Читать книгу Die Einde van verslawing - Dr Volker Hitzeroth - Страница 6

Klassifikasie van dwelms wat misbruik word

Оглавление

Dwelmgebruikers, hul familielede en die groot publiek is oor die algemeen nie goed ingelig oor die verskillende soorte dwelms wat misbruik word nie. Hulle vind die paadjie deur die “dwelmdoolhof” maar moeilik. Die meeste mense vorm ’n mening op grond van emosionele en sensasionele brokkies inligting wat angswekkend lyk, maar waarskynlik eerder wolhaarstories is as wetenskaplike bewyslewering. Sulke brokkies inligting gaan gewoonlik oor die gevaar wat dwelms inhou, die verslawingspotensiaal en problematiese gedragspatrone, sosiale optredes en interaksies wat die gevolg van dwelmmisbruik is. Dikwels ontbreek ’n samehangende insig in die verskillende dwelms wat misbruik word en die werking daarvan.

Dit is belangrik dat enigiemand wat betrokke is by alkohol- of dwelmverslaafdes in ’n persoonlike hoedanigheid, ’n gesinsverwantskap of binne ’n professionele terapeutiese opset die verskille tussen die soorte dwelms en die onderskeie uitwerkings daarvan verstaan. Dit is lewensbelangrik om ’n oorsig te kry en ingelig te word. As jy of ’n vriend of ’n gesinslid aan ’n fisieke siekte soos diabetes, hoë bloeddruk, kanker of epilepsie sou gely het, sou jy soveel moontlik oor die toestand wou uitgevind het. Dieselfde geld vir dwelm- en alkoholverwante probleme. Die eerste stap om meer ingelig te raak, is om eers ’n oorsigtelike begrip te kry. As ’n mens eers ’n begrip in die breë het, is dit makliker om ’n weg om die probleem te vind. Die meeste mense is dan in staat tot die volgende stap.

Hier volg nou ’n maklik verstaanbare indeling van dwelms en alkohol waarby die meeste dwelms wat misbruik word, ingesluit word. Onthou, dis slegs ’n vertrekpunt om dwelmgebruik en die daaropvolgende behandeling te verstaan.

Die groot aantal dwelmmiddels, hul onderskeie chemiese samestellings en verskillende uitwerkings en die tallose kliniese nagevolge skep groot verwarring. ’n Indeling van dwelmmisbruik is derhalwe geweldig moeilik.

’n Eenvoudige riglyn vir die indeling van dwelms sou die wettige status al dan nie van die dwelm kan wees. Sommige middels is wettig met onbeperkte toegang (byvoorbeeld kafeïen), terwyl ander wettig is met beperkings op die beskikbaarheid daarvan (byvoorbeeld, alkohol en nikotien is albei wettig, maar nie beskikbaar vir kinders onder die ouderdom van 18 jaar nie, of bepaalde soorte medisyne wat slegs beskikbaar is met ’n voorskrif van ’n professionele gesondheidsorgwerker). In die laaste instansie is ’n klomp ander middels uitdruklik onwettig (byvoorbeeld kokaïen, heroïen en amfetamien). So ’n indeling kan oorsigtelike duidelikheid verskaf, maar is nie noodwendig akkuraat nie. Die wettigheid van bepaalde middels verskil van land tot land. ’n Voorbeeld is dagga, wat in sommige lande goedgekeur word, terwyl dit in ander lande verbode is. Dieselfde situasie geld vir alkohol, wat in die algemeen in Westerse lande vryelik aan volwassenes verkoop word, maar in Midde-Oosterse lande beperk word. In baie lande is kodeïen en ander soorte medisyne geredelik by apteke beskikbaar, terwyl die besit in ander lande tot inhegtenisneming kan lei omdat dit hoogs geskeduleer is en streng beheer word.

’n Tweede metode waarvolgens middels wat misbruik word, ingedeel kan word, is dat die chemiese samestelling van die middel as primêre bepaler gebruik word. Vir farmakoloë is dit ’n bruikbare stelsel, maar vir ander mense kan dit omslagtig en onprakties wees. Vir diegene sonder ’n agtergrond in chemie is chemiese teorieë soms moeilik om te verstaan en ingewikkeld om toe te pas. Is dit werklik belangrik dat ecstasy geklassifiseer word as 3.4-metielleniendioksie-N-metielamfetamien (MDMA)? En wie stel daarin belang om te weet dis verwant aan 1-(3.4 metiellenien-dioksifeniel)-2-aminopropaan (MDA)? Albei hierdie middels val in ’n heel ander chemiese kategorie as heroïen (’n opioïed-agonis) en delta-9-tetrahidrokannabinol (dagga). Sulke chemiese name en klassifikasies is verwarrend as jy nie ’n apteker of ’n dokter is nie.

’n Derde wyse van indeling is volgens die roete van inname, naamlik deur die mond (oraal), inspuiting (binneaars), deur die neus (snuif) of deur dit te rook of in te asem. Ook dít blyk ’n onbevredigende stelsel van indeling te wees. Alkohol word meestal oraal ingeneem (deur dit te drink), terwyl sommige ander dwelms op ’n verskeidenheid wyses ingeneem kan word. Hoewel heroïen óf ingespuit óf gerook óf ingeasem kan word, gebeur dit nie op dieselfde wyse as waarop sigarette gerook word nie. Heroïen word op ’n spesifieke manier verhit en dan ingeasem. Omdat die rookkrulle vermoedelik soos ’n draak se stert lyk, word dit “chasing the dragon” genoem. Kokaïen en amfetamien kan ingespuit, gerook óf gesnuif word. Verskeie soorte voorgeskrewe medisyne kan oraal (in tabletvorm of as kapsules) geneem word, maar dit kan ook fyngedruk en dan gesnuif of ingespuit word.

Ná jare lange mediese studie, spesialisering in psigiatrie, en daaropvolgende werksaamheid in die verslawingsveld, het ek ’n indelingstelsel ontwikkel wat ek prakties en maklik begryplik vind. Ek gebruik hierdie stelsel om gebruikers, hul gesinne en mediese studente oor misbruik te onderrig. Die indelingstelsel is afgelei van die terme wat middelgebruikers self gebruik. Hierdie terme is stimulante (uppers), depressante (downers) en psigedelia (psychedelics). Dié drie terme verskaf ’n eenvoudige benadering tot die indeling van dwelms. Alle middels wat hulle tot misbruik leen, kan hiervolgens in vyf breë groepe geklassifiseer word, naamlik:

1 Stimulante

2 Depressante

3 Psigedelia,

4 Ander dwelms wat misbruik word, maar wat nie netjies in een van die bogenoemde kategorieë inpas nie.

5 Dwelms wat kategorieë oorvleuel.

Ek het ander publikasies raakgeloop wat ’n soortgelyke indelingstelsel gebruik. Die bogenoemde stelsel is dus ’n hibried van my eie idees en ander, algemeen aanvaarde kategorieë oor dwelmmisbruik. Party akademici kan redeneer dat heelparty dwelms wat misbruik word in alternatiewe kategorieë geplaas moet word. Hul redes is velerlei, maar is meestal gegrond op die chemiese samestelling of die kliniese uitwerking van ’n middel. Hulle is nie noodwendig verkeerd nie. Uiteenlopende opinies wys hoe moeilik dit is om ’n komplekse situasie op ’n eenvoudige manier te verduidelik. Dit is daarom dat ek die vyfde kategorie – middels wat met die eerste drie kategorieë oorvleuel – ingevoeg het. Die vyfde groep dwelmmiddels kan in meer as een kategorie ingedeel word omdat hul chemiese samestelling en kliniese uitwerking verskil.

Stimulante (uppers)

Die meeste stimulante van die sentrale senustelsel beïnvloed ’n chemiese stof, dopamien, in die brein.

Klassieke stimulante

Die klassieke stimulante sluit amfetamien en kokaïen in. Voorbeelde van algemene name waarmee na amfetamien verwys word, sluit in metamfetamien, crystalmeth, speed, tik of ice. Algemene name waarmee na kokaïen verwys word, sluit in coke, crack, candy, rock, snow en flake. Die rookbare vorm van amfetamien (tik, ice) en kokaïen (crack) is hoogs gekonsentreerd en verfyn en daarom so erg verslawend.

Ander stimulante

Ander stimulante sluit in cathinone (khat, cat), ecstasy (XTC, E, adam, X, MDMA), PMA (“Doctor Death”), kafeïen (koffie), nikotien (tabak) en party soorte medisyne wat slegs met ’n doktersvoorskrif by apteke beskikbaar is. Sodanige medisyne sluit in produkte wat efedrien, pseudo-efedrien en metielfenidaat (Ritalin) bevat. Medisyne wat oor die toonbank gekoop kan word, sluit in eetlusdempers, verkoue- en teengriepmiddels.

Depressante (downers)

Die meeste depressante van die sentrale senuweestelsel het ’n uitwerking op ’n chemiese stof, GABA, of die opio-ïedsisteem, in die brein.

Klassieke depressante

Klassieke senustelseldepressante sluit in alkohol (etanol), opiate (heroïen) en opioïede (sintetiese voorskrifmedisyne). Algemene name vir heroïen sluit in smack, brown sugar, Thai white, horse of H. Ander depressante van die sentrale senuweestelsel sluit in kalmeermiddels en hipnotiese middels, soos die bensodiasepiengroep en ’n ouer medisynegroep bekend as die barbiturate.

Ander depressante

Ander depressantmiddels sluit in GHB (gamma-hidroksibutiraat of liquid ecstasy), Zopiclone en Zolpidem, wat algemeen as slaapmiddels voorgeskryf word, en metakaloon (Mandrax, star, flowers, boggel, Mandies, ludes, Q, vitamien Q, Quaalude). Ander middels in hierdie groep sluit in meprobamaat en chloorhidraat.

OPIATE EN OPIOÏEDE

Opiaat en opioïed is van die woord “opium” afgelei, wat verwys na ’n papawerplant, ook bekend as Papaver somniferum. Opiate is middels wat berei of gesintetiseer word uit die natuurlike opiumsamestelling en die onderskeie chemiese komponente daarvan. Voorbeelde is onder meer heroïen, morfien en kodeïen. Roetine-dwelmtoetse spoor gewoonlik die teenwoordigheid van opiate op. Opioïede sluit al die middels in wat aan een of meer van die opioïedreseptore in die brein bind. Dit is soortgelyk aan opiate, maar nie noodwendig regstreeks of onregstreeks uit die natuurlike papawerplant berei nie. Dit is dus sintetiese middels met opiaatagtige eienskappe. Voorbeelde is petidien en metadoon. Roetine-dwelmtoetse vir opioïede word gewoonlik op versoek gedoen. Die term “opioïede” sluit dus die opiate in. Die twee terme word dikwels soos sinonieme gebruik.

Hallusinogene / psigedelia

Die meeste hallusinogene beïnvloed ’n chemiese stof in die brein wat as serotonien bekend is. Dit kan ook die cholinergiese en kannabinoïede breinstelsels beïnvloed.

Klassieke hallusinogene

Die klassieke hallusinogene verwys na LSD (lisergiensuurdiëtielamied, candy, blotter, microdots of acid), MDA (Eve, love drug), meskalien (meskalkaktus) en psilosibien (magic mushrooms).

Ander hallusinogene

Ander middels wat as hallusinogene geklassifiseer kan word, sluit in PCP (fensiklidien, angel dust), ketamien (Special K, K of Kitcat) en cannabis (weed, dagga, dope, hasjisj, grass, Durban poison, Malawi cob, skunk of marijuana).

Ander middels wat misbruik word

Hierdie is dwelms wat nie netjies in enige van die bogenoemde drie kategorieë pas nie.

Anaboliese steroïede

Dit word gebruik om die prestasie en spiermassa van atlete en spierbouers te verhoog. Dit word dikwels juice of roids genoem.

Middels wat ingeasem word

Hierdie middels word gevind in gom, naellakverwyderaars, reukweerders, lugverfrissers, verf, sigaretaanstekervloeistof, verfverwyderaars, haarspuit- en skoonmaakmiddels. In hierdie groep is daar vyf chemiese klasse. Dit is alifatiese hidrokoolstof (insluitende petrol, bensien en terpentyn), eenvoudige verstikkende middels (butaan en propaan), aromatiese hidrokoolstofsoorte (tolueen, benseen en xileen), gechlorineerde hidrokoolstofsoorte (dichloroëtileen, trichloroëtaan en chloroform) en nitrosegas (laggas).

Vlugtige nitriete

Dit staan in die algemeen bekend as poppers en sluit in amiel, butiel en isobutielnitraat.

Ek sê vroeër in hierdie hoofstuk dat ek die indelingstelsel so eenvoudig moontlik probeer hou. Maar, soos ek sê, party soorte dwelms word nie so maklik ingedeel nie. Hulle neig daartoe om die opgelegde grens van indeling te oorskry en kan dus in meer as een kategorie ingedeel word. Hierdie middels is die vyfde groep.

Dwelms wat kategorieë oorvleuel

Ecstasy, MDA en meskalien

Kan as stimulante of hallusinogene beskou word. Dit het ’n uitwerking op sowel dopamien as serotonien.

Cannabis en PCP

Word in my indelingstelsel as hallusinogene aangedui, maar kan ook stimulant- of depressant-effekte hê.

Middels wat ingeasem word

Kan ook ’n depressant-uitwerking hê.

Let asseblief daarop dat ek in die kategorieë hierbo afsonderlik aan elke dwelmmiddel aandag gee. Dit is ongelukkig tog so dat die meeste mense wat dwelms en alkohol misbruik, dikwels meer as een dwelm op ’n keer gebruik. Stimulante kan as opkikker gebruik word, terwyl depressante daarna gebruik sal word om “af te koel”. ’n Aantal depressante word soms saam gebruik, byvoorbeeld alkohol en bensodiasepienmiddels word saam gebruik om ’n verhoogde uitwerking te kry met moontlik lewensgevaarlike gevolge. Hallusinogene kan ’n slegte trip veroorsaak, met as resultaat die gebruik van depressante om te herstel. Ander algemene kombinasies sluit in alkohol en kokaïen, kokaïen saam met dagga, en kokaïen en heroïen saam. Afhangende van die plaaslike dwelmkultuur kom verskillende kombinasies dikwels voor. Verskeie verdunningsmiddels kan ook by ’n dwelm gevoeg word om volume te verkry. Daar is ’n verskeidenheid verdunningsmiddels, wat suiker, verskeie soorte medisyne, ander dwelmmiddels, kinien en strignien kan insluit. Tot waspoeier en rottegif word blykbaar soms hiervoor aangewend. Veelvuldige dwelmmisbruik, veral as die betrokke gebruiker se dwelm verdun is, dra by tot die onvoorspelbaarheid en gevaar wat met dwelmgebruik geassosieer word.

Dwelms waarop die media die afgelope jare sterk gefokus het, sluit die sogenaamde afspraakverkragtingsmiddels in. Hierdie term verwys na twee middels in die besonder, naamlik ’n bensodiasepien met die chemiese naam flunitrasepaam (met die handelsnaam Rohypnol en algemeen bekend as “roofies” of “rope”) en GHB. Albei hierdie middels veroorsaak ’n anterograad-geheueprobleem, wat beteken ’n mens kan nie later gebeure onthou wat plaasvind terwyl jy onder die invloed van die dwelms is nie. Algemene “partytjiedwelms” wat op fuifpartytjies of in nagklubs gebruik word, sluit in stimulante soos ecstasy en metamfetamien, hallusinogene soos byvoorbeeld LSD en ketamien, en depressante, soos verskeie soorte bensodiasepiene en GHB.

Daar moet onthou word dat elke indelingstelsel mettertyd sal moet verander om nuwe dwelms wat in ons natuurlike plante- en diereryk ontdek kan word, in te sluit. Insgelyks sal elke dwelm wat sinteties ontwerp en vervaardig word die stelsel nog ingewikkelder maak.

HOE GEVAARLIK IS DAGGA?

Dagga is die plaaslike naam vir cannabis. Cannabis het sy oorsprong in ’n plant met die naam Cannabis sativa. Die aktiewe bestanddeel is 9-tetrahidro-kannabinol (9THC). Ander name vir cannabis sluit in grass, weed, pot, hemp en marijuana. Word cannabis in ’n sigaret gerol, staan dit as ’n joint bekend, en word die sigaret met koerantpapier gerol, is dit ’n zol. As cannabis met Mandrax (metakaloon) vermeng word, staan dit algemeen as ’n witpyp bekend. ’n Besonder kragtige vorm van cannabis is hasj of hasjisj.

Gewoonlik word cannabis gerook en bereik dit die brein baie vinnig via die longe en die bloedstroom. Af en toe word dagga geëet in die vorm van daggakoekies.

Daar is baie mites oor dagga en die uitwerking daarvan op die liggaam. Volgens die meeste opvattings is dagga óf heeltemal onskadelik óf geweldig gevaarlik. Waarskynlik is nie een van die twee opvattings volledig waar nie en lê die waarheid iewers tussenin. Uitsluitsel oor hierdie vraagstuk is moeilik, omdat die beskikbare getuienis steeds slegs gedeeltelik is.

Dagga se vermeende medisinale eienskappe is reeds baie eeue aan die mensdom bekend. Hieronder tel ’n uitwerking op inflammasie, pyn, epileptiese aanvalle, naarheid en anoreksie. Dagga is daarom reeds gebruik as antiinflammatoriese middel, as pynstiller, middel teen stuiptrekkings, as anti-braakmiddel en as aptytwekker. Tog blyk dit uit talle ondersoeke dat dagga verskeie nadelige gevolge vir die gesondheid kan hê. Dit sluit in inflammasie van die lugweg, infeksies, kankers, ’n uitwerking op die hart en ’n nadelige uitwerking op menslike seksuele funksionering weens ’n afname in sekshormone, spermproduksie en ovulering.

Dit lyk ook of dagga nadelig vir geestesgesondheid is, veral as gebruik op ’n vroeë ouderdom begin. Spesifiek word dagga met ’n toenemende risiko van depressie vereenselwig. Die blootstelling van kwesbare individue aan dagga kan ook tot psigose lei. Daggagebruik kan spesifieke relevansie hê in veral die geval van ’n jong en ontwikkelende brein, soos dié van byvoorbeeld tieners. Dit lyk asof cannabis ’n oorsaaklike rol in die ontwikkeling van skisofrenie speel. Weer eens lyk dit of hierdie gevaar in die geval van kwesbare individue verhoog is. Probleme met die korttermyngeheue en onomkeerbare kognitiewe probleme is reeds opgeteken oor daggagebruik wat vroeg begin en lank aanhou. In die laaste instansie is ’n spesifieke psigiatriese sindroom, die amotiveringsindroom, geïdentifiseer. Dit is ’n kliniese toestand wat in chroniese en gereelde daggagebruikers ontwikkel en oënskynlik die ontwikkeling van die volgende inhou: apatie, lusteloosheid, moegheid en uitputting, asook anhedonie met die gepaardgaande gebrek aan motivering, dryfkrag en selfversorging en ’n afname in persoonlike higiëne – met ’n gevolglike vermindering in persoonlike potensiaal.

In die laaste instansie moet genoem word dat dagga vroeg reeds ’n reputasie ontwikkel het as ’n sogenaamde “voorlopermiddel”, wat beteken dat die gebruik daarvan die weg baan tot ander, gevaarliker middels. Daarom word veronderstel dat daggagebruik die eerste sport is op die leer tot meer problematiese dwelmgebruik. Die wetenskaplike getuienis dui aan dat hierdie aanname wel in sommige gevalle waar kan wees, maar die besluit om tot ander middels oor te gaan, is gewoonlik baie ingewikkelder as ’n eenvoudige glybaan van dagga tot die volgende onwettige middel.

Die Einde van verslawing

Подняться наверх