Читать книгу Arendsnes - Dirk Jordaan - Страница 8
Hoofstuk 4
ОглавлениеBotha bly op ’n afstand, hou net-net die Corolla se agterligte in sig. Hulle ry uit Pretoria, al met die slingerende pad verby die Fonteinesirkel en draai regs by die verkeerslig by Eeufeesweg. Dan onderdeur die brug voordat hulle links opdraai en die lang, steil opdraande vat tot op die hoofweg. Die horlosie in die instrumentepaneel wys dis al lank ná middernag en die paaie is taamlik stil. Vyf kilometer later vat die Corolla die vloeibaan na links, om die kring-oprit tot op die selfs stiller N14, wes na Krugersdorp.
Dit is die laaste teken waarop Botha gewag het: Nou weet hy hulle is inderdaad op pad na Diepsloot. Sy inligting was, soos gewoonlik, tot in die fynste besonderhede korrek, en dit beteken hulle behoort op die R511 af te draai. Hy ry nader aan die motor voor hom wat elke nou en dan, asof self effe onvas op sy voete, links en regs oor die linkerbaan beweeg. Die mans het lank en lekker gekuier en al daardie bier begin teen hulle tel. Die bestuurder met die laphoedjie sit laag in sy sitplek, die rugleuning agteroor gekantel. Hy kan skaars oor die stuurwiel sien, maar veiligheid is nou van minder belang as om cool te lyk.
Botha hou hom in, sper sy vingers in die handskoene oop en toe op die stuurwiel. Moenie haastig wees nie, sê hy vir homself. Hier is nog te veel verkeer. Hy draai sy ruit af en voel die koue naglug op sy wange byt.
Nog ’n lang opdraande. En dan weer af. Totdat die tyd reg is. Botha kyk in die truspieëltjie. Daar is geen ander voertuie wat van agter af kom nie. Hy trap die versneller en die BMW se outomatiese ratkas skop, ondanks sy jare, dadelik oor na ’n laer rat en die kar versnel. Hy swaai na regs, ry verby die Corolla en swenk dan skerp voor hulle in. Die BMW se agterbuffer swiep gevaarlik naby die ander kar se regtervoorlig verby. Hy hoor die toeter agter hom. Hy steek sy regterhand by die venster uit, vuis gebal en middelvinger regop. Onmiskenbaar. Die Corolla se ligte flits vir hom. Dan sorg hy dat die BMW liggies voor die Corolla heen en weer swenk, asof hyself dronk is. Die ligte agter hom bly flits en hy druk weer sy arm by die venster uit, herhaal sy koggeling.
Hy swenk na regs en ry ’n klein bietjie stadiger sodat hulle langs hom kan inbeweeg. Hy sien drie gesigte wat na sy kant gedraai is, vingers wat beduie, monde wat swets. Hy glimlag vir hulle en versnel, sodat die twee karre langs mekaar bly. Dan lig hy doodluiters sy hand van die stuurwiel en wys vir hulle twee vingers. Padwoede is ’n wonderlike ding, dink hy, voordat hy die versneller plattrap. Die BMW skiet vorentoe en los die volgelaaide Toyotatjie agter.
Botha leun na links, tel die matjie voor die passasiersitplek op en gooi dit met een beweging op die agtersitplek. Nou’s hy gereed.
Die padteken wat die R511-afrit aandui, doem soos verwag in die hoofligte op en hy rem, swenk met die afrit af, kyk in sy truspieëltjie asook na die pad vorentoe. Sy geluk hou nog, daar is steeds geen ander verkeer nie. Ná die eerste kromming in die pad rem hy hard en druk die BMW se neus van die teerpad af tot op die grondskouer. Die bande ruis oor die los grond en die kar skuif in ’n stofwolk tot stilstand. Hy maak sy deur oop, spring uit en gaan staan links voor die kar, net-net binne die skerp ligbaan, met sy rug na die pad. Sy hande is voor sy lyf geklem en hy kyk af grond toe. Regs van hom lê Diepsloot se sinkhuisies en glim in die maanlig soos die vlerke van ’n dooie kraai wat oor die bult oopgesper lê. Vir ’n oomblik of twee wonder hy of sy plan gewerk het. Dalk het hulle reguit aangery? Maar dan hoor hy ’n kar teen die afrit afgery kom. Hulle kom nader.
Die Corolla ry by hom en die BMW met die halfoop deur verby. Hy loer onderlangs na hulle en sien hoe die kar se remligte aanflits toe hulle in sy lokval trap. Hulle het hom herken, gedink hy het stilgehou om sy nood te verlig, gedink nou is hul kans om met hom af te reken. Die Corolla kom tot stilstand voordat die wit truligte aangaan.
Botha draai om na die BMW en is met drie treë uit die ligbaan en langs die passasiersdeur. Hy pluk dit oop, tel die masker van die sitplek op en trek dit oor sy kop. Daarna reik hy na die vloer voor die sitplek. Die Corolla hou stil, minder as ’n dosyn meter van hom af. Hy sien die deure oopgaan en die figure wat uitklim, hoor selfs ’n stem met ’n dreigende toon. Die Uzi-submasjiengeweer se 3,5 kilogram voel swaar in sy hande en hy kan die winterverkilde staal byna dadelik deur die dun handskoene voel. Hy druk die veiligheidsknip af.
Gewoonlik doen hy dit meer klinies, meer berekend en bepland, maar hierdie keer is daar vyf van hulle en hy moet sy werkwyse daarby aanpas. En, ongelukkig, ook op geluk staatmaak.
Drie van die passasiers het uitgeklim, die drie wat by deure gesit het. Die bestuurder is nog in die kar, asook die een wat in die middel agter gesit het. Die drie is net sowat agt meter van hom af wanneer hy die Uzi bo-oor die oop deur voor hom lig. Hy is doodkalm. Hy weet wat om te doen. Hy lê aan en wag nog ’n sekonde voordat hy die sneller druk.
Die Uzi stotter. Hy begin by die regterkantste een en skiet kort sarsies. Net sowat vyf skote op ’n slag. Hulle het nooit eers gesien dat sy dowwe silhoeët agter die skerp ligte ’n wapen in die hande het nie. Die heel regterkantste teiken val agteroor. Die tweede se kop ruk kant toe en hy val op sy linkersy. Botha hoor iewers glas rinkel. Regs van hom ratel die 9 mm-doppies oor die BMW se dak en val in ’n koperreën aan die ander kant op die teerpad.
Die derde een se mond is oop, skreeuend, terwyl hy probeer omdraai, maar dit is te laat. Hy word in die sy getref, tol in die rondte en val op sy gesig op die grond.
Botha hou vir ’n oomblik op skiet en verskuif die bek van die Uzi. Die Corolla se truligte het afgegaan en die bestuurder soek na die regte rat om weg te trek. Botha kan sy kop deur die agterruit sien. Dan vee hy dwars met die submasjiengeweer. Die koeëls ruk silwer sterre in die agterruit; die bestuurder se voet gly van die koppelaar en die kar skiet rukkend vorentoe en smoor tot stilstand.
Die Uzi snak tot stilte, sy magasyn leeg, al vyf-en-twintig patrone opgebruik. Botha gooi dit op die sitplek neer en swenk om die oop passasiersdeur, sy hand agter sy rug, soekend na die rewolwer wat in sy gordel onder sy baadjie ingedruk is.
Hy hardloop nader. Hy kan die laaste passasier se kop net-net sien. Die man grawe onder een van die voorste sitplekke voordat hy regop kom en by die oop linkeragterdeur uitsteier. Hy is gewond. Botha beweeg na links, tot waar die lang gras begin, met sy regterarm en die rewolwer reguit voor hom uitgestrek. Sy duim trek die hamer agteroor. Die man probeer naarstig die pistool in sy hand oorhaal. Botha gaan staan stil, voete uitmekaar geplant, knieë effe gebuig, die rewolwer rustend op sy linkerpalm. Geen rede om haastig te wees nie. Die Ruger .357 Magnum skop net een keer teen sy palm, en die man steier agteroor toe die swaar koeël hoog in sy borskas vasslaan, voordat sy rug die kar tref en hy leweloos vooroor grond toe sak.
Botha stap nader, die wapen voor hom uitgestrek. Die bestuurder se kop rus op die bebloede stuurwiel en daar is rooi strepe teen die paneelbord en die stukkende voorruit. Hy draai om en stap terug na die ander drie. Die eerste twee se arms en bene lê onnatuurlik geknak in verskillende rigtings, in onbeheerde doodsposisies. Hy draai na die derde misdadiger, wat in die sy gewond is en wat kreunend probeer regop kom. Botha druk sy tekkie onder die man in en draai hom met sy voet tot op sy rug. Sy linkersy en maag is vol donker bloed wat blink in die skel BMW-ligte. Die man steun, ’n geluid wat van iewers diep af kom, ’n dowwe kermgeluid. Botha gaan staan langs sy kop, mik met die rewolwer se lang loop na sy voorkop, net bokant die plek waar sy wenkbroue bymekaarkom. Sy eie asem jaag nou. “Hoe voel dit?” vra hy in Engels.
Die man se witgesperde oë probeer op sy gesig fokus. Hulle soek na sy oë iewers in die masker.
Botha trek die hamer weer met sy duim terug. “Hoe voel dit?”
Die mond beweeg, probeer iets sê.
“Ek vra: Hoe voel dit om gekaap te word?”
Die lippe vorm die een of ander pleidooi.
“Nie lekker nie? Ek het so gedink.” Botha druk die sneller.
Sy hoor hom voordat sy hom sien. Toe sy met die sleutel in die dorpshuis se voordeurslot girts, kom sy stemmetjie soos ’n klein sirene van binnekant af: “Mammaaaaa!” Lydia weet hy kom van die sitkamer se kant af om die draai aangehardloop. Sy vrees elke keer as hy dit doen dat sy kop die kombuistoonbank gaan tref.
Sy maak die deur oop. “Hallo, Mamma se bokkiewolkoppie! Hoe gaan dit?”
Hy is in haar arms en sy sukkel vervaard om haar handsak en sleutels na haar linkerhand te verskuif voordat dit op die grond val.
“Dit gaan lekke!”
Sy tel hom tot op haar regterheup. “Jis, jy word al amper te groot om op te tel. Wag, laat ek my goed eers neersit.”
Anton kyk om van die bank voor die televisie in die oopplanwoonvertrek. “Hallo.”
“Haai, ek’s jammer ek’s so laat. Dit was hectic by die werk vandag.”
“Mamma is laat,” beskuldig die mannetjie op haar heup.
“Ek weet, Bokkie, ek weet. Het jy al geëet?”
Hy knik. “Ja. Vissie.”
“Wag, ek wil ook gou eet, ek wil al omval van die honger.” Sy sit hom neer en stap na die sitkamer, leun oor die armleuning van die stoel en soen Anton.
“Jou kos is in die micro,” sê hy, afstandbeheer in die regterhand, voordat hy weer vorentoe kyk na die televisie, waarop ’n rugbywedstryd te sien is. Hierdie tyd van die aand moet dit ’n hoogtepunt-uitsending van een van die naweek se wedstryde wees, dink sy. Wat hy reeds gesien het.
In die kombuis draai sy die mikrogolfoond se knop en wag vir die klingelgeluid voordat sy die bord uithaal. Inderdaad: stokvis met ’n krummelkors, kapokaartappels wat bolangs al geel verhard het en ertjies. Sy trek ’n stoel by die kombuistoonbank uit en gaan sit, terwyl Johan op die stoel langsaan haar klouter.
“Dankie vir die kos, Pappa,” sê sy na die sitkamer se kant toe voordat sy vra: “En wat het jy alles vandag gedoen?”
“Ek het met Tumi gefaait,” kondig Johan aan en pof sy wangetjies op.
“Hoekom? Julle is dan beste maatjies …” Sy loer weer na Anton, maar hy’s oënskynlik verdiep in die spel op televisie.
“Hy wou nie lat ek saamspeel innie sand nie.”
“Het julle weer vrede gemaak?”
“Hû?”
“Is julle nou weer maatjies?”
“Wetie.”
“Dan moet jy môre weer met hom speel, oukei? Dan sal julle weer maatjies wees. ’n Mens moet probeer om nie vies te bly vir mekaar nie, oukei?” sê sy, dalk effe te hard sodat Anton dit ook moet hoor.
Johan stem teësinnig in. “Oukei.”
Sy kyk op na die kombuishorlosie. “Jy moet gaan slaap. Dis môre weer skool.”
“Neeee!”
“Ja, toe. Dan kan jy weer lekker leer en met Tumi speel.”
“Mamma moet eers vir my ’n storie lees,” pers hy haar af.
“Natuurlik, maar net ’n korte. Kom, sê nag vir Pappa.”
Ná die driehonderd-vier-en-dertigste keer wat sy moes voorlees hoe die Woerlawoemp nie wil hê die kinders moet oor die brug stap nie, is sy terug in die huis se leefarea. Sy maak die yskas oop en haal die vorige aand se halwe bottel rooiwyn uit die deur, vul ’n glas, gaan lê op die bank langs Anton en skop haar skoene uit.
“Hoe gaan dit by die werk?” vra sy.
“Oukei.”
“Ek het ’n ongelooflike dag gehad. Jy’t die ryk ou gesien wat gisteraand vermoor is? Die sakeman, Mackie?” Daar is opwinding in haar stem.
Hy kyk na haar kant toe. “Ja?”
“Ek is op die saak, en het ’n groot deurbraak gemaak.”
“Dis goed.”
“Jip, dit hou dalk verband met ’n ou saak van my. Ek het jou daarvan vertel, dis ’n polisieman wat so drie weke gelede vermoor is?”
“Nee, sorrie, ek kan nie onthou nie.” Sy let op dat die plooi tussen sy oë nie weggaan nie. En dis nie daar omdat hy probeer onthou wat sy hom vroeër vertel het nie, daarvoor ken sy hom te goed. “Wat’s fout, Anton?”
“Niks nie.”
“Toe nou, jy kan nie iets vir ’n speurder wegsteek nie,” sê sy en probeer hard glimlag. “Praat met my.”
Hy sug, sit die afstandbeheer neer en draai na haar toe. “Beteken dit jy gaan elke aand so laat by die huis kom?”
Sy voel effe verslae. Sy was dan so opgewonde oor haar suksesse van die dag. “Soms, hoekom?”
“Dis great dat jy nou ’n speurder is, deel van die Valke is, maar dis nie wat ons in gedagte gehad het nie. Ons het gedink dit sal beter gaan. Jy kom al later hier aan en die werk sluk jou in. En dis omtrent al waaroor jy kan praat …” Hy kry dit nie reg om die klank van beskuldiging in sy stem te verbloem nie.
“Hierdie is my groot kans, Anton. Dis waarvoor ek gewag het, waarvoor ek opgelei is. Ons het tog geweet dit kan ook gebeur. Dit kom saam met die territory.”
“Ek weet, ja, maar … Toemaar, los dit.”
“Net hierdie een, dan sal dit rustiger gaan. Ek kan met hierdie saak my merk maak.”
“Oukei.” Hy kyk weg. “Ek gaan slaap, dis ’n skooldag môre.” Hy staan op en sit die televisie af.
“Ek kom nou, ek wil net eers gaan bad.”
Hy stap by haar verby. Sy hoor hom in die badkamer, hoor die kraan kortstondig oopgaan terwyl hy sy tande borsel. As hy net wil verstaan hoe belangrik dit vir haar is. Sy kan aanvoel sy is op dié punt in haar loopbaan waar alles wat sy moes deurgaan, skielik gaan sin hê. Waar die opofferings die moeite werd gaan word. Maar sy weet ook dat hul wêrelde nog altyd verskil het. Hy is per slot van sake ’n ingenieur, ’n man wat elke dag met syfers werk in ’n omgewing waar dinge reg of verkeerd is. Waar swart swart is, en waar wit wit bly. Hy werk nie met mense en hul swakhede en booshede nie, maar met die vastighede van ’n syferwetenskap en met materiale soos staal en beton.
Hulle het mekaar by ’n muurbalbaan ontmoet, in ’n gimnasium. Hulle het begin gesels en ’n muurbalafspraak vir die volgende dag gemaak. Nadat sy die baan se vloer met hom gevee het, was daar geen keer nie – sy was vir hom ’n uitdaging. Hy is nie die aantreklikste man wat sy al ontmoet het nie. Hy lyk meer of hy in die voorry van ’n rugbyspan hoort as agter ’n lessenaar, maar sy humorsin en vasberadenheid het die deurslag gegee en drie jaar later is hulle getroud. Vanaand, hier op die rusbank, voel dit reeds soos ’n leeftyd gelede. Sy kan nie eens onthou wanneer laas hy haar opsetlik laat lag het nie.
Hulle het saam gebou aan ’n lewe bymekaar, saam hul ambisies teenoor mekaar uitgelê en saam hierdie blyplekkie gekoop. Hulle was saam bly toe sy bevorder is, want dit het ’n bietjie van die finansiële druk van hulle afgehaal. Maar dit was nie lank voordat Johan sy opwagting gemaak het nie. Kinderuitgawes het daardie geldelike voorsprong gou-gou opgevreet en deesdae voel dit vir haar asof hulle weer terug is waar hulle was. Anton wag op bevordering, werk elke dag in die hoop dat hy eendag ’n junior vennoot gaan word. Maar hy het die verkeerde velkleur, bly hy bitter sê. As hy net lank genoeg by een firma wil bly, het sy weer gedink. Sy durf dit egter nie sê nie. Sy weet al wat sy finale verweer sal wees: “Ek is nie jou pa nie. Al wil jy hê ek moet soos hy wees!”
Boonop wil hy ’n tweede kind hê. “G’n laaitie behoort alleen groot te word nie,” meen hy.
Sy weet hy’s reg, maar hy’s nie die een wat al die hormoonveranderings en swaardra moet deurgaan nie. Veral noudat sy op die drumpel van ’n belangrike nuwe deel van haar loopbaan staan, sien sy nie kans nie. Miskien ’n bietjie later.
Die bevordering tot speurder en later die oorplasing na die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke was nie net ’n finansiële uitkoms nie. Sy kon ook ontsnap aan die ongereëlde ure van patrolliewerk, die laatnagstudeer vir haar speureksamens en die beklemmende omgewing van die aanklagkantoor. Dis nie dat sy nié van haar werk gehou het nie, maar daar op grondvlak is dinge soms moeilik. Dit was veral moeilik net voordat sy speurder geword het, met ’n nuwe stasiebevelvoerder wat dinge vir almal rof gemaak het. Soms het die bevelvoerder selfs geweier om Engels te praat op die oggendparades. Dan het Lydia maar net haar pantserbaadjie opgetel en uitgestap na die patrollievoertuig toe. Sello sou wel vir haar verduidelik wat die Sotho-opdragte vir die dag was.
Nadat sy haar laaste speureksamen geslaag het, het die toekoms blinker gelyk. En toe die Valke gevorm word, het sy ’n lang kans gevat en aansoek gedoen. Sy het wonderbaarlik ’n aanstelling gekry. Sy het baie hard gewerk tot nou toe, maar weet dat sy ook dankbaar behoort te wees. Daar is uiters min wit, en veral vroulike, lede in dié direktoraat. En sy word gereeld daarop attent gemaak.
Dinge word nooit werklik makliker nie, besef sy. As dit op die een front beter gaan, is daar weer iewers anders waar dinge moeilik raak. Soms voel dit vir haar of almal net altyd iets van haar wil hê, haar konstant onder druk wil hou.
Sy sug, sluk die laaste van die wyn, staan op en gaan sit die langsteelglas in die kombuiswasbak neer. Die donkerrooi sediment onder in die glas lyk soos dag oue bloed, ’n rooi kolletjie wat ’n forensiese bewysstuk, ’n leidraad, behoort te wees.
Iewers in die nag dryf Lydia op uit haar diep slaap, veroorsaak deur moegheid, ’n warm bad en die glas wyn. Sy maak nie haar oë heeltemal oop nie; sy’s nog in ’n grys newelwêreld waar die slaapkamer met sy skemerlig in ’n vreemde vorm surrealisties om haar kokon, die mure nie reghoekig nie, maar gekrom soos ’n koepel oor die bed, net buite sig in ’n dromerige wasigheid.
’n Hondjie kef iewers – ’n eensame, reëlmatige geluid, met perfekte tussenposes, soos ’n duikbootsonar wat die nag ingestuur word. Asof die dier wil seker maak hy’s nie alleen in die wêreld nie.
Sy lê op haar regtersy, haar bene effe opgetrek. Sy is bewus van Anton agter haar rug. Die duvet is styf om hulle getrek as gevolg van die vroegoggendkoue, hul lywe is in die nag deur die koue tot teenaan mekaar gedwing. Sy hand is op haar bobeen en sy voel sy asem in haar nek, voel hoe dit haar hare, bevry van die werkdrag se poniestert-rekkie, liggies beweeg. Sy hand skuif op tot op haar heup en begin stadig daaroor vryf, voordat dit om die hoek van haar heupbeen gly, onder die rek in van die manspajamabroek wat sy dra, tot in haar lies. Die teken is onmiskenbaar. Sy strek haar bene reguit en draai, stadig, tot op haar rug, na hom toe.