Читать книгу Toring se baai - E. Kotze - Страница 11
Оглавление5
Die Steyns se voorhuis lyk saans soos ’n lykwaak. Met die uitbreek van die oorlog het Smittie ’n radio gekoop en nou kom al wat leef en beef ná agt saans na die nuus op Radio Zeesen luister.
Kokkie Dorn sit plat op die vloer, ingekruip onder die draadloos om beter te hoor. Swart doek om die kop met die snuifblik daaronder, hare grof soos klapperhaar, die neusgate soos twee ghriesputte. In ’n halfmaan op die regop stoele sit Gys en Grieta Losper, Ockert, Kerneels en Smittie.
Hand agter die oor, koppe bymekaar, volg hulle Hitler se spoor: die segetog deur Holland en België. Lewer kommentaar wanneer dinge volgens hulle mening skeef loop. By Duinkerken het Smittie sy pypsteel afgekou, en Kerneels vergeet die lang as aan sy sigaret. Dit gee ’n gedruis af.
“Nou het Hitler ’n fout gemaak! Hy moes die Franse eers gelos en vir Engeland platgeskiet het!”
“Laat die Duitsers die Engelse uit die lug aanval, hulle fabrieke en vliegvelde en hawens uitwis! Lê hom lam! Blitzkrieg!”
Smittie – welbekend vir sy uitvindsels by die tekenbord en draaibank, die proefnemings waaraan hy ure bestee – reken hy kan ’n bom ontwerp wat in drie fases in die lug ontvou en hakiesdraad voor die Engelse vliegtuie span. Hy het reeds ’n bloudruk gemaak. Hy moet net oppas dat die goewerment nie snuf in die neus kry nie. Daar is al mense vir minder as dit opgesluit.
Namate die gevegsterrein verskuif, word die skoolatlas op die tafel oopgeslaan. Die vingers volg die roete van die Engelse Kanaal na die Middellandse See. “Hitler moet sy troepe uit Frankryk na Gibraltar skuif en Engeland dáár voorlê, voor hulle oorspring Noord-Afrika toe!” sê Smittie.
Ockert sien ’n ander gevaar: Duitsland is kop in een mus met Rusland. Maar pasop vir Stalin!
“Stalin kon nie eens vir Finland ingeneem het nie,” opper iemand.
“Ja, maar moenie die kommuniste in Frankryk onderskat nie.”
So word die bal oor en weer gegooi om die gesels lekker te maak, totdat Smittie afsit. Die ontvangs is swak, dis die onweer. Die battery loop net af.
Hulle sit hul eie oorlog voort, maak voorspellings, sê die dom leiers voor wat fout maak.
Die oorlog is soos ’n rivier wat oor sy walle stoot. Of ’n brand – waar begin jy doodslaan? ’n Suurdesem wat oor die pot se rand stoot tot in Egipte. Die Ooste dalk. Waar staan Amerika? Dié staan uit die water en maak geld met sy wapens. Hulle het Japan om mee rekening te hou. Sal Japan kordaat genoeg wees om Amerika aan te vat? Hy het reeds met China skoorgesoek . . .
Grieta gaap en kom op die been, trek haar rok tot onder die knieë af en vou die flenniedoek een ekstra slag om haar seer keel. Die kinders is alleen by die huis. Sy is nooit meer gerus vandat hulle die klein kind se arm uit potjie gespeel het nie. Wat sal geword het as missies Sieber dit nie kom indraai het nie? ’n Goeie mens, solank jy uit haar pad bly.
“Kom, Gys. Wie ook wen of verloor, sal nie ’n vaal kol aan ons maak nie.”
Hulle is almal moeg en vaak. Gys moet môre strand skoonmaak, die bruikbare goed ná die storm optel en rommel wegry. Hy is reg vir die kooi.
Maar van die vloer af gee Kokkie Dorn nog haar laaste piep. “Hoe kan jy so sê, Grieta? Kreef het dan nou skielik ’n prys. Dis wat oorlog maak – hy jaag die pryse op. Oorsee is kos skaars, daar is baie soldate wat moet eet, en ons het die kreef. Ons moet skep as dit skeptyd is.”
“Dit kan wees, maar ons fabriek is kondêm!” Grieta hoes en skraap haar keel. “Kot-wee-dit, hierdie kjeel . . .” Sy sukkel al jare met die keel, waarvoor Toring die skuld kry as sy niks anders kan blameer nie.
“ ’n Halwe fabriek,” spot Kerneels, wat nie ’n kans laat verbygaan nie. Die ketelkamer staan darem nog, en die canning-plant, die voorkoker, stoompotte en boksiestoor.
Hy wag tot Kokkie ook uit is voor hy die plat halfjekkie uit sy binnebaadjiesak haal. Uit die ornamentele saaidbordjie bring Smittie sjerrieglasies te voorskyn – ’n troupresent van sy ma. Dis ’n Agterbaaise gewoonte om saans voor ete ’n soetwyntjie te drink, hoewel Kittie uit beginsel daarteen kap. Sy en haar skoonma stem oor min dinge saam.
Waarop hulle drink, is nie seker nie. Hulle wag nog vir nuus van Sieber, wat te laat op die dorp draai vir sy eie veiligheid. Hy is nie ’n baie bekwame bestuurder nie, met boonop swak senuwees. En die sedan se ligte is so flou soos kerse. Olga moet van beter weet as om die Kontantwinkel se rakke te laat afpak in sulke omstandighede.
“Aggelaim,” keer Ockert sy glasie in sy keel om.
Dit sal nie die eerste maal wees dat ’n fabriek tot stilstand kom nie. Vandat die eerste sinkgeboutjies langs die Weskus opgeskiet het, het hulle al groot krisisse beleef. Omdat die inmakery onder groot geheimsinnigheid geskied het, was daar op tegniese gebied geen onderlinge samewerking nie, sodat naywer die bedryf ondermyn het.
Daarby het swak produkte en lae pryse mettertyd die klein maatskappye gedwing om toe te maak. Ander het aan die gang gebly deur met groter maatskappye saam te smelt. Aandele het van eienaar verwissel. Dis juis oor ’n geskil wat die verdeling van aandele betref dat Colbert hom onttrek het aan ’n inkorporasie en sy fabriek na Toring verskuif het, nader aan die ryk kreefbronne van Honneklip en Port Nolloth.
Toe hulle by Colbert aangesluit het, was pryse laag en die kompetisie straf, en die Depressie het lae lone in die hand gewerk. Weens stakings is die fabrieke gedwing om binne die seisoen te sluit, wat onseker dae vir Toring beteken het, en vir die paar bittereinders wat vasgebyt het toe Sieber se voorganger bedank het.
Maar met behulp van staatsubsidies en reserwefondse het CCC oorleef. ’n Oplewing in die ekonomie nadat die goudstandaard aangepas is, het ’n mark vir ingemaakte kreef in Frankryk geskep. Die wa is deur die drif, het almal gereken. Die betaling was steeds te min, die werkomstandighede nie watwonders nie, maar met die nasleep van die Depressie nog voelbaar was hulle nie te sleg daaraan toe nie.
Namate hulle op Toring geakklimatiseer het, het selfs ’n oostewinddag mooi geword. Wanneer land en see so dood en bleek gewaai is, neem die lug ’n deursigtige kwaliteit aan, sonder kleur of skadu of gewig, vlugtig, oplosbaar. Saans is daar die geroep van ’n korhaan; kiewiete skrik en vlieg op; skerpioene en koringkrieke, kooipisters en balbytermiere loop rond – ’n rykdom van lewe te midde van die oënskynlike niks.
Op sy tyd kom speel die noorderkenter op die horison en maak reënwolke bymekaar. ’n Vaal kombers sak oor die rooi sandvlaktes uit. Die veld word mooi. Dit word ongelooflik mooi ná die reën.
“Hierdie storm het gekom net toe dit begin goed gaan het.” Ockert is in ’n negatiewe bui. Hy sou Miemie ’n ruk lank wou wegstuur na haar suster in die Kaap, maar die geld is nooit genoeg nie. “Lyk my party mense is maar vir die oulap gemaak.”
Toe Kerneels se flessie leeg is, val dit hom by van Jannes wat saamgekom het.
“Koet, ou Smittie, waar’s die kinders, jong?”
Dit laat Smittie ook bykom. “Ja, laat die meisiekinders vir ons ’n bietjie warm drinkgoed maak voor ons gaan slaap. Kyk hoe laat is dit.”
Kittie is weer na Johanna Stoker toe. Voor sy geloop het, het sy ’n pluis rooibostee in die kan afgemeet en orders gegee: “Sit koppies oop, en stadig met die kondensmelk. En julle neem nie die huis op horings nie.”
Dis nou haar eie twee en Jannes, en miskien Gwendolien, wat toe nie saam met Ockert gekom het nie.
Die drie kinders het ’n rukkie stil in die geselskap gesit, maar gou moeg geword vir Kokkie en Grieta se stories oor die nuwe Stokertjie wat bies moet kry, en Johanna se blou melkwatertjies. Die mans se praat het maar bly draai om die oorlog: die basis by Bojaanberg en duikbote en gewere en goed.
Kerneels is ’n goeie skut. Tussen Toring en die Panne het hy ’n skietbaan aangelê vir skyfskiet. Deur die skietvereniging het hulle drie gewere bekom: een vir homself, een vir Dorn en een vir Smittie.
Met die uitbreek van die oorlog, voor die wapens gekonfiskeer is, het Kerneels syne aan ’n boer verkoop. Die man het toe nie die geld nie en bring vir hom ’n hond: Pagel. “Ek verruil toe die geweer vir ’n hond.” Kerneels wat ’n droë laggie gee ten koste van homself.
Smittie het sy geweer verloor. Dis een van die dinge wat hy liewer nie wil onthou nie: die Maandagoggend toe hulle hoor die polisie is daar om die wapens te konfiskeer. As hy dit maar iewers kon wegsteek – onder ’n kooi, ’n matras, die stukkies berghout in die pakkamer, in die kleinhuisie onder die sitplek? Dit het gevoel hy gaan van sy kop af. Hy is geen jagter of skyfskut nie, maar die pragstuk van ’n kolf!
“ ’n Duitser kan ’n geweer maak,” sê hy altyd. “En ’n lantern, maar geen ander masjien nie, veral nie ’n seemasjien nie. Dit gee altyd ’n gesukkel af.” Daarom laat kom hy sy gereedskap uit Sheffield, Engeland. Sy ma destyds haar tafelsilwer ook. Die ou mense het net die beste gekoop.
’n Mens kan nie agterkom waar Smittie se lojaliteit regtig lê nie: by die Engelse of die Duitsers. Hy’s ’n soort vrydenker, het saam met Italianers en Noorweërs in die Kaap gewerk. Kittie se naaimasjien – ’n Vesta – is ingevoer uit Skandinawië. Made in Sweden staan daar op die primusstowe, kondensmelkblikkies en Argo-oliebottels, en hulle eet Sweedse sardiens.
Dit geld vir Ockert ook, wie se ma ’n baster Italianer is – ’n Sienie – wat ’n mengelmoes tale praat. Ockert het leer Engels praat op die walvisbote. Toe hy op Steemersbaai aankom, was daar ’n Jood met so ’n dubbele kop. Saans in die kantien sit die manne hom en die Jood aan mekaar dat hulle Engels praat. “Hulle praat later ’n baster Latyn,” onthou Smittie.
Vir Kerneels moet jy ook nie weggooi nie. Sy briewe aan Pollie was in Engels geskryf: My darling Polly . . .
Hy is pro-Hitler, en wil sien dat Duitsland die oorlog wen. Maar eintlik maak dit nie saak watter kant toe die oorlog swaai nie; eerder sal dit interessant wees om die uitdraai van sake te sien.
En al verskil die drie manne ook hoe, breek dit nie die vriendskap nie; hulle stem nog saam.
“Wat kan ons doen?” vra Fia verveeld in die kamer met al die mag-nie-aan-vat-nie-goed waarheen hulle versit het: Smittie se tekentafel met inkbotteltjies en penne en meetinstrumente, die gereedskapkas, Kittie se naaimasjien.
Aan Kittie se masjien mag hulle nie ráák nie. Naalde is skaars en as een breek, is daar nog ’n oorlog. Met haar skêr mag hulle ook nie knip nie. Sy kom dadelik agter as dit stomp is nadat iemand ’n stuk tjoep daarmee geknip het.
Jannes mik na die gereedskapkas. Hy het met ’n halwe plan gekom. “Ek soek ’n boortjie.”
“Om wat mee te maak?” vra Ita.
Uit sy broeksak haal hy ’n knokker wat hy in die veld opgetel het. “Ek wil ’n pyp maak.”
Die meisiekinders weet waar die blikkie met boorpunte is. Amper net so kosbaar soos die masjiennaalde.
Jannes vat die omslag en sit die boorpunt in. Knyp die knokker tussen sy knieë vas en boor versigtig ’n gaatjie. By hom het hy ’n groen lootjie van ’n muisbos wat hy die middag al afgesny het; met ’n dun draadjie het hy ’n gaatjie daarin gemaak. Nou pas hy die lootjie in die geboorde gat. Hy suig ’n slag om te voel of dit trek.
Hulle rook almal stilletjies agter die houthoop of in die veld: droë donkiemis toegerol in bruinpapier of koerant; ’n stuk rottang uit ’n seemandjie wat hul tonge soos vuur laat brand; stompies wat Jannes van sy pa skaai.
Smittie rook boertwak gemeng met Springbok om dit ekstra sterk te maak. Die roltabak bêre hy in die hoekkas bokant die kamerdeur, saam met teertou wat vir ’n slegte bors gepluis word, en potte Malt wat na tornynolie en toffie smaak. Waarvan Fia-hulle soms ’n lepeltjie eet as daar niks anders in die huis is nie.
Ita is voorbok en trek ’n stoel nader, hys haar aan haar arms op en hang soos ’n vlermuis. Gooi die tabak af dat dit klink soos ’n donderslag.
Hulle hou asem op. “Is hier vuurhoutjies?” fluister Jannes.
“In die geelkoperblaker.” Van ’n stuk afvalmetaal wat Smittie op die draaibank uitgedraai het.
Jannes sny ’n span tabak af, kerf en stop. Maak die vuurhoutjie brand. Suig die vlam in.
“Nou ek!” sê Ita.
Hulle trek en hoes en Jannes klap hulle op die rug.
“Sê nou hulle ruik?”
“Hulle rook self.” En Kokkie snuif.
Nogtans skuif hulle die raam op. Die koue lug stroom in.
Net toe skraap stoelpote oor die plankvloer – daar staan die grootmense nou op. Jannes gryp die pyp en steek dit in sy sak. Ita hang nog hoesend aan die kas toe Smittie die deurknop draai en oopstoot.
“O gits!” Hy gee ’n laggie. Dis nie seker wie die grootste geskrik het nie: Ita en Fia met traanogies en gekreukelde rokke, of hyself. Hy was self ’n ongemaklike jongetjieskind op sy dag.
“Jannes!” roep Kerneels, wat sy seun nie onderskat nie. “Wat maak julle?”
“Niks, Pa.” Hy staan met albei sy hande in sy broeksakke. Sy pa sal hom nooit voor ander mense uittrap nie, behalwe om te sê: Haal uit jou hande uit jou broeksakke, kêrel!
As die meisiekinders maar nie so skuldig wil lyk nie. Hulle val byna oor mekaar toe Smittie vra of daar dan nie ’n bietjie drinkgoed is nie.
“Ons kan maak, Pa.”
Maar Kerneels bedank. Hy loop staan buite en kyk na die sterre wat deur die een-een wolke skyn. “Die weer is oor.”
“Ja, die see raas nog, maar die wind is uit die suide. Môre swaai hy dalk oos,” sê Ockert.
Die knokkerbospyp lê lou teen Jannes se been toe hy langs sy pa aanstap. Hy voel amper lus om te fluit, en maak in die loop planne waar hy die pyp sal wegsteek. In die waaisand onder ’n muisbos?
Uit die bloute sê Kerneels: “Laat ek bietjie daardie briar van jou sien, Janneman. Gee hom hier dat ek hom vir jou bêre. Netnou steek jy jou klere aan die brand.”
Die Kochs en Ockert is skaars weg of Kittie stap in. Leë handmandjie oor die arm, haar wange rooi van die vinnige stap teen die skuinste op, oë violetblou in die kerslig. Sy trek haar warm baadjie uit en hang dit oor ’n stoelleuning.
“Is die kinders nog nie in die kooi nie?”
“Ons wag vir jou, vrou,” neem Smittie ’n onskuldige houding in. “Hoe gaan dit by die Stokers?”
“Nog maar dieselfde. Maar daar is iemand vir die nag, toe kom ek maar huis toe.”
Haar hare, wat sy in ’n los gedraaide bolla op haar kop dra, laat haar jonk en klein lyk, en breekbaar. Smittie skaam hom dat sy die huis in so ’n toestand aantref: die vuil asbakke, modderspore, stoele nie op hul plekke nie, die kinders ongewas, die water koud.
“Kom, laat ek die primus aansteek, dan maak ons ’n bietjie sop warm. Ita, bring julle die wasbadjie in. Sit jy hier, vrou.”
Hulle klop ’n kussing op om agter haar rug in te skuif.
Kinders behoort nie vir te lank aan hulleself oorgelaat te word nie, dink Kittie toe sy agteroor sak. Die Stokers se huis is ’n sprekende voorbeeld van verwaarlosing. Maar sy hoef nie verder as haar eie kombuis te gaan nie: vuil skottelgoed en ’n klipharde papkastrol, die vadoeke asynsuur.
Dis nie soos sy haar kinders grootgemaak het nie. Hulle het nie meer ’n roetine nie. Slaaptyd lees sy gewoonlik vir hulle uit die Kinderbybel met die gekleurde illustrasies. Sy het dit aangeskaf net nadat Ita gebore is.
Aan die einde van elke hoofstuk is daar vrae om te toets of hulle geluister het. Smittie is nie een vir bid en sing nie – hy kan net so min ’n wysie hou as Ita – maar hy hou van vraetyd, om die kinders uit te vang. Hy ken sy Bybel goed; sy eie Hooghollandse Bybeltjie is voos gelees.
Vanaand is daar ongelukkig nie tyd nie. Hulle is almal uitgeput ná alles wat gebeur het. En dan nog hierdie oorlog. Al wat sy begeer, is vrede. Dat haar huis weer hul eie kan wees, en nie ’n stasiewagkamer waar almal saambondel nie.