Читать книгу Arendsnes - Dirk Jordaan - Страница 7

Hoofstuk 3

Оглавление

“Is almal hierso?”

Reinhardt Schutte staan voor in die konferensielokaal, voor ’n reuse-witbord. Hy hoef nie teen ’n glas te tik nie – as hy daar gaan staan, luister mense. Hy vee sy blonde kuif in plek, die oorblywende hare wat die twee bles inhamme moet kamoefleer.

“En het almal iets in die hand? Nou maar goed. Waar’s Suzette? Kom staan nader, kind.” Hy wink met die linkerhand. Die sekretaresse gaan staan langs hom.

“Soos julle weet, het Suzette genoeg van ons, nee, van my gehad. Sy gaan nou al haar aandag aan ’n ander man gee.” Daar is een of twee beleefde glimlagge. Hy kyk oor die vertrek en sy oë glip van die een jong vrou na die ander. “Suzette, baie dankie vir al jou harde werk en die groot bydrae wat jy tot die maatskappy gelewer het. Aquila Holdings se grootste bate is sy mense. Sonder julle kan ons nie doen wat ons doen nie. Kan ons nie ons doelwitte bereik nie. En daarom is dit altyd hartseer as iemand weggaan. Maar … ons wil jou alles van die beste toewens. Mag jy die troue, en veral die wittebrood, baie geniet.” ’n Paar mense giggel. “Voorspoed!” Schutte lig sy vonkelwynglas.

’n Paar van die werknemers se stemme murmel bevestigend.

Schutte haal die lang glas van sy lippe af weg. “Hier is iets vir julle.” Hy druk sy linkerhand onder sy baadjie in en haal ’n wit koevert uit, dieselfde soort wat hy vroeër die dag aan Botha oorhandig het. Hy gee dit aan die sekretaresse en leun oor na haar kant toe. Sy draai net betyds haar lippe weg en hy kus haar op die wang.

“Dankie, Meneer.”

Beleefde applous klink op. Dan draai die werknemers weer terug na mekaar en na die tafel vol eetgoed.

Schutte glimlag. “Maak dit oop, jy mag maar nou kyk,” sê hy saggies.

Sy bloos en vou die koevert oop, haar vingers grawe daarin. Haar oë rek toe sy die bedrag op die tjek sien.

“Daar’s nog iets,” sê hy.

Sy frons toe sy die papier met die arend as briefhoof oopvou. Dit is nie ’n boodskap van goeie wense soos sy verwag het nie. Dit is ’n lys van stede, met langsaan name en nommers.

“Ek het gehoor julle wil Europa toe gaan vir jul wittebrood. Bel daardie mense. Sê vir hulle ek het julle na hulle verwys. Hulle sal vir julle sorg, vir verblyf en so aan.” Hy glimlag innemend. “Gaan geniet dit net.”

“Baie dankie, Meneer,” prewel sy.

Schutte gee haar bo-arm ’n drukkie. Dan draai hy om en stap na die oop skuifdeur toe. Buite op die stoep sit hy die vonkelwynglas op die reling neer en grawe in sy sakke. ’n Lang blikkie kom te voorskyn, waaruit hy ’n sigaar haal. Hy lek dit nat, byt die punt af en spoeg dit oor die reling. Die aansteker klik oop en hy moet hard teug om die halstarrige droë tabak aan die brand te kry. Bolle rook staan om sy kop.

Sy selfoon vibreer in sy broeksak en hy klem die sigaar tussen sy tande vas terwyl hy dit uitgrawe.

Gereed, stel die SMS hom in kennis.

Hy vee die boodskap uit en druk die foon terug in sy sak. Hy sit albei hande op die reling voor hom. Hier voel hy soos ’n kaptein wat op ’n skeepsbrug staan met alles wat hy beheer onder hom. Schutte kyk op na die Brixton-toring wat net-net sy gekroonde kop bokant die res van die geboue in Milpark uitsteek, afgeëts teen Johannesburg se lug – skerpblou soos diep, koue oseaanwater. Daar is geen wolke in die koel Hoëveldse lug nie. Dis ’n mooi dag, dink hy.

Kalvyn Botha sit buite ’n straatkafee in Sunnyside, op ’n wit tuinstoel by ’n ronde plastiektafeltjie wat op die sypaadjie uitgeskuif is. Voor hom is ’n hoender-pregorolletjie en ’n glas Coke. Die eetplek se voorvenster is langs sy linkerskouer en daar’s ’n neonbord bokant sy kop wat reghoekig oor die sypaadjie uitstoot en trots die plek se naam verkondig: Pipa’s. Met die woorde “Portuguese cuisine” daaronder. Die restaurantjie is ingedruk tussen ’n pandjieswinkel en een van die vele haarkapperye in die omgewing wat spesialiseer in Afrika-pruike en haarverlengings.

Dit is in Beatrix-straat op die laaste blok voordat jy verby die buurt se grootste baken ry, die Sunnypark-winkelsentrum. Nog sowat drie blokke verder is ’n enkele wit huis op die hoek – die Kruispad, ’n Christelike koffiekroeg wat die ontwikkelings om hom teëgestaan het, asook die voorstelle om sy Afrikaanse naam te verander. Dit is nou ’n rusplek vir haweloses waar jong sendingwerkers een keer per week maaltye kom uitdeel; waar elke happie met ’n Bybelvers saamgaan. Een keer per maand word die tuinstoele uit die gewelhuisie gedra en sit die boemelaars en straatmense kleurloos op die stoep langs mekaar en kyk op ’n groot skerm na ’n fliek.

Hierdie tyd van die aand lê die boemies seker al in rye onder hul grys komberse op die stoep en slaap, dink Botha. Regs van hom strek die woonstelblokke tot naby Loftus Versfeld, omsingel hulle die Bronberg-kerk wat soos ’n NG vesting uit ’n vorige tydperk steeds staan waar Esselenstraat teen hom doodloop. Sommige woonstelblokke het nog name uit die tyd toe Sunnyside die voorkeurbuurt vir Afrikaanse studente, jong werkendes en pasgetroudes was: Waterhof, Harmoniehof en selfs Vandag. Daar is ook enkeles wat om die een of ander lankvergete rede na plekke in die Kaap genoem is, soos Heerengracht en Swellendam – heeltemal onvanpas vir die bedrywigste bly- en kuierbuurt in ’n Afrika-hoofstad.

Kalvyn Botha se aandag is nie by die kos voor hom op die geruite rooi-en-wit plastiektafeldoek nie; ook nie by die mense wat geselsend onder die straatligte langs hom verbystreep nie. Botha kyk kort-kort op na die kuierplek skuins oorkant die straat – die London Tavern, ’n regte Afrika-kuierplek van twee verdiepings, waarvan die boonste verdieping se balkon oor die sypaadjie hang. Die helder borde buite verkondig trots dat jy Castle Lager daar kan koop en van binne kom dansmusiek soos die veraf klank van ’n hamermeul. Hy kan hom indink dit word gespeel oor groot goedkoop luidsprekers wat met die een of ander wollerige tapytstof oorgetrek is.

Dit is die vyf mans in die verste hoek van die balkon wat sy aandag hou. Hy het hulle vroeër die middag van die landdroshof af tot hier gevolg. Eers het hy in die bedrywige gange van die hofgebou rondgehang, naby die deur van Hof 2; op een van die bankies gaan sit tussen tientalle ander wagtendes en nikslesend deur ’n koerant bly blaai totdat ses mans uit die hof gekom het. Daar was breë glimlagge op die gesigte. Kort voor hulle het die aanklaerspan uitgekom, met strak gesigte net so donker soos hul togas.

Een van die ses mans in die tweede groep het ’n dik aktetas in die regterhand gehad, wit krawat om die nek onder sy swart toga. Hul regsverteenwoordiger. Die vyfde man het hulle seker kom haal, het Botha besluit nadat hy hom geïdentifiseer het deur ’n proses van eliminasie, deur sy vier teikens in die groep een vir een in sy kop af te merk teenoor die foto’s wat hy van elkeen in die kar het.

Hy kon sien hoe hulle beduie en probeer om die prokureur te oortuig om hul vrylating saam met hulle te vier, maar hy het bly kopskud. Daarna is hulle eers weer by die klerk van die hof se kantoor in, waarskynlik om papiere te onderteken en hul borgtog te betaal. Eers toe is die vyf deur die draaihek voor in die gebou en af by die trap. Botha het op ’n veilige afstand gevolg, agter hulle aangedrentel totdat hulle in ’n rooi Toyota Corolla geklim het, oënskynlik die kar van die man wat hulle kom haal het.

Hy het begin hardloop en in die metaalblou BMW 328 gespring wat om die draai geparkeer was. Hy was net betyds om hulle te sien ry en is agterna, en al is hy een keer gefrustreer deur ’n rooi verkeerslig, kon hy die Toyota in die oog hou, want hulle was nie haastig nie. In plaas van om met Nelson Mandela-weg na die hoofweg se kant te ry, het hulle na Sunnyside gemik. Hulle het ’n plek gesoek om te kuier, om te vier. En hulle doen dit behoorlik. Daar staan reeds ’n hele paar groot leë Castle-bottels voor hulle op die tafel.

Botha eet rustig klaar. Hulle lyk glad nie haastig nie. Toe hulle weer ’n ronde bestel, staan hy op en gaan na die toilet agter in die restaurantjie, wetend dat hy dalk later nie die kans sal kry nie.

Daarna weer gaan wag. Geduldig wees – dit is die hoofreël van die spel. Geduldig wees en wag op die regte oomblik, want tydsberekening is van die uiterste belang.

Die kelnerin kom vra of hy nie nog iets wil hê nie. Dalk ’n bier hierdie keer? Hy skud sy kop, hy moet skerp bly. Hy vra die rekening en betaal. Dan drentel hy terug na die hoekige BMW en skuif in die bestuurdersitplek in. Hy het reeds vroeër die kar nader getrek, verskuif van die aanvanklik enigste beskikbare parkeerplek na een van waar hy die rooi Corolla kan dophou. Hy slaan die sitplek se leuning effe agteroor en probeer ontspan. Wag en kalm bly, wag en kalm bly. Soos voor ’n operasie. Langs hom op die sitplek lê die vier se foto’s. En die paar velle papier met hul agtergrond. Hy het al soveel keer daarna gekyk dat hy dit byna uit sy kop ken. Asof hy by al die sake self betrokke was.

Hulle word verbind met minstens twee rooftogte en drie kapings. Twee mense is in die een kaping, in Garsfontein in Pretoria, doodgeskiet. Fotokopieë van die polisieverslae oor die misdade is deel van die pakkie papiere langs hom.

Die enigste ding wat hy nie kan onthou nie, is hul name. Dis onbelangrik. Net wat hulle gedoen het. Dit is waarop hy bly fokus.

Lydia is op pad huis toe. Die moegheid laat haar arms swaar voel en die spanning trek agter in haar nek, maar sy voel goed. Sy het vroeër die nuwe inligting oor die videomateriaal op haar rekenaar ingetik, uitgedruk en na Beyers se kantoor gestap. Hy was terug van sy besoek aan die Mackie-huis en sy het dit op sy lessenaar voor hom neergesit. Hy het die ander papiere weggeskuif en dit stadig deurgelees.

“Jy’s seker daar was ook net een skieter?”

Sy het geknik.

“Goeie werk, Stander. Dit lyk my ons het ten minste iets hierso.”

Sy het gevoel hoe haar lyf ligter word, hoe die ouer man se erkenning byna fisiek deur haar trek, en sy het ligvoets na haar karretjie gestap.

Gelukkig is die spitsverkeer lankal verby en sy vorder vinnig met haar Opel Corsa Lite, suid met Bothalaan anderkant die Fonteinedal, stadig en versigtig omdat daar altyd iewers ’n spoedkamera is. Daarna verby Centurion se onderdorp tussen die treinspoor en die pandjieswinkels, op pad na die nuwer buurte met hul ingerygde duethuise. Sy het pas by ’n stopteken weggetrek toe haar selfoon lui. Sy ry stadiger en grawe blindelings met haar linkerhand in haar handsak. Eindelik kry sy hom in die hande en druk die groen knoppie. “Hallo?”

“Hallo, luitenant Stander? Dis Thomas Kubeka hier, van die Moot. Onthou jy nog, die moord op sersant Khabile?”

“Hallo, natuurlik! Ek’t juis vandag weer na daardie dossier gekyk.”

“Jammer om jou te pla, veral so laat. Maar die Khabile-familie is op soek na die sersant se selfoon.”

Sy frons. “Ummm, maar ons het dit teruggegee.”

“O. Maar volgens sy vrou is dit die verkeerde foon. En sy maak my mal daaroor.”

Lydia tas in haar gedagtes rond. Iets maak nie sin nie. “Wag net ’n oomblik.” Sy draai af tot op die grondskouer van die straat en hou stil. “Jammer, ek wou net gou stilhou. Dis onmoontlik, ek het die foon persoonlik gaan teruggee. Onthou jy nog, julle het dit op die toneel vir my gegee.”

“Ek onthou, ja. Sy sê die foon se battery het die volgende dag doodgegaan en toe hulle hom daarna weer wil aansit, het die PIN nie gewerk nie. Toe sien sy die foon lyk heeltemal anders. Dis blykbaar ’n goedkoper model as die een wat hy gehad het.”

“En ons het hom net daar op straat in die bewysstuksak gesit. Dis onmoontlik dat dit ’n ander foon kan wees.” Sy dink hardop: “Nee, jammer, ek weet glad nie hoe dit kon gebeur het nie. Ek sal môre iemand stuur om daardie een te gaan haal. En ek sal by die kantoor seker maak of die ander een nie daar is nie. Sal jy asseblief vir my die regte foon se beskrywing en nommer saamstuur?”

“Maak so, en dankie. Ek het die verkeerde foon by my, hulle kan dit sommer by my kantoor kom haal.”

Sy bly in haar kar sit, beweeg nie om hom aan te skakel nie. Kan dit wees dat iemand die fone omgeruil het? Of die arme slagoffer s’n in haar kantoor gesteel en ’n ander, goedkoper een, in sy plek gesit het? Nie sommer nie; daardie sakkie was die hele nag in haar lessenaarlaai, sonder dat iemand daarvan geweet het. Sy sal môre kan kyk na die foon, hom vergelyk met die beskrywing wat in die dossier neergeskryf is, asook sy reeksnommer. Sy draai die sleutel. Hel, sy’s laat vanaand, sy moet by die huis kom.

Arendsnes

Подняться наверх