Читать книгу Soetloop - E. Kotze - Страница 11
8
Оглавление’n Jaar later frons Laaggelee se kliphuis onder ’n sinkdak. Weliswaar nie nuut nie, maar nog goed. Vendusiegoed waarvan Nieko te hore gekom en vir ’n appel en ’n ei opgetel het. Hy het dit haastighaastig kom vaskap oor die huis se timmerasie van dryfhout, wat verbasend goed gehou het onder die ou riet.
Tegelykertyd vat Claas vuur en bou met die hulp van ou Jordaan, en die meisiekinders wat hy in die werk steek, ’n tenkie van sementstene aangery uit Patnoster. Met die eerste reën murmel die dakwater soos musiek in die geute af en het Ellen vars water.
“Ons is ryk!” juig die kinders. Amper soos die Milanners, en die Laumbaarts.
’n Nuwe lente breek aan. Septembermaand hul hom in goud. Stinkkruid en ramnas en suring was nog nooit so gloeiend geel nie. Die melkbos bloei en die vyerank het die braaklande ingeneem. Toe Claas se gesaaides ryp is, sny ou Jordaan die laplandjie onder die duine af, bind die gerwe en pak ’n los mied naby die kliphuis.
Wanneer niemand kyk nie, klim Kattie – wat moet keer vir die vark – tot bo-op die verspotte miedjie. Daarvandaan kan sy ver sien, myle en myle ver, gunter oor die hoë dakke van plaasopstalle en wit mure agter bloekoms. Onder ’n wolkelose lug strek die dae heilsaam en mild. Net as sy haar oë tot die uiterste inspan, hulle op skrefies trek en in die son probeer kyk, galop daar op die kim swart perderuiters met swaarde en gewere swaaiend bo hul koppe. Woed daar ’n oorlog in die verte.
Op De Hoop, kom vertel Claas, heers daar groot ongelukkigheid vandat Miekie by die leër aangesluit het.
“Michiel en Esther praat van hom asof hy reeds gesneuwel in Duits-Wes toegewaai lê. En klein Janet treur ewe hard oor die boetie.”
“Wat sy kwalik ken,” sê Ellen, “want wanneer was hy so danig by die huis?”
“Nogtans,” hou Claas sy rede, “hulle weet nie wat om met die kind te doen nie.”
Net soos Ellen vermoed het, is dit toe ook.
Esther het ’n skimp gegooi, en dis al wat Claas nodig het. Hulle sit nou elkeen met ’n alleenkind opgeskeep, kleinniggietjies, sonder aanspraak. Wil hulle nie dat Kattie op De Hoop kom bly nie? ’n Speelmaat vir Janet, en terselfdertyd kan sy op Nuwepos skoolgaan.
Ellen se eerste reaksie is om botweg te weier. Mettertyd het daar ’n kors om haar hart gegroei, so hard soos ’n eelt. Sy verloor ook gereeld ’n kind wat moet uitspring en gaan werk. Dan krimp haar binneste ineen van magteloosheid en opstand. Verlange en eensaamheid is sy gewoond. Simpatie moet niemand van haar verwag nie, allermins die Laumbaarts van De Hoop. Veral nie Esther nie, wat haar kinders wegstuur Boland toe om geleerd te kom.
Maar verleentheid is aldag, vermaak één dag. Kattie is agt en steeds nie in die skool nie. En ou Senkiejôn op Nuwepos is ’n uitsonderlike meester. Maar sy gee nie sommer toe nie. Solank Esther dit as ’n guns beskou, en nie as haar reg om oor die kind baas te speel soos hulle met Claas maak nie.
“Nou wat sê jy?” vra Claas.
“Wat het jý daaroor te sê gehad?”
Hy krap sy baard, gee ’n gepynigde laggie. “As jy niks daarop teë het nie,” toets hy haar. “Ek reken dis tot almal se voordeel. Ons hoef ons nie oor Kattie te bekommer nie, sy’s naby die skool en nie te ver van die huis af nie. Daarby is dit hoog tyd.”
Wat Ellen agter sy gestotter lees, is terughouding. Hy’s bang as hulle weier, word hy van Laaggelee afgejaag. Die Laumbaarts skuld hom niks. Daarby is die meeste van die boere in die omtrek op een of ander manier in die skuld by Sam. Hulle sal dit nie waag om vir Claas Prins sitplek te gee as hy moet trek nie.
Dis dan die klaaglike situasie waaroor Kattie die laaste sê het.
Sy is oud genoeg om te besef al kom sy nog naweke huis toe, is sy klaar met Laaggelee. Kat sal voortaan nie meer in die knak van haar knieë slaap nie. Sy sal die misbanke wat oor die duine aanrol mis, en die reuk van kruiegoed in die veld.
Sy weet ook De Hoop is die plaas waar haar pa gebore is, en Malie en Liesie, Ellie en Nieko. Waar alles mooier en lekkerder is as op enige ander plek op aarde, en waar hulle nou nog sou gewoon het as Sam Laumbaart haar oupa nie so bevark het nie. De Hoop is die splinter in die oog van die Prinse wat krap en krap totdat die seerkry naderhand lekker word.
Wat Kattie verwag het, is nie wat sy sien met haar aankoms op De Hoop nie.
Ant Esther mag deftig wees, maar dan net op die portret van haar en oom Michiel in die voorhuis, sy in ’n swart weerskyntabberd, halsdoek en pêrelborsspeld, oom Michiel in ’n snyerspak, stywe boordjie en dubbelbors-onderbaadjie van effe donkerder materiaal.
Op die portret langsaan is Cecilia as ’n hoërskooldogter, ’n Alice in Wonderland met lang, gekartelde hare, driekwartrok met opnaaisels, donker kouse en skoene. Miekie, ses jaar jonger, het ’n baadjie en halfmas broek aan en nerfaf oprygstewels; hy staan oopmond om te sien wat in die kamera onder die swart doek aangaan. Janet, wat nog ’n baba is, sit op ’n hoë stoeltjie.
In werklikheid, sien Kattie, is ant Esther se hare vaal en min, die oë groen en leperig. Oom Michiel is ’n sagsinnige man met ligbruin hare en ’n snor. Die oom van die Koeberg, soos hy genoem word, en ant Esther die vrou van die Pêrel. Janet trek na haar ma, dieselfde vaal hare en oë. In ’n blou rok met valle en ’n strik en winkelskoene wag sy Kattie in.
Ant Esther laat Kattie by die agterdeur inkom. Die pad na Janet se kamer, wat sy voortaan met Kattie sal deel, loop deur die spens en voorkamer en ant Esther-hulle se slaapkamer. Die luike is almal toe, die huis is skemer, vloerplanke kraak, die plafonne ruik na lynolie.
Kattie hang haar slopie met klere aan die bedstyl en bekyk die kamer onderlangs. Blink plankvloer, Jesus-prente met engele en skaapwagters aan die mure, kom-en-bekerstel van porselein op die wastafel, en ’n kamerpot. Net so ’n stel het haar ma-hulle, desjare saamgekom met die trek van De Hoop af.
Haar pa is reeds weg toe hulle weer buite kom, sonder groet. Hy is nie ingenooi nie. Hy is die kneg.
Die werf is hard met ronde rûe waaroor die spore van waens en karre loop, en voetpaaie tussen die bossies waarin kalkoene weglê. Kattie en Janet haal eiers uit die krip in die stal en sit op die breë muur van die skuur terwyl die koeie gemelk word.
Alles is groter en meer as op Laaggelee, koeie en esels en perde en katte. Skemeraand staan die katte ’n kring om die melkbak op die agterstoep, sterte orent. Ant Esther verjaag hulle met die kattepeitsie en hulle verdwyn veld toe om muise te jag. Kattie verlang na Kat.
In die kombuis raas Lotjie. Sy is dik met groot, los borste en ’n kopdoek. En ’n besem waarmee sy al wat kind is by die deur uitvee. Vir ant Esther ook, wil dit lyk. Dit klink soos ’n trop kwaai kalkoene wat losgelaat word.
Kattie laat spat agter Janet aan teen die soldertrap op om paraffien vir die lampe te tap. Hulle moet suutjies loop dat die stof nie deur die skrewe op die meubels sif nie. Terwyl Janet die pompie op en neer werk, maak Kattie ’n trommel met ’n hoë deksel oop. Dis propvol boeke. Cecilia s’n, alles Engels en Latyn en Arithmetics, sê Janet. Cecilia werk al en kom net Desembers huis toe.
Ant Esther wil weet wat draai hulle so. Sy is bang hulle stort paraffien; hulle kan die huis laat afbrand. Kom af daar, kom was die koppies. Kom dek die tafel. Kom waai die vlieë. Vir dié doel gebruik hulle ’n lang, slap bloekomtak.
Kattie knik as ant Esther met haar praat.
“Wat maak jou ma?” vra sy onder die aandete.
“Werk,” wurg Kattie agter ’n mondvol kos.
“Ag, daardie ou huisie? Wat is daar tog te doen? Wietie,” onthou ant Esther. “Wat het van Wietie geword?”
“Langbáán,” fluister Kattie.
“En jou broer? Nieko?”
Kattie steek haar mes in haar mond, iets wat sy by die huis nie mag doen nie. Haal dit dadelik uit voor ant Esther sien. Nieko boer. Sy weet nie waar nie.
“Maar is hy dan nie Duits-Wes toe nie? Miekie het gesê … Michiel, hoor jy wat sê die kind? Haar broer Nieko, die een wat weggeloop het, wat Miekie so afgerokkel het, sit by iemand op ’n plaas. Hy’t nooit aangesluit nie! Kruip seker weg terwyl ons kind …”
Sy pa se geld in die skool op Franschhoek sit en mors het, onthou Kattie die gesprek tussen Nieko en haar ma. Toe Nieko gesê het hy sal hom nie laat flenters skiet nie, dis nou die Prinse se beurt om te lewe …
“Jou broer was altyd die voorperd, saam deur die meisiekinders se koshuisvensters geklim. Waar sê jy is hy?” Ant Esther is soos ’n spoegslang.
Oom Michiel hoor haar nie. Of hy hou hom doof. “Dan dank ons maar. O Heer voor spys en drank …”
Kattie knyp haar oë styf toe. Nes haar ma as sy vir haar pa kwaad is, maar nie ’n dooie woord sê nie.
Sy en Janet kry ’n kom met warm water om hulle te was.
“Oral, gehoor, nie net die gesig en voete poespas nie!” Ant Esther hou uit die kamerdeur dop. “Het jy ’n waslap, meisiekind?”
Kattie knik.
“En ’n tandeborsel?”
Daarvoor is daar nie geld nie, hulle borsel sommer met ’n vinger en sout. Die brakwater maak hul tande sterk. Kattie vou haar bene styf toe en trek haar naghemp oor haar kop.
Toe die kers doodgeblaas word, vra sy of sy by Janet kan inkruip, by die voetenent, soos Susanna en Claasie as daar nie genoeg plek aan die kopkant is nie. Maar Janet skop haar af. Dis nie gesond om by ’n vreemde mens in dieselfde bed te slaap nie, netnou steek hulle aan, skilfers en nete en kopluise.
Die nag droom Kattie van Kat wat met sy pootjies in haar rug knie, en van haar ma se droë lippe en dowwe oë. Sy huil saggies in haar kussing. Sy is bang sy kry ’n piepie. Wie steek die kers vir haar op, en wat sal ant Esther sê as sy ’n ongeluk kry? Hulle slaap op bulsakke, nie strooimatrasse wat sommer uitgeskud kan word nie. Daarby het sy net een broek om die hele week te dra.
Soggens stap Kattie en Janet saam deur die bloekombome na meester Senkiejôn se skooltjie op Nuwepos. Hulle leer somme en tafels en A – Abel, B – Babel. Wat sy ken.
Meester speel vijool en sing ’n liedjie in Frans, en laat hulle oefen om sy van reg uit te spreek: Chaanghwaan, maar jy skryf dit Changuion. Hy leer hulle ’n gediggie: “Jantjie zag eens pruimen hangen, als eieren o zo groot. Jantjie wou dat pruimen eten, maar zyn vader had hem dat verbood …”
Daardie “Vader” assosieer Kattie met Sam Laumbaart, wat die skoolkinders van die stoep af sit en dophou en vir wie sy ’n grondige vrees het.
“Dogter!” roep hy haar waar sy eendag vir Janet staan en wag.
Kattie kyk op, maar nie reguit na hom nie.
“Wie se kind is jy?”
Sy is met stomheid geslaan.
“Hè?” skreeu hy.
“Claas,” prewel sy.
“Ha? Claas wie? O, Claas Arm! En weet jy wie’s ek? Sam Laumbaart is die baas van hierdie plaas en so ver as jy kan sien, tot onder in Patnoster.”
’n Nare ou man. Wat haar oupa-hulle se grond afgevat het. Almal sê so. Kattie gaan aan die hardloop, in die wielspoor op huis toe, waar sy in die kiel tussen die bakoond en die agterdeur gaan skuiling soek.
Daar kry Lotjie haar. “En dié, waar kom dié nou vanaf? Uit Nuwepos? En Janet?”
“Waar’s Janet, hè?” Ant Esther se skaduwee val oor Kattie. “Jy kan nie vir Janet wegloop nie, dis waarvoor jy gehuur word. Jy loop nou dadelik terug en gaan haal haar!”
Kaalkop in die hete middagson moet Kattie weer die pad terug vat. Asof Janet nie self weet om by die huis te kom nie.
Die skoolkinders is reeds almal weg, Meester ook. Kattie gaan klop sleepvoet by die opstal se agterdeur. En wag. Janet is saam met Meester binnetoe, waar sy middagkos kry.
Toe hulle oplaas besweet op De Hoop aankom, is Lotjie reeds weg. Kattie se kos staan uitgedroog in die oond. Omdat niemand kyk nie, staan en eet sy sommer by die kombuistafel, krap die oorskiet vir die hoenders.
Binne brom ant Esther iets van “gekommitteerd”.
Dis ’n woord wat Kattie diep in haar kop wegbêre, saam met “huur”. Beteken dit sy is ook nou ’n kneg soos haar pa, met haar voete ingesteek onder ander mense se tafel? Grootgemaak op brood en swart koffie, die slagskaap gedaan, die meelsak leeg, die eiers en botter verhandel vir provisie. Daar is nie ’n kers om lig te maak nie.
Op De Hoop hang daar ’n lamp bo die tafel en ly niemand ooit honger nie. Drie maal op ’n dag is daar vleis of wors op tafel, en gekerfde biltong op vieruurbrood wat hulle in die spens eet. Die koffie word warm gehou op ’n blink konfoor met kole. Partymaal het Kattie nog lus vir ’n skeppie van iets op tafel, maar is te skaam om te vra. Dis nie goeie maniere nie, het Ellen hulle geleer. Janet eet soveel sy wil en help haarself nog tussenin aan koekies en beskuit uit die spens; sy kou aan droëwors en tasaaltjies wat in die vuurherd hang.
Sommer gou span ant Esther vir Kattie in. Sy is die stuurdingetjie wat heen en weer tussen die vleis- en melkkamer en kombuis draf, ’n mes in die hand gestop word om aartappels en pampoen en patat te skil. “Dun, gehoor?”
Asof sy doof is, herhaal ant Esther alles, totdat sy “Ja, antie” antwoord.
Soggens gee sy die hoenders kos. Namiddae help sy vir Lotjie melkemmers en roosters en strykysters skuur agter die houthoop waar die wind koud waai. Sy wat tot onlangs nog met Kat in ’n sonstreep kon sit en speel, soos ’n klipspringer oor die plat klippe rondom die werf kon wip, oor die kant van die puts kon hang en haar gesig in die diep weerkaatsing spieël, word nou sitgemaak met die mandjie stopgoed. Die kouse se dun plekke word eers deurgeryg, dan oorlangs geweef. Los ’n ogie aan die kante, sodat die stopsel nie koek as die wol in die was krimp nie.
Sy word aangesê om die silwer en kopergoed blink te vryf. Met as en paraffien. Daarna word dit in warm seepwater afgewas en met droë lappe blinkgevryf.
“Ma laat ons skuurklip op die strand optel en fyn kap,” gesels sy met Lotjie.
“Krap dit nie julle goed nie?”
“Ons sif dit. En dit stink nie soos paraffien nie.”
“Ongesjineerd!” Ant Esther vat eksepsie oor die stink-woord. Asof De Hoop se kraal en varkhok nie ruik nie? En al die vlieë!
Ons koeistal het Pa ver van die huis af gebou, dink Kattie.
Sy moet die teekoppies een vir een in ’n kommetjie was sodat die porselein nie tjip nie. Dis familiegoed, erfgoed, sê ant Esther. Geërf by wie? wonder Kattie.
Hulle het net gebruikgoed, wat nie mag breek nie, want daar is nie ander nie. En familie is verweg mense soos haar ma se suster by die Piketberg van wie hulle nog net af en toe hoor, en die Milanners.
Janet oefen klavier in die voorhuis. Kattie kry ’n bloekomtak om die hoendermis voor die agterdeur houthoop se kant toe te vee.
“As daar nou een Prins is wat sal leer om sy arms uit sy moue te steek, is dit jy,” sê ant Esther. “Kom, vat die besem, stof af die stoele, vryf blink die lampglas.”
Kattie skroei goed met die strykyster, en tjip koppies. Toe ’n ornament breek, skel ant Esther: “Dis hoekom julle mense nooit iets sal hê nie!”
Al was dit die katte wat ingeglip het toe die spensdeur per abuis oopgestaan het, kry Kattie die skuld. Sy knyp haar mond styf toe. Sy sal nie sê sy’s jammer nie.
Wanneer sy binne afstof, raak sy net versigtig aan die porseleinfigure op die rakkie en streel oor die brokaatstof van die sofa. Gaan aan die droom in die vrykamer voor die portret van prinses Juliana van Nederland in ’n room-en-groen wyehalsrok, juwele om haar nek en ’n kroontjie bo-op haar opgekamde hare.
As Kattie naweke by die huis kom, kry sy nog ’n keer raas.
“Kyk hoe verbrand is jy! Het jy nie ’n kappie opgesit nie?”
“Ant Esther sê ek het ’n vaste vel.” Kattie hou haar arm teen Ellen s’n. “Wat is dit, Ma?”
“Jy aard na die Bassons, ons is van Franse afkoms. My ma was ’n Rousseau.”
Terwyl Ellen die kind insmeer met harde bokvet, vertel Kattie van die mooi pop met die kop, arms en bene van porselein en die laplyf. Dit het aan Cecilia behoort, en die fraai kleertjies het Cecilia alles self gemaak, ’n ingeplooide rok met ’n groot strik, en ’n broek met opnaaisels en kant.
“Sal Ma vir my ook so ’n broek maak, van sulke sagte lap?”
“Ai, kind, met jou ydelhede,” sug Ellen. “Wie het jou kop so versnipper? Met ’n skaapskêr bygekom?”
“Ekself. Omdat my vlegsels losspring. Ant Esther sê ek het perdestert vir hare. Toe knip ek dit af.”
Toe Kattie ná haar eerste naweek by die huis die sandpad De Hoop toe vat met die aandson agter haar, het Kat haar soos ’n hond gevolg, met ’n klaaglike gemiaau. Sy moes hom by die plaashek omjaag. Hy het nooit weer huis gehaal nie. Weke lank moes sy ’n knop wegsluk elke keer as sy aan Kat dink. As sy maar net kon weet wat van hom geword het.
Vir ’n lang tyd wil Kattie nie na haarself in die lang spieël kyk as sy binne werk nie. Lelike regaf rok met ’n uitgeholde hals wat haar nek nog langer laat lyk, moue tot op die elmboë. Hoekom het haar rok nie ook plooie en valle soos Janet s’n nie?
“Omdat jy nie so dik soos Janet is nie, nie tetjies het om weg te steek nie,” sê Lotjie. “En om vir my minder strykwerk te gee.”
Kattie weet dis net om haar beter te laat voel. Daar is nie genoeg lap nie. Sy moet altyd met die oorskietstroke tevrede wees.
Sy vryf die spieël met verwoede hale blink. Pluk die gordyne met soveel krag toe dat kleistof saggies agter die muurpapier af sif. Of is dit dalk rysmiere wat die messelsand tussen die stene uitwerk? Wanneer vreet hulle nie deur die papier nie? Dan moet die mure van nuuts af geplak word.
Eendag sal dit haar beurt wees om te help, die gekookte meellym aan die stroke te verf en teen die muur vas te druk, dit versigtig gladstryk sodat die papier nie skeur nie.
“Jy’s al lekker lank, jy kom oral by,” het ant Esther anderdag gesê toe hulle die spensrakke regpak.
Hulle maak reg vir die kuiermense uit die Kaap. Wat elke jaar op De Hoop kom afpak, winter en somer, tjommel Lotjie in die kombuis. Sodra alles skoon en blink is, kom hulle op ’n streep aan, eers die Heroldts en dan die Simenhoffs, en Cecilia.
Die Heroldts is vanjaar vroeg en betrap hulle onkant, in die middel van die varkslagtery. Ant Esther is besig met die hamme, en eenkant word vleis gemaal en speserye geskroei vir die wors. Lotjie roer die vetpot op die werf. Sy is blink gesweet en reg om die beker soetmelk by te gooi om die kaiings te verbruin toe die Kaapnaars se swart kar by die voordeur stilhou.
“Hulle moet my maar verskoon, ek kan nie nou hier los nie,” sê ant Esther.
Janet kruip agter haar ma se voorskoot weg en Kattie word aangekeer om tee te maak vir die vreemde mense en by hulle in die voorhuis te sit.
Miemie Heroldt se gekrulde hare is in ’n wors om haar kop gedraai en met haarnaalde vasgesteek. Sy dra ’n borsspeld op haar kraag en hakskoene met ’n streppie, vasgemaak met ’n knopie. Haar kouse sak af om haar bene. Tobie Heroldt dra ’n silwer horlosieketting oor sy ronde magie. Hy draai sy duime dan linksom en dan regsom.
Kattie, nie gewoond aan sulke hoë mense nie, sit serieus op ’n regop stoel. Sy soek na iets om te sê, grootmensdinge soos troues en babatjies, siekte en die hoenders wat sleg lê.
Tobie fluit ’n deuntjie. Miemie haal haar breiwerk uit, ’n paar sokkies vir die soldate. Die een ’n bietjie groter as die ander, maar lekker warm. Sy was ’n nooi Losper van hier rond; Tobie, ’n Kaapse kêrel, het in die poskantoor gewerk. Later, toe hy posmeester gemaak is, is hulle Kaap toe verplaas.
Met die kuiermense hier is De Hoop grênd en word daar in die groot eetkamer gedek. Soggens word lampetbekers met warm water ingedra en slopemmers leeggemaak. Laat saans sit hulle nog om die tafel en haal ant Esther die lekkers uit wat die gaste saamgebring het, suiglekkers wat na naeltjies smaak en lank hou. Die kinders kry nie van die tjoklits nie. Soggens lê die papiertjies opgefrommel in ’n asbak.
Vir ou Tobie is Kattie bietjie wild. Hy staan haar voor in die donker gangetjie, vat haar gesig tussen sy hande. “K-K-K-Katy, beautiful Katy!”
Glad soos ’n akkedissie glip sy onder hom uit na die beskerming van Lotjie. Hulle kyk hom agterna as hy die hond roep en buite gaan rook. Hy steek sy broekspype in sy sokkies en klim in een van die boompies voor die voordeur. Die hond bly onder staan en blaf.
“Reken, nes ’n jongkêreltjie met ’n kamasbroek en kepsie,” spot Lotjie. En sy praat hom na: “As ek eendag ’n wewenaar is, kies ek vir my ’n jong nooientjie met kousies wat styf om haar bene pas!”
Dít onthou Kattie van daardie eerste geil winter op De Hoop. Die Heroldts was toe al weg met ’n soetkys wors en ham en brood en botter uit die spens.
Dit het goed gereën en die werf is oortrek met sagte oranjegeel tulpe. Dis giftig en die diere vreet dit nie, hulle blaas op daarvan. As Kattie en Janet in die veld loop, poeier die gansogies hul skoene goudgeel, en saans sing die kikkers in die dam. In die soutklofie blom die kattekie-lelies bloedrooi teen die rotse, en laer af varklelies wit soos room, met borriegeel stampers.
Gewoond aan al wat veldkos is, maar nie aan die vleiblomme van die soutklofie nie, het Kattie ’n varklelie gepluk en daaraan geproe. ’n Snaakse brandsmaak in haar mond, wat na haar keel sprei en haar laat hoes en spoeg en opgooi. Bang sy gaan dood, hardloop sy en Janet huis toe, waar sy huil-huil neerval en na haar ma roep.
“Varkkos!” raas ant Esther. “’n Mens kan sien wie op uintjies grootgemaak is. Kom julle nooit versadig nie? Is jy honger?”
Grootoog en stom geskrik skud Kattie haar kop heen en weer, en drink die beker melk uit wat Lotjie aandra.