Читать книгу Die Einde van verslawing - Dr Volker Hitzeroth - Страница 11

Die omvang van die probleem

Оглавление

Ons moet eers die aard en omvang van dwelm- en alkoholgebruik vasstel voordat ons bystand kan verleen met die probleme wat deur dwelms en alkohol veroorsaak word. Basiese inligting oor die omvang van die probleem is van kritieke belang. Terwyl dit duidelik is dat verdere navorsing en die versameling van inligting nodig is, het die inwin van inligting verskeie probleme opgelewer. Dit is geweldig moeilik om betroubare syfers oor dwelm- en alkoholgebruik onder die verskillende bevolkingsgroepe in die hande te kry. Dit is hoofsaaklik so omdat min mense in die veld van dwelm- en alkoholverslawing werk, en hulle is nie altyd daartoe in staat om inligting aan te meld nie.

Verder kom dwelm- en alkoholgebruik op ’n verskeidenheid maniere onder die owerheid se aandag. Dié feit kompliseer die proses waarvolgens inligting ingesamel en vertolk moet word. Ons weet dwelm- en alkoholverwante probleme kom in ’n mediese opset ter sprake in die vorm van infeksies, neigings tot bloeding en neurologiese probleme. Ook kom dit voor in ’n geestesgesondheidsomgewing in die vorm van geassosieerde depressie, angstigheid, psigose en selfmoordneigings. Die gevolge van dwelmgebruik kan waargeneem word in ’n noodgevalopset waar epileptiese aanvalle, hartprobleme, bedwelming- en onttrekkingsimptome, chroniese siektetoestande, MIV, hepatitis, lewerprobleme en maagsere wat daarmee vereenselwig word, voorkom. In ’n nie-mediese opset, soos byvoorbeeld ’n strafhof, kan dwelmgebruik weens byvoorbeeld dronkbestuur, aanranding of diefstal ter sprake kom. Ook by die werkplek sien ’n mens die teenwoordigheid, waar werkers soms onder die invloed van drank aanmeld en nie in staat is om hul werk te doen nie.

Die uiteenlopende maniere waarop dwelm- en alkoholmisbruik voorkom, maak dit dus moeilik om bruikbare inligting oor dwelm- en alkoholgebruik in te samel. ’n Groot deel van die wêreld van dwelms en alkohol is onwettig en ondergronds en dus moeilik om te moniteer. In die laaste instansie is dit so dat gebruikers dikwels nie hul presiese gebruikshoeveelhede bekend maak nie. Inteendeel, hulle gaan tot die uiterstes toe om hul dwelm- en alkoholgebruik vir hul gesin, familie of vriende weg te steek. Dit is waarskynlik dat ’n dwelm- of alkoholgebruiker by ondervraging sy gebruik sal ondervermeld.

Daar word gewoonlik van verskeie inligtingsbronne gebruik gemaak wanneer klinici, epidemioloë of beleidmakers die dwelm- en alkoholgebruik in ’n gemeenskap peil.

1 Een manier waarop die inligting oor dwelm- en alkoholgebruik beoordeel kan word, is deur individuele onderhoude met die kliënte of die gesinne. Terwyl sodanige onderhoude baie nuttig is, word dit ook deur probleme soos oneerlikheid, vrees, skaamte en onkunde in die wiele gery en kan oor- of ondervermelding die resultaat wees.

2 Regerings of groot organisasies probeer ook om peilings onder die breë bevolking te doen, waartydens groot getalle mense vraelyste moet voltooi, of onderhoude word met hulle gevoer. Sulke opnames verskaf gewoonlik redelik akkurate inligting, maar is duur en tydrowend. Verder moet baie respondente ingesluit word om akkuraatheid te verseker, omdat die problematiese gebruik van dwelms en alkohol relatief laag bly in die algemene bevolking. Uiteraard is dit baie waarskynlik dat so ’n algemene opname gemarginaliseerde groepe met ’n hoë vlak van dwelm- en alkoholgebruik kan afskeep, wat sal lei tot hierdie groepe se onderverteenwoordiging in die algemene opname. Voorbeelde van sulke groepe is haweloses, werkloses, kommersiële sekswerkers, gays en lesbiërs.

3 Nog ’n manier om nuttige inligting oor dwelm- en alkoholgebruik te bekom, behels die gebruik van indirekte dwelm- en alkohol-aanduiders. Sulke indirekte aanduiders word as merkers vir dwelm- en alkoholprobleme gebruik. Die aanname is dat indien akkurate inligting ingesamel kan word oor die probleme wat met dwelm- en alkoholgebruik gepaardgaan, dit ’n beeld sal gee van die onderliggende dwelm- en alkoholgebruik. Sulke aanduiders sluit byvoorbeeld in inhegtenisnemings deur die polisie, grensbeheerbeslagleggings op dwelms en alkohol, lewerprobleme wat met alkohol of hepatitis vereenselwig word, sowel as die getalle van toelatings vir behandeling en detoksifisering, voorskrifte uitgeskryf, skooldwelmtoetse of opnames in hospitale se noodeenheid ná ’n oordosis dwelms. Al hierdie kontakte kan waarskynlik na die een of ander vorm van dwelm- en alkoholgebruik teruggevoer word. Inligting kan dus ingesamel word om die dwelm- en alkoholgebruik in ’n bevolking te skat. Maar velerlei probleme duik op, omdat sulke indirekte merkers per definisie indirekte aanduiders is en nie ’n eerstehandse weerspieëling nie. Daar kan uiteraard ander oorsake vir dieselfde voorkoms van eienskappe wees. So byvoorbeeld kan ’n verhoogde insidensie van lewerprobleme die gevolg wees van doeltreffender ondersoek en diagnose binne die gesondheidsopset. Dit is dus nie noodwendig ’n aanduiding van alkoholgebruik of binneaarse toediening van heroïen nie. Om soortgelyke redes beteken ’n toename of afname in dwelmverwante misdade nie sonder meer ’n toename of afname in dwelmgebruik nie. Dit kan die gevolg wees van ’n verhoogde bewustheid van misdaad onder die bevolking, of dat die polisie doeltreffender geword het, of eenvoudig dat akkurater verslaggewing in die media voorkom. Laastens kan die aantal kinders wat by skole positief getoets word vir dwelm- en alkoholgebruik die resultaat wees van die inwerkingstelling van ’n nuwe protokol vir toetsing, of ’n verhoogde bewuswording onder onderwyspersoneel.

4 Verskeie

Soos gesien kan word, is die vasstelling van inligting oor die bestek van gebruik deurspek met probleme. Die akkuraatste inligting word gewoonlik verkry as verskeie studies gekombineer word, waarin uiteenlopende metodologieë gebruik word. Dit word beskou as die beste praktyk.

Dit is ook belangrik om presies te weet wat beoordeel word. As ’n ondersoek byvoorbeeld gedoen word na dwelm- en alkoholgebruik, sal die resultate na alle waarskynlikheid verskil van ’n ondersoek na dwelm- en alkoholmisbruik of selfs afhanklikheid van dwelms. Die kriteria wat gebruik word, speel dus ook ’n belangrike rol.

Die Diagnostiese en statistiese handleiding, vierde uitgawe met hersiene teks (DSM IV TR), het spesifieke stelle kriteria vir alkoholmisbruik (voldoening aan een van vier kriteria binne die laaste maand) en afhanklikheid (voldoening aan drie uit sewe kriteria oor die laaste jaar). Ander diagnostiese kriteria bestaan egter ook wat gebruik kan word vir hierdie soort studies. Dit sou spesifiek van belang wees as meer as een studie met mekaar vergelyk en ontleed word, omdat die metodologieë kan verskil en die kriteria na verskillende stelsels van klassifikasie kan verwys.

Twee belangrike konsepte wat verstaan moet word in ons bepaling van die gebruik van dwelms en alkohol binne ’n bepaalde bevolking of bevolkingsnit hou verband met die konsepte voorkoms en omvang.

1 Voorkoms verwys na die totale aantal gevalle van gebruikers, misbruikers of afhanklikes van dwelms en alkohol op ’n bepaalde tydstip. Voorkoms is dus gewoonlik ’n dwarssnittelling van die teenwoordigheid van ’n spesifieke toedrag van sake. Daar is verskillende soorte voorkomste, insluitende puntvoorkoms, wat verwys na die totale aantal gevalle op ’n bepaalde tydstip; leeftydvoorkoms, wat verwys na die totale aantal gevalle binne ’n leeftyd geneem tot op die tydstip waarop die ondersoek gedoen is; en bestekvoorkoms, wat verwys na die totale aantal gevalle binne ’n voorafbepaalde en duidelik afgebakende tydsbestek.

2 Omvang verwys na die aantal nuut aangemelde gevalle binne ’n spesifieke en voorafbepaalde tydsbestek. Dit is dus ’n aanduider van nuut aangemelde gevalle binne ’n spesifieke tydsbestek, wat gewoonlik gedefinieer word as ’n bestek van een jaar, maar ook langer of korter kan wees, byvoorbeeld een maand of tien jaar.

Hoewel regerings, groot organisasies, nie-regeringsorganisasies en selfs universiteitsdepartemente inligting oor dwelm- en alkoholgebruik wil bekom, is toegang tot inligting duur, omslagtig en tydrowend. In Suid-Afrika word die situasie verder gekompliseer omdat ons ’n ontwikkelende nasie is met beperkte finansiering, tegnologie en menslike hulpbronne.

Die Verenigde State van Amerika

Die Verenigde State het toegang tot groot epidemiologiese studies, wat die gebruik van dwelms en alkohol binne hul bevolking ondersoek het. In die jare tagtig en negentig en vroeg in hierdie eeu is verskeie studies deur verskillende organisasies begin. Hierdie ondersoeke het duisende mense van oor die hele Amerika as steekproef gebruik om die leeftydvoorkoms van die gebruik, misbruik en afhanklikheid van dwelms en alkohol te bepaal.

Afhangende van watter ondersoek geraadpleeg word, is die leeftydvoorkoms van alkoholmisbruik tussen 4,9% en 17,8%, terwyl die leeftydvoorkoms van alkohol-afhanklikheid wissel tussen 5,4% en 14,1%. Hierdie gemiddelde syfers weerspieël nie die beduidend hoër vlakke van alkoholmisbruik en -afhanklikheid binne die manlike bevolking nie, wat relatief baie laer is vir die vroulike bevolking. Die leeftydvoorkomsvlak vir die misbruik en afhanklikheid van cannabis is ongeveer 11,8%, terwyl die leeftydvoorkoms vir die misbruik en afhanklikheid van ander dwelms relatief laag is (die meeste ondersoeke dui minder as 3,9% aan, terwyl een studie 7,9% aangedui het). Die leeftydvoorkoms vir afhanklikheid van nikotien wissel tussen 13% en 24%.

Suid-Afrika

Terwyl Suid-Afrika nie toegang tot sulke groot studies het as wat in Amerika gedoen is nie, het ons tog ’n paar opnames wat plaaslik die situasie met betrekking tot dwelms probeer bepaal het. Dié ondersoeke sluit die werk in van navorsers met uiteenlopende affiliasies, wat in uiteenlopende omgewings en met verskillende metodologieë gewerk het. ’n Omvattende oorsig is derhalwe moeilik. Die studies sluit ’n paar opnames in wat by skole en onder huishoudings gedoen is, sowel as onder kommersiële sekswerkers en rondom MIV-risikogedrag, dwelminspuitpatrone en homoseksuele mans.

Alkohol in Suid-Afrika

Vergeleke met ander lande wêreldwyd het Suid-Afrika een van die gevaarlikste en skadelikste gebruikspatrone van alkohol. Alkohol word hier met ’n hoë las van mortaliteit en morbiditeit vereenselwig. Die lewensalkoholgebruik is omtrent 40%, terwyl die teenswoordige alkoholgebruik binne die laaste maand ongeveer 30% is. Ongeveer 25% tot 33% van alle alkoholgebruikers raak meestal in naweke by gevaarlike drinkery betrokke. Gevaarlike en skadelike alkoholgebruik deur adolessente en jong volwassenes strek van 2% tot 17%, en by volwassenes van 5% tot 17%. Sulke gevaarlike en skadelike alkoholgebruik gebeur onder mans én vroue in plattelandse sowel as stedelike gebiede in die meeste provinsies en dit sluit alle rassegroepe in.

In die ondersoek na alkoholgebruik in verskillende bevolkingsgroepe is in ’n paar peilings onder jong adolessente bevind die huidige vlak van alkoholgebruik is 21% tot 62%, met alkoholvergryp wat op 14% tot 40% van die bevolking staan. Daar is bevind dat gevaarlike en skadelike drinkery op 19% staan. Peilings onder Suid-Afrikaanse studente het gewys die alkoholgebruiksvlak strek van 22% tot 80%, met alkoholvergryp wat in die laaste maand strek van 6% tot 43%. Gevaarlike en skadelike drinkery strek van 17% tot 58%.

’n Studie onder mynwerkers het aangetoon dat 9,3% van hulle daagliks alkohol gebruik. Van diegene is 15,3% afhanklik van alkohol. ’n Studie wat onder plaaswerkers in die Wes-Kaap gedoen is, het aangetoon 87% van hulle is potensieel afhanklik van alkohol. ’n Peiling wat in ’n weermagkliniek in Kaapstad onderneem is, het onthul dat 13,3% van die respondente hulle oorgee aan gevaarlike en skadelike drinkery. ’n Peiling wat in ’n landelike buitepasiëntekliniek vir primêre sorg onderneem is, het aangetoon 19,2% van die kliënte raak by riskante en gevaarlike drinkery betrokke, terwyl ’n studie van die rekords van ’n psigiatriese kliniek bevind het alkoholmisbruik is 6,3% onder vroue en 15,1% onder mans.

Dagga in Suid-Afrika

’n Paar ondersoeke is reeds onderneem om die gebruiksvlak van dagga in Suid-Afrika te bepaal. Die adolessente leeftydgebruik van dagga wissel tussen 7% en 20%, terwyl die teenswoordige gebruik van dagga in dié bevolkingsnit tussen 2% en 9% wissel. Dit lyk of adolessente in hul vroeë tienerjare dagga begin gebruik. Daar is bevind dat onlangse en teenswoordige daggagebruik onder volwassenes 2% is, terwyl hierdie speling in ’n toegespitste ondersoek onder opvoeders selfs laer was (ongeveer 0,3%). ’n Peiling onder mynwerkers dui op ’n selfaanmeldingsvlak van 7,2% vir leeftyddaggagebruik en ’n teenswoordige daggagebruik van 2,3%, terwyl in urinetoetse bevind is die teenswoordige daggagebruik is in werklikheid 9,1%. ’n Verdere peiling onder gearresteerdes wat in drie groot stede in Suid-Afrika ondervra en getoets is, het onthul dat slegs 54% van die respondente wat positief vir dagga getoets is, vermeld het dat hulle in die laaste maand die dwelm gebruik het.

Heroïen in Suid-Afrika

Verskeie peilings is in Suid-Afrika op huishoudelike, skool- en gemeenskapsvlak gedoen. Die resultate toon ’n respondentetal wat wissel tussen ongeveer 1% en 4% wat vermeld dat hulle minstens een maal in hul lewe heroïen gebruik het. Tussen 1% en 3% het teenswoordige gebruik van heroïen vermeld. In ondersoeke wat by verskillende fuifpartytjies gedoen is, het tussen 4,8% en12% van die respondente ’n heroïengebruik van minstens een maal in hul lewe vermeld.

In ’n Kaapstadse ondersoek na heroïengebruik en MIV-verwante risiko’s waartydens onderhoude met 239 heroïengebruikers in Kaapstad gevoer is, is ’n groot persentasie van veelvuldige dwelmgebruik aangemeld – met tabak, alkohol, dagga, metamfetamien (tik) en Mandrax as die algemeenste ander middels wat gebruik word. Die algemeenste ouderdom vir die aanvangsgebruik van heroïen was 20 jaar. Die meeste van diegene wat ander dwelms voor heroïen gebruik het, het met dagga en Mandrax begin.

Uit hierdie snit het 24% van die persone oor die laaste maand heroïen binneaars ingeneem, terwyl 77% van die inspuiters oor die laaste drie dae heroïen ingespuit het, waarvan 80% daagliks. Die algemene aanvangsouderdom vir die inspuit van heroïen was 22 jaar. Die inspuitings is meestal tuis gedoen, in die huise van vriende of die woonplekke van dwelmhandelaars. Van die heroïengebruikers wat binneaarse toediening van heroïen oor die laaste maand vermeld het, het 89% minstens een maal ’n spuitnaald gedeel met óf ’n nabye vriend óf ’n gereelde seksmaat óf ’n toevallige seksmaat. Die hergebruik van spuitnaalde was ook algemeen. Van die respondente is 61% minstens een maal vir MIV getoets. Van hulle het 88% vermeld dat die toets negatief en 6% dat die toets positief was. Nog 6% het vermeld dat hulle nie weet wat die uitslag is nie. Van die respondente is 52% vir hepatitis C getoets en van hulle was 7% positief, terwyl 47% van die respondente vir hepatitis B getoets is.

SACENDU

The South African Community Epidemiology Network on Drug Use, oftewel SACENDU, is ’n dwelm- en alkoholwaarnemingstelsel wat dwarsdeur Suid-Afrika in werking is. SACENDU is sedert 1996 in werking en moniteer neigings en gevolge van dwelm- en alkoholgebruik. Die opnames word elke ses maande herhaal deur die inligting te ontleed wat van sentrums vir die behandeling van dwelm- en alkoholprobleme ontvang word. SACENDU is deur die Mediese Navorsingsraad van Suid-Afrika, in samewerking met verskillende vennote, belanghebbendes en finansiers, in die lewe geroep. Dit bestaan uit ’n landwye netwerk navorsers, praktisyns en beleidmakers wat op gemeenskapsvlak waarnemingsyfers verskaf oor openbare gesondheid of neigings in dwelm- en alkoholgebruik. SACENDU verskaf dus ’n indirekte meting van dwelm- en alkoholneigings deur die monitering van kliënte wat vir behandeling by behandelingsentra landwyd aanmeld.

In die Fase 24-ontleding van SACENDU (in Junie 2008) was alkohol steeds die middel wat die algemeenste in Suid-Afrika misbruik word, behalwe in die Wes-Kaap, waar die dwelm wat die algemeenste misbruik word, metamfetamien was. Die mense wat behandeling gesoek het vir ’n alkoholprobleem was meestal jong tot middeljarige mans. Dagga het steeds baie algemeen gebly, met 11% tot 50% van alle hulpsoekers oor die hele Suid-Afrika wat dagga as hul primêre probleem aangemeld het. Kokaïen en crack was die vernaamste dwelms wat misbruik is deur 5% tot 20% van die mense wat landwyd hulp gesoek het. Kokaïen en crack is dikwels saam met ander dwelms gebruik, meestal deur jonger volwassenes.

Oor die hele Suid-Afrika was heroïen vir tussen 1% en 23% van die hulpsoekers die vernaamste middel wat misbruik is. Van die Wes-Kaapse heroïengebruikers is 11% inspuiters, met 24% van die heroïengebruikers in Gauteng wat inspuit. Stimulante soos ecstasy en khat is volgens die aanmelding laag op die lys van die vernaamste dwelms wat misbruik word. In die Wes-Kaap is metamfetamien (tik) vir ongeveer 36% van alle hulpsoekers die vernaamste dwelm wat misbruik word. Die misbruik en afhanklikheid van voorgeskrewe medisyne en medisyne wat oor die toonbank gekoop word, is die dryfveer vir tussen 1% en 7% van respondente wat hulp gaan soek. Medisyne wat oor die toonbank gekoop word en voorskrifmedisyne word meestal saam met alkohol en ander dwelms gebruik.

Noudat ons die bestek van die dwelm- en alkoholprobleem ondersoek het, kan ons individuele patrone van dwelm- en alkoholgebruik oorweeg.

Die Einde van verslawing

Подняться наверх