Читать книгу Toring se baai - E. Kotze - Страница 12
Оглавление6
Die Kreefhuis staan nog hand in die sy, die jettiepale afgeknak, toe Sieber die volgende oggend sy mense bymekaarroep. Daar is niks nuuts wat hy kan toevoeg tot wat hulle reeds weet of vermoed nie.
“Colbert sal self uitkom, so gou as moontlik, en kundiges saambring om die skade te bepaal. Daarvolgens sal besluit word wat om te doen.”
Intussen begin ’n span strand skoonmaak, werk bamboes bymekaar.
Ockert wil die ingemaakte kreef so gou moontlik weg hê. Hulle toets die blikkies deur met ’n spyker op elkeen te tik, plak etikette op en verpak, lym boksies toe en stensil, gereed vir Gys Losper om dit met die lorrie stasie toe te vat. Die vragskuit sal nie gou weer kom laai nie.
Smittie kry die enjins aan die gang. Sover hy kon vasstel, het daar nie skade aan die masjiene gekom nie; die water het dit nie bereik nie.
Hy mis Jannes. Gewoonlik kom maak die seun ’n draai voor skool, maar hy het nog nie vanoggend gesig gewys nie. Smittie grinnik. Nuuskierige klein kêrel. Sal dit nog ver bring as hy wil leer. As dit van hóm afhang, neem hy Jannes onder hande ná matriek.
Maar Kerneels het reeds gesê: “Oor my dooie liggaam. Laat die kind maar ’n goewermentswerk soek, waar hy verseker is van ’n pensioen eendag.” Kerneels het nou eenmaal ’n ding teen Toring.
Smittie self het nie genoeg gebruik gemaak van sy kanse nie. Stokkies gedraai in die plaasskool; weggeloop na die fabriek op Pat’noster waarvoor sy oupa vars water uit ’n fontein verskaf het. Die fabriek het hom toegang gegee tot enjins. Op twaalf het hy reeds sy eie kanon gebou, buskruit gemaak en sy ma se makoue op die plaasdam doodgeskiet.
Sy pa het hom weggestuur na Boys High op Stellenbosch, waar hy sewentien was toe hy standerd ses druip. Daarvandaan Dock Road toe om sy vakleerlingskap te deurloop.
Sy pa kon hom nooit daarmee versoen dat sy oudste seun nie wou boer nie. Daarom kon hy nooit sy ouers ompraat om op Toring te kom kuier nie. Hy sou veral graag sy pa wou wys wat hy alles vermag het. Dat hy toe uiteindelik tog ’n kwalifikasie verwerf het. Onder aanmoediging van Colbert het hy, toe al ’n getroude man met twee kinders, weer by die boeke gaan sit.
Sy ouers maak altyd kapsie; die afstand en lang treinreis is glo te veel vir hulle. Veral sy ma sien tot vandag toe neer op wat sy hulle eenvoudige seebadshuisie in die gopse noem.
Van die kinders wil sy gereeld weet: “Kan julle al klavier speel?” Volgens haar ’n vereiste vir ’n dogter se opvoeding.
Fia, die klein snip, was vinnig om te antwoord: “Nee, Ouma, maar ons het ’n grenniefrou.” Soos Marija daarvoor sê.
Onthuts vra sy ma: “Smittie, waarvan praat die kind?”
“Fia, sê vir Ouma ons het ’n grammofoon.”
Kittie s’n, met al die mooi plate van Caruso en Tito Gobbi, John McCormack en Erna Sack. Hy weet nie genoeg van musiek om dit na behore te waardeer nie. Miskien omdat Kittie dit weet, luister sy daarna op ’n Sondagmiddag as hy elders kuier.
Fia, op haar stukke, brei verder uit: “Ja, en ’n waaierlis ook, dat ons kerk kan luister op Sondag en boeremusiek Saterdae.”
Hy sien nou nog die verdoemenis in sy ma se oë, daar by die spenstafel waar hulle rosyntjiebrood met geel plaasbotter eet, die koperkan met koffie stomend op ’n tes.
Sy sou toe wel al gehoor het van Marija, wat met haar rok tussen haar knieë ingekap smiddae voor die stoof hurk om ’n bekertjie koffie koud te skommel. En Kokkie Dorn, wie se kouse met ’n perskepit onder die knie vasgedraai word. Kokkie wat vir die kinders ’n hoendereier gee om in ’n polishblikdeksel te bak, en op ’n reëndag vuur in die veld maak en kuikenmielies in die warm as spring vir al Toring se kinders wat verveeld en lastig om hulle ma’s se ore neul.
Sy ma rys op haar stoel. “Met watter soort geselskap hou julle julle op?”
Sy grootwordplek verloor betekenis vir hom. Die plaas tussen die bulte van die Agterbaai, die koel suidwestewind wat smiddae deur die bome suis. Die huis waarin hy grootgemaak is, waarvan die balke en meubels blink geolie is.
Dan word hy byna heftig in sy verdediging van Toring se vierkantige sinkhuis met die aangelaste pakkamer; koester hy sentimentele gevoelens omtrent ’n misvloerstoep. Omdat ’n huis nie afhang van sy vorm of inhoud nie, van stene en witkalk en muurpapier nie, maar van die mense wat dit bewoon, wat dit in ’n tuiste omskep.
Hy sal sy ma nooit kan oortuig van die opregtheid van Toring se mense nie. Hulle wat hom, toe hy feitlik ’n vreemdeling was, tydens ernstige siekte bygestaan het.
Asof hy sy longe wil toets, gee hy ’n kuggie.
Skoon, verseker dokter Goldman hom elke jaar wanneer hy vir die roetine-ondersoek gaan. Maar Smittie het eenmaal ’n skrik weg en sal nooit weer heeltemal gerus wees nie. Want die een dag was hy nog gesond. Net ’n lastige krieweling, ’n hoesie. Hinderlik, maar nie ernstig nie. Hy wou Kittie nie onrustig maak nie en het rou lynolie gedrink. Friar’s balsam op suiker, en Malt.
Toe die helderrooi bloed op sy sakdoek, daar in die werkwinkel. Tering!
Sy ma het hom nie gevra om plaas toe te kom nie, bang dat hulle kan aansteek. “Dis mos nie ’n witmenssiekte nie! Waar kom jy daaraan? Seker daardie ou koue fabriek.”
Daar sit hy toe, soggens toegedraai in ’n wit wolkombers solank Kittie die bed opmaak. Die fabriek wat maar nie op dreef kan kom nie, en hy met ’n vrou en ’n kind op pad, en ’n gat so groot soos ’n ertjiekorrel in sy long.
Hulle is toegelaat om in die huis aan te bly. Willy Dorn – toe nog ’n jong man, bietjie roekeloos maar knap – het ingewillig om tydelik sy plek vol te staan. Maande lank terwyl hy onder doktersbehandeling was, moes hulle op ’n halwe salaris leef. Lank daarna nog die rekening afbetaal: ’n pond in die maand vir dokter Goldman.
Die mense se reaksie het hom nederig gemaak. Hy wat nie maklik meng nie, ’n randeier en alleenloper, sodat hy vir aanstellerig aangesien is, slegs bevriend met die twee Voorbaaiers, Ockert en Kerneels, is oorweldig deur bure wat dit self nie breed het nie.
Gys Losper sou ’n korhaan skiet waarvan Kittie sop kon maak, of ’n haas bring vir pastei. Kokkie het vars eiers aangedra en hom gereeld een rou laat afsluk soos ’n oester. Hy het rou lewer geëet en ’n sny brood onder die vleismeul gehou as Kittie frikkadelvleis maal. Selfs Sara Danster, die ou koninginvisverkoper en -snoekvlekker op die strand, het die grootstes met die minste grate uitgesoek vir hulle om gaar te stoom.
Van die plaas af het sy broer sakke gedroogde kattekruie en gansbos gestuur, waarvan daar tot vandag toe nog eenkant op die stoof in ’n emmertjie trek. En toe Smittie te hore kom van die genesende krag van die son, het hy hom op ’n afgesonderde klein strandjie poedelkaal uitgetrek en sonbaddens begin neem.
Sy naam trek ver as ’n kundige meganikus, sodat die boere van die Rivier hul rygoed aanbring, waaraan hy op ’n Saterdag werk. Sieber laat dit toe. Want al betaal niemand nie, omdat die oewerboere dit ook maar swaar het, is daar altyd ’n ballasmandjie kwepers of ’n sak patats of ’n pondjie botter wat gedeel word.
Sy salariskoevert oorhandig hy elke maand net so aan Kittie om die winkel- en slaghuisboekie skoon te maak en die res in die posspaarbank te bêre. Sy verdien ekstra geld met klere maak. Daar is maar altyd iemand wat ná ’n verdrinking in die rou is.