Читать книгу Soetloop - E. Kotze - Страница 6
3
ОглавлениеEers ná twee weke kom Ellen, nog effe onvas op haar voete, met die toegedraaide baba kombuis toe. Nie ’n mooi kind soos haar ander dogters nie, donker, met ’n smal gesig. En tog iets van Claas: blou oë, hoë wangbene en fyn neusbrug.
“Daar kan dalk nog later iets van kom,” sê Nieko toe hy die kombersie wegtrek.
Maar sy’s nie ’n lekker babatjie om vas te hou nie. So klein en so kwaai! Sy blaas soos die huiskat, wat die hele petalje van die vuurherd af met spleetoë sit en beskou.
Die mense kom net een keer kyk en nie weer nie. Ellen is ook nie gretig om te wys nie. Net maar nog ’n kind. Die eerste drie dogters het sy en Claas met trots ten toon gestel. Met Nieko se doop was almal saam op De Hoop, haar ouers inkluis. Die afstand is nie ontsien nie.
Om verstaanbare redes was dit met die res van die kinders nie moontlik nie. Altans, nie vir Claas en Ellen nie. Waarna sou dit lyk, ’n vrag armlastiges op ’n donkiekar wat van Laaggelee af vir haar familie gaan kuier?
Haar ma-hulle het nie die volle afmeting van haar en Claas se armoede besef nie, die leef tot op die been, dermskraapsel. Toe hulle al vier jaar op Laaggelee gebly het, het haar ouers hulle kom verras. Kom gelukwens met die sesde baba, ’n sewende reeds op pad. Dit was ’n verleentheid.
Al wat Ellen in die huis gehad het, was die gesoute bladjie van ’n lam. Sy het dit dadelik gestop met ’n vulsel van broodkrummels en uie, pietersielie uit haar huistuintjie wat toe nog nie heeltemal verdroog was nie, en ’n eier. Toe al het sy die voordeel van ’n lang sous geken waarmee sy ’n kossie kon rek. In papierdun skyfies gesny het sy die lam voorgesit saam met meelkluitjies en gestoofde droëperskes, van dié wat haar ma saamgebring het.
Sy was te trots om haar nood te kla, om te erken dat die kinders soos vee op die plate verkrimpte hotnotsvytjies wei. Maar haar ma het daardeur gesien.
“Dit moet eers sleg gaan voordat dit beter sal gaan,” het haar ma getroos. “Julle het ’n flukse krosie waarop julle nog trots sal wees. Armoede kan ’n seën ook wees, my kind. Mense leer om saam te staan, mededeelsaam te wees, vir mekaar om te gee. Al wat julle moet doen, is om vir hulle ’n liefdevolle huis te gee.”
Maar het sy en Claas ooit so ver as elf gedink?
Met loontyd kom lê hy sy gasie van een pond soos ’n boetedoening in haar hand. Die maand se rantsoenskaap word geslag en gepekel. Maria Jordaan kom skraap die afval en vat die harslag, waarvan Ellen self sop kon gekook het, vir haarself. Claas verhandel die vel vir aartappels en uie, vang ’n duiker in ’n strik, maak tasaaltjies winddroog. Op pad van die skool af kom die kinders op ’n swerm kelkiewyne af en Nieko gooi ’n paar dood. Claas maak skoon en braai hulle in die platpot.
Hy’s soos ’n hond wat vet gesteel het, stert tussen die bene, hy kan nie genoeg vir Ellen doen nie. Bedags wei hy met die vee op die rand van die kliprug, al om die huis.
Sy voetvallery ten spyt sê sy een aand: “Hier’s nie plek vir jou nie.”
Dit kan hy nie kleinkry nie. “Die kind is tog al drie maande oud. Watse geite het jy nou weer?”
Is daar dan nog ’n geit van haar waarvan hy nie weet nie? Deur die jare het hy haar geite maar alte goed leer ken. Sy laat loop haar dogters nie kaalvoet nie, hy sal sorg dat hulle skoene het. Lang ure sit hy op die buitekamer se drumpel gebukkend oor die skoenlees. En skool toe sal hulle gaan, al stap hulle ook Patnoster toe. As dit reën of te warm is, moet hy die kar inspan. Tot hy haar dit maak verstaan het dat Nieko oud genoeg is om vir hulle ’n skuiling agter ’n kersbos te prakseer en ’n vuur kan aanslaan om hul klere droog te maak. En as hulle op ’n warm dag op ’n geelslang afkom, kan hy dié doodslaan.
Ellen blaas haar op. “Dink jy dis fatsoenlik dat jy langer by my lê?”
“Vrou! Ek is darem nog jou man, en dis my kamer ook.”
“Solank jy jou gedra. Hierdie is ons laaste kind, daar sal nie meer wees nie.”
“Maar beteken dit … ?”
“Ja.”
Sy boender hom uit buitekamer toe.
Weke lank is daar ’n yskoue stilte tussen hulle.
Dis asof al die bekommernis en onenigheid voor die geboorte Ellen se moed gebreek het. Sy sit vir lang tye net stil voor haar en uitstaar, haar gedagtes nie by die kleintjie nie, maar by haar eie kinderjare. En al die jare tussenin, jare wat onherroeplik verby is.
Sy was ’n nooi Basson, afkomstig uit die vrugbare valleie aan die westelike voethange van die Piketberg, waar ’n koel plaas ruimskootse oeste oplewer en water uit fonteine borrel waarmee boorde en tuine natgelei word. Daar is dwarsdeur die jaar geoes, steenvrugte en sitrus en gesaaides om die beurt. Pampoene op die platdak, bosse uie in die skuur, kwepers en granate op die solder.
Daar was ’n vlytige ouma en ’n ongetroude tante wat Ellen en haar suster leer naaldwerk doen het. Borduur en hekel. In ’n bêrekis is stapels kant opgevou, en beddegoed van onverwoesbare linne, onderrokke en nagrokke met eweredige opnaaisels, die soomstekies byna onsigbaar.
Dis ’n kuns wat sy weer aan haar dogters oorgedra het so goed sy kon, maar tot haar spyt en frustrasie nie altyd ewe suksesvol nie. Daar was nie net te veel van hulle nie, maar in sekere opsigte te min wanneer Claas hulp nodig had om velle te brei of riempies te sny. Dit terwyl sy swak moes toekyk as ’n fyt in haar hand nie wou deurbreek nie.
As jong meisie reeds het sy haar eie idees gehad. Saans wanneer hulle by kerslig om die voorhuistafel sit, die silwer vingerhoede die naalde deur die linnedraad stoot om voorletters op kussingslope te borduur, het sy vir haarself onderlyfies gemaak met geborduurde blomme wat deur haar boklere van deursigtige moeselien skyn.
“Waarom moet jy so ydel wees, Ellen?” sou haar tante afkeurend sê.
Sy weet nie, dis maar haar aard, sy is so gemaak.
Sy het nie soos ander Victoriaanse meisies vir ’n kêrel sit en wag om te trou en kinders te hê nie. Sy wou onderwyseres word. Sy het tot standerd sewe geleer en toe les gegee vir die kinders in ’n nabygeleë plaasskool, later goewernante geword in ’n laerskooltjie in die Voorbaai. Op sewe-en-twintig verloof sy haar aan Claas Prins, ’n rossige jong man met die oë van ’n vrou, blou met digte wimpers, sy wange bedek met ’n kort rooi krulbaard.
Hy was pas twintig, sy amper op die rak. Maar met uitsonderlike kwaliteite: aantreklik met haar soel vel wat teen die skerp son bestand is, fluweeldonker oë, gladde swart hare wat sy in haar nek opgedraai het, ’n roomwit hals en vol, ferm borste, ’n middeltjie wat ’n man met twee hande kon omvat.
Claas sou binnekort die boerdery by sy pa oorneem. Sy ouer broer is oorlede toe die voorwiel van ’n wa ’n klip vang, omkeer en oor hom rol, waarna hy nooit weer bygekom het nie. De Hoop is nie ’n uitermate groot plaas nie, maar die Prinse was gesiene mense, boereadel van die Agterbaai.
Die woonhuis is onopgesmuk, met strak sygewels, maar stewig en ruim. Smal dubbeldeure maak oop op ’n stoep sonder veranda. Wit kalkkliptrappies lei na die werf sonder ’n grasspriet of boom, net die klompie bloekoms tussen die huis en die waenhuis en stalle. Dakwater word in ondergrondse sementtenke opgevang. Niks uitspattigs nie, maar ’n onderliggende vertoon was sigbaar: porselein en silwer en damas.
“Ons dek binne, my kind,” wys Elisabet Prins die nuwe skoondogter tereg.
Daar word nie in die kombuis geëet nie. Soggens, smiddae en vir die aandete word daar in die eetkamer aangesit. Soms is die aandete eers negeuur verby, na gelang van hoeveel plaaswerk daar is, daarom word volgens tradisie “vieruur” gehou, die tafel gedek met ’n gestyfde doekie en bordjies waarop snytjies gesmeerde wit rosyntjiebrood voorgesit word.
Claas was altyd aan die draf, sonder dat iemand agterkom wat hy doen. Nie ’n saaiboer nie. Diere wel, daarom is hy van jongs af by die skaap gelaat. Hy het ’n knap vrou nodig gehad, met ’n goeie skoot vreemde bloed. Die Prinse is aan’t eie raak. Ewenwel, te eie met die Laumbaarts.
Van die Laumbaarts het Ellen voor haar troue nog net gehoor. Wie in die omtrek het nie? Die patriarg, Samuel Laumbaart, was oorspronklik uit die Boland, maar eintlik is dit sy seun Sam, op Nuwepos aangrensend aan De Hoop, wat almal aan die naam Laumbaart ken. Die Prinse en die Laumbaarts was feitlik bure, maar so uiteenlopend, hulle kon van verskillende nasionaliteite gewees het, veral Sam met die hoë voorkop, wye neusvleuels, smalgetrekte mond, bleek oë en militêre snor.
Tog is hulle stamverwant: Nicolas Prins is met Sam se suster Elisabet getroud.
“Dis nou my ma,” moes Claas aan Ellen uitlê. “Sam is pa Nicolas se swaer, my oom.”
Bloedfamilie. Kan daar iets goeds van so ’n ondertrouery kom?
Oënskynlik.
Sam Laumbaart het ’n perdesweep nodig om sy eiendom bymekaar te hou, word daar agter sy rug gesê. Vir elkeen van sy seuns pag hy ’n plaas.
Op De Hoop boer Claas en Ellen fluks vooruit. Ellen skik haar na die wil van haar skoonmoeder, wie se huis dit immers is.
Die stoepkamer met ’n binnedeur wat aan die jonggetroudes toegewys word, pas haar. Dit gee aan haar en Claas daardie bietjie privaatheid waarna hulle soek. Die bed is ’n geskenk van haar ouers, die kom-en-bekerstel van haar ouma, die skildery van hul plaas ’n poging van die oujongnooi-tante: ’n waterval wat uit die berg stort, ’n leivoor langs die huis, ’n blomtuin met spatsels kleur. Bokant die bed kniel ’n gehekelde engel in ’n biddende posisie.
Die katel met die verematras waarin hulle aand ná aand weggesak het, was ’n broeimasjien. Eers was die jong Claas versigtig in die huweliksbed. Wat sal Pa en Ma dink? Asof hulle nie ook eens jonk getroud was nie, wou Ellen sê.
Gou was dit elke somer ’n dogter, drie binne vier jaar. Toe kom klein Nieko. Hoesees en palmtakke voor die eselin. ’n Erfgenaam vir De Hoop.
By Nieko sal dit nie bly nie, meen Claas, hulle het grond nodig vir die ander seuns. Dis vir hom ’n uitgemaakte saak dat vee ’n beter proposisie as saaiery is. Die seedou maak roes in die koring; dis ’n omslommernis om die saad elke jaar eers met kalk te behandel. Hy praat sy pa om. Hulle huur aanvanklik ’n deel van Laaggelee en koop toe.
’n Put sonder bodem, blyk dit gou te wees.
Meer grond bring groter uitgawe mee. Dis die maklikste manier om ryk te word, maar ook om bankrot te gaan. Teëspoed ry die Prinse reeds die eerste jaar. Die souwes vee die aarde kaal; die gesaaides wat as voer moet dien, waai weg. Wolpryse is swak, winkelskuld hoog. Baie gou besef Nicolas hy het sy hand oorspeel toe hy sy kosbare kontant in Laaggelee gesteek het.
Die Prinse wurg. Elisabet is dit breed gewoond. As die kapkar ingespan word, trek sy haar aan vir die dorp. Die vroumense besef nie die erns van die dilemma nie, en Claas reken sy groeiende gesin nie as ’n ekstra uitgaaf nie – hoeveel eet ’n kind nou? Maar die skuld eindig nie by die Jood se winkel nie.
Nicolas sien al hoe kom sy goed onder die hamer. Hy het ’n fout gemaak, te groot gedink en te groot gewaag. Al kry hy ook ’n koper vir Laaggelee – wat nie maklik sal gebeur nie – sal hy nie sy prys kry om die skuld te delg nie.
Elisabet gaan klop by haar broer aan, iets waarvan Nicolas niks hou nie. Dat ’n vrou namens hom moet intree, laat hom na ’n swakkeling lyk. Sy sien dit in ’n ander lig. Die Kamer op die dorp vra ses persent rente; haar broer sal seker nie hul ore van hul kop af trek nie.
Maar Sam stel blykbaar glad nie belang nie. Tot haar ergernis lag hy haar uit toe daar geld gepraat en ’n bedrag genoem word.
“Vir daai stuk waaisand!”
“Waarin jy jou vee ook jaag en van ons wagters laat oppas. Ja, toe!” kap Elisabet terug. Sy’s nie verniet ook ’n Laumbaart nie.
Skynbaar uitgevang, verander Sam se houding. Hy word meer toegeeflik en kom hulle tegemoet. Hy gaan ’n kontrak met hulle aan: Hy leen die geld renteloos aan Nicolas, met die verstandhouding dat die bedrag ná twee jaar terugbetaal word. Dag en datum word bepaal.
Hulle teken op die dorp, voor die prokureur. Die kontrak kry ’n stempel op.
’n Ruk lank rol Nicolas snags rond.
“Voel jy nie lekker nie, my man?” vra Elisabet en gee hom iets te drinke teen die winde.
“My vrou, om vir siekte wakker te lê is niks … maar vir skuld!”
Nicolas het die ongemaklike gevoel dat hy De Hoop verpand het. Hulle het nie rekening gehou daarmee dat Sam ’n woekeraar is wat koop en verkoop nie. Hy het reeds meer as een plaas by Nuwepos geïnkorporeer.
“Hy’s my broer,” sê Elisabet ontstig, “hy sal dit nie aan my doen nie!”
Nietemin, toe die tyd om is, wil Sam sy geld hê. Hy sê die kontrak op. Hy druk Nicolas. Hou hom doof vir sy suster se gepleit oor Claas se vier onskuldige kindertjies, en ’n vyfde op pad.
“Jy het self kinders, Sam, en kleinkinders,” smeek Elisabet.
Waarvan een op huurgrond in die Koeberg boer omdat sy vrou nie ’n plaas het nie, verweer hy hom. En dogters waarvan twee nog nie man het nie, wat waarskynlik oujongmeisies sal word, vir wie hy voorsiening moet maak, ’n huis op die dorp koop en kontant agterlaat.
Haar pleitrede roer hom nie. Be kind to yourself before you are kind to others, is Sam Laumbaart se geloof.
Hulle staan weer in die prokureur se kantoor. Waar wil jy skelmer kry as dié nasie? kla Nicolas. Waar anders kom Sam aan die slimmigheid? Hoeveel kry die regsman onder die tafel deur?
Die prokureur verduidelik: Sam is nie onmenslik nie, hy wil hulle nie afgooi nie. In werklikheid skeld hy Nicolas die veertienhonderd pond kwyt wat Laaggelee nie werd is nie. Daarby neem hy De Hoop se opgehoopte skuld oor. En sy grootste toegewing: Hulle kan op die plaas bly so lank hulle wil. In die kleihuis agter die stalle. In werklikheid sal dit baie min verskil maak; hulle het vruggebruik, eet en drink verniet.
Vir Claas gee hy woonreg op Laaggelee, waar die man hoeka meeste van sy tyd deurbring. Hy en Ellen kan net so wel soontoe trek, daar’s ’n yslike werf vir die trop kinders.
Die dag op De Hoop toe hy die papiere moes teken, het die kort, blonde Nicolas Prins wat nooit ’n harde woord geuiter het nie, sy vuiste gebal en ten hemele gevloek. Sy gesig so rooi soos ’n kwaai kalkoen, hy kon ’n toeval gekry het. Dink daaraan, Nicolas Prins niks meer as ’n bywoner op sy eie grond nie, en sy seun ’n veewagter!
Hy het ’n vloek oor die Laumbaarts uitgespreek, tot in die derde en vierde geslag. Al die plae van Egipte is op hulle afgesweer.
Elisabet het albei haar hande na haar broer uitgesteek, maar Sam het reeds omgedraai en oor die werf weggestap. Dit was ongelooflik – sy eie suster! Sy het inmekaargesak en moes ingedra word.
De Hoop word ontruim op ’n dag wat die suidewind troosteloos oor die werf se gruiskors waai. ’n Suster van Claas, getroud met Milanner, gee herberg aan Nicolas en Elisabet op Kalkrug. ’n Muilwa ry hul meubels weg. Die handjievol skaap wat aan hulle toegesê is, is reeds vooruit.
Claas en Ellen was ewe oorbluf. Hulle het nie geweet waarheen om te draai nie. Na haar ouers vir seker nie, wat weet Claas van vrugte?
Ellen wat skoolhou? Met vier en ’n halwe kindertjies? In een van Patnoster se platdakhuisies gaan bly?
Feit is dat Claas gemaklik grootgeword het en dat sy pa altyd vir hom gedink het. Hy het nooit hoef te wonder waar die volgende brood vandaan sal kom as die laaste sak koring teen die soldertrap afgedra word nie. In sy oë was die huis op De Hoop onverwoesbaar.
“Wat kan ek doen, Ellen?”
Sy het hom innig jammer gekry toe hy so met hangarms voor haar staan. Sy was nog nooit liewer vir hom nie, só met die lig uit sy oë en sy geredelike glimlag van sy gesig af gevee. Sy wou hom onthou vir die manier waarop hy sy skaaptrop laat wei.
“Ek sal saam met jou Laaggelee toe trek, Claas. Ons kan dit daar ook mooi maak.”
Soos Josef en Maria vlug hulle die woestyn in op ’n donkiekar, sy met ’n baba in die arms. En ’n klompie pluimvee in ’n hok.
Hulle was toe nog ordentlik, hulle het goeie klere gehad. En trots. Ellen het die verwagting gehad van jong lammers wat in die lente op die werf rondhuppel, hanslammers wat die kinders bottels melk voer en waarvan sy die wolgeld vir haarself hou.
Laaggelee se kliphuisie waarin Claas partykeer oornag het as hy duinsiek skaap moes bymekaarmaak, was kwalik ’n onderdak, maar hulle sal dit mettertyd verbeter, het sy aanvanklik geglo. Maar tot vandag toe bly hulle nog net so, met die enigste verskil die platdakbuitekamer wat aangelap is.
Saam met die seisoene het die jare oor Ellen se kop gerol: die noordeweer wat uit die see opstaan, reën in die nag, afgewissel met sonskyn, opslag tot in die agterdeur, lente gepaard met digte mis, die suidewind wat die manatokboom skeef druk en hand-in-die-sy laat oorhel. Die barre somers wanneer die water in die bakke opdroog en sy die optog oor die duine met die span kinders en die wasbondel moet aanpak.
By die soetloop op die strand moet sy inbuk, week ná week. Inseep en vryf en bleik, en inseep en vrywe, vrywe, vrywe. Salpetergeel sweetvlekke onder die arms van Claas se onderhemde, in die mik van sy meelsakonderbroek. Oor en oor, net soos hy met die bondel osrieme by die paal in die hittige son. Opdraai en afwen en brei, opdraai en afwen en brei.
Claas reik almaardeur terug na sy kommerlose jonkmansjare. Sy gereelde aanloop is Kalkrug, waar hy bederf word deur sy suster en waar sy ouers ook nog is. Ná De Hoop sit hulle op Kalkrug en kwyn, bly hulle verknies oor dinge waaraan daar geen keer is nie. ’n Mismoedigheid wat aansteeklik is. Oupa sug en Ouma se ken bewe. Nie eens ’n oulap om in ’n kleinkind se hand te stop nie. Ouma bak nie meer koekies nie, die kleinkinders word weggestuur met ’n sakkie krummels wat hulle in koffie week en met lepels uit die skotteltjie eet.
En gereeld soos klokslag kom soek Claas troos by Ellen. En maak nog ’n kind.
Hulle word een ná die ander op Laaggelee gebore: drie dogters, Anna, Dol en Wietie, ’n seun, Antonie, en ’n dogter, Claasie. Daarmee was al die oumas en tantes vernoem én sy en Claas – Claas twee maal. Toe nog Susanna.
Ellen kon nie meer byhou nie. Sy, eens so vlytig en die planmaker, se draad het mettertyd kort geraak. Sy hol van binne uit soos ’n uitgedroogde kalbas, vroegtydig uitgeblom, aan’t verdor soos gras.
En nou, met hierdie laaste enetjie, is dit asof haar verstand gaan stilstaan het. Sy laat die naamgeëry aan Claas oor.