Читать книгу Soetloop - E. Kotze - Страница 8

5

Оглавление

Die kleintjie kry ’n naam: Tomasina. Maar nog voor sy uit die doeke is, noem almal haar Kattie, van die huiskat waarmee sy alewig onder die tafel sit vandat sy leer kruip het.

Sy is ’n moeilike kind om groot te maak. As sy nie ’n blad uit die Gesangboek skeur nie, krap sy met ’n potlood in die Bybel. Loop weg na die Jordaans toe, wat die pitte van kasteroliebome afdop om boerseep te kook, eet daarvan en bring die aand aan tafel op: ’n wit wors in haar bord. As dit nie uitgekom het nie, was sy dood.

’n Ronde wit wurm kom by haar neus uit. Sy het ook fyn wit wurmpies wat haar stertjie laat jeuk. Sy krap. Ellen dokter met wildeals en vinkel en die sap van honnepisbos. Smeer jodium aan. Dit brand. Kattie skree.

“Dis die kat waarmee sy heeldag sit en speel,” sê Claas. “Huisdiere dra siektes oor, omlope ook.”

Skaap word gedous vir wurm. Kattie weet waar die bottel in die kraalmuur gebêre word. Sy smeer daarvan onder Kat se stert. En dokter toe haarself, ’n paar druppels op ’n rosyntjie wat sy afsluk. Kat gaan kruip onder die kooi in. Vir Kattie kry hulle agter ’n bos lê, siek soos ’n hond, en leeg gekots.

Claas gee haar ’n beker melk, en nog een, en sy bring drade slym op. Hulle klits vir haar rou eier en melk, en brandewyn van Piketberg af wat Ellen net vir siekte hou. Hulle moet die kind dit máák drink, haar nekkie raak so dun soos ’n kierietjie soos sy haar teësit.

Een môre kom sy uit die kamer waar sy alleen speel, oë wyd gerek.

“Ek kan nie lekker voel nie!” sê sy en vryf oor haar maag.

Ellen skrik.

“Ek wil medisynetjies hê, ek wil spoeg …”

Sy spoeg ’n handvol silwer krale op die misvloer uit. Die string oorskietkrale van Malie se trourok, wat Ellen nog wou gebruik om doilies te maak. Wat Kattie uit ’n laai gekrap het. Toe sy die skrik op haar ma se gesig sien, raak sy aan die huil.

In kritieke tye soos dié gryp Ellen na die blou bottel. Die krale moet afwerk, maar om die lepel kasterolie in Kattie se keel af te kry, vra meer as mooipraat en paai. Eers toe Maria Jordaan, wat die geskreeu gehoor het, kom kyk, help vashou en neus toedruk, kry hulle haar sover om te sluk. Nou moet hulle net wag.

Ellen drink die koffie wat Maria vir hulle skink. Sy haal Kattie oor om ook ’n slukkie te vat. Sy hou die pad heeltyd dop vir ’n geluid of stof. Wanneer kom Claas tog?

Die kinders kom terug van die skool af. “Gaan Kattie dood?” Hulle weet olieboomsade is giftig, en glaskrale sny ’n mens se binnegoed uitmekaar.

“Laat sy op die pot sit,” sê Maria.

Sy bring die kamerpot en Ellen hou die kind af.

So iets het geeneen van hulle nog ooit gesien nie. Sowat van krale, ’n halwe pot vol. Maar darem nie bloed nie.

Kattie spin tevrede. “Ek het krale geëet.”

“Sy’t gedink dis lekkers!” snap Wietie eerste wat aangaan.

Die kombuis dawer van verligting.

As dit een van die ander kinders was, het hulle ’n pak gekry. Maar Kattie kom weg met alles. Omdat sy so tingerig is. Die oë diepblou met donker skaduwees, glad te groot vir die gesiggie omring deur die bos donker hare.

Wietie raak kortendag veertien, en kan nie somme maak nie. Haar kneukels is rou geslaan en Claas haal haar uit die skool uit.

“Sy kap met ’n pik soos ’n man, haal ’n bos wortel en tak uit,” sê hy vir Ellen.

Breed soos die Prinse. En sterk. Altyd aan die draf soos haar pa.

Ellen se oë flits. “’n Meisiekind op die land laat werk, laat hout maak?”

Sy voel toenemend die verantwoordelikheid vir die kinders se toekoms op haar druk, die gebrek aan keuses, die beperkte geleenthede vir soveel meisiekinders. Sy moet sorg vir hul opvoeding; sy wat onderwyseres was, beur om hulle geleerd te kry. Elkeen van haar kinders het die ABC geken nog voordat hulle skool toe is.

Ellie, die derde oudste, wou hoërskool toe, maar daar was nie geld vir klere nie. Het Ma dan nie ’n ou manel uitmekaar getorring vir ’n jim nie? Só moes Ellen die dogters later jare hoor bespiegel – ’n Uilspieël-storie! Oplaas het die kerk met klere gehelp, en ant Jettie Abel, ’n niggie van Claas wat ’n losieshuis op die dorp het waar Ellie kon loseer. In ruil daarvoor gee Ellen katkisasieklasse vir die plaaskinders, sorg dat hulle in die kerk aangeneem kom.

Die dogters se klere word op die ry af vir die volgende een aangegee en oor en oor gedra. Hulle onthou almal nog Ellie se ou aannemingrokkie van knitting silk. Deur Ellen gehekel of deur Malie gebrei, dié kan niemand meer sê nie. Regaf, met ’n band om die middel en ’n hoedjie daarby. Diep oor die oë getrek volgens die mode van die tyd.

Pateties is die onderklere wat hulle onder mekaar moes ruil omdat daar nie genoeg vir almal was nie. Broekies van enige materiaal denkbaar, een grootte, een patroon. Tjoep om die middel en pype as daar nie rek is nie; die stomp skêr kou en kou om die tjoep gesny te kry.

Saterdae as daar gebad word, trek die eerstes aan wat in die laai is en die ander is tevrede daarsonder. “En jou gat voel glad vreemd as jy die dag ’n broek aanhet!” spot hulle later jare.

Ellie het ná matriek gaan verpleeg, in die Alexandra Hospitaal in die Kaap; Liesie woon in by ordentlike mense in die Groenkloof. Ellen hoef nie meer oor hulle rond te rol nie. Elkeen het ’n werk, verdien geld, is versorg en eet genoeg.

Nieko het in Philippi werk gekry op ’n groenteplaas, by hardwerkende Duitse boere wat wavragte vars produkte na Soutrivier se mark aanry. Hy het ’n kamer van sy eie en kry goeie kos. As jy eenmaal gewoond geraak het aan kool en gekapte pietersielie op aartappels, skryf hy in een van die weinige briefies wat hulle kry.

Ellen bedwing haar verlange na hom. Dis goed dat hy kon wegkom uit die Sandveld, weg van die daaglikse vernedering van mense wat dink hulle is beter. Wat hul kinders voorsê wie met die hand gegroet mag word en vir wie die hand agter die rug gehou word. En wie by die agterdeur moet omkom, soos die wegloperseun van Claas en Ellen Prins (née Basson).

So mymer sy terwyl sy sout en salpeter in ’n bokboud invryf en dik peper strooi. Lekker vleis, maar darem nie skaap nie. Maar só is die Laumbaarts, beduiwel jou om elke hoek en draai. En Claas rep nie ’n woord nie, vat maar die slagding wat hy kry. By die huis is daar nege monde om kos te gee.

Ellen wonder vir die soveelste maal oor Malie op wie Leopold Taar so mal verlief geraak het, Malie met die vlekkelose vel. Het sy ook nou al afgekom aarde toe, help sy vis vlek en sout, steentjies inryg en bos maak?

Terwyl sy aartappels skil, tob sy oor haar ses dogters wat nog in die huis is. Dis nie die lewe wat sy begeer het toe sy hulle een vir een uitgedruk en aan die wêreld gepresenteer het nie. Want oplaas is hulle nie die jong dames van De Hoop nie, maar van Laaggelee.

Toe sy die kos op die vuur het, begin sy ’n strook hekel vir Malie se wastafel, knielende engele met gevlegte kranse om die kop. Sy sal dit maar bêre vir die dag wanneer die Taar haar dogter huis toe bring. Maar hulle is skaars, asof Langbáán in anderland is.

“Die man het ’n werk, die vis lê en kyk nie vir hom nie,” kom Claas vir Leopold op, die skoonseun wat hom nogal aanstaan.

Maar dis asof Leopold half kopsku vir Ellen is. En wie kan hom verkwalik ná die nag van Kattie se geboorte? Om darem so in jou skoonma … Hy en Malie toe nog nie eens getroud nie.

“Die kinders skaam hulle vir ons,” blameer sy vir Claas.

“Dis jý, Ellen. Jy maak rusie met almal en dan huil jy agterna as hulle wegbly.”

Dit raak die een woord op die ander, tot Claas sy hoed en sweep vat en die stuk insit Kalkrug toe. Eers twee dae later kom hy terug, toe hy en Ellen albei afgekoel het.

Hy bring vleis saam, en droë masbankerbokkoms wat Milanner op Patnoster gaan haal het. Dalk was hy nog saam en het nou ’n bottel in sy bladsak, dink Ellen, hy’s vriendelik genoeg daarvoor.

Claas haak vir Kattie onder die tafel uit. “Kom sit by Pa.”

Sy kry ’n suikerklontjie, wat dadelik kies toe gaan en versigtig gesuie word sonder om ’n druppeltjie spoeg te mors.

Eers toe Ellen koffie geskink het, gesels hy met haar.

“Ek hoor,” kom hy met ’n ompad, “Esther Laumbaart van De Hoop soek ’n meisie om te help huis skoonmaak.”

“So?”

Hy keer sy koppie in die piering om. “Een van die flukse Prins-dogters, so lui die bode.”

“Gmf,” snuif Ellen. “Asof sy nie self kinders het nie.”

“Cecilia is nog op kollege in die Kaap. En Miekie …”

“Ja, skerm jy maar, ek weet. Die meisiekind is te vief en fyn om mure te plak en meubels te olie. En Miekie …” Sy skud haar kop.

Claas grim sowaar. “Ja, hy’s ’n ongemaklike klein kêrel. Hy’t al weer weggeloop uit die skool. Sit gister met ’n kosdoek om sy gesig geknoop by die kalkbranders en rook. Pruim ook, vir al wat jy weet.”

“Sonder dat sy ma en pa weet.”

Claas sug. “Ook maar nog ’n kind.”

“Miekie,” kweel Kattie en klap haar handjies. Sy weet wie hy is, daar hy gereeld by die ander kinders in die buitekamer kom sit en apie maak.

Ellen is nog nie klaar met die nuus wat Claas gebring het nie.

“Niemand is meer hooghartig as Esther nie,” sê sy skerp. “Sy verbeel haar omdat sy ’n nooi Kriel van die Paarl is, maar sy en Michiel het ook maar in die Koeberg grond moes huur omdat sy nie ’n plaas van haar eie gehad het nie. Dis hoe die Laumbaarts die dinge werk – nou sit húlle op De Hoop. Sy kom hier aan, maar skielik is die Prinse se huis nie goed genoeg nie. Sy moet laat aanbou en verbeter, meer slaapkamers, ’n voor- en agterstoep mét veranda, ’n sitkamer met glasdeure. Sy moet grênd, grênder selfs as Sam Laumbaart se standplaas op Nuwepos.”

“Wie, Ma?” Wietie kom van buite af in.

“Ons praat van ant Esther wat iemand soek om te help huis skoonmaak,” omseil Claas vinnig vir Ellen.

“Daai huis waar die uile op die solder broei,” sê Ellen afkerig. “Boodskappers van die dood.”

Maar Wietie is ewe gretig. “Ek bang g’n spook nie.”

Daarby wonder sy lankal wat so danig aangaan in die wit huis bokant die kliprug, verskans agter die plantasie bloekombome. Waar die mense glo elkeen in hul eie kamer slaap en gekookte eiers vir brekfis eet, uit eierkelkies. En net een babatjie het.

“Sy’s nie meer so ’n babatjie nie,” korrigeer Ellen, “sy’s so oud soos Kattie ongeveer. Janet is haar naam, glo na Esther se pastorie-ouma van die Paarl vernoem. Die twee meisiekinders albei na haar kant, Miekie het darem die Laumbaart-naam.” Matthys Michielse.

Wietie is nog besig om planne te maak vir De Hoop toe die Taars op Laaggelee uitslaan. Malie kom wys sy’s in die ander tyd; haar rok span oor haar maag. Sy en Leopold is in hulle skik en sonder skaamte. Drie jaar lank probeer.

“Dis Ma se eerste kleinkind,” sê Malie. “Is Ma nie trots nie?”

Ellen glimlag flou. Hoe bly kan ’n mens nou oor ’n kind wees?

Malie kyk krities deur die kombuis. “En hoe gaan dit hier? Help jy darem vir Ma, Wietie? Noudat jy nie meer skoolgaan nie en renteloos by die huis sit?”

“Ek gaan vir ant Esther op De Hoop help huis skoonmaak,” sê Wietie vinnig.

Toe is die vet in die vuur. Veral voor Malie moet jy dit nie waag om die naam De Hoop te noem nie. Sy het al haar verstand gehad toe Claas en Ellen uit hul huis verjaag is. Besteel is. Die plaas ingepalm is. Van haar pa ’n minderwaardige bywoner gemaak is na wie daar neerhalend verwys word as Claas Arm, met die donkiekarretjie.

Malie sis soos ’n geelslang. “Van wanneer af is ons die Laumbaarts se diensmeisies? Ons lewe nie meer in die slawetyd nie. Hulle moet oppas dat oom Michiel hom nie ook vir ’n gat laat vang nie – van sy eie pa. En later self op die vlak sit!”

“Vlak sit! Vlak sit!” eggo Kattie onder die tafel uit.

Malie pluk haar hardhandig daar uit en plak haar buite op die stoep neer, waar sy kort, kwaai skreetjies van skrik gee. Vergeefs die arms na Wietie uitsteek en uiteindelik op Ellen se skoot beland, vasklou aan haar ma.

“Ja, toe, julle hou haar klein,” sê Malie.

Maar kan nie help om ook te lag oor die kind wat ouderwets genoeg is om te weet waarvan daar gepraat word nie.

Malie vat vir Wietie saam Langebaan toe. As sy iets wil verdien, kan sy dit daar gaan doen. Leer kook by die lagoonvroue wat sulke lekker viskosse maak, pienang en triepa, smoorvis en pêrekloutjies, kreefkoekies en vissop. Alles goed wat sy kan verkoop aan die seebadsmense ná die dorstyd; daar is volop geld te maak. Ant Esther moet maar self sien en kom klaar op De Hoop.

Soetloop

Подняться наверх