baie lande waar nie een van hulle twee waarskynlik ooit hulle voete sal sit nie?

Dié goed bedink Meryem terwyl sy die mat met ’n houtstaaf klop. Die stof wat uit die mat die lug in opstyg, lyk vir haar na blinkerige liggies. Die stoffies lyk fyn, amper onsigbaar as jy nie mooi kyk nie, soos die vuurvliegies wat sy eenkeer gesien het toe hulle op die platteland by familie was.

Sy sleep later die mat terug na sy plek binne die huis. Steun toe sy orent kom. Besluit om deeg aan te maak. Sy sal vanaand pide vir haar broer en haar ma maak. Daar’s nog maalvleis en spinasie van gisteraand se gewerskaf in die kombuis oor. En daar is nog baie van die homp börekkaas oor wat Sahib by sy buurman by die speserymark geruil het vir ’n sak orego en ’n sak komyn.

Pide is haar broer se gunsteling. Dit proe glo soos hulle pizza, sê die Amerikaners volgens Sahib. Sy kan vir ure na sy stories oor die toeriste luister. Hulle snaakse goetertjies en sêgoed. “Niks gewoond nie,” sê Sahib gewoonlik en klik sy tong. “Níks gewoond nie, Meryem, al het hulle geld om die wêreld vol rond te lê.”

Sy wil nie onthou van Sahib wat gisteraand met ’n swart hemp en broek en ’n rooi doek, wat hy in sy rugsak gedruk het, met sy motorfiets die nag in is nie. Sy wou dit nie gesien het nie.

Toring van Jasmyn

Подняться наверх