Читать книгу Arendsnes - Dirk Jordaan - Страница 5

Hoofstuk 1

Оглавление

Die eerste skoot het hom nie gedood nie. Lydia weet dit, want sy het dieselfde werkwyse drie weke gelede op die moordtoneel in die Moot gesien.

Op die voorblad van die koerant in haar hande, bokant die vou, is ’n foto van die slagoffer se oop kardeur met ’n swartdonker bloedkol op die beton. Sy lyk lê langs die swart kar, toegegooi onder ’n silwer ambulanskombersie, weggeskerm van die koerante se witflitsende, indringende kameras. ’n Bekende gevoel omvou haar lyf soos ’n krapperige, ou trui. ’n Gevoel van leegheid. Van verlies.

Lydia lees weer ’n gedeelte in die hoofberig waarby sy ’n wysvinger gesit het: Volgens ’n betroubare bron is Mackie deur twee koeëls getref, een laag in die buik en die ander agter die oor.

Daar is ’n ligte klop teen die oop deur agter haar.

“Skuus, Luitenant,” maak ’n konstabel verskoning, “die kolonel soek almal in die konferensiekamer. Almal, en dadelik.”

Lydia knik ’n dankie in sy rigting, los die koerant op haar lessenaar en stap die lang gang af. Die vertrek is nie gewoonlik soggens vol nie, maar vandag is daar net-net genoeg stoele vir almal. As kolonel Melt Beyers roep dan hól jy.

Sy soek ’n oop sitplek en knik om dié te groet wat sy nie vroeër die oggend teëgekom het nie. Agter haar hoor sy Jacques de Beer se effens benoude, hees stem, asof iemand besig is om sy keel toe te druk. Sy wens stilweg iemand wil dit regtig doen.

“Ons oortuig die ou toe om nie ’n diefstalsaak te maak nie en sê vir die buurman hy moet sê hy’s jammer en die ou se petrolkannetjie teruggee.”

Lydia kan hoor dis al weer ’n storie oor De Beer se uniformdae.

“Maar drie dae later toe bel hy weer, hoogs de moer in, en ons tos weer uit soontoe. Nee, sê hy, die buurman het die kannetjie teruggegee wat hy geleen het, dis nie die probleem nie. Maar ons moet na sy grasperk kyk. Die buurman het die einste kannetjie vol petrol gemaak en op die gras voor die huis uitgegooi, netjies daarmee op die gras geskryf voor hy dit teruggegee het. Die gras het gevrek en toe staan daar in moerse groot wit letters: ‘D.R.O.L.’ op die groen gras!”

’n Gelag ontplof onder die groepie mans rondom De Beer.

“En toe?” por iemand.

“Ons moes maar ’n docket vir opsetlike saakbeskadiging oopmaak!”

Beyers kom ingestap, gooi ’n vinnige bly-stil-en-gaan-sit-blik oor die vertrek en neem sy plek voor in, tussen die witbord en verligte projektorskerm teen die muur. Hy groet nie. Die vertrek word stil.

“Het julle vanoggend se koerante gesien?” Beyers wag nie. “Ons moet ’n volledige span vir hierdie een saamstel.” Hy draai na die witbord en skryf die saaknommer, slagoffer se naam en die tyd en datum van sy dood neer in ’n handskrif wat ’n apteker grys sou maak. Die naam is dieselfde as die een in die koerantberig: Jonathan Mackie.

Lydia hoor aantekeningboekies oopklap en die gegirts soos almal die besonderhede met hul goedkoop staatsverskafde bolpuntpenne neerskryf. Beyers klik op die skootrekenaar op die tafel waaragter hy staan. Agter hom werp die projektor ’n polisiefotograaf se foto’s van die toneel, geneem nog voor die media daarop toegesak het, teen die skerm. Die een ná die ander, ongesensor. Die slagoffer se gesig is onherkenbaar verwring, die bloed op die vloer dik gestol.

“Dit lyk in hierdie stadium soos ’n roof wat skeefgeloop het,” dreun Beyers se stem. “Sy aktetas, selfoon en beursie is blykbaar weg. Dit lyk nie na ’n kapingspoging nie, want sy kar is onaangeraak. Tensy hulle dit natuurlik nie aangesit kon kry nie.” Hy beduie met ’n dik wysvinger na ’n foto van ’n swart luukse motor wat laag en breed op sy bande staan. Asof Beyers hom herinner aan Lydia se onkunde oor karre, voeg hy by: “Dis ’n BMW 750i, omtrent ’n miljoen werd.” Hy kyk om na die beeld op die skerm en dan vinnig weer terug. “Ons is gelukkig, daar is kringtelevisie in die gebou, ook onder in die parkeerplek. Brackman gaan na die video’s kyk en sal ’n verslag opstel – vanoggend nog.” Beyers se blik rus op hul kollega, wat voor in die konferensiekamer sit. Dit was dus ’n kwalik bedekte opdrag aan Brackman – die een met die tegniese kennis, die geduld van ’n rekenaarslaaf en goeie kontakte onder mede-nerds.

“En ons sal die forensiese span se verslag aan julle deurgee sodra ons dit kry. Dit lyk of hy tromp-op geskiet is. Twee skote. Met ’n ninemil. Die doppies is op die toneel gevind. Dit word deur Ballistics ondersoek. Hier is jul spanne en opdragte.” Beyers beduie na ’n assistent wat opstaan en A4-velle met die werklyste aan hulle begin uitdeel. “Julle weet wat om te doen, gaan doen dit. Onthou, hierdie saak kry prioriteit. En niemand, ek herhaal, niemand mag met die pers praat nie. Die slagoffer was hoëprofiel en hulle gaan alles probeer om inligting by julle te kry. Net ek, via Vusi-hulle,” hy beduie na die agterkant van die vertrek waar die hoofskakeloffisier en sy boepens hulle op die hoek van ’n tafel tuisgemaak het, “mag iets sê.”

Volgens die instruksiepapier is hulle in spanne van twee ingedeel, waarvan die meeste voetwerk sal moet gaan doen. Lydia en Charlie ook.

“Enige vrae?”

Daar is stilte. Die kol op haar maag probeer haar terughou (sê nou net sy is verkeerd en maak haar naam gat?) maar sy kan haarself nie keer nie. “Kolonel?” Sy steek onnodig haar hand op, sy is die enigste vrou in die vertrek.

Beyers is ’n groot man wie se ligte borselkop klein, gekneusde oortjies uitmekaar hou. Sy neus is breed en plat, iewers in die een of ander skrum of boksgeveg gebreek, vermoed sy. Hy het lank vir Polisie slot gespeel – dit weet hulle wel. Tussen sy oë kom sy dik wenkbroue bymekaar, onder die permanent geknoopte voorkopvel. Hulle noem hom Die Bees en hoewel hulle dit net agter sy rug doen, vermoed Lydia dat Beyers van dié bynaam weet. Hy was lid van die Skerpioene, tot met dié se ontbinding en die vorming van die Valke. Lydia is nog nie lank genoeg lid van laasgenoemde spesialiseenheid om veel meer van hom te weet nie, veral nie van sy vroeëre loopbaan nie, maar dat hy baie ondervinding het, dit weet sy.

“Ja, wat wil jy weet?”

“Nee, Kolonel, ek’t nie ’n vraag nie.” Sy huiwer. “Dis net, ek ondersoek ’n ander saak ook wat baie groot ooreenkomste met hierdie een het.”

Beyers se een wenkbrou lig. “Watse saak?”

“Die moord op sersant Khabile van die Moot-kantoor …”

Sy sien die kollegas voor haar se koppe omdraai, voel diegene agter haar se oë op haar kaal nek onder die poniestert. Sy voel hoe die punte van haar ore rooier word.

“En die ooreenkomste?”

“Die manier waarop hy geskiet is. Dit lyk na ’n kaping of rooftog, maar ek dink dit is nie. Twee skote – een laag in die maag en dan nog een agter die regteroor sodra hy vooroor buig. Tromp-op, met ’n 9-millimeter. Sy motor is ook nie geroof nie.”

“Dit kan toeval wees.”

“Ja, Kolonel.”

“Maar ook nie. Wanneer was dit?”

“So drie weke gelede.”

Daar is ’n kort stilte. Sy is verras toe hy haar mening vra: “Wat dink jy?”

“Dit was baie presies. Meer soos … soos ’n teregstelling.”

Hy huiwer kortliks voordat hy sê: “Nou goed, gaan jy terug na daardie saak toe. Kyk na die ooreenkomste, soek ’n skakel tussen die twee. Dalk help dit ons. Hou my heeltyd op hoogte. Ons soek antwoorde, en vinnig! Raait, daar gaan julle.” Beyers draai weg en begin sy papiere bymekaarmaak.

Die stoele se staalpote rammel en skuur hard oor die vloerteëls soos hulle opstaan. Die speurders stroom by die deur uit. Sy moet haar beurt afwag soos al die ander – hier kry vroue nie voorkeur nie. Daar is ’n kol hoendervel hoog op teen haar rug, net onder haar nek. Sy hoef nou nie ooggetuies in die strate rondom die moordtoneel te gaan soek nie. Sy het haar eie deel van dié belangrike saak wat sy moet hanteer – haar eie, ekstra, verantwoordelikheid. En dit kan haar dalk help om haar ander saak ook op te los.

Reinhardt Schutte draai die bonkige neus van die silwer BMW X5 na links by die verkeerslig. Die eerste straat regs bring hom tot by die hek van die Honeyrock Motel en hy soek ’n opening op die beknopte parkeerterrein.

Die motel is in Honeydew, in die verre noorde van Johannesburg – Honeydew, met sy perdeplase, ryskole, nuwe nywerheidsontwikkelings én groeiende plakkersdorp. ’n Gebied waar die rykmanshoewes deur die Goudstad se onstuitbare groei ingehaal is.

Die motel is ingedruk tussen ’n ligte-nywerheidsgebied en die M5, die snelweg wat jou van Johannesburg na die Krugersdorp-hoofweg neem. Getrou aan die aard van sy spesie, is hy glad nie indrukwekkend nie. Dit is ’n tipies plaaslike watergat: Daar is ’n hoofgebou met ’n kroeg, die spilpunt, en kamers wat in ’n enkelry weg daarvan string. Die kamerhuur is goedkoop en om ’n goeie rede. Die meeste daarvan word nooit vir ’n hele nag gebruik nie; eintlik nooit vir langer as ’n uur nie …

Schutte stap deur die klein voorportaal, verby die onbemande ontvangstoonbank en draai links in by die deur waarop ’n ou dameskroegteken steeds pryk. Die kroeg is byna leeg. Die meeste reisende verkoopsmanne is ná hul hamburgermiddagetes weer op pad en die blouboordjiedrinkers van die nywerheidsgebied sal eers instroom nadat die sirenes hulle vyfuur vrygelaat het.

Al is die vloer duisende kere uitgevee en die kroegtoonbank en houttafels selfs nog meer kere afgevee, klou ’n kroegreuk aan alles. Benoud, ’n bekende mengsel van suur drank en sigaretas. ’n Boemelaar se asem.

Schutte gaan staan by die toonbank en bestel ’n whisky met sodawater. Terwyl hy wag, kyk hy rond, merk die twee manne aan die punt van die toonbank wat in die dowwe spieël agter die rakke vir hulself tussen die drankbottels staar, asook die paartjie diep in gesprek in een van die hokkies teen die muur. Hulle leun vorentoe, hul lywe deur die drank na mekaar toe gedwing, glimlaggend, geanimeerd. Hulle is nie met mekaar getroud nie, dink hy.

Hy vat sy glas en skuif agter die tafel in die laaste hokkie in, van waar hy die deur en die res van die kroeg kan dophou. Hy maak sy baadjieknoop los, haal die kort pistool uit die holster aan sy regterheup en druk dit tussen die bank se bruin vinieloortreksel en sy been in. Hy is mal oor dié soort plek. Hy kan instap en ondanks sy pak klere en sydas geen aandag trek nie. Dit is die soort lukrake bymekaarkomplek waar mense hulle by hul eie dinge bepaal, waar hulle hul daaglikse stryd om oorlewing oor ’n paar glase kom versag en glad nie in jou probleme belang stel of, belangriker nog, jou sal onthou nie.

Schutte sit naamloos en agtergrondloos in die hoek en vat ’n slukkie van die whisky.

Dit is meer as net ’n veilige afspraakplek dié. Dit laat hom goed voel, want hy kan deesdae ’n enkele tjek uitskryf en die plekkie op slag koop, om daarmee te maak wat hy wil.

Dit laat hom ook dink aan die Vaaldriehoek, aan die nywerheidsomgewing waaruit hy gekom het. Dit was plekke soos hierdie wat hom sy mensekennis besorg het. Waar hy deur fyn waarneming geleer en gesien het hoe mense se kop werk – hoe basies hul behoeftes eintlik is en hoe hy hulle met daardie kennis kan manipuleer. Hoe hy hul lewe kan rangeer. Sy dae in die weermag het dié vaardigheid verder geslyp.

Soms laat kroeë soos hierdie hom daardie dae onthou. Die reuk van sigaretrook, bier en mans se sweet. ’n Ontlaaiplek. ’n Testosteroonstasie. Hy glimlag. Net die moontlikheid van wat alles in ’n plek soos hierdie kan gebeur, maak hom opgewonde.

Schutte sien Kalvyn Botha die oomblik dat hy in die deur verskyn; merk hoe hy huiwer en vinnig rondkyk totdat hy sy hand in herkenning lig en nader stap.

“Middag, Meneer.”

Schutte leun oor die tafel en steek sy hand uit. “Middag, Botha, kry vir jou iets om te drink.”

“Nee dankie, Meneer, ek’s oukei.”

“Kry iets, man, ontspan. En as jy nie iets drink nie, gaan dit verdag lyk.”

Botha knik half teësinnig en draai om na die kroegtoonbank toe. Schutte hou sy rug dop waar hy bestel. Botha, met sy jean en Caterpillar-stewels, swart T-hemp en ’n bruin seilbaadjie met ’n donker koordfluweelkraag. Sy grys borselkop en donkergebrande nek. Hy lyk soos ’n landmeter, ’n padbouer, of so iets. Na iemand wat sy tyd buite deurbring. Na ’n onindrukwekkende ou met ’n werk waarin niemand belang sal stel nie. Maar Schutte weet enigiemand wat hom laat mislei deur die skraal lyf en seningrige arms sal ’n helse fout maak.

Botha kom terug en gaan sit op die bank oorkant Schutte, in die hoekie, met sy rug teen die muur gedraai sodat hy ook soveel moontlik van die vertrek uit die hoek van sy oog kan sien. Hy sit ’n lang bierglas vol Coke en ys op die tafel voor hom neer.

“Hoe gaan dit?”

Botha slaan sy oë op van die glas tussen sy vingerpunte. “Goed, dankie,” sê hy.

“Als nog reg op die plot?”

“Ja, dankie.”

Schutte weet dis waar die praatjies gaan ophou, al vermoed hy Botha is nie regtig so stil as wat hy voorgee nie. Die dae van kameraadskap om ’n braaivleisvuur is lankal verby. In elk geval, hulle was nooit tjommies nie. Hy was die majoor, Botha die soldaat. Nou is hy “Meneer”, maar Botha is steeds soldaat. Steeds sy onderdaan.

“Jy gereed vir die volgende opdrag?”

“Ja, Meneer.”

Schutte probeer eers die opregtheid van die antwoord in die blou oë meet, maar hulle bly onpeilbaar. Dan druk hy sy regterhand onder sy baadjie in en haal ’n wit koevert uit die binnesak. Die koevert bult teen die gomlagie wat hom moet toehou. “Hierso,” sê Schutte. “Dis eintlik maar net die gewone.”

Botha reik oor die tafel en vat die koevert woordeloos. Hy maak dit nie oop nie, sit dit net neer tussen sy twee voorarms wat op die tafel rus.

“Daar is drie van hulle. Kapers. Hulle gaan waarskynlik as gevolg van swak ondersoekwerk borgtog kry. Die staat het opgefok en nie ’n behoorlike ondersoek gedoen voordat hulle gaan verskyn nie. Al weer. Die kans is goed dat hulle gaan verdwyn.”

Vir die eerste keer sedert hy by die kroeg ingestap het, lyk dit vir Schutte of daar lewe agter die man se oë te bespeur is. “Van waar is hulle?” vra hy.

“Ons dink Diepsloot. Hulle gaan môre weer verskyn en om borg aansoek doen. Wat hulle nog gaan kry ook.”

“Waar?”

“In Pretoria. Dis alles daarbinne. Hofnommer, tyd, foto’s, alles.” Schutte beduie na die koevert met ’n reguit gestrekte wysvinger van die hand wat sy whiskyglas vashou. Hy sluk en sit die glas neer. “Jy weet wat om te doen. Jou fooi is ook daar.”

Botha kyk af na die koevert. “Dankie,” mompel hy.

Stilte daal oor die tafel. Botha sluk aan sy koeldrank, vee dan met die ander hand die waterkringetjie op die tafeloppervlak weg voordat hy die glas op presies dieselfde plek neersit. Hy kyk nie weer na Schutte nie.

Laasgenoemde wil glimlag. Hy is my masjien, dink hy. Hy sluk sy glas leeg en sit dit met rinkelende ys op die tafel neer. “Ek moet loop.” Hy haal die pistool onder sy been uit, druk dit in die heupholster terug en kyk oudergewoonte in die kroeg rond of iemand sy vinnige handbeweging raakgesien het voordat hy opstaan. Dan steek hy sy hand na Botha uit. “Sterkte, en onthou: Doen die regte ding.”

Die laaste frase laat Botha vinnig opkyk. “Tot siens, Meneer.”

Schutte los Botha by die tafel waar hy peinsend maar nikssiende in sy koeldrankglas staar, maak sy baadjieknoop vas en stap by die deur uit. Wanneer sy 4x4 se breë bande buite die kroegvenster oor die plaveisel ruis, staan Botha op en stap na die toonbank toe. Hy druk die koevert in sy binnesak en sit die halfgedrinkte glas op die toonbank neer. “’n Dubbelrum, asseblief,” bestel hy wanneer die kroegman nader staan. “Captain Morgan. Gooi dit sommer by hierdie Coke.”

Arendsnes

Подняться наверх