Читать книгу Die Einde van verslawing - Dr Volker Hitzeroth - Страница 4
Voorwoord
ОглавлениеOor die afgelope jare het ek ’n behoefte gevoel om my ervaring en kennis as psigiater in die veld van dwelm- en alkoholverslawing met ander te deel. Ek wil graag hê dat my werk tot voordeel van ander kan strek.
Die terrein van dwelms en alkohol is berug vir sy verwaarlosing as psigiatriese subspesialiteit. Redes hiervoor is onder meer dat dit dikwels onvoldoende gefinansier word en erg gestigmatiseer word deur die algemene publiek. Die uiteinde is dat nie veel bekend is oor die sielkundige uitwerking van dwelms en alkohol en die gepaardgaande verslawing nie. Die beskikbaarstelling van hierdie kennis sal hopelik praktiese bystand bied aan diegene wat dwelms en alkohol misbruik, sowel as aan hul naasbestaandes en die professionele gesondheidswerkers wat in die veld werk. Ek hoop dat hierdie inligting mense wat deur verslawing geraak word, sal bemagtig om hul weg tot herstel te vind.
Dwelm- en alkoholverwante probleme is sedert die begin van die mensdom, toe die eerste mense geesteswysigende middels begin inneem het, deel van ons bestaan en sal seker nog lank met ons wees. Navorsing wys dat dergelike probleme meer algemeen in sekere dele van die wêreld voorkom en in ’n erger graad, en dat jonger mense toenemend daardeur geraak word. In die lig van voortdurende veranderings in die samelewing en dwelmgebruikspatrone, en ons mediese insig in dwelms en alkohol wat ook voortdurend verander, is dit waarskynlik dat die aard van verslawing mettertyd sal verander en ook weer beskryf sal word.
Hoewel navorsing (ook genoem die mediese getuienisbasis) geweldig gegroei het, heers veel onsekerheid nog in die veld. Dit is dié gebrek aan sekerheid en helderheid wat dikwels lei tot alternatiewe en onveilige behandeling. Daarom beklemtoon ek graag algemeen aanvaarde beginsels van behandeling. Hoewel ’n onlangse en omstrede subspesialiteit soos verslawing verskillende benaderings en opinies in die hand werk, is dit noodsaaklik dat ’n mens binne die fokus van veilige en doeltreffende mediese praktyk bly.
In ’n poging om hierdie boek so toeganklik moontlik te maak, gee ek ’n hoofstroom-oorsig van die vak in ’n hopelik leesbare styl. Dienooreenkomstig sal ek nie op die jongste navorsing en wetenskaplike omstredenheid fokus nie, aangesien laasgenoemde nog min invloed sal hê op die huidige kliniese omstandighede in huise en kantore. Ek probeer ook om die leser bewus te maak van die verskille tussen geldige opvattings, benaderings en mites.
Inligtingsbronne
Die inhoud van hierdie boek berus nie op persoonlike navorsing of primêre wetenskaplike materiaal nie, maar is uit ’n verskeidenheid sekondêre bronne saamgestel. ’n Bronnelys word aan die einde van die boek verskaf. Enigeen met ’n dieper belangstelling in dwelms, alkohol en verslawing en die behandeling daarvan kan hierdie bronne gerus self raadpleeg.
Terminologie
Hoewel ek ’n verskeidenheid terme gebruik wat soms lyk of dit slegs die manlike geslag weerspieël, moet daar nie hieruit afgelei word dat betrokkenheid by dwelm- en alkoholverslawing hoofsaaklik die sfeer van mans is nie. Waar ek slegs die manlike term gebruik, moet die vroulike geslag as daarby inbegrepe verstaan word. Ter wille van eenvoud en toeganklikheid word die terme “dwelm”, “alkohol” “middel”, “gebruiker”, “verslaafde” en “afhanklike” soms omruilbaar gebruik. Daar moet uitgewys word dat in die streng wetenskaplike literatuur hierdie terme streng verskillende betekenisse het. So word die term “verslaafde” in hierdie boek soms ter wille van bondige verwysing gebruik en is dit nie bedoel as ’n gelaaide waardeoordeel nie.
Nie-diskriminerend
Dwelm- en alkohol-afhanklikheid tref geen onderskeid nie. Probleme kom voor in goeie en slegte gesinne, by gelukkig getroude pare, rykes én armes, enkelouers, die jonges en die oues, en by mans sowel as by vroue. In ’n neutedop: Dit kan jou of my, jou gesin of my gesin ook tref. Verder is dwelms en alkohol nie “jou” of “my” probleem nie, dis ons probleem. Afsonderlik sal ons maar ’n klein impak maak, maar saam kan ons ’n groot verskil maak. Die eerste stap is om so ingelig moontlik te word.