Читать книгу Die Einde van verslawing - Dr Volker Hitzeroth - Страница 7
ОглавлениеHOOFSTUK 2
Verslawingsmodelle (Verskillende perspektiewe op die verslawingsprobleem)
Dwelmmisbruik en -afhanklikheid is ’n wêreldwye probleem. Dit is met ons sedert die mensdom eeue gelede die gemoedswysigende uitwerking van sekere plante ontdek het. Oor die eeue heen het mense veel te sê gehad oor die oorsake en behandeling van verslawing. In die breë kan die opinies van die meeste mense oor die verslawingsprobleem opgesom word deur na vyf verskillende verslawingsmodelle (teorieë) te verwys. Hierdie vyf modelle is:
1 Die morele model.
2 Die geregtelike model.
3 Die sosiokulturele model.
4 Die sielkundige model.
5 Die mediese model.
In akademiese kringe en onder diegene wat in aanraking kom met dwelmmisbruikers is daar ’n groot debat, uiteenlopende opinies en kritiek op hierdie teorieë. Elkeen skyn die geloof te hê dat sy eie opvatting (of die opvattings van ’n moeder, ’n vader, ’n baas, ’n predikant, ’n dokter en sielkundige) die korrekte uitgangspunt verteenwoordig. Die meeste mense neig om hardnekkig aan hul opvattings vas te klou. Hulle is luidrugtig daaroor en dikwels onverdraagsaam teenoor ander menings wat van hulle s’n afwyk. Baie emosionele energie word met hierdie debatte vermors en dit het eindelik geen praktiese nut vir die pasiënt en sy naasbestaandes nie. Ek sal nou probeer om die essensie van die vyf verskillende modelle op ’n verstaanbare wyse oor te dra.
Die morele verslawingsmodel
Volgens die morele verslawingsmodel is enige verslawing die gevolg van immorele gedrag. In sy uiterste vorm word verslawing beskou as “sonde in die oë van God”. Die aanname is dat elke verslaafde ’n vrye keuse gemaak het vir hierdie gedrag (en duidelik die verkeerde, sondige keuses gemaak het) en eindelik aan sy God en aan die gemeenskap verantwoording sal moet doen. Op grond van hierdie siening word dwelm- en alkoholverslaafdes dikwels geblameer, verstoot en vermy.
Dis ’n model wat impliseer dat geen formele behandeling behalwe die staking van die gewoonte, berou en die vra van vergifnis goed genoeg is nie. Om in alkohol- en dwelmgebruik terug te val, word beskou as ’n “bose daad” van moreel swak en afvallige individue. Hierdie model pas by die sienings van sommige godsdienstige organisasies en konserwatiewe verenigings, wat glo dat morele verval aan die orde van die dag is en dwelmmisbruik die gevolg hiervan is. Hulle vra dikwels ’n terugkeer na “gesinswaardes”. Dit lyk of die morele verslawingsmodel in baie samelewings oor die wêreld heen steeds oorwegend is onder die sienings. Dit is ’n baie algemene model en waarskynlik is daar aanhangers van hierdie siening binne jou eie vriende-, gesins- of familiekring. Ongelukkig dra hierdie benadering selde opbouend by tot die gesonde herstel van verslaafdes en lei dit gewoonlik net tot verdere blaam, skuldgevoelens en diskriminasie. Die morele model neig om te simplisties te wees, omdat dit dwelm- en alkoholgebruik as deur en deur “sleg” definieer, terwyl onthouding as deur en deur “goed” getipeer word. Die gevolge is dikwels tragies. Onlangse vordering op die terrein van verslawing fokus sterk op die neurologiese aard van die verslawingstoestand. Gevolglik het die meer aanvaarbare, eietydse opvatting wegbeweeg van die morele siening in die rigting van wetenskaplik bewysbare getuienis.
Die geregtelike verslawingsmodel
Volgens die geregtelike verslawingsmodel is die inneem van verbode dwelms of alkoholmisbruik “onwettig” en derhalwe “misdadig”. Die siening is dat dwelmgebruik en alkoholmisbruik op vrye keuse berus en om die nodige straf vra. Straf sal waarskynlik boetes of selfs tronkstraf kan insluit. Om in dwelm- en alkoholmisbruik terug te val, word eenvoudig beskou as ’n “misdadige daad van ’n misdadiger”.
Volgens hierdie model kom behandeling glad nie in die prentjie nie. Dit gee voorkeur aan straf en strenger beheer as metodes om die verslawingsprobleem aan bande te lê. Dus word mense wat aan dwelms en alkohol verslaaf is, weer eens bloot geblameer en word daar teen hulle gediskrimineer. So ’n wettiese beskouing van verslawing is nie baie nuttig om dwelmgebruikers te help om hul verslawing te oorkom en te vorder tot herstel nie. Om dwelm- en alkoholverslaafde individue te straf, is ondoeltreffend en sal waarskynlik net lei tot meer lyding en ongelukkigheid, blaam en diskriminasie. Soos in die geval van die morele model lei die geregtelike model tot ’n alles-of-niks-beskouing. Dit onderskryf ’n oorvereenvoudigde opvatting dat die gebruik van alkohol en dwelmmiddels klaarblyklik “verkeerd” is, terwyl onthouding klaarblyklik “reg” is. Geen ruimte word gelaat vir redelike debattering, die uitruil van gedagtes of gesprek rondom die probleem nie.
Die sosiokulturele verslawingsmodel
Volgens die sosiokulturele verslawingsmodel is alkohol- en dwelmafhanklikheid ’n sosiokulturele idee. Die model veronderstel dat die samelewing as geheel, in samewerking met die heersende kultuurnorme, die aanvaarbaarheid of nie van sekere optredes en gedragspatrone (soos verslawing) bepaal. Dit is daarom die sosiokulturele siening as geheel wat begrippe en opvattings oor dwelms en verslawing hul beslag gee.
Verskillende alkohol- en dwelmgebruikpatrone sal in verskillende samelewings die aanvaarbare norm wees – byvoorbeeld, die matige gebruik van rooiwyn is in die Mediterreense kultuur aanvaarbaar, terwyl oormatige drankgebruik op een slag en die drink van sterk drank daar onaanvaarbaar is. Vergelyk dit met die Europese “kroegkultuur”, waar individue groot hoeveelhede alkohol in ’n kort tydsbestek en binne ’n spesifieke sosiale opset mag gebruik.
Op soortgelyke wyse was rook eens hoogmode, terwyl dit nou in die meeste kulture onaanvaarbaar geword het. Laastens was dagga eens algemeen onwettig, maar deesdae is dit in sekere Europese lande aan minder beperkings onderhewig, terwyl die sosiale gebruik daarvan in die Karibiese eilande lank reeds aanvaar word. Dus kan die gebruik van sekere middels op ’n gegewe tyd op grond van die heersende sosiale en kulturele sienings indruis teen die norm. Die gebruik van alkohol en dwelms buite hierdie aanvaarde norme sal waarskynlik aanleiding gee tot strafmaatreëls en ander beperkings vir ’n persoon. As jou optrede in ooreenstemming met die heersende norme geskied, is dit onwaarskynlik dat jy ontbering of gevolge sal moet verduur.
Die sielkundige verslawingsmodel
Die sielkundige verslawingsmodel beskou verslawende gedrag as wanaangepaste, aangeleerde gedrag. Verslawing word beskou as soortgelyk aan ander aangeleerde gedrag. As dit so benader word, kan dit ook afgeleer word. Die verslawende gedrag word deur verskillende sielkundige faktore beïnvloed, insluitend kondisionering, maatskaplike versterking en die vrees vir verganklikheid.
Die behandeling van middelmisbruik word dan gegrond op die identifisering van dergelike sielkundige faktore, die afleer daarvan en die ontwikkeling van nuwe vaardighede om die onthouer te help om te volhard. Om terug te val word nie as morele swakheid beskou nie, maar eerder as ’n geleentheid om leersame insigte oor jouself te bekom. Die individu kan uit sulke foute van die verlede leer en dan die nuut verworwe kennis toepas om toekomstige terugval te voorkom.
In die algemeen is die sielkundige verslawingsmodel maklik om te verstaan, te leer en toe te pas. Dit verskaf ’n redelik goeie verduideliking vir die meeste van die gedagtes en gedrag van verslaafdes. Dit word ook deur die getuienis van geloofwaardige navorsing ondersteun. Hierdie model kan suksesvol op ’n groot aantal verslaafdes en verskillende situasies toegepas word. Sodra die basis van die sielkundige teorie verstaan word, maak die model intuïtiewe sin. Helaas, die model is tydrowend en afhanklik van aktiewe motivering van, en deelname deur, die pasiënte. Verder is baie professionele gesondheidsorgwerkers nie voldoende opgelei in die praktiese toepassing van hierdie model nie. Te oordeel na beskikbare getuienis is dit nodig om sielkundige teorie en praktyk te betrek by die beoordeling, detoksifisering, rehabilitasie en herstelplanne van dwelmmisbruikers.
Die mediese verslawingsmodel
Volgens die mediese verslawingsmodel word die “verslawingsiekte” deur ’n uitwendige agent veroorsaak – die dwelmmiddel of alkohol wat ingeneem word. Die verslawingsiekte het kenmerkende simptome en gedragspatrone soos pyn, ongemak, lyding en belemmerde funksionering.
Die siekte word verder gekenmerk deur ’n verlies aan beheer, ’n drang na die middel en ’n obsessie om aan te hou om die middel te gebruik. Die mediese model doen dus aan die hand dat “verslawingsiekte” ’n bepaalde kliniese toestand is waaraan elkeen ly wat van dwelms of alkohol afhanklik is. Daar kan ’n onderliggende geneigdheid of ’n genetiese kwesbaarheid wees wat ’n gebruiker vatbaar maak vir verslawing wanneer die uitwendige agent, soos dwelms of alkohol, gebruik word.
Voorstanders van hierdie teorie beskou pasiënte wat aan verslawing ly as “siekteslagoffers”, dit wil sê, hulle is siek. ’n Persoon wat aan verslawing ly, het nie uit vrye keuse verslaaf geraak nie, maar eerder uit gebrek aan vrye keuse. Daarom verdien pasiënte met dwelm- en alkoholverwante probleme hulp en behandeling. Volgens hierdie model is die verslawingsiekte voortskrydend, onomkeerbaar en kan dit tot die dood lei as die pasiënt hom of haar nie van die middel weerhou of voldoende behandeling ontvang nie. Die enigste suksesvolle behandeling is geheelonthouding.
Reeds in 1784 het Benjamin Rush alkoholisme as ’n siekte verstaan. Sedertdien is ’n groot hoeveelheid getuienis versamel wat hierdie opvatting ondersteun. Dit lyk ook of meer onlangse moderne tegnologie soos gespesialiseerde breinskanderings die siening dat verslawing ’n breinsiekte is, ondersteun. Ondanks ’n mate van kritiek uit akademiese kringe bestaan goeie getuienis ten gunste van hierdie model, en sal dit waarskynlik meer oorheersend word soos wat die breinwetenskap rondom verslawing verder ondersoek word.
Dit is duidelik dat elk van die bogenoemde modelle ’n ander uitgangspunt het en elkeen sy eie bydrae kan lewer. Elkeen van die modelle het waarskynlik ’n mate van die waarheid beet. Dit het egter geen nut om verbete aan een model vas te klou sonder redelike inagneming van die ander modelle nie. So ’n tonnelvisie sal waarskynlik meer probleme veroorsaak as dat dit oplossings lewer. Aansienlike hartseer en konfrontasie met pasiënte, gesinne en familie kan vermy word as almal ’n oop gemoed en verdraagsaamheid ten opsigte van ander opvattings behou.
Dit is gebiedend noodsaaklik dat professionele gesondheidsorgwerkers en die publiek van die verskillende verslawingsmodelle bewus gemaak word. Ons moet ook aanpasbaar bly in ons denke sodat ons die voordele van die onderskeie teorieë kan inspan om middelmisbruikers en hul gesinne ten beste te help. Ons almal moet saamwerk om middelmisbruikers en hul gesinne by te staan waar ons kan. Dit sal noodwendig ’n mediese, sielkundige, sosiale en geestelike benadering insluit. So ’n interdissiplinêre benadering staan bekend as ’n “biopsigososio-geestelike” benadering.
Daar moet in gedagte gehou word dat ’n bepaalde orde van professionele gesondheidsorgwerkers en bepaalde modelle eerder as ander in sekere fases van die behandeling op die voorgrond sal wees. Dit is duidelik belangrik dat noodbehandeling en detoksifisering onder mediese toesig geskied. Insgelyks vereis die rehabilitasie die betrokkenheid van ’n sielkundige en maatskaplike werker. In ’n roetine-situasie waar daar nie van nood sprake is nie moet die beoordeling, voorbereiding vir lewenstylverandering en nasorg multidissiplinêr wees. ’n Geestelike komponent kan deurgaans welkome motivering en leiding verskaf. Hoewel sekere praktisyns en sekere modelle in bepaalde fases en omgewings van die behandeling op die voorgrond kan wees, moet die oorhoofse benadering tot behandeling in ’n gees van oorleg met ander benaderings wees, gegrond op ’n spanpoging waarby die middelmisbruiker, sy gesin en breër familiekring sentraal betrek word.
Die beste uitkoms vir die herstel van ’n middelmisbruiker en die welstand van die naasbestaandes word bereik as ’n middelmisbruiker so gereeld moontlik by verskillende behandelingsmetodes betrek word. Sulke multidissiplinêre benaderings moet verenig word in ’n herstelplan, spesifiek met ’n bepaalde individu in gedagte.