Читать книгу Arendsnes - Dirk Jordaan - Страница 10
Hoofstuk 6
Оглавление“En wat doen jy vir ’n lewe?”
Kolonel Beyers staan aan die sitkamerkant van die kombuistoonbank – ’n dik houtversperring gemaak van dwarslêers wat die kombuis van die sitkamer afskerm. Hy het vriendelik dog ferm gevra dat Botha moet gaan sit toe hulle die oopplanhuis binnegekom en hy die res van sy span aan die verdagte voorgestel het. Maar Botha het nie in die sitkamerstoel gaan sit waarna die polisieman beduie het nie. Hy het na die kombuis gestap en agter die toonbank op ’n hoë houtkroegstoel stelling ingeneem, sodat die toonbank tussen hom en sy ondervraers is, sodat hulle hom nie kan omsingel nie. Lydia het ’n aantekening daarvan in haar kop gemaak – langs dié oor die man se voorkoms. Hy is nie baie lank nie en ook nie fris gebou nie. Eerder skraal, maar hy het ook geen boepie nie ondanks die feit dat hy iewers diep in sy veertigs moet wees – dit word verklap deur sy grys kop en al die plooitjies op sy donker gelaat. Klein spiertjies is op sy seningrige voorarms te sien. Sy dink aan die swartgeklede moordenaar op die videobeelde van die Mackie-moord.
Botha se gesig is hoekig, die wangbene skerp en die wange effe gesonke. Sy oë is ’n koue blou. Lydia kyk weer na die lewe se spoortjies rondom die oë en merk op dat hy glad nie bles word nie.
Hy vryf met sy regterhand oor sy borselkop voordat hy antwoord: “Ek is in die sekuriteitsbedryf. En ek is ’n professionele jagter. Ek vat oorsese jagters na jagplase in die Bosveld.”
“Sekuriteit? Watter deel?” Beyers krap met ’n pen in die aantekeningboekie op die toonbank voor hom.
“Ek werk as konsultant vir maatskappye wat geld vervoer. Help hulle met intelligensiewerk.”
“Soos?”
“Ons probeer transitorowers se planne vooraf bepaal. Hulle voorspring. Dis intelligensiewerk. Die polisie …” hy huiwer effe, “kom nie by alles uit nie.”
“En dan?”
“Dan oorhandig ons dit aan die polisie.”
Beyers knik. Hulle weet almal dat die veiligheidsmaatskappye hul eie intelafdelings het wat gewelddadige transitorooftogte probeer voorkom. Wat groot belonings betaal vir inligting. Dit is byna ’n alternatiewe teenmisdaad-mag, parallel met die SAPD, wat bestuur word deur mense met militêre ervaring.
“Vir net een maatskappy?”
“Nee, so een of twee.”
“Een of twee? Hoeveel?”
“Twee.”
“Gee my hul name en jou kontakte daar se besonderhede, asseblief.”
Botha staan op. “Kan ek net eers ’n trui gaan haal?” Hy trek met sy vingers aan die T-hemp se een mou om aan te dui dat hy afgekoel het ná sy houtkapsessie buite en dat dié dun materiaal nie meer genoeg is nie.
“Natuurlik.” Beyers knik na Sello se kant toe, wat van die sitkamerbank af opstaan en Botha slaapkamer toe volg.
Lydia staan opsy sodat hulle verby haar kan kom voordat sy deur die sitkamer drentel. Dit is netjies, net soos die res van die huis. Botha het gesê hy woon alleen en dit val haar op dat die huis nie deurmekaar is nie – soos wat ’n vrygesel s’n maar geneig is om te wees. Die kombuis is skoon, die enigste vuil skottelgoed ’n koffiebeker wat in die wasbak staan. In die sitkamer is ’n paar DVD’s in ’n ry op ’n rak onder die televisie. Die boekrak is nie groot nie, maar wel volgepak. Sy buk af. Die boeke is in alfabetiese volgorde, volgens skrywer, gerangskik. Johan Bakkes se reisverhale, Doc Immelman se jagverhale en een van Peter Stiff oor die Bosoorlog.
Dit is ’n reghoekige kliphuis, gebou van ysterklip en met ’n grasdak. Maar die huis is, ondanks die boumateriaal, nie oud nie en taamlik klein. Dit is waarskynlik enkele jare gelede gebou – ’n kruising tussen ’n ou plaashuis en ’n jaghut. Daar is nie ’n plafon nie en dik houtbalke loop kruis en dwars bokant hul kop. Teen een van die mure hang die opgestope koppe van ’n koedoe, ’n vlakvark en ’n paar bokke waarvan sy die spesies nie herken nie. Seker alles aandenkings van jagtogte, soos die koedoevel op die vloer onder die koffietafel voor die televisie en die fyn geraamte van ’n slang wat bo-op die boekrak lê. Die enkele meubels is alles van dik hout. Dié plek is so anders as haar moderne skakelhuis met sy blink kettingwinkelmeubels, dink sy. Sy sal kan tuis voel hier, besef sy effe verwonderd. Dit is veel meer soos die huis waarin sy grootgeword het.
Haar ouerhuis was wel baie groter, maar het dieselfde funksionele gevoel gehad. Sy mis die plaas, maar is aan die ander kant verlig dat sy nooit weer in daardie huis hoef in te stap nie. Deur daardie veiligheidshek na buite hoef te kyk nie. Sy probeer die gevoel van weemoed van haar af wegstoot deur die vertrek verder deur te kyk.
Op die tafeltjie in die sitkamer is ’n pakkie tydskrifte gestapel. Eksemplare van Weg, Magnum en Popular Mechanics, verklap die rugkante. Sy trek haar vingerpunte met die kort naels oor die tafeltjie en kyk daarna. Nie veel stof nie, wat haar verder verras omdat grasdakhuise sonder plafonne maar erg stowwerig kan wees. Sy weet reeds dat die twee slaapkamers en badkamer anderkant die kort gang wat uit die woonvertrek lei, ook so netjies is. Sy draai om, kyk uit by die venster langs die agterdeur, sien die byl regop in die blok buite. Links daarvan is ’n reusedoringboom met ’n lang kierie wat daarteen leun. Aan een van die dwarstakke hang ’n rooi slaansak. Die bokant is stowwerig vuil, maar die rooi plastiek blink in die middel van die swaar sak – dit word gereeld gebruik, dink sy.
Botha kom teruggestap en trek ’n dik groen trui oor sy kop voordat hy weer op sy plek agter die toonbank gaan sit.
“Jy skuld my nog jou werkgewers se name,” sê Beyers.
Hulle hoor ’n voertuig buite stilhou en kort daarna ’n geklop aan die deur. Sello maak dit oop en vier speurders stap in en groet saggies.
“Meneer Botha, ons gaan u huis deursoek.” Beyers beduie met ’n kopknik na die nuwe aankomelinge.
“Waarvoor? Wat soek die Valke by my huis? Ek dink dis tyd dat julle my eers vertel wat aangaan. Anders sal ek julle moet vra om te loop.” Die frons tussen Botha se oë lyk vasberade.
“Nou goed. Het jy gehoor van die moord op Jonathan Mackie?”
“Wie?”
Die speurders hou hom fyn dop, maar hy laat glad nie blyk dat hy die naam herken nie.
“Mackie. ’n Ryk en bekende sakeman. Hy is eergisteraand vermoor. Doodgeskiet. Dit was orals op die nuus …”
“Sorrie, ek kyk nie nuus nie. En hulle lewer nie die koerant hier af nie.” Botha glimlag liggies.
“Oukei … In elk geval, hy is doodgeskiet. Dit lyk soos ’n teregstelling en jou naam het opgekom toe ons begin ondersoek doen.”
“Hoe bedoel jy?” Botha frons.
“Stander?” Beyers kyk na haar kant toe.
Lydia stap nader. “Meneer Botha, jy het ’n Toyota Fortuner met die registrasienommer …” Sy soek na die aantekeningboekie wat iewers in een van haar sakke is.
“RSV 989 GP,” sê Sello agter haar.
“Ons het bewyse dat die voertuig by die moordtoneel was. Dat die moordenaar dit gebruik het.” Lydia sien hoe Botha se frons verder verdiep.
“Dis onmoontlik,” sê hy.
“Jou voertuig is nie gesteel nie. Hy is nie as gesteel aangemeld nie,” sê sy.
“Waar was jy eergisteraand, Meneer Botha?” vra Beyers.
“Ek … ek kan nie nou onthou nie,” antwoord hy sag.
“Ek dink jy moet maar saam met ons kom.” Beyers knik vir die ander speurders. “Soek dit deur. En sê vir die Takies hulle kan maar onttrek.”
“Daar is ’n wapenkluis in die gang,” voeg Lydia by.
“Sal jy dit vir hulle oopsluit voor ons ry?” vra Beyers. “Die garage ook.”
Botha knik. “Hoe lank gaan dit vat?”
Die bevelvoerder glimlag. “Dit, meneer Botha, hang van jou af.”
“Kan ek dan net my hond kos gee? Netnou is ek nie betyds terug nie.”
“Oukei. Kom,” sê Die Bees.
Botha sit agter in die Jetta, langs die swart speurder. Hý sit met sy bene na Botha se kant toe, rug half skuins teen die linkerdeur, regterhand baie naby aan die holster op sy regterheup. Botha se vingers is in mekaar gevleg, sy hande op sy skoot. Hy ruik die winterstof en soet reuk van die hoë gras wat soos ’n geel muur langs die grondpad verbyskuif.
Dit voel soos om ingedruk te wees in ’n helikopter, hande gevou om ’n R5 se loop wat met sy kolf op die allooivloer van die chopper staan. Hy kan weer die swaar rugsak op sy rug voel en die waterbottel ongemaklik op sy linkerheup.
Langs en oorkant hom is die res van die stick ingedruk: Van Reenen, Stoney en Mike – hul oë uitdrukkingloos onder die boshoede en agter die black-is-beautiful wat die blankbleek gesigte moet verberg. By die oop deur sit die majoor, sy baret vasgegroei op sy kop, oor sy gekartelde hare. Sy hare het hom juis sy bynaam, Matraskop, besorg. Sy snor is wit en yl op die bolip.
Botha tuur by die deur uit, na die doringbome wat onder hulle verbyflits, die oop changas tussen die ruigtes en oral die bleek sand van Angola. Sand, sand, sand.
Elke nou en dan kan hulle hul eie lang skaduwee soos ’n swart gedaante tussen en oor die boomtoppe vooruit sien jaag. Dit lyk soos ’n haai wat oor die seebodem flits en kort-kort opskiet, oor ’n woud seewier, voordat hy weer bodem toe duik. Die Alouette se turbine-enjin fluit skril agter hul kop en as hy na links of regs swenk, klap die lemme in die laatmiddaglug in ’n poging om bytplek te kry. Die stof en dampe van die vliegtuigbrandstof slaan in hul neus op – ’n reuk wat jy, nes dié van ’n konvooi se dieselrook wanneer al die enjins aangeskakel word, nooit weer vergeet nie.
Hulle is lankal uit Sektor 1 Zero in Suidwes en het oos gedraai, oor die Cubango-rivier gevlieg en nou leun die Alouette vorentoe, sy stertrotor gelig soos hy vaart kry. Hulle moet gou maak om voor donker op die grond te wees.
Dan beduie die vlugingenieur in die sitplek regs voor oor sy skouer iets vir die majoor. Matraskop knik, kyk na sy manne en steek sy regterduim in die lug. Hulle klap met hul hande op hul toerusting om seker te maak hulle het alles – onnodig maar ingeoefen en geroetineerd. Dit voel of hulle uit hul harde sitplekke gelig word wanneer die chopper spoed verminder voordat hy in ’n sirkel na links swenk terwyl die bemanning seker maak die landingsplek is veilig. Die majoor leun vorentoe en hou sy plat hand tussen hulle uit. Dit is die laaste ritueel. Botha vroetel agter sy nek en maak die badkettinkie los, haal die dog tag af en laat dit in die oop hand val. Die res volg sy voorbeeld.
Die chopper laat sy stert sak en gaan sit. Sand en blare vlug in ’n kring van hulle af weg, die bosse in. Die majoor druk weer sy duim in die lug. “Doen die regte ding!” skree hy.
Hulle antwoord nie. Die vier mans spring uit, wapens in die regterhand, oë op skrefies en linkerhand op die kop sodat die rotorwind nie hul boshoede afwaai nie. Botha voel die sand onder sy stewels se sole en sukkel om vastrapplek te kry. Dan storm hy gebukkend deur die stofgordyn die onbekende in.
Bees Beyers sit sy twee plathande weerskante van die skryfblok voor hom op die tafel. Dit lyk soos twee pakke frankfurters. Daar staan twee polistireenglase water ook tussen hom en Botha, wat op die regop plastiekstoel anderkant die tafeltjie in die onderhoudkamer sit.
“Nou goed, sê weer vir my vir wie jy werk …”
“Is ek in arres?”
“Nee,” Beyers kyk stip na hom, “nog nie, maar ons het die reg om enigiemand te ondervra wat ons dink betrokke kan wees by ’n saak.”
“Ek weet niks van die saak wat julle genoem het nie.”
“Nou maar kom ons bevestig dit. Kyk, ons het regtig bewyse dat jou motor by daardie moordtoneel was. Dat die moordenaar in hom geklim en weggery het. Jy besit mos daardie Toyota?”
“Ek besit ’n Toyota, ja …”
“Met daardie registrasienommer.”
“Umm, ja, maar dit kan nie myne wees nie. Dalk het die moordenaar vals nommerplate opgesit.”
“Wat dieselfde is as joune, op presies dieselfde soort voertuig as wat jy ry?”
Botha antwoord nie weer nie.
“Kyk, ons gaan jou ondervra en as jy regtig niks daarmee te doen het nie, dan bevestig ons dit en dan kan jy loop. Verstaan?” Beyers tel die pen op. “Jy is seker jy weet niks van die moord op Mackie nie?”
Botha skud sy kop stadig heen en weer, sonder om oogkontak met sy ondervraer te verbreek.
“Oukei. Vir wie werk jy?”
Daar is ’n kort pouse voordat Botha antwoord. “Vir Coin en Afsky.”
Beyers skryf die maatskappyname neer. “Ek ken Coin, wie is Afsky?”
“Dis ’n maatskappy wat Eskom se lyne patrolleer, uit die lug. Ons probeer die diefstal van kabels voorkom.”
“Wat doen jy vir hulle?”
“Dieselfde as vir Coin. Ons probeer intel kry oor kabeldiewe en dan gee ons dit deur aan julle. Partykeer tree ons saam op teen hulle.”
“Dis al?”
“Ja. Kyk, dis gemagtigde operasies. Saam met die polisie, vra hulle maar.”
“Hoe het jy daar beland?”
“Ek het vir Coin gewerk, maar later op my eie gegaan.”
“Voor dit?”
Botha huiwer. “Ek was in die weermag. Diensplig en so.”
“Hoe lank het jy vir Coin gewerk?”
“So vyf of ses jaar.”
“Dan het jy darem baie lank diensplig gedoen …” sê Beyers sarkasties.
“Ek was ná diensplig ’n PF, maar het bedank.”
“Hoekom?”
Botha gee ’n klein glimlag. “Beperkte loopbaanvooruitsigte.”
“Hoe lank was jy ’n PF?”
“So twaalf, vyftien jaar.”
“En in watter eenheid was jy?”
Hy huiwer voordat hy antwoord. “5 Verkennings.”
Beyers kyk op van waar hy besig was om te skryf. “Mmm, ’n recce?”
Botha se gesig verdonker, maar hy antwoord nie. Hy sukkel om te bepaal of die speurder se reaksie hoon was en of dit vir hom soos ’n leidraad geklink het.
“Rang?”
“Stafsersant toe ek uitgetree het.”
“O. Waar was jy eergisteraand?”
“By ’n hotel in Johannesburg.”
“Watter hotel?”
“Ek weet nie, dis in Honeydew. Eintlik ’n motel langs die pad.”
“Waar presies?”
“Umm, op die Honeydew-pad as jy links van die Krugersdorp-highway afgedraai het. Dan’s dit regs by ’n robot. Ek dink dis langs Ferreiras, die teëlplek.”
“Oukei. Wat het jy daar gedoen?”
“Rugby gekyk.”
“So ver van die huis af?” Botha swyg. “Hoekom daar, hoekom nie in Pretoria nie?”
“Ek moes iets in Johannesburg gaan oplaai. Toe stop ek daar om te eet op pad terug.”
“Tot hoe laat?”
“Ek weet nie. Seker so elf-, twaalfuur.”
“Watter wedstryd?”
“Wat bedoel jy?”
“Wat het jy gekyk?”
“Vodacombeker, Valke teen die Olifante. Ek het die wedstryd die naweek gemis.”
“En wat was die telling?”
“Die Valke het gewen, ek kan nie die telling onthou nie.”
“Die Valke wen altyd,” sê Beyers, maar gaan voort wanneer hy sien dit maak geen indruk op die verdagte nie. “As jy die game gekyk het, hoekom weet jy nie meer daarvan nie?”
Botha leun vorentoe. “Kyk, Kaptein, kan jy onthou wat presies jy alles eergisteraand gedoen het? Wat jy op televisie gekyk het? Ek dink die telling was 24 … 24 – 17, of iets. Dit was nie ’n belangrike game nie. Ek skree vir die Bulle …”
Beyers gluur hom aan. Oor sy antwoord sowel as die feit dat Botha sy rang met opset verkeerd gebruik. “Oukei,” sê hy eindelik. “Was daar iemand saam met jou?”
“Nee.”
“Sal iemand jou onthou?”
“Ek weet nie. Dalk die kroegman.”
“Wat drink jy?”
Botha frons.
“Wat het jy eergisteraand gedrink?”
“Rum en coke. Captain Morgan,” antwoord hy teësinnig.
“’n Recce se dop,” sê Beyers. Hy staan op. “Ons gaan foto’s van jou neem. Sodat ons bevestiging kan kry of jy wel daar was en tot hoe laat, oukei?”
Botha gee ’n halwe knik. “Ek kan dit seker ook nie weier nie?”
Beyers antwoord nie; maak net die deur agter hom toe.
Die span speurders wag hom saamgebondel in die gang in, nuuskierig oor die verdagte en wat uit hom “losgekry” is. “Hoe lyk dit, Kolonel?” vra een nadat hy die deur agter hom toegetrek het.
Beyers lyk nie ingenome nie. Hy antwoord nie die vraag nie, kyk net na die skryfblok in sy hand en begin bevele uitdeel. “De Beer, vat die kamera en neem die ou af. Druk dit uit en dan ry jy na die motel toe in Honeydew – daai een reg langs die pad langs Ferreiras. Vra die kroegman of Botha eergisteraand daar was en tot hoe laat. Hy drink rum en coke …” Sy oë soek tussen die ander speurders. “Sello, môre kontak jy Mackie se maatskappy. Praat met sy sekretaresse en hoor of hulle enige kontak met Coin Security of … of met Afsky het.” Hy spel die laaste naam uit. “Praat sommer met die rekenmeester ook, hy sal weet as hulle moes betaal vir enige dienste van hierdie ouens af. O ja, en vra die personeelbestuurder of hy weet wie Botha is, of daar iets van hom in hulle rekords is. Dalk het hy vir Mackie gewerk. Dalk is dit uit wraak, of so iets. Want hierdie ou is nie ’n rower nie.”
Beyers wend hom tot sy volgende slagoffer: “Kompela, kontak Coin én kry ’n nommer vir Afsky. Vra hulle of hy wel vir hulle werk doen. Watse soort werk en wanneer. Vind ook sommer uit hoeveel ’n ou soos hy betaal word.”
De Beer stap agter Beyers se rug verby met ’n ’n digitale kamera in sy hand. Hulle hoor hoe hy koggelend aan Botha in die vertrek langsaan sê: “Toe, sê moer toe,” voordat die kamera se flitsende lig deur die oop deur weerkaats. Hy kom grinnikend uitgestap en trek die deur weer toe.
“Julle iets gekry?” vra Beyers die groep voor hom.
“Nee, Kolonel,” antwoord Lydia, “die drie vuurwapens in die kluis is almal op sy naam geregistreer. Die ninemil is ballistics toe sodat hulle hom met die toneel se doppies kan vergelyk.”
“Goed. En sy huis?”
“Die ouens is nog nie terug nie, maar hulle het ook nog nie gebel met iets nie,” antwoord iemand.
“Oukei. Dit help nie ons staan net rond nie. Gaan grawe verder. Ek wil alles van hierdie ou weet. En waar is Brackman? Hoekom het ons nog nie sy bankrekords nie?” Hy draai om na sy kantoor toe.
“Kolonel?”
Beyers draai om. “Stander?”
“Hoe lyk dit?” Sy knik met haar kop in die onderhoudkamer se rigting.
Haar bevelvoerder aarsel. “Ek weet nie. Iets aan hom pla my en ons het die voertuig.”
“Maar hoekom sou hy dit wou doen? En hoekom nie sy spore beter doodvee nie? Dis mos stupid om jou eie voertuig te gebruik,” hou sy aan torring.
“Man, ouens soos daai soek die hele tyd moeilikheid. Eks-recce, in die private veiligheidsbedryf. Vir al wat ons weet, is hy ’n huursoldaat ook. Dis net sy motief wat ek nog nie kan verstaan nie.”
“Dit verklaar ook hoekom sy huis so netjies is. ’n Militêre man,” sê sy. “Kan ek dit opvolg? Ek bedoel, kan ek ingaan en hom daaroor pols?” probeer sy.
Beyers se dik wenkbroue knoop saam.
“Asseblief, Kolonel. Dalk kry ek iets los.”
“Oukei dan. Dalk praat hy makliker met … ’n vrou. Maar stel eers die aircon op koud. Laat hom eers marineer, dan gaan jy in. Oor so ’n kwartier. En jy kry net tien minute.”