Читать книгу Arendsnes - Dirk Jordaan - Страница 6
Hoofstuk 2
ОглавлениеLydia herrangskik die binnegoed van die moorddossier voor haar op die lessenaar. Die lykskouingsverslag, op die amptelike vorm ingevul, is bondig en sluit twee sketse van die slagoffer se wonde in: lyntekeninge van ’n man se liggaamsvorm, van voor en van die kant, met twee penkruisies waar die koeëls sersant Khabile getref het.
Sy trek die foto’s nader wat die aand op die toneel in die Moot geneem is. Sy kan nou sonder enige kriewelrigheid daarna kyk. Daar het groter afstand tussen haar en die toneel gekom.
Jy moet stelselmatig te werk gaan. Met selfdissipline; dit het sy gou geleer. Jy moet stukkie vir stukkie die inligting voor jou deurgaan en aantekeninge maak. Lysies maak van wat jy raaklees en opmerk. Polisiewerk, en bowenal speurwerk, gaan oor papierwerk. Oor verslae en vorms. Oor geduld. Dit is negentig persent administrasie en tien persent aksie. Gelukkig het jare se sportdeelname en op haar eie oefen haar geleer om gedissiplineerd te wees. Nie dat sy altyd en orals gedissiplineerd is nie. Haar huis is nie die netjiesste plek op aarde nie, want ’n huisvrou was sy nog nooit nie. Selfs naweke op die plaas het sy nie in die kombuis by haar ma rondgehang nie, maar eerder buite. Daar waar dinge gebeur.
Sy wens soms sy het hier, by haar werk, ook meer kans om dinge te laat gebeur. Hier moet alles volgens roetines en reëls geskied. Sy wens sy kan net een keer die reëlboek weggooi en tussen verdagtes instorm. Halsoorkop maar effektief.
Ten minste leef sy deesdae met ’n vaste roetine. En sy maak in elk geval altyd lysies van alles wat gedoen moet word. Dis een van die dinge wat Anton teen die mure kan uitdryf. Maar aan die ander kant, wat is daar deesdae van haar wat hom nié frustreer nie?
Daar is niks verrassends in die lykskouer se verslag nie. Sy sou byna dieselfde gevolgtrekkings kon neerpen deur net na die foto’s te kyk. Sy het darem haar basiese forensiese kursus geslaag – nee, met lof geslaag, verklaar die sertifikaat links van haar teen die muur.
Die slagoffer is ooglopend eers in die maag geskiet. Die 9 mm-koeël het onder sy naeltjie ingedring, deur sy blaas getrek en agter in sy rug vasgeslaan – laag in die heupbeen. Die tweede skoot, agter die regteroor, het hom gedood. As jy kyk na die posisie waarin hy gelê het, dan sou dit onmoontlik gewees het om die maagskoot ná die kopskoot toe te dien. Want alles dui daarop dat die skoot van bo af gekom het … hy het dus reeds gekniel en was vooroor gebuig, sy buik onbereikbaar.
Hy het onmiddellik gesterf, want die skade aan sy brein was massief. En die skoot was wel tromp-op – dít is weer duidelik aan die vel te sien. Die pistool is so naby aan hom afgevuur dat die kruit die kopvel weggeskroei het. Wat agtergebly het, is ’n stervormige opening in die vel, met die ontblote gat in die skedel daaronder. Die velpunte het weggekrul. En in die middel van dié opening, die gat in die skedel. Die kopskoot se koeël is nie opgespoor nie, maar die een in sy bekkenbeen is wel uitgehaal.
Sersant John Khabile is van voor af geskiet toe hy uit sy motor klim, voordat hy sy eie wapen kon uitkry, en daarna is hy tereggestel.
Die ballistiese toetse bevestig ook wat sy reeds weet: Die koeël in sy heupbeen en die twee doppies wat op die toneel gevind is, kom uit dieselfde pistool.
’n Slagoffer wat nie geweet het wat hom tref nie. En geen verdagtes of leidrade nie.
In Mackie se geval is sy aktetas, foon en beursie weg. Maar die moordenaars was nie agter sy kar aan nie. Dit lyk wel of hy op presies dieselfde manier vermoor is. Om die waarheid te sê, die ooreenkomste tussen die Khabile-dossier en die beelde wat vanoggend teen daardie wit muur geprojekteer is, is so groot, dit kon net sowel dieselfde misdaadtoneel gewees het.
Maar waarheen nou?
Lydia besluit om die twee 9 mm-doppies van die eerste moord uit die bewysstukkamer te gaan opdiep en vir ballistiese toetse te stuur – sodat dit vergelyk kan word met dié op die Mackie-moordtoneel. En sy sal dieper in sersant Khabile se saak moet gaan delf, maar ook op hoogte bly van wat in die Mackie-saak aangaan.
“Lyd, het jy vir Beyers gesien?”
Sy draai om in haar stoel en sien Brackman agter haar in die deur staan. “Nee Tom, hy’s uit. Ek dink hy’t aan die brigadier gaan verduidelik waar ons staan. Of dalk ’n perskonferensie. Hoekom?”
“Ek het die tapes deurgekyk. Ons het die hele toneel.”
“Wat sien mens?” Daar is opwinding in haar stem.
“Die hele ding. Hoe hy hom klop en daarna wegstap.”
“Hy?”
“Ja, daar was net een ou.”
Sy is nie verbaas nie. Weer net soos in Khabile se geval, dink sy.
“Is hy herkenbaar?”
“Die skieter? Nee, hy’t ’n balaklawa opgehad. Maar toe kyk ek na die gebou se buitekamera se tapes ook. Hy het oor die agterste heining gespring en lekker rustig weggery.”
“Kon jy die voertuig sien?”
“Nie heeltemal nie. Dit lyk na ’n groot 4x4, maar ek kon nie ’n nommer kry nie.”
“Wys my!”
Sy volg Tom Brackman na sy “speelplek” aan die einde van die gang – ’n kantoor sonder lessenaar, maar met twee lang tafels waarop rekenaars en elektroniese toerusting in rye staan. Hy gaan sit agter ’n rekenaar en sy hand vou sonder soek oor die muis.
“Kyk hier. Ek het frame grabs gedoen en hulle in die regte volgorde gesit. Ek moes nogal baie inzoem, so, dis effe onduidelik.”
Lydia trek ’n tweede stoel nader en gaan sit langs hom. Sy ruik die sigaretrook aan sy hemp wanneer sy vorentoe leun. Hy klik met die muis, en op die rekenaarskerm sien sy die eerste greinerige grys beeld, die hoeke effe verwronge, wat die kringtelevisie opgeneem het. Regs bo is ’n rits wit syfers wat die tyd aandui.
“Nommer een: Mackie stap na sy kar toe en maak die deur oop,” begin Brackman met sy lopende kommentaar.
Lydia sien die slagoffer effe vooroor leun terwyl hy na die swart kar se deurhandvatsel reik. Sy aktetas is in die linkerhand, grys hare netjies en plat teen sy agterkop gekam.
Brackman klik met die muis. “Hy hoor iets agter hom.”
Mackie is half omgedraai. Die kardeur is oop agter hom. In die regterhoek van die skerm sien Lydia die rug van die moordenaar wat nader kom. Skraal, in donker klere, ’n mus oor die kop.
Klik. “Die oomblik van waarheid.”
Mackie is skoongeskeer en dra ’n bril, merk sy op. Die aktetas is nie meer in sy hand nie, maar het grond toe geval. Sy regterhand, wat steeds die motorsleutel vashou, is halfpad gelig, asof hy wil keer. Dalk pleit hy. Sy kan nie die vuurwapen sien nie, omdat die moordenaar met sy rug na hulle staan, maar sy kan uitmaak dat sy regterarm gelig is. Die uitdrukking op Mackie se gesig is onpeilbaar op die newelrige beeld.
Klik. “Eerste skoot.”
Daar is ’n dofgrys rokie wat in die lug tussen die twee figure hang. Mackie se liggaam is vooroor geknak, sy linkerhand klem aan sy maag.
Klik. “Skieter maak die job klaar.”
Mackie het tot op sy knieë neergesak. Die swartgeklede man staan reg langs hom en Lydia kan vir die eerste keer sy gemaskerde profiel en die pistool in sy regterhand sien. Sy arm is reguit gestrek, die pistool byna teenaan die slagoffer se kop. Net agter die regteroor. Dit is net soos ek vermoed het dit het gebeur, dink sy.
Klik. “Tweede skoot.”
Lydia draai haar kop van die rekenaarskerm af weg. Sy was onvoorbereid op wat sy gesien het. Brackman het dit reggekry om die videogreep vas te vang op die oomblik van Mackie se dood. Sy kop ruk weg van die pistool af. Die videokamera het dié beweging in ’n wollerige onduidelikheid vasgevang. Mackie se lyf is duidelik te sien, maar sy kop en gesig is verander in ’n lewelose grys streep op die skerm.
Klik. “Skieter loop weg.”
Agter die moordenaar kan sy Mackie sien lê; ’n reflekslose bondel op die betonvloer van die parkeergarage. Die pistool is nie meer in die swartgeklede man se regterhand nie, maar Brackman se aktetas wel.
Klik. “Hierdie kom van die buitenste kamera af, wat teen die agterste muur van die gebou vas is.”
Lydia vra haar eerste vraag: “Hoe het hy in en uit die parkeergarage gekom?”
“Dis ’n oop garage. Dis onder die gebou, maar die hele gebou rus op pilare waartussen die karre parkeer. Hy’t net in- en uitgestap. Dit lyk asof daar net sekuriteitspersoneel in die voorportaal en by die hoofhek was, niemand agter die gebou nie.”
“Maar hy’t nie ’n knaldemper gebruik nie; hulle moes dit tog gehoor het?”
“Jip, op die video kan jy later sien hoe hulle daar aankom en die lyk kry.”
“En hy’t net uitgestap, nie gehardloop nie?”
“Nope, gestap. Hy’s yskoud, hierdie ou.”
Lydia sit weer vooroor. “Oukei, en agter die gebou?”
Klik. “Raait. Hier stap hy oor die gras. En hier klim hy oor die agterste palissade.” Klik, klik.
Sy sien hoe hy eers die aktetas tussen die palissadeheining se sporte deurdruk, homself sonder moeite optrek en sy lyf bo-oor die gevaarlike punte swaai.
Klik. “Hy klim in sy voertuig. Dink ek.”
Die onbeweegbare sekuriteitskamera het net die agterhoek van die voertuig vasgevang, in die linker boonste hoek van die skerm. Die moordenaar kan nie meer gesien word nie.
“Wag ’n bietjie, soos wat lyk dit vir jou?”
“Mmm, moeilik om te sê.” Brackman leun na die skerm, sy oë vernou. “Dit lyk vir my soos ’n bakkie. Dis ’n breë stert daai. En hy’s nie wit nie. Dit lyk of hy liggrys, of dalk afwit kan wees. Iets soos beige.”
“Is dit al?”
“Jip, dis al. Daarna het hy net weggery.”
Lydia sit terug. Sy vee ’n paar los hare agter haar regteroor in. Daar moet ’n manier wees waarop hulle die voertuig kan identifiseer, want die skimbeelde van die moordenaar is onherkenbaar. “Waar is hierdie gebou presies?”
“Wat bedoel jy?”
“Is daar nie ’n ander gebou daar naby wat ook sekuriteitskameras het nie? In daardie agterste straat?”
Brackman kyk om na haar. Hy lyk beïndruk. “Moet ek opvolg?”
Sy gaan nie vir hom sê sy het op ’n televisiereeks gesien hoe speurders dit doen nie. “Asseblief, Tom. Ons moet iets kry.”
“Ek maak so, Luitenant.” Hy glimlag.
“Ag toe nou!”
Brackman lag. “Hei, ek’s hier vir julle ouens.”
“O ja, kan jy Mackie se selfoonrekeninge vir ons in die hande kry?”
“Die Bees het klaar die hofbevel daarvoor aangevra. Vodacom sal dit vir my mail.”
AO Charles Sello se groot lyf verdonker die deur agter Lydia kort nadat sy weer haar sit gekry het. Sy tol haar kantoorstoel om. “Hei, Charlie! Hoe het dit gegaan?”
Sello kom staan in sy grys Puma-tekkies en stywe geel gholfhemp langs haar lessenaar. Van sy linkerhand, onder sy groot vierkantige horlosie, hang ’n grys Daniel Hechter-trui. En geen jeans vir AO Sello nie, hy dra altyd ’n los, donker langbroek. “Dis chaos daar,” sê hy. “Dit voel of daar honderde polisiemanne is, en die pers hang ook daar rond.”
“Jy iets gekry?”
“Nee wat. Ons het onderhoude met sy werkmense gevoer en die res van die ouens is die strate in. Maar daar’s nog niks nie. Beyers-hulle is nou na sy huis toe. Ons het wel baie omtrent Mackie agtergekom,” sê hy.
“Kom, vertel my,” por Lydia en beduie na die stoel oorkant haar lessenaar.
“Hoekom is jy so geïnteresseerd, het jy iets gekry?”
“Brackman het lekker frame grabs op die video gekry van die aksie, maar ons het nog geen ID van die skieter nie.”
“O.” Sello frons. “Maar moet jy nie na die ander saak kyk nie?”
“Ja, maar ek’s seker daar’s ’n verband tussen die twee. En ek sal op hoogte moet bly met die Mackie-saak om die ooreenkomste te kan sien.”
“Jy moet pasop, girl. Moenie dat Beyers die idee kry jy tree buite jou verantwoordelikhede op nie.”
“Ek kan nie wag tot die volgende briefing nie. Hierdie is dalk my kans, Charlie.”
“Mmm, ’n vrou met iets om te bewys, dis nou gevaarlik.”
“Toe nou, sit en vertel my, dan maak ek vir jou koffie?”
Sello glimlag. “Ek’s omgekoop.”
Lydia staan op en stap na die ketel in die hoek; hy gaan sit met sy rug na die venster, leun ver agteroor en sit sy voete op ’n ander stoel.
Sello is net te vroeg gebore om by die nuwe skoolstelsel en volop beurse baat te vind, reken Lydia, anders sou hy die een of ander grootse graad gehad en ’n sakeman gewees het. Of dalk ’n prokureur geword het. Met net ’n matriekkwalifikasie het hy in die polisie beland en tipies van iemand wat gemaklik in sy eie vel voel, het hy hom sommer daar tuisgemaak. Hy sou egter op enige plek tuis gewees het. Nou is hy straatslim. Hy’t ’n QBE, sê hyself. “Qualified by experience.”
Hulle het saam speurders geword, saam kursusse deurloop en agtergekom hulle dink dieselfde oor dinge. Hy is ouer as sy. Maar toe sy onlangs bo hom bevorder is, was daar tot haar groot verligting geen kwade gevoelens van sy kant af nie. Sy het hom wel gekeer die eerste keer toe hy haar op haar nuwe rang wou noem.
Sy het later besef presies waarom hulle so goed oor die weg kom. Sello skakel maklik by sy vroulike kollegas in, terwyl hy die meeste van die mans in die gebou kriewelrig maak. En toe sy besef sy’t hom nog nooit aan ’n vrou se sy gesien nie, én dat hy nog nooit met die mans saamgeskinder het oor die vrouens in húl lewe nie, het sy geweet na watter kant sy lyf leun. Dit is juis sy aanvaarding van sy lyf en van wie hy is wat haar so gemaklik by hom laat voel, omdat sy self nog daarmee sukkel.
Lydia hou nie van haar eie liggaamsvorm nie. Sy’s heeltemal te kort en haar kraaglengte swart hare, wat altyd weerbarstig stoei teen die opdrag van die rekkie wat dit in ’n kort poniestert moet hou, is na haar sin veels te yl. Selfs die kleur is oninspirerend. Nes haar donkerbruin oë – heeltemal te gewoon.
Hoewel sy goed genoeg gevaar het op skool, was sport eintlik haar ding. Daar was niks wat sy nie sou aanpak nie, van atletiek tot tennis, hokkie en selfs judo. Op laerskool het sy gereeld die seuns laat les opsê. Sy was jonk reeds uitgegroei en haar lyf het daarna net horisontaal ontwikkel. Die resultaat is gespierde bene en goed gevormde arms, maar sy meen haar borste is in verhouding tot die res te klein. En haar boude net effens té rond en fris – na agter.
Toe sy eenkeer op ’n maak-gou-en-wag-dag van ’n kursus teenoor Charlie oor haar boude staan en kla, het hy uitgebars van die lag. “Jy’s mal, man. Jy’s mooi fyn gebou.” Hy het haar liggies op haar agterstewe geklap en in Afrikaans bygevoeg. “My meidjie!”
Hoe kon sy daarna nié van hom hou nie? Al waaroor hy haar sonder skroom sou takel, is haar kleredrag. Dís volgens hom heeltemal te utilitaristies. As sy haar blou Drimac-baadjie aantrek, kry hy omtrent ’n oorval.
Sy sit sy koffie op die lessenaar naaste aan hom neer en gaan sit beker in die hand in haar eie stoel. “Toe nou, vertel.”
Sello leun oor na links, maar sy hand mik verby die koppie koffie en hy tik met ’n lang wysvinger op die koerant wat op die lessenaar lê. “Hierdie ou het baie vingers in baie pies gehad.”
Onder sy vinger, langs die hooffoto van die misdaadtoneel, is ’n foto van Mackie wat by die een of ander sakegeleentheid geneem is. Sy het dit vanoggend bestudeer. Die netjiese grys hare, ’n blou hemp onder die pakbaadjie met ’n donkerrooi das wat daarteen afsteek – die uniform van die suksesvolle sakeman. ’n Dun swartraambril wat nie té modern is nie, maar ook nie uit die oude doos nie. ’n Man met die regte styl om op die regte plekke in te pas.
“Rufus Jonathan Mackie. Kom eintlik van die Kaap af, maar speel die afgelope twintig jaar in Johannesburg.” Sello doen nie moeite om na sy aantekeninge te soek nie – die inligting rol net uit sy kop. “Hy is geskei, met twee kinders wat al uit die huis is en albei nou in Stellenbosch studeer. Sy vrou, Andrea, bly deesdae in Plet. Het blykbaar gekies om die vakansiehuis te vat, eerder as die een in Bryanston, toe hulle geskei het. Hy self was in die regte skool, regte universiteit, al die regte konneksies, lyk dit my. Hy besit Jomack Holdings, ’n maatskappy wat hy destyds begin het toe hy Johannesburg toe gekom het. Daardie gebou behoort ook aan hulle. Om die waarheid te sê, daar is nog ’n paar kantoorgeboue in Jozi wat hulle s’n is. Hulle versprei meestal myntoerusting en is op die JSE gelys. Dit klink of dit nie massatoerusting is nie, eerder kleiner gespesialiseerde goed.
“Het ’n fortuin daaruit gemaak. Toe begin hy, net op die regte tyd, net voor die boom ná 2000, met eiendom ook speel. Hy was in die direksie van nog drie maatskappye, het natuurlik gholf gespeel en was lid van Business Against Crime. Nogal ironies, nè?
“Jy sien, ’n clean-cut ou met baie geld. Iemand wat elke dag in belangrike plekke se gange gestap het. Dis hoekom die saak soveel aandag kry.” Hy sit vorentoe en klem die warm koffie tussen sy twee hande vas. “O ja, hy was ’n borg van teenmisdaad-toekennings, soos daai wat hulle elke jaar vir die handelsmisdaad-ouens gee.”
“Ek het gesien, ja, in die koerant,” antwoord Lydia. Sy probeer sin kry uit al die inligting. Mackie en sersant Khabile was wêrelde van mekaar verwyder. En waarom ’n gewapende polisieman en ’n sakeman by die werk voorlê terwyl daar makliker teikens is? Hoekom soveel moeite doen om by Mackie in die parkeergarage uit te kom? Rowers en kapers tree ook nie op soos daardie donker man op die video nie. Hulle is opgewen, dreigend, gillend, nie so kalm en effektief nie. En werk nooit alleen nie.
Iemand kom staan regs van haar in die deur. Dit is luitenant Jacques de Beer wat teen die kosyn leun. “Ja julle tweetjies! Het julle nie werk om te doen nie? Of het julle al iets gekry?” Hy grinnik, sy mond skeefgetrek onder sy rooi snor. “Dan moet ons mos saamwerk en inligting deel. Wys my joune, dan wys ek jou myne …”
De Beer kyk vir Lydia. Sy voel die hitte hoog op haar wange uitkol en klein haartjies in haar nek regop staan. Sy tas rond na ’n antwoord en toe sy nie dadelik met een vorendag kan kom nie, oorweeg sy dit om die man net te ignoreer.
“Ag nee wat, dankie, Jakkals,” laat Sello van hom hoor. “Jy het niks wat ek nog nie gesien het nie.”
De Beer se lyf verstar en sy oë blits na Sello se kant toe. Dan draai hy om en stap weg.
“Ingqada,” sê Sello saggies voordat hy opstaan.
Lydia grinnik. “Wat’s dit?”
“’n Poephol! Letterlik. Dankie vir die koffie, Lid. Ek moet nou my verslag gaan skryf.”