Читать книгу Arendsnes - Dirk Jordaan - Страница 9

Hoofstuk 5

Оглавление

Die kliprant strek weerskante van hom uit soos die borswering van ’n oeroue natuurlike kasteel, die rotse ’n ry knopperige uitsteeksels op die rant se rug.

Kalvyn Botha skep asem op een van die rotse, sy stapkierie dwars oor sy skoot en die sonstrale op sy skouers. Die laatmiddagson is nog helder, maar die rant gooi reeds ’n breë skaduwee oor die vallei daaronder. Die hond ritsel iewers laer af deur die wintervaal gras, snuffelend op soek na ’n niksvermoedende prooi.

Van hier kan hy die plate doringbome sien wat met mekaar skouers skuur en die ligter groen ruigte van vaderlandswilgers, wit-stinkhoutbome en riete al langs die rivier af. Dit is daar waar hy die bloekombome laat afsaag het en waar die ongenooide wattelbome steeds staan. Dit is ook waar hy die eerste keer gesien het hoe ’n riet werklik rittel in die sterk stroom van die rivier wat afkom, en wat hom die gesegde “bewe soos ’n riet” laat verstaan het.

Hy kyk in ’n suidwestelike rigting en sien die nok van sy huis se vaal grasdak ver onder hom tussen die bome uitsteek. Sy wegkruipplek, sy stukkie plaas, sy skans teen die wêreld daar buite. Maar dan val die spitsdakke in die verte hom weer op. Hulle versprei so vinnig, die rykmansbuurte in die noordooste van die hoofstad groei so snel, dat hul gestapelde rooi dakteëls byna maandeliks nader kruip. Soos Monopoly-geboutjies lyk hulle van hier af. Hy weet dat die dubbelverdiepings wat in gelid agter die hoë mure saamgehok staan, al meer word, en die geïsoleerde kleinhoewe wat hy jare gelede gekoop het, glad nie meer so ver van die stadsgedruis en -verkeer is nie.

Hy sug, tel die stok van sy skoot af op en staan op. ’n Voëltjie vlug skril tussen die gras regs van hom uit met die hond kort op sy hakke. Botha fluit in daardie rigting. Die baksteenrooi rifrug stop, tel hygend sy kop op, sien hom raak en vleg dan sy pad tussen klip en graspol in sy rigting, al sturend met sy stert.

Botha pak die afdraande tog aan. Dit is een van sy daaglikse rituele – as hy hier is, stap hy tot op die rantjie agter die huis. Hy probeer elke dag ’n ander roete teen die steilte uitkies tot bo. Gewoonlik stap hy ’n ent dwars al langs die borant, en soms klim hy af aan die ander kant.

Hy nader die huis van agter en die hond hardloop baldadig vooruit tot by sy blink waterbak voor die agterdeur, drink gulsig en morsig. Botha laat rus sy kierie teen ’n groot apiesdoring en stap tot by die hoop hout wat teen ’n klipmuurtjie langs die huis gestapel is. Hy trek sy oortrui uit, gooi dit oor die muur, kies ’n paar hardekoolstompe uit en slinger hulle tot langs die kapblok van bloekomhout waarin die byl met sy lang, gekromde steel gereed staan. Dit is sy volgende ritueel: Elke middag kap hy hout vir die kaggel – selfs in die somer. Dit is nie verniet dat boksers dit doen nie, hy weet dit is goeie oefening vir die bolyf.

Sy voel tam. Die uitwerking van die nag se intimiteit. Dit het wel die knoop van seksuele spanning in haar losgemaak, maar het dit met ’n gat vervang. Dit is deesdae so meganies. Wat het geword van die aanvanklike lyflike opwinding, van die verwondering oor hoe jou lyf heeltemal kan oorneem? Gaan dit ooit weer terugverander? Pla dit Anton dan nie? Hoe kan hy tevrede wees hiermee, of is mans maar net so?

Die telefoon gee ’n enkele lang skreegeluid – ’n interne oproep.

“Stander.”

“Lid, kom gou hiernatoe. Ons het hom.” Dit is Brackman.

“Wat?”

“Ek het nog ’n tape gekry. En ons het sy registrasienommer.”

“Ek kom!”

In sy kantoor sleep sy haastig ’n stoel nader.

“Jy was reg. Daar was ’n ghrênd woonstelblok net agter die kantoorgebou, met ’n kamera by sy hoofhek. Ons kan bly wees hy het iets opgeneem, want gewoonlik is daardie goed net vir show. In elk geval, ek het die tape gekry en hier is ons man.”

Sy leun vorentoe. Op die skerm is ’n beeld gevries – van ’n bakkie met ’n ligte kleur wat besig is om verby te ry. Die bestuurder is net ’n donker kol, maar die voertuig se breë neus is in die middel van die skerm. “Wat is dit, ’n Toyota?”

“Jip, dis ’n Fortuner, ’n 4x4. Kyk hier, ek het die beeld skoongemaak en verskerp. As jy mooi kyk, kan jy die nommer sien.” Hy sit eenkant toe sodat sy nog nader aan die skerm kan leun.

Sy trek haar oë op skrefies. “RSV 989?”

“Jip, dis hy.”

Sy kyk op Brackman se tafel rond, soek na ’n papier en pen.

“Hierso,” sê hy en gee aan haar uitgedrukte velle A4-papier.

“Jy het al verder gesoek?”

“Dink jy ek’s stadig? Dis alles daar.”

Lydia soek naarstig op die boonste papier. Dit is ’n kopie van die motor se registrasiedokumente. Die oomblik toe haar oë op die naam val, spel Brackman dit ook uit: “J.K. Botha, van Pretoria. En kyk hier,” hy soek onder haar vingers na die volgende papier, “daar is niks van hom op die sentrale misdaadregister nie. Maar ek het sy besonderhede via binnelandse sake gaan trek. Johannes Kalvyn Botha.” Hy sukkel om die middelste naam uit te spreek en dit word uiteindelik “Calvin”.

“Dit lyk vir my eerder na Calvyn, soos die kerk-ou … Dalk net hier verkeerd gespel.”

“Whatever. Hy bly blykbaar op ’n plot in Donkerhoek. Daar is die adres. En,” Brackman probeer nog ’n papier uit dié in haar hande kry, en Lydia gee eerder die pakkie aan hom terug, “hy het drie vuurwapens op sy naam, onder andere ’n ninemil. Maar niks verder nie. Geen rekord nie.”

“Dis baie vreemd. Dis nie jou tipiese rower hierdie nie. Dalk is sy voertuig deur die rower gesteel?”

“Dis nie as gesteel aangemeld nie …”

“Dan het die skieter dalk vals plate opgehad. Maar hulle ry dieselfde voertuie? Dis darem ’n baie groot toeval. Ek sal gaan kyk. Dankie, Tom, jy bly ’n ster!”

Lydia vat die papiere by hom. Haar maag het op ’n knop getrek. Dit is ’n belangrike deurbraak, maar vir ’n oomblik of twee weet sy nie wat om met die nuwe inligting te doen nie, wat haar volgende stap moet wees nie. Sy probeer tyd wen, nie by haar kollega nie, maar by haarself. “Wat doen die ou?” vra sy.

“Ek weet nog nie.”

“Sal jy soek?”

Brackman draai sy kop skeef na haar toe en lig die een wenkbrou asof hy wil sê: Nou wat verwag jy anders?

“Dankie, Tom. Kom ons bou ’n volledige prentjie van hom op. Kyk sommer by SARS ook.” Haar opleiding het weer ingeskop.

“Wat gaan jy nou doen? Ek hoop jy gaan Beyers laat weet – ek wil nie in die moeilikheid kom hieroor nie.”

“Natuurlik, moenie worry nie.” Sy is reeds in die deur op pad na Die Bees se kantoor. Hulle moet so gou moontlik by dié Botha uitkom.

Die byl swaai in ’n boog en klap in die kop van ’n stomp vas. Hy lig die byl weer en hamer die stomp op die kapblok totdat dit in twee splyt. Die klapgeluid weergalm met reëlmaat tot bo teen die rante. Hy haal hard asem en die sweet loop uit sy kort grys hare teen sy slape af. Hy is amper klaar vir vandag.

Hy laat die byl se kop op die grond rus en buk om nog ’n stomp op te tel. Die hond, wat onder die apiesdoring langs die lang stapkierie in die laaste beskikbare wintersonkolletjie lê, tel sy kop skielik op. Hy begin eers grom, dan blaf.

Botha kyk op. “Sjjjt, Diesel, kom hier.” Die hond gehoorsaam en kom staan langs hom, maar tuur na die regterhoek van die kliphuis. Botha luister. Dan hoor hy dit ook. ’n Voertuig.

Hy swaai die byl sodat dit in die kapblok vasslaan, stap na die klipmuurtjie en loer daaroor en om die linkerhoek van die huis. Hy probeer sy asemhaling reguleer – rustiger inasem, sodat hy beter kan hoor. Dit is baie dof, maar hy kan die dreuning hoor. Hy draai sy kop heen en weer om te probeer vasstel uit watter rigting dit kom. Die voertuig kom nie al langs die rivier opgery nie; hy is meer na regs, iewers in die veld agter die bome, wes van die huis. Dan word dit stil. Dit kan wilddiewe wees wat met hul honde agter kleinwild aan is, maar dan sou Diesel nie net gegrom het nie, maar weggevlieg het om hulle die stryd te gaan aansê. Hy kyk af na die hond, wat nie in die rigting kyk van waar die voertuiggeluide gekom het nie, maar stip na die hoek van die huis. ’n Ligte grom roggel agter in sy keel.

Dan hoor hy dit self ook. ’n Tweede dreuning. Dit klink aanvanklik ver weg, maar die klank kom beslis nader, en dan kom ’n wit Volkswagen Jetta om die laaste draai langs die rivier gery, draai by die werf in en hou onder die groot geel koorsboom stil. Hy kry die grommende hond aan sy halsband beet. Daar is drie van hulle, tel hy. Hy wonder hoe hulle by die rolhek ingekom het, want hy sou dit die vorige aand gesluit het – hy maak nooit sulke foute nie.

Hy hoor die geknars van ’n polisieradio. Hulle is nie in ’n patrollievoertuig nie, maar in ’n ongemerkte kar. Speurders dus. Toe hulle uitklim, is hy verras om te sien hulle het pantserbaadjies aan. Hulle sprei uit, langs mekaar. Voor, in die middel, is ’n groot man met ’n blonde borselkop en regs van hom ’n swart polisieman, amper ook so groot. Sy kop is kaalgeskeer en blink. Langs hom ’n kort vrou, haar swart hare agteroor getrek in ’n poniestert. In ’n V-formasie stap hulle in die rigting van sy voordeur. Botha staan stil terwyl die opsies deur sy kop skiet. Soek hulle na hom, of ondersoek hulle dalk ’n ander saak? Iets wat op die hoewes in die omgewing gebeur het? Hopelik, maar hulle lyk te doelgerig. Weet hulle dalk iets? Hy laat dan nooit spore nie. Die ou gesteelde BMW is skoongevee en in ’n donga naby Hammanskraal, en die tekkies is in ’n asblik in Garsfontein. Hy oorweeg dit vir ’n oomblik om te hardloop, die bekende terrein te gebruik om weg te kom. Maar daar is nog die heel eerste voertuig wat hy gehoor het, regs agter van waar hy nou staan …

Hy duik weg agter die muur voordat hy stap tot by die agterdeur waar hy die hond se leiband van ’n haak afhaal en dit aan die halsband knip. Hy haak die ander punt van die leiband aan ’n uitstaande punt van die diefwering voor ’n venster sodat die hond nie kan beweeg nie. Hy vryf hom gerusstellend tussen sy ore voordat hy terugstap na die kapblok, waar hy die steel heen en weer trek totdat die byl loskom. Dan kies hy ’n stomp uit, maak dit op die blok staan en swaai die lang byl.

“Polisie! Staan stil!” hoor hy regs van hom. Hy laat die byl se kop in sy linkerhand rus, die steel dwars voor sy bors, en kyk op. Daar staan twee polisiemanne langs die hoek van die huis, Taakmaglede in jeans en gholfhemde, maar met pantserbaadjies en R5’s wat in sy rigting wys. Hy hoor die gras agter hom ritsel en kyk oor sy skouer. Nog twee kom te voorskyn.

Die hond begin wild blaf en rem aan sy halsband. “Diesel! Stil! Sit!” beveel hy en die hond gaan sit, grommend en teen sy sin.

“Hierso, Kolonel! Hier agter!” skree ’n Taakmag-voorprater oor sy skouer.

Botha kyk hulle stip aan, totdat die driemanskap wat hy vroeër gesien het, om die huis se regterhoek gestap kom.

“Meneer Botha?” Dit is Borselkop wat praat. Daar is outoriteit in sy stem.

“Ja?”

“Meneer J.K. Botha?”

“Ja?”

“Ons is van die polisie se Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke. Ons wil u ’n paar vrae vra.”

“Waaroor? Wat’s fout?”

“Sit neer die byl, meneer Botha, dan gaan praat ons in die huis.”

“Waaroor?”

“Sit neer die byl …”

Botha hou die lang steel steeds dwars voor hom. Hy wag eers ’n rukkie, nie om hulle te tart nie, maar net om hulle te laat weet hy is nie bang nie. Dan swaai hy die byl met ’n gemaklike boog tot in die kapblok. “Nou goed, kom in.”

Twee van die Taakmaglede laat sak hul wapens en draf nader. “Hande op jou kop!” beveel die een. Die ander twee hou hom steeds onder skoot. Hy word deurtas en daarna word sy hande tot agter sy rug gedwing.

“Skoon, Kolonel.”

“Dankie. Los hom,” sê die bevelhebber en Botha se hande is weer syne. “Kom asseblief, meneer Botha. Ons wil u net ’n paar vrae vra. Is u alleen hier?”

“Ja.”

“Kom ons gaan in.”

“Het julle ’n lasbrief?”

Die speurder se glimlag dra die boodskap oor: Hulle het nie een nodig nie. “Kom, kom ons gaan in,” hou hy ferm vol.

Kalvyn Botha kyk die man reguit in die oë voordat hy begin beweeg. Hy stap stadig vooruit en maak die agterdeur oop.

Arendsnes

Подняться наверх