Читать книгу Toring se baai - E. Kotze - Страница 8

Оглавление

2

Daar brand ’n kers in die kombuis toe die kinders wakker word, maar die huis is stil. Kittie is nog nie terug nie, en Smittie is reeds weg. Sonder om koffie te drink of te eet.

Hulle maak altyd pap, en later kom haal Tommie, Smittie se handlanger, die agtuurkos: ’n eier tussen twee snye brood of gebakte vis of iets. “Julle pa moet goed eet, hy werk hard,” glo Kittie.

Hulle pa het sy jas gevat, want dit reën strykdeur. Dit klink asof die watertenk oorloop; daar is ’n gedruis van water.

“Die pad kom af!” Ita staan oorbluf toe sy die agterdeur oopmaak.

Die wapad is ’n kabbelende rivier wat nie sommer gaan opdroog soos die poele in die wielspoor waarin hulle altyd ná die reën speel nie. Hulle kan dit nie glo nie. Maar dan het hulle hulle nie verbeel dat daar in die nag aan die deur gehamer en na hulle pa geroep is nie. Dit het geklink asof dit Ockert was wat kom klop het . . . En dan is daar groot fout. Die water skuim en maak windjobbels in die pad.

Ita pluk haar rok aan en vou ’n streepsak-kappie oor haar kop, en hardloop. Sy hardloop verby die huise en die skool tot by die winkel. Daar steek sy vas. Die see is spierwit omgekarring, die baai onherkenbaar, die water só hoog dat daar niks van die rotse sigbaar is nie, net die helfte van die toring. Die passasie is toe gebreek en die branders spoel oor die jettie.

Alles is flenters geslaan. Die jettie is net voor die kreefhuis afgebreek, en die kreefhuis self hang skeef soos ’n deur aan een skarnier. Dit kraak en swaai heen en weer as die seë daarteen breek. Sinkplate en splinterhout en mandjies en goed dryf die hele baai vol. Die strand is uitgekalwe; die water krul teen die wal op en vat bamboes en sand en skulpe terug. Bondels skuim werk uit.

Met sy hande in sy broeksakke kom Jannes van Kerneels van onder af aangedraf. Hy maak of hy nie koud kry nie.

“Wat gaan aan?” skreeu Ita.

“Hoe lyk dit vir jou? Jy kan mos sien.”

“Enige bobbejaan kan sien, maar wanneer?” kry Ita hom terug. Hy is drie jaar ouer en altyd slimmer, omdat hy sy pa se bakkie kan bestuur en kos en brood vir die skuite aflewer.

“Vannag al. Ons het die slag gehoor. Soos ’n kanonskoot. Ma was in die kombuis en het my gestuur om te kom kyk, en ek het vir Pa gaan roep. Ons het koffie en toebroodjies vir die mense gevat. Mister Sieber was daar en hy’t ons gevra ons moet tog net in hemelsnaam sy vrou wegvat.”

Jannes is bra kordaat dat hy alles meegemaak het.

Klein tussen die wrakstukke skarrel die mans rond: Ockert en Smittie en Jakob Stoker en sy groot seuns en al wat mens is wat by die fabriek werk.

Ita wil by haar pa kom, maar ’n hand kry haar beet en ruk haar terug onder die veranda van die winkelstoep in waar ’n trop mense saamgebondel is.

Dis Meggie. Haar kop is nog nie vasgevleg nie.

“Wat maak jy hier? Kom staan uit die reën uit.”

“Waar’s Pa?”

“Jou pa is daar onder besig, jy kan nie nou sountoe nie. Ons moet maak dat ons by die huis kom, Fia is alleen.”

“En Ma?”

“Nog onder by die Stokers.”

“En die babatjie?”

Sonder rede wil Ita nou huil, sodat Meggie dadelik troos: “Die bobbejaantjie se stert is afgekap, skoongeskraap, tanne getrek. Dis ’n meisietjie.”

“Aag!” glimlag Ita darem weer. Hulle glo dit lankal nie meer nie.

Marija het die tyding gekry van die vroue wat gaan water haal het. As daar iets gebeur, weet hulle dit eerste omdat hulle naaste aan die lokasie bly.

Terug by die huis steek Meggie die primus op om papwater te kook. “Gaan was vir julle en trek aan. Skoon bloemers ook. En dan kom eet julletjies en maak dat julle by die skool kom, anders is julle laat.”

“Skool?” vra Ita verdwaas.

“Ja, die skool het mos nie weggespoel nie. Wat as die ienspekter skierlik hier aankom en julle hardloop soos hoenderkuikens op die strand rond? Of wil julle in die skande kom by mister Paulsen se kinders?”

Mister Paulsen se kinders is hulle met alles ver voor. Hulle oefen heel kwartaal om op te sê en te sing vir ’n konsert en die Krismisboom aan die einde van die jaar.

Hulle sluk die droë pap met ’n bietjie goewermentsuiker af. Die bok loop in die agterveld; dalk verkluim die lammertjies in die reën.

Hul oë skiet vol trane so styf het Meggie hul hare vasgebind.

Toring se baai

Подняться наверх