Читать книгу Toring se baai - E. Kotze - Страница 7

Оглавление

1

Die toringklip was van altyd af ’n landmerk vir skuite wat bo uit die Onderwêreld uit af Bobaai toe kom met vragte kreef. Op ’n stil dag, wanneer die see vol is, lyk die klipperige baai soos ’n versonke stad, trillend onder die water, met net die hoogste nokke wat bo uitsteek en die spits toring van ’n tempel.

Dis geen vriendelike hawe nie, daarvoor is die klein baaitjie wat met sy bek oop na die noord lê te onstuimig en onherbergsaam. As die see ’n skop in hom het, kan dit rof word.

Stormsee het deur die jare walle bloumosselskulp teen die duine opgehoop en mettertyd die klippe op die strand glad gerol. Tog is dit die plek waar Colbert sy fabriek kom staanmaak het: aan die verste punt van die witstrandjie, deur ’n skuins rotsplaat teen die aanslag van die westewind verskans. Soos ’n groot gaar kreef met sy voorlyf op die wal, die stert uitgeflap oor die jettie, staan die bousel van sink en plank. COLBERT CANNING COMPANY is in duidelike swart letters op die rooi dak geverf.

Van die fabriek en die paar buitegeboue lei ’n reguit swart steenkoolpad teen die steilte uit na ’n groep riffelsinkhuise omhein met doringdraad. Dis die sogenaamde Kamp, waar die fabriekswerkers ’n eenvoudige lewe lei. Smal stoepies voor en agter hou die sand wat die oostewind oor die vlaktes aanwaai van die drumpels weg. Die skuifraamvensters is voorsien van houtluike, waarsonder die somers onhoudbaar sou wees.

Voetpaadjies lei van die Kamp af tussen soutslaai en doringbosse deur in verskeie rigtings: na die skool en winkel en slaghuis op die hoogte bokant die baai. En links, meer na die suide, die vierkantige platdakhuise van die Bobaaiers, en mister Paulsen se bruinskool, en die Gaat waar die kreefvangers bly in hutte van sink. Op ’n bufferstrook tussen wit en bruin staan die enkele tweevertrek-sinkhok van Marija, die wasvrou.

Soos die derm van ’n huidjiehu kom ’n plaaspad veld se kant van die gehuggie verby, tot by die winkel waar dit wegdraai na die soutpanne aan die mond van die Rivier, vyf myl verder. Daarvandaan volg dit die oewer tot by die grootdorp en spoorwegstasie veel verder aan. Die plek is afgesonder en onbelangrik, nêrens aangeteken nie, skaars ’n kolletjie vliegmis op die landkaart. Die fabriek is die middelpunt van sy bestaan, kreef die lewensbron.

Sterftes kom voor wanneer ’n skuit vergaan en die bemanning verdrink. Of as maagkoors uitbreek en soos vuur deur die Gaat trek. Dan sterf hele families uit en lang begrafnisstoete beweeg soos miere agterom die bruinskool. ’n Gat word gegrawe, ’n lyk laat sak, die kis toegegooi, die vars hoop gelykgemaak met die aarde as die oostewind daaroor waai.

Dis die oostewind se nes daardie: ’n wind so reg uit ’n vuuroond, warm en droog en ongenadig. In die middel van die nag staan hy op uit die bossies, stoot sy asem ’n paar maal uit voor hy die vlak vat, stof opskep en saamvat, by oop deure en vensters inwaai en anderkant uit, dwarsdeur die fabriek tot op die skuite. Tot die water bleekgroen op die middag lê en smag na die lafenis van ’n koel kenter as die weer op noord draai.

Ongeag die weer, werk die fabriek. In sy klam buik pols ’n enkele dieselmasjien wat ’n ingewikkelde stelsel van dryfasse en kruis-en-dwars-bande trek. ’n Stoomenjin maak gas vir die koelkamers. In die boilerkamer word die ketels gestook. Koekepanne ratel oor die smal spoortjies op die jettie. Die skoorsteen rook en die fluitjie blaas. Vroue in wit oorjasse en waterstewels, geslypte mes in die hand, tou in die voetpad af en kom val by die paktafels in.

Soos gewoonlik hou Ockert Blankenberg, die voorman, dié dag toesig – van die aflaaiery op die punt van die jettie tot in die kreefhuis by die pakkers. Slof met swaar houtsool-kalosies aan sy voete enkeldiep deur die water. “Toe, toe, opskud vir die Mariebiskit!” jaag hy die vroue aan en tik hulle speels op die boud met ’n hand soos ’n tennisspaan.

Hulle lag hiér uit. Dié mister Ockert darem! Hulle ken hom van destyds toe hulle saam in Stefan se fabriek gewerk het. En verder terug, van sy vulletjiedae op Langbaan se strand waar hulle in die vlak lagune-watertjies gespeel en steentjies gebraai het. Agtermekaar jongkêrel gewees toe hy nog al sy hare en tande gehad het. ’n Reus van by die ses-voet-ses in sy sokkies, en sterk. Dra ’n bakkie manalleen op die strand uit. Mag nie slaan nie: die juts het gewaarsku. Hoewel hy wel sal slaan, as dit moet.

Onder die plankvloer van die kreefhuis spoel die gety op en trek met ’n grom van growwe sand en skulp terug, wat losgekarring is onder uit die seebodem. Dis volmaanspring. Die see is aan die kwaai word.

Die skuite het kort duskant Honneklip gevang toe die kreef se bekke begin skuim – ’n teken van onweer. Eietyd is die bakkies op dek gelaai en het hulle gemaak vir die huis, met die wind van agter. Een van die skuite het masjienmoeilikheid gekry en moes ingesleep word. Dis met moeite tot teenaan die jettie gebring, waar die aflaaiers nou halflyf in die ruim staan en die kreef met vurke in kiste gooi.

’n Gejaagdheid maak almal senuweeagtig. Sieber, die fabriekbestuurder, jaart die jettie met ongeduldige treë af. “Die skuite moet wegkom!” Hulle moes al weg gewees het as dit van hom afhang, om in die Bobaai te gaan skuil!

Almal blaas in Ockert se nek.

“Ja!” bulder hy harder as wat hy bedoel het, bo-oor die geraas van mense en koekepanne en die see. Hy is sommer die moer in. Sieber kon liewer in sy kantoor gebly het, of tee gaan drink by die huis. En die verdomde skippers moes hul verstand gebruik en by Honneklip gaan aflaai het. Hoewel dit daar ook maar goed gevaarlik kan wees in sulke weer. Maar dan het hy nie nou met die klomp kreef gesit nie.

Dit gee ’n gewerskaf af terwyl die skuite olie en water vat, kos en brood laai. Terwyl almal fletter om klaar te kry, is Smittie Steyn, algemene tegnikus en enjineer van Toring, teen die steil trapleertjie af na die masjienkamer van die stukkende skuit.

Hy spuug oorboord toe hy weer op dek kom. “Dis so vuil daar onder, jy wil naar word. Om te dink iemand slaap daar.”

Hy is geen seeman soos Ockert wat op die water grootgeword het nie. Hy stam uit ’n geslag van Agterbaaise boere, maar het vroeg reeds ’n aanleg vir meganika getoon en dit sy loopbaan gemaak. ’n Skraal, seningrige man met ’n smal gesig, hoë voorkop en mooi hande.

“Daar’s niks verkeerd met die oliepomp nie,” sê hy vir Ockert. “Die filter was net geblok.”

Dit kon sommer op see vervang gewees het, maar al het die drywer ook geweet hoe, dra hulle nie onderdele saam nie. Voorraad is min en die gereedskap primitief, en die firma traag om aan te koop. ’n Geldtekort, is die verskoning. Tye is swaar; die kreefbedryf het nog altyd gewurg. Die afgelope tyd word die oorlog en die onverkrygbaarheid van materiaal ook voorgehou.

Daarom het Smittie Steyn sy eie gereedskap gekoop. Made in Sheffield. Hy werk nie met prulle nie. Hou sy goed by die huis, waarvandaan hy dit laat haal as hy iets nodig het. As dit ’n oponthoud veroorsaak soos nou weer, moet hulle maar wag.

Toe die laaste skuit weg is – ’n vloot seevoëls wat voor die noordewind uit dobber – staan die rook uit die onbewerkte kreef. Afgegaan. Maar dit kan nie weggegooi word nie. Eers vinnig deur die stoompotte, dan na die vroue wat skoonmaak, sterte afbreek, oopsny, dermpie uithaal. Na die baddens waar al die bederf afgewas word totdat die vleis spierwit is, waarna dit geblik word en deur die inmaakproses gaan.

Ockert beweeg tussen die pakkers en die stoompotte. Sy stem klim bo die stoomwalms uit; die spoeg spat.

Voor donker bring die kinders Ockert en Smittie se aandkos: brood toegedraai in kardoespapier en iets warms in ’n skotteltjie, ’n bottel tee wat vinnig afkoel. Gewoonlik kan hulle nog ’n bietjie vertoef, maar vanaand mag hulle nie. Dis onweer en die see is aan die kwaai word.

Daar word dwarsdeur gewerk, die hele nag tot die volgende middag, voor die laaste kreef weg is.

Smittie se voete is nat. Hy dra nie stewels nie, maar velskoene met dun sole wat hy van Ebersohn af bestel. Al wat hom red, is die wolkouse wat Kittie, sy vrou, vir hom brei.

Almal is kapot toe die laaste blikkie deur die stoompotte is en stoor toe gevat word om af te koel. Die masjiene het tot stilstand gekom. Dis net die Tandy wat loop om ys te maak sodat die aas koud kan bly. Die stoomketels is afgesluit; die mure en tafels en vloer van die kreefhuis word skoon gespuit.

Ockert en Smittie wag buite op die jettie dat die skoonmakers klaarmaak. Die weer bou op. Op die horison lê ’n massa blouswart wolke wat inmekaar krul. Die wind is sterker.

“Hier kom ’n man aan, ou Smittie.”

Ockert trek sy kop tussen sy skouers in. Die donkerblou seemanstrui wat hy oor sy ketelpak dra, sit knap. In die was gekrimp. Die dungeslyte moue is ingestop, ’n sweer saamgetrek op elke elmboog.

Hy vee met die agterkant van sy hand oor sy mond. “Jee-zus,” blaas hy soos ’n walvis, “wat ’n weer!”

Die see is skuimbek met ontblote haaitande wanneer die branders oor die rotse breek en in die skietgat onder die Toringklip opspat met ’n knal. Dit laat Ockert verlang na die kalm waters van die lagune waarop hy en sy broers in ’n seilbootjie uitgevaar en weer ingedryf het tot by die ankerplek vlak voor hulle huis.

Toe die see in die nanag so geraas het, het hy dit oorweeg om die half bedorwe kreef te laat wegry saam met die borsies doppiesveld toe, waar dit tot kreefmeel verwerk word. Maar dan sukkel hulle weer met produksiesyfers en soek hoofkantoor ’n verslag.

Smittie taks die swel in die baai: sewe voet, dalk meer. Agter die riwwe, uit die diepsee, kom daar berge aan, maak bymekaar, slaan om en storm met ’n skuimende gedonder strand toe. “En die water groei nog altyd.”

Ockert sug. “Goddank die skuite is weg. Anders het ’n paar van hulle môreoggend stukkend geslaan op hierdie klip gelê.”

Smittie se gesig is smal onder sy swart petjie. Hy suig aan sy half dooie pyp soos ’n kind aan ’n leë bottel – paf net. Die rook is nie goed vir sy longe nie. Somer en winter dra hy sy kakiehemp toegeknoop tot onder sy kuiltjie, en in weer soos vandag trek hy ’n ou spoorwegjas aan. ’n Oorblyfsel uit die dae toe hy in die Kaapse dokke gewerk het.

Daar’s nie sprake van vroeg uitval nie, van voete in ’n warm mosterdbad en droë klere nie. Die dag het ’n nuwe vaart gekry. As die weer vererger, kan die bakkies wat omgekeer op die strand lê, wegspoel.

“Ons moet hulle opdra uit die pad van die water uit,” beduie Ockert.

Hulle maak ’n paar man bymekaar en dwarsboom só hul planne om met leë bottels in ’n suikersak af te sit hotel toe, te voet of met ’n baisiekel.

’n Drinkery word nie aangemoedig nie. Seewater en drank is nie maats nie, en op Toring is daar tot dusver nie ’n drankwinkel toegelaat nie. Maar toe maak Frank die hotel duskant die Panne staan: ’n wit olifant op die kaal vlak. ’n Versoeking en ergernis vir al wat leef. Dit gebeur dat die manne met die terugkomslag bly lê waar hulle neergeslaan het, sodat die waterlorrie gestuur moet word om hulle bymekaar te maak voor hulle verkluim of sonstraal kry.

Met die bakkies uit die pad is die gevaar nie verby nie. Die huise is veilig daar bo op die knop, en ’n duin beskerm die Gaat. Maar die fabriek. Flus het die jettie onder die aanslag van die branders gesidder.

Ockert en Smittie was deel van die span wat die ou konstruksie omtrent vyftien jaar gelede in die Voorbaai afgebreek en met ’n vragskuit na Toring gekarwei en hier kom herbou het. Hulle was by toe die fondamente gegooi, die masjinerie gemonteer en die timmerasie aanmekaargekap is. Hulle ken die swakhede van die gebou, sy weerstand teen die aanslag van die seewater, die krag van die wind en seestrome.

Elke springgety is daar maar skade, moet daar gekalfater word, maar hierdie is nie die gewone kwaaisee nie, dis boonop volmaanspring. Hulle moet wal gooi en keer. Alle toerusting wat nie op die jettie vasgebout is nie, word ingestoot fabriek toe: kreefkiste en -mandjies, emmers, kettings en toue en ou motorbande en koekepanne, totdat net die smal trolliespore bly lê, en die hyskraan en takelblok voor op die punt.

Al die tyd kom die branders soos oorlogsperde aangejaag voor die wind, wat nou op noordwes gedraai het. Hul maanhare skuim. In die fabriek klouter mans soos ape teen lere uit om los panele en sinkplate vas te kap. Goed wat kan meegee, word met draad vasgedraai. Ockert laat kap plank voor die vensters en bring ’n ekstra versterking voor die dubbeldeur tussen die kreefhuis en die jettie aan.

Steeds onrustig, dring Sieber daarop aan dat toue oor die dak gespan word: ’n web van manillatou oor die rooi sink.

Menslik gesproke is daar min wat hulle nog kan doen. Behalwe as Sieber nou sy arms lig, jasmoue opskuif, hande saamvou, en soos met ’n wyksbiduur of die opening van die basaar ’n gebed doen.

Smittie, wat nie van so ’n vertoon hou nie, staan effens opsy. Die storm, merk hy, bou na sy hoogtepunt op.

Teen sononder is die lug op die horison bleekgeel soos die lig van ’n lamp wat aan ’t doodgaan is. Die wind neem toe in krag en die see klim teen die rotsplaat agter die fabriek op. Stroom skuimend teen die skuinste af; slaan op teen die mure van sink en plank.

Dan is dit donker. ’n Duister sak eensklaps oor die baai toe. Alles is verlate; die meeste mense is huis toe. Selfs die seevoëls op Toringklip het ander skuiling gaan soek.

Ockert gaan nog een maal alles na voordat hy sluit. “Ons kon alles net so gelos het,” merk hy teenoor Smittie op. “Die water sal hom in alle geval nie laat keer nie.”

Smittie knik. Hy’t al gesien hoe ’n fratsgolf teen ’n duin uitklim, in die Agterbaai waar hy vandaan kom. Hoe dit die vroumense wat by die varswater langs die see gaan was het se bleikgoed soos worse oprol en intrek.

Toe ’n golf die jettie uit die dwarste tref, krimp hy ineen. Die volgende slag laat die raamwerk kraak. Die impak van die slag is soos donderweer, en die vloer vibreer asof ’n klein aardbewing die gebou skud. Voor dié onbeteuelde krag staan hulle magteloos.

“Ja, ou mieta,” beaam hy.

“As hy net vannag hou.”

Ockert skuif die deur by die ingang toe. Hulle word voortgestu deur die wind teen die hoogte uit, na die huise wat grys en bedremmeld in die reën staan. In die vensters skyn enkele kers- of lampligte.

Die winkel is toe. Daar is nie rondstaners in die koue of laatkommers wat hoop dat hulle nog weggehelp sal word nie.

Soms op pad huis toe is Ockert-hulle gelukkig om nog ’n warmmakertjie by Kerneels, die winkelman, te kry. Maar dis onwaarskynlik dat Kerneels op ’n aand soos vanaand sal rakke regpak. Alles is donker, en hulle stryk verby.

Hul byna identiese viervertrekhuise is in die kern van die Kamp geleë. Ockert se werf is met blouskulp hard gemaak, maar dis plek-plek deurgetrap, sodat daar nou waterplasse staan waardeur hy ploeter. Reën sjor van die dak af na die ondergrondse sementtenkie. ’n Vergete vadoek klap aan die wasgoedlyn.

Onder die afdak van goiing in die hok langs die pakkamer staan die paar hoenders koulik opmekaargebondel, die henne kaalrug soos die haan hulle getrap het. Die paar eiers is amper nie die kos werd wat hulle opvreet nie. As hulle ooit kos gekry het.

Hy gooi ’n handvol mielies, skop sy stewels uit en klim uit sy oorpak, skiet dit by die pakkamer se deur in. Haak die omslaggie op. Sug. As die kind, Gwendolien, nie kyk nie, gaan hier heeltemal niks aan nie. En sy is maar . . . Hy moet eers terugreken. Hoe oud was hy toe hy en Miemie getroud is?

Vyf jaar gevry, dit weet hy alte sekuur. Die gesin Hofman van die Kaap het kom seebad hou in die Voorbaai, om te kyk of die water nie iets vir die ma se bene sou doen nie. Die ou mens het toe al swaar geloop. Miemie en die suster het haar tot in die vlakwatertjies gehelp en dan weer terug in die stoel, waar sy die res van die dag sou sit.

Toe was Miemie nog Miemie, ’n bok vir sports. Lekker gedans, en game om te gaan seil en roei. Hoe het sy nie aan hom geneul om haar te leer roei nie! Toe een aand, nadat hulle by ’n lekker paartie aan die oorkant was, het hy op die klein jettie sy balans verloor en plat op sy rug in die bootjie beland, nie gebore in staat om weer op te kom nie.

“Woman, you always wanted to row, now row!” het hy gebulder.

Onder groot gelag het hulle op een of ander manier die wal gehaal. Snaaks dat water toe ook nat was, maar nie so blessit koud soos nou nie. Dis ’n ewigheid gelede.

Ewewel, die kind is nou . . .? Sy’s nog op laerskool.

Kaalvoet en blouboud sluit Gwendolien vir hom die deur oop, gee hom ’n sopperige soen. Na wie sy lyk, kan hy nie sê nie. Miemie was tog ’n skaflike nooi, wel ’n bietjie bont, maar mooi bruin oë, en nie sulke triestige haartjies nie. So onvanpas soos die naam: Gwendolien.

Sy babbel sonder dat hy weet wat sy sê, totdat sy vra: “Pa, het Pa al gehoor of ant Johanna Stoker al haar bybietjie het?”

“Nee, my kind,” steun hy met sy nat trui halfpad oor sy kop. Vir sulke stories het hy tog nie nou lus nie.

“Pa, die ou tante is op die Panne gaan haal. Met die waterlorrie! Vemôre al. Sal dit lewe, hè, Pa?”

“Wat?” vra hy.

“Die bybie, Pa.”

Gwendolien se ribbetjies is sigbaar deur die flennie van haar naghemp. Amper ook nie gewees nie, dit was so hittete. Wil liewer nie daaraan dink nie. Miemie het dit byna nie gemaak nie, en was daarna nog nooit weer méns nie.

Hy maak die twee dun armpies van sy nek los. “Wag, ek is nat, jy sal koue vat. Waar’s Ma? Bok!” roep hy kamer se kant toe.

“Ma lê al.”

Met die koue lol die niere. Oostewind jaag weer die bloeddruk op.

Miemie lê met ’n warmsak op haar blaas en dit ruik na getrekte boegoe. Sy hou haar wang vir hom. “Jou kos is op die primus.”

Boeliebief met ’n lagie fyn aartappel bo-oor, ’n patroon met ’n vurk getrek om soos cottage pie te lyk. Warm gehou op ’n pot lou water. Daar is koffie in die kan wat hy kan opwarm.

“Kan ek vir jou ook bring, Bok?”

“Nee, dit gee my sooibrand.”

Vir hom ook.

Hy eet en was en gaan val in die kooi. Die ou springe is ook al deurgelê; hy is ’n swaar man.

By die Smitties is dit sopaand. Smittie ruik die sooltjie van die voervark wat elke winter geslag word – grootgemaak op vleiswatertjies en afval-broodkrummels, aartappelskille en groenteblare en semels. Kittie en ou Kokkie Dorn het om die helfte saam gemaak: wors en vet en kaiings en haksel. ’n Ham en soutribbetjie is kos in die huis.

Hy vee sy voete aan die dubbelgevoude streepsak voor die agterdeur af. Ita en Fia, sy dogters, sit soos twee graatjiemeerkatte voor die stoof, elkeen met wol en penne. Kittie laat hulle brei. Om hulle nie op die werf te laat verwilder nie, hou sy hulle immer besig met ’n handwerkie. Maar kry dit nie altyd reg nie. Die wêreld is wyd en sonder grense. Hulle vat die veld en die seestrand aan.

Van die growwe Argentynse wol, al wat in die oorlogtyd te kry is, brei hulle sokkies en pixie-keppe vir die klimmeide wanneer hulle oplet die rokslyfies begin voor lig. Ouderwets.

Hulle sit hul breiwerk eenkant neer en Ita lig die doekie van die vet en konfyt en gesnyde brood op tafel. Sy begin maak braaibrood op die voorste stoofplaat. Fia giet ’n skepbeker warm water in die wasbadjie, gee die koekie Lifebuoy aan.

Smittie was sy hande en gesig en proes in die handdoekie wat agter die deur hang. “Julle ma?” vra hy onnodig.

Hy weet by voorbaat: waar daar nood is, sal jy vir Kittie kry. In dié geval is dit die Stokers, waar daar weer ’n kleintjie aan die kom is.

“Ma het gesê ons moet maar eet en gaan slaap, sy weet nie hoe laat sy terugkom nie,” sê Ita.

Die vorige keer was dit so ’n gesloer. Stoker moes ook nou al sy les geleer en vroegtydig ’n dokter gekry het. Maar die mense glo die ou tante van die Panne is goed, al is daar nou al twee kindertjies dood. Die fout lê by die dogtertjies, want die seuns is yslike knewels.

Sulke tye is dit nie speletjies vir ’n vrou op hierdie plek nie. Destyds met Ita en Fia het dokter Van der Spuy uitgekom. En Kerneels-hulle is Volks toe in die Kaap met Jannes se geboorte. Miemie Ockert . . . Foei tog, die stomme mens.

Hoe ook al, Johanna sal hulp nodig hê, daar in die ou huis vlak langs die fabriek – die eerste wat aanmekaargeslaan is in die sand en steenkoolas. Sonder watertenk. Hulle moet water van die fabriek af aandra in viergellingblikke, nes die bruinmense. Die vloere is van sement.

Mens sal sê hulle moet darem nou al weet om nie elke jaar . . . Maar arme Stoker sê hy kan nie help nie, Johanna vat so maklik.

Smittie maak sy oë toe en hou hande met sy kinders. “Kom laat ons bid.”

Hy sê die Segen Vader op. Plaas dan ’n sny roosterbrood in sy bord en laat Ita die sop daaroor skep. Wit herebone uit die Sandveld, en kreefkoekies gemaak van kreefstertjies wat Ockert spesiaal vir eet gaar gestoom het.

Seker met die verwagting dat hulle ook sal kry. Wanneer die kind kosmaaktyd styf teen die stoof kom staan, met die oë soos ’n dikkopkuiken, kry Kittie haar jammer.

“Ek wens Mamma wil vir ons ook koekies bak, maar Mamma maak dit weer nie vandag nie,” vertel sy met ’n oumensstemmetjie. Die bloeddruk sal nog haar ma se einde wees in daardie bakoond van ’n kombuis. Arme kind met die potblou armpies onder driekwart-jersiemoutjies, asof die wol altyd te min is. Dan stuur Kittie maar ’n enemmelbakkie vol oor.

Hy weet sy sou vanmiddag al ’n mandjie vir die Stokers gepak het: dettol en soetolie en watte en haakspelde en ’n paar ou luiers vir die kleintjie wat verwag word, vir wie Johanna selde genoeg voorsiening maak. Ook van die kreefkoekies en ’n stukkie wors sou sy saamgevat het, al is dit nie naastenby genoeg vir die eters in daardie huis nie.

“Ma het gesê ons moet die wekker stel om betyds wakker te word vir skool,” sê Fia toe hulle die stoele terugstoot.

Hulle stapel die borde inmekaar en pak dit in ’n skottel. Kittie sal dit nooit toelaat nie, maar daar’s nie genoeg water vir opwas nie. Hulle bêre dit vir Meggie, wat soggens in die huis help as die fabriek nie werk nie. Sy is Marija, die wasgoedvrou, se dogter, en is meer ’n maat vir die twee meisiekinders as iets anders.

Smiddae as hulle vir Smittie koffie wegneem fabriek toe, mag hulle ’n tydjie vir Meggie in die kreefhuis gaan help. Hulle staan weerskante van haar en laain die blikkies met vierkantjies botterpapier waarin die kreefstertjies verpak en toegevou word voor dit deksels opkry. Hoe vinniger hulle laain, hoe meer pak Meggie en hoe meer verdien sy.

Smittie sit ná ete nog ’n rukkie by die afgekoelde stoof met sy pyp. Hy vra nie soos gewoonlik of die kinders se skoolwerk klaar is nie. Anders help hy Ita met haar somme, die langdeel en breuke waarmee sy sukkel. Juffrou Dippenaar sê hy moet haar los, dat sy self probeer. Maar hy kry die kind so jammer. Vir hom is dit tog so maklik, hy werk dit sommer uit sy kop uit.

Die kinders slaap, maar slaap ook nie. Die hele nag ruk die wind aan die vensters. Nie soos die oostewind wat soos ’n wolf om die hoeke blaas nie, maar met die gedruis van die see daaragter. En die gekletter van reën op die dak.

Hulle dink aan ant Johanna Stoker daar onder in die platdakhuis op die vuil steenkoolwerf; die see wat kort onderkant die pad kom draai. Ant Johanna met die ingesakte wange, hande op die maag onder ’n bont voorskoot.

“Hoei!” roep sy as hulle met hulle pa se koffie verbykom. “Sê vir julle ma as sy ’n kansie het, moet sy ’n draai kom maak.”

Dan maak Kittie tyd. Maar hulle twee moet by die huis bly, want hulle het niks daar nodig nie, so tussen die klomp seunskinders. Sonder dat iemand hoef te sê, weet hulle daar is een van die dae weer ’n babatjie.

Hulle ma gaan help, en hulle pa stem saam. “Dis ’n mens se Christelike plig.”

Net soos dit hul Christelike plig is om elke middag vir Marija ’n skotteltjie kos te stuur, al is dit ook net ’n lepel rys en een aartappel met die sous van skenkelvleis daaroor. “Ons kan die mense nie aan hul lot oorlaat nie.”

Die lot is honger en die dood, fluister die twee kinders onder die kombers in hul warm bed. Die lot is klam en vaal soos die koue, mistige weer wat om die baai toevou, met net die buitelyne van skuite en hul maste en die rotse wat daardeur sigbaar is. Dis daar, maar ’n mens kan nie daaraan vat nie.

Dis die geheimsinnige onbekende wat gereeld die mense in die Gaat bykom, en die Stokers, maar nie die Kamp nie. Behalwe klein Diekie wat aan die maagkoors dood is. Uit pure onverskilligheid, die ma wat die een lang sikkeret ná die ander rook. Sulke mense moenie huil nie.

“Steek brand die muisbos!” roep Marija as die misdou op ’n Maandagoggend verdomp om oop te trek en sy sukkel om die wasgoed droog te kry. Hulle bring ’n boksie mêtjies en trek die swalletjie, steek die fyngoed van muisneste tussen die boswortels aan die brand. En die son kom deur.

Toring se baai

Подняться наверх