Читать книгу Toring se baai - E. Kotze - Страница 9
Оглавление3
Op die winkelstoep draal die mense nog, traag om die ramptoneel te verlaat, bang hulle mis iets.
Marija in ’n dun rok en kappie, ’n kind op haar rug, hou haar hand voor haar mond. “Die fambriek,” prewel sy, en daarmee is alles gesê.
Die aarde is aan die vergaan, die wêreld het ineengestort. Elkeen wat oë in sy kop het, kan sien dis klaarpraat met Toring. Die see is besig om alles weg te vat: die hope steenkool, die boilerkamer, die oliestoor met alles wat daarin is, dalk nog die bakkiestoor en die Gaat. Kyk waar loop draai die water.
’n Vrou begin huil, hoog soos ’n roubeklaer, en ’n kind val saam in, vee sy neus aan haar rok af.
“Bly stil, ek gjee jou sommer ’n klap!” blo iemand uit die bondel. “Om almal so te wil opwerk!”
“Wag, julle mense, moenie moles maak nie. Hier is mister Sieber met die mouterkar.”
Sieber se jaspante flap in die wind. Hy dra die wêreld se laste met hom saam. Tot sy snor hang. Dis nie speletjies om aan die kopkant van so ’n besigheid te staan nie, al die antwoorde gereed te moet hê. En dan nog met ’n vrou soos Olga.
Hy’t gekom om die swart kompeniekar vol petrol te maak; hy moet by ’n telefoon uitkom om hoofkantoor in kennis te stel. Wietels, die winkeljong, sluit die pomp oop en werk die hefboom wat die bottels om die beurt vol en leeg laat loop. ’n Klompie kinders staan nader om hulle te verwonder. Só dikwels kom daar nie ’n kar by die pomp stilhou nie.
Agter die toegedraaide ruit sit Olga Sieber, met hoed en handskoene in die middel van die week. Die afgetrokke glimlag om haar mond is ’n masker waaragter sy ’n beroering verskans.
Toe Ockert die nag aan hul deur kom hamer, het Sieber se bene net mooi opgehou met ruk. Sy het hom een van die wit senuweepilletjies gegee, anders slaap geeneen van hulle nie. Sy gesondheid is glad nie in die laaste tyd van die beste nie, maar dit hoef die hele wêreld nie te weet nie, dan begrawe hulle hom net môre. Soveel mense sit en slyp hul tande vir sy job.
Nietemin moes hy nie opgestaan het nie. Maar hoe sal dit lyk? Selfs Jakob Stoker was daar, met siekte in sy huis, al is dit ook net ’n kooivrou.
Johanna moet seker teen dié tyd al die baba hê, het sy gedink toe hulle in die roede nag daar onder in die koue staan. Die vrou is van die vorige nag af aan die gang, asof dit haar eerste kind is. Die sewende, as sy haar nie misgis nie. Kittie Steyn sal wel gaan help.
Olga neem haar voor om later te gaan kyk. Sy onderdruk ’n gaap. Nadat Jannes haar op Sieber se orders huis toe gevat het, het sy nie weer geslaap nie. Sieber sou so vroeg moontlik wou ry – die firma kom eerste.
Onder sulke omstandighede kan sy hom nie alleen op die pad laat gaan nie; hy het haar nodig. Dis ook ’n goeie kans om op die dorp te kom, ’n koppie tee by miss Collie se kafee te drink, na die dorpsnuus te luister. ’n Mens vereensaam so maklik.
Terwyl sy op Sieber gewag het, het sy ’n paar goedjies bymekaargeskraap vir die kinders wat op Stellenbosch skoolgaan: ’n slopie beskuit en klinkertjies (smeer en eiers is skaars, sodat sy maar moet afknyp), droëperskes en ’n paar tasaalbiltonkies wat ’n boervrou anderdag vir haar present gegee het. Sieber help die man plan maak met die boerdery: die regte verhouding ghwano toedien en om reg te reken, en die belasting en so aan. Toe’t sy ’n kartondosie gesoek en vaalpapier, die pakkie opgemaak en haastig ’n agtuurkossie voorberei. Kouse en skoene aangetrek, wange en neus gepoeier, hoed opgesit.
Sieber praat met die mense op die stoep. Hulle verwag dat hy iets moet sê. Soos by ’n begrafnis. ’n Boodskap van hoop waarmee hulle huis toe gestuur kan word.
“Daar is niks wat ons op die oomblik kan doen nie. Ek weet so min soos julle. Ons moet eers hoor wat mister Colbert dink.”
Laat mister Colbert kom. Hy sal ’n plan maak, vir mister Ockert en vir Smittie aansê. Daar is niks wat Smittie Steyn nie kan regmaak met ’n sweismasjien en ’n koubeitel nie, en Ockert met sy kale hande. Die vragskuit uit die Kaap sal sinkplaat en hout en spaarparte bring.
Die mense skep moed. Oor ’n dag of twee is die see smoet. Noumaar hou dit op met reën; die ooste is aan die verhelder.
Sieber maak ’n beweging met sy hand asof hy ’n trop vee uit die kraal jaag. Hy is nie heeltemal so optimisties as wat hy wil voorgee nie. Die blou bank in die wes kan ’n nuwe weer wees wat aan die opstaan is.
Onderweg dorp toe, op die pad vol slaggate en modder, ontlaai Olga Sieber – soos sy dikwels doen as vlees en bloed dit nie meer kan verduur nie.
“Dis moeilik om te glo dat ons in die tyd waarin ons leef nog so geheel afgesny is van die beskawing. Kyk hoe lyk die pad!” Dis genoeg om die as of vere te breek of ’n band te verloor, en hulle in hul goeie klere gestrand, die binneband moet lap. “Ver van alles af, sonder ’n telefoon, afhanklik van ’n vragskuit en die poskar, wat albei wisselvallig is.”
In die eerste instansie uitgelewer aan die weer, maar erger nog aan Kerneels wat nie altyd sy maat ken nie en soms ternouernood huis haal. Eendag nog ’n possak verloor ook.
Haar oë is vol donker voorspooksels. “Dis tyd dat jy jou stem dik maak sodra Colbert sy gesig hier wys. Anders sal hy van mý hoor!”
Sieber byt sy snor vas. “Geduld tog, vrou. Dit help nie om halsoorkop te wees nie. Jy weet tog . . .”
Olga weet maar te goed. Al wat sy hoor, is verskonings. Daar is ’n oorlog aan die gang in Europa en Suid-Afrika is betrokke. Daarom is daar ’n skaarste aan alles. Meel en suiker word gerantsoeneer, hulle eet mieliegruis, semels word by die koffiebone gebrand, ertjies by die meel gemaal. Die brood is slypplank. As dit nie vir Pollie van Kerneels was wat meel direk van haar pa, ’n koringboer van die Sandveld, kry nie, was suur brood hul voorland. Petrol word volgens ’n koeponstelsel toegestaan. ’n Telefoonlyn oor die kataravlak na ’n niksbeduidende fabriek is die laaste bekommernis van die regering, óf die direkteure wat gemaklik in die Kaap lewe. Al waarop hulle hamer, is besparing, en hoe die firma wurg . . .
“Vrou,” sê Sieber toe sy uitgepraat is, “ons is nie in ’n posisie om Colbert aan te vat nie. Daar mag ’n tyd gewees het toe hy verleë oor ons was, maar die skoen is nou eerder aan die ander voet. Ek is nie onmisbaar nie.”
Hy sal nooit vergeet dat hy maar net ’n gewone boekhouer was met nog ’n vak kort vir sy BCom waarvoor hy saans gestudeer het nie, toe die pos as bestuurder op Toring oopval. Die vorige man het nie kans gesien vir die half bankrot spul nie en Sieber was nommerpas vir die posisie. Nie te geleerd nie, maar slim met syfers, en Engels magtig.
En Olga was verpleegster, ook nie gekwalifiseer nie, maar met praktiese ondervinding. Ideaal om hom by te staan in sy pligte wat strek van dokter en vroedvrou tot predikant, en les bes poeliesman as die klomp in die Gaat mekaar op ’n Saterdagaand met messe of gebreekte bottels bydam, of ’n pot kokende pampoen.
“Dink aan die voorregte wat ons hier het,” gaan hy voort.
Olga ken die rympie: ’n huis met twee ekstra slaapkamers, sitkamer en badkamer. Sonder bad. En ’n kleinhuisie van sink waarin langbeenspinnekoppe en brommers onder die planksitplek hou. Soos al die ander moet hulle self een maal ’n week die emmer leegmaak, in die gat in die veld, bedek met ysterstawe en sinkplate en die luik met skarniere . . . wat maklik al deurgeroes kan wees.
“Ja, dis ongerieflik, maar sonder opoffering val niks in jou skoot nie,” kan Sieber nie help om te preek nie. “Stel jouself in my plek: ek moet almal tevrede hou en die boeke laat klop. Besef jy wat dit beteken?”
“En ek?” vra sy. “Van wie verwag word om vir almal wat bek en pote het slaapplek te gee? Colbert en die skoolinspekteur, net omdat ons die ekstra kamers het. Die dominee moet ontvang – wanneer hy die enkele keer op huisbesoek kom. Op die mees ongeleë tye moet ek regstaan met etes, vir brood en melk by Pollie aanklop, of ’n geslagte hoender. Bleddiewil my laaste fles geelperskes . . .” Haar waardigheid vlieg saam met haar taalgebruik by die venster uit. Sy is weer die spoorwegkind op die dorpie waar haar pa stasiemeester is, by wie die ligtende waens langs die perron verbyflits, en mense pennies uitgooi.
“Wat van my wat moet voorsit by die Vrouesendingbond, bidure lei, wyksbasaars organiseer, siekes besoek, in krotte moet inkruip . . .?”
En steeds die afstand moet bewaar tussen haarself en mense soos Kokkie Dorn, die ou vrou van Dorn die skrynwerker. Wat die vrede moet bewaar met ’n buurvrou soos Miemie Ockert, van wie sy slegs deur ’n draadheining geskei is. So ’n onaangename mens wat deur die vensters loer wie se kinders nou weer so stof maak. Wat kyk wie haar kind wakker raas – die kind wat sy nie kans gesien het om self groot te maak nie.
Here, stuur Olga Sieber ’n gebed op wat teen die motor se dak vasslaan en op haar terugsak, sit ’n slot voor my mond. En sy rangskik haar hoed; hulle nader die dorp.
Ook Sieber dank die Here dat hulle die pad afgelê het sonder noemenswaardige gebeurlikheid. Alles wat Olga gesê het, is in ’n mate waar. Sy is ’n goeie vrou wat haar plek vol staan, ’n voorbeeld vir almal. Behalwe die dag wanneer sy oorkook.