Читать книгу Toring van Jasmyn - Derick van der Walt - Страница 6

Оглавление

HOOFSTUK 1

Markus wikkel vir die soveelste keer in sitplek 74A van die Boeing terwyl hy die groot tannie se gesnork in sitplek 74B probeer ignoreer. Deur die vliegtuig se venster is niks te siene nie, net die donker. Nie eens ’n ster of ’n wolk of iets daar ver onder wat dalk ’n vreemde land kan wees nie.

Die monitor op die rugkant van die sitplek voor hom wys hulle vlieg steeds oor Afrika.

Hy loer onderlangs na Neil in sitplek 74C. Dié staar strak na die monitor op die agterkant van die passasiersitplek voor hom. Oorfone in die ore, kyk ’n fliek en dit lyk of hy nie ’n saak het met iemand anders in enige sitplek wat ’n nommer 74 het nie.

Markus is spyt dat hy so baklei het om by die venster te sit. Neil het die beste sitplek, al kan hy nie by ’n venster uitkyk nie. Wat is daar nou eintlik om te sien? Neil kan makliker as hy opstaan, toilet toe gaan, en sommer net in die gangetjie tussen die rye sitplekke rondloop om litte te rek. En hy sien Neil vra kort-kort vir die lugwaardin nog iets om te eet en te drink. Sy glimlag elke keer vriendelik vir Neil.

Have a heart, dink Markus vies. Wat is dit aan hierdie ou dat mense dink hy is die ene hoofseun? Hy wat Markus is, sien nie die Mister Goody-goody raak nie. Eintlik irriteer die ou die hel uit hom uit. Hoekom Neil nou in hulle Combrinks se sop moet kom rondhang, verstaan hy ook nie heeltemal nie. Het die ou nie ’n oom of ’n tannie of ’n nefie of ’n oupa iewers nie?

Markus dink aan die skoolvakansie waarna hy erg uitgesien het voordat sy pa die onverwagse brainwave gekry het om hulle saam te vat op sy sakereis Istanbul toe. Dis sy gewete wat pla, weet Markus. Nothing more, nothing less.

Hy sou baie eerder nou op Ballito se strand saam met Jamie-hulle wou rondhang as om in ’n vreemde land na kerke en katedrale te gaan kyk. Die simpel plek het glo meer kerke as mense wat op straat loop, klink dit vir hom aan Nina se gepraat.

Hallo, daar ontplof actually bomme daar. Sy pa sê hulle sal veilig wees, maar hy wat Markus is, is nie so seker nie. Om in ’n bruin boks sonder asem weer in Suid-Afrika aan te land is nou nie wat hy pret sal noem nie. Jamie sê hy sou honderd keer eerder in Istanbul tussen die bomme en die aksie wou wees as op Ballito se strand. Maar Jamie verstaan nie. Jamie het nog nooit regtig verstaan nie.

Markus kyk weer na die spyskaart met flieks op die monitor voor hom waaruit hy kan kies. Niks interesseer hom nie. Hy is al ’n paar keer deur die lysie. Hy het die meeste van die goed al lank terug by hulle huis in Pretoria gekyk. ’n Mens sou dink dat Etihad Airways darem beter kon doen om die passasiers te vermaak. Die vliegkaartjies Istanbul toe het sy pa ’n hoop geld gekos. Waarna sou Neil so lekker kyk? wonder hy effens jaloers.

Hy moes tóg aan die slaap geraak het, besef Markus verbaas. Hy word wakker van ’n gewerskaf in die kajuit. Mense staan op, tou toilet toe. Die lugwaardinne deel nat, warm lappies op silwer skottels uit. Passasiers vee hulle gesigte en hande met die lappies af.

Die tannie langs Markus, wat nou uiteindelik klaar gesnork het, staan op en Neil staan eenkant toe sodat sy by hom verby kan skuur.

“Sjoe, dis darem ’n lang sit,” sê Neil toe Markus by hom verbyskuif. Markus antwoord nie.

Voor die toilet tou ’n lang ry mense. Hy sug en wag sy beurt af.

Sy pa en Nina het intussen ook lewe gekry in die ry sitplekke voor hulle, sien hy toe hy terug in sy sitplek skuif. “Ek kan nie wag nie,” hoor hy Nina vir sy pa sê. Markus rol sy oë.

Hy eet lusteloos aan die klein bakkie jogurt, muesli en vrugte. En toe die roereier, worsie, gebraaide tamatie en ’n broodrolletjie. Dié verlepte bordjie kos staan nie ’n kans om iets op MasterChef te wen nie, maar hy is honger.

Hy sluk aan die flou koffie. Op die monitor voor hom sien hy hulle is nie meer te ver van Turkye af nie.

Ná ’n uur kondig die kaptein eers in Arabies en daarna in Engels aan dat hulle binnekort gaan land.

Halleluja, dink Markus. Deur die venster sien hy stukkies geel, groen en bruin wat van hier af soos die lappieskomberse lyk wat sy ouma eeue terug gemaak het, voordat haar vingers stokstyf of krom, hy kan nie onthou nie, van die rumatiek geword het. Hy kan vaagweg op die horison iets uitmaak wat na ’n groep bruin stekeltjies lyk. Hulle skiet soos lang, maer miershope die lug in.

Later word die groep snaakse miershope ’n groot bruin stad. Die klomp uitsteeksels word geboue. Groot uitgestrekte areas weerskante, met geboutjies wat huise kan wees. ’n Blink rivier vloei soos ’n reuseluislang deur die bruin landskap. Dit moet ’n helse groot stad wees, dink Markus verwonderd.

Die vliegtuig maak ’n wye draai en begin daal. Die vlieënier is seker nie in Etihad se eerste span nie, dink Markus benoud, toe hulle half rof en hop-hop land.

“Welcome to Istanbul,” sê die vlieënier oor die interkom.

Toring van Jasmyn

Подняться наверх