Читать книгу Soetloop - E. Kotze - Страница 12

9

Оглавление

Voor Kersfees kom die slaghoenders in die hok en daag Cecilia op.

Klein soos ’n tinktinkie lyk sy vir Kattie, wat dit nie verder as die middeldeur waag nie. Daarvandaan staan en verwonder sy haar aan die tweekleur-hoëhakskoene, wit en donkerblou en skerp gepunt, die sykouse aan Cecilia se voëltjiebene. Sy het oom Michiel se skraal gesig, reguit neus en ronde ken; sy’s fyn en vlug met fladderende handbewegings.

Hulle sit soos kuiermense in die groot voorhuis, Cecilia slaan van Engels na Afrikaans toe oor. Sy het aan ’n Engelse college gestudeer en het ’n Engelse kêrel, vertel Janet, wat maak of sy alles weet.

Kattie word gestuur om ekstra teemelk in die kombuis te gaan haal. Toe sy terugkom, het ant Esther dit oor die oorlog.

“Die arme Ellie Moore se Johnny het gesneuwel by … Waar’s die brief, Kattie? … Ja, hier … Bellville-bos.”

“Delville, Mammie, in Vlaandere,” help Cecilia haar reg.

Hede, kraak die dun skryfpapier. “Hoe lees julle kinders?”

Al hoor hulle nie van Miekie nie, moet hy nog iewers wees, glo ant Esther. “Anders het ons al berig gekry soos Ellie. Hulle het die telegram by haar huis kom afgee, in haar hand.”

“Julle moes hom nooit laat gaan het nie!” Cecilia se aanvallende stem sny deur murg en been. “Miekie is nie oorlogmateriaal nie.”

“Miekie skiet soos ’n perd skop,” val Janet tussenin. “Jy moet hom met die seloentjie sien, kolskote!”

“Ag, al wat Miekie in sy lewe doodgeskiet het, was Mammie se twee mak tarentale.” Cecilia gaan onverwags aan die lag. “En toe maak hy of dit ’n ongeluk was. Ek het nog altyd gesê daar’s hopeloos te veel wapens in die buitekamer, die haelgewere, die Mauser én nog die pistole.”

Hoe naïef kan mense wees? Om te dink die oorlog sal binne weke verby wees, en nou is dit al meer as drie jaar. Die Duitsers en Engelse slag mekaar af in die loopgrawe, die rotte vreet aan hul ontbinde lyke. En asof dit nie genoeg is nie, wil Amerika ook nou inklim.

Die wind wáái oor die stoppellande en oor die werf, druk die bloekombome skeef, die hoenders se stertvere waaier oop.

Die jêmtertjies het nie vanjaar na wense gerys nie, sal dit ’n voorbode wees?

Cecilia maak ’n Krismisrok vir Janet. Kattie het gehoop sy kry ook een, daar is genoeg lap, maar dit gebeur nie. Sy kan knopies aanwerk en rafels opvee.

Dan kom Cecilia met ’n bondeltjie wasgoed kombuis toe. “Vryf asseblief vir my uit, Katstertjie. Versigtig, hoor, en hang in die koelte op, nie oor die doringbosheining nie.”

Kattie bevoel die onderklere. ’n Onderrokkie van blinkswart materiaal en broekies sonder rekke, ’n band om die middel wat soos ’n skirt in die sy vasmaak en wye pype met breë strokies kant daarom, pragtig met die hand genaai. Sy hou een op en pas dit teen haar lyf. Haar ou broek voel soos ’n stuk seil, dit skaaf tussen haar bene. O, hoe wens sy …

Toe Nieko vir Kattie kom oplaai, roep ant Esther agterna: “Jy hou nie langer as ’n week Krismis nie, ons het nog mense!” Cecilia bly mos tot die end van die maand.

Kattie kyk nie om nie, maar sit kiertsregop langs haar ouboeta, haar mond geplooi asof sy ’n soetigheidjie pruim.

Nieko het tamaties en skorsies en geel spanspekkies op Rietvlei geoes; die namiddag eet hulle rooiryp waatlemoen. Hy het ook versierings van hout saamgebring vir ’n Krismisboom. ’n Tak van ’n doringbos met ryp oranje bessies word op die kombuis se vensterbank in ’n emmer staangemaak.

Kattie mag een van die gekerfde takbokkies vir Janet saamneem. Só iets is daar nie in die Laumbaarts se huis nie; die krip en eseltjies en Josef en Maria en die Jesus-kind behoort net aan hulle. Julle is ons s’n, ons familiegoed, gesels sy met die Jesus-familie onder die doringbostakke op die vensterbank.

Hulle smul aan al die heerlikhede, die Kaapse lekkergoed wat Ellie en Liesie gebring het, Wietie se vars kabeljou van Langbáán, en skaapboud en hoender en jellie en vla.

“Jy het soos ’n derm gerek. Hoe oud is jy?” vra Nieko.

“Nege,” sê Kattie en strek haar uit.

Na regte – sy is Meimaand tien – moes sy nou in standerd een gewees het. Al het Ellen haar by die huis geleer, het hulle haar in die skool teruggehou sodat sy en Janet saam kan wees. Hulle leer uit dieselfde boeke. Sy is slimmer as Janet, maar sy mag haar nie wen nie.

Nieko se wenkbroue klim teen sy voorkop uit. “En jy het nie ’n mond om te praat nie?”

“Moenie die kind allerhande goed in die kop prent nie,” keer Ellen. “Sy’s kapabel genoeg en gaan rebél. Sy’s alte rapat.”

Kattie weet selfs die dinge wat meester Senkiejôn die standerdsesse leer. Hoe die ysberge gesmelt het en die seë die land oorstroom en deurgestoot het van Saldanhabaai af tot in St. Helenabaai. Alles onder water; hier waar hulle nou sit, was miskien ’n paar eilandjies. Die Bergrivier het in die lagoon uitgeloop en die diere was nie gewone kleinwild soos bakoorjakkalse en steenbokke en skilpaaie en muishonde nie, maar olifante en bere, en gorillas het in palmbome rondgeswaai.

As sy nou al so slim is, wat sal sy hulle nie kan vertel die dag as De Hoop se deur agter haar toeklap nie?

Die ouer susters fluister onder mekaar. “Wat dink julle van Pa wat nou weer by Ma in die kamer slaap?”

Net tydelik, en op die ysterkooitjie teen die oorkantste muur. Met een span meisiekinders by hulle en nog ’n span by Malie en Leopold in die buitekamer. Daarby nog die jonger Taar-broer, Fernand, vir wie Ellen nie gesig het nie. Maar moes hy dan alleen op Langbáán agterbly, met sy ma wat ook in ’n koers in is?

“Is hy nou Wietie se kêrel?” vra Kattie.

Ellen sê daar kom níks van nie, en amper is daar ’n struweling op die Krismis.

Dit laat Wietie na die skêr gryp en Kattie se kop ’n nuwe fatsoen gee: kort en glad soos ’n kupiepop. Koeskop, terg die broers haar.

Die ouer kinders let op dat sy by die dag stiller raak hoe nader dit aan die einde van die kort vakansie kom. Wil sy nie teruggaan nie? Móét sy? Kan hulle nie maar ’n ander plan maak nie? Saam met Malie of Nieko?

Die teenkanting kom vreemd genoeg van Ellen.

“Die kind is nie ’n klip wat heen en weer gegooi kan word nie. Sy moenie nou weer van skool verander nie. Sy leer goed en sy werk haar nie dood nie, sy moet ten minste haar kos verdien. Buitendien is sy naby die huis, sy kan hiernatoe stap as sy wil. Sy kom mooi aan, het selfs ’n bietjie vleis aangesit.”

Nogtans lyk Kattie kroes. Die laaste oggend maak sy of sy siek is en trek haar kop onder die kombers toe, waar Wietie haar later kom uitboender.

“Toe, lig vir jou, ek wil die kooi opmaak. En Ma soek jou wasgoed. Kom, gee jou naghemp.”

Kattie voel kaal soos ’n hoender wat veeraf getrek is toe sy die naghemp uittrek. Sy probeer toehou.

“En dié broek? Laat ek bietjie sien!”

“Sommer …” Die swart broekie met kant om die some en ’n slip in die sy.

“Waar kom jy hieraan?” Wietie hou die fyn affêretjie aan haar vingerpunte op.

“Cecilia,” prewel Kattie.

“Ga,” snuif Wietie, “die ene kattelaventel! Hoe lank dra jy dit nou al?”

Van voor Kersdag af, toe sy die bondeltjie onderklere moes uitwas. Pantie, is wat Cecilia dit noem. ’n French pantie.

“En nou is dit joune?”

“Ek het dit net aangepas.”

“En jy hou dit sommer aan en dink jy sal daarmee wegkom? Wat het jy met jou eie gemaak?”

“Niks aangehad nie.” Hare was vuil.

“Dis nou ’n geneuk. As Ma hiervan moet weet!”

Hulle moet ’n plan maak. Wietie laat Kattie die broekie deeglik was en uitsmokkel om agter die huis oor die vinkelbos te hang om droog te word.

“Ek wil nie dink wat ou Esther gaan sê as dit uitkom jy het gesteel nie! Jy weet dis steel? Dis ’n skande, en dis sonde. Jy kort ’n deftige drag slae. Verstaan jy dit? As ant Esther ’n kind se kop tussen haar knieë vasknyp en met jou klaar is, weet jy jy’t ’n pak weg. Hoe sê jy jy’s jammer?” Wietie preek amper so erg soos Ellen.

Kattie voel hoe die suidewind haar rok lig en oor haar kaal boude speel. En skielik vlam sy rooikwaad op.

“Ek het net aangepas, nie gesteel nie! Steel is om dit geheel vir jou te vat soos toe hulle oupa Nieklaas se plaas gevat het. Dit was steel!”

“Hene, kind, moenie dat hulle jou dit hoor sê nie! Die mense sal jou in die tronk gooi. Ons is te arm om te vat wat nie ons s’n is nie. Jy loop gee Cecilia se klere terug, as jy nie op jou moer wil hê nie!”

Kattie moet by Claasie ’n bloemer leen, waarvan die pype net-net onder haar roksoom wil uithang. En die skande sluk; die seerkry, die gevoel van verwerping en skade aan eiewaarde wegsteek onder ’n skil van dapperheid.

Terug op De Hoop bring Nieko die kar om tot by die voordeur, knoop die leisels aan die wiel vas en tel Kattie af. Terselfdertyd gaan die voordeur oop.

“Kom af!” nooi oom Michiel hartlik.

“Dankie, oom, maar ek sal nie vertoef nie, dis nog ’n stywe ent Rietvlei toe. Ek het net vir Kattie kom aflaai.”

“Ja, Kattie. Dag, kind. Janet, kom kyk wie’s hier! Cecilia! Waar’s die kinders? Hulle het haar gemis.”

Janet en Cecilia kom tussen die jong bloekomboompies uit waar hulle die kar eers beloer het, en vir Nieko, wat ’n aansienlike jongkêrel is. Eens as kinders saam op Patnoster se strand gespeel, nou dra hy ’n baard, lig en krullerig soos sy hare.

Cecilia is die ene glimlag. Haar oë is groenbruin gespikkel, met daardie trotse Laumbaart-kyk.

“Is dit tog nie jy nie?” vra sy heuningsoet.

“Ja, en jy?” groet Nieko.

Kattie voel haar bloemerpype afsak. Nieko buk oor haar. “Gaan sit gou jou goedjies binne, dan ry jy saam tot by die hek.”

In die voorhuis steek sy vas, loer of ant Esther haar nie sien nie en draai links na Cecilia se kamer. Sy sit die swart kantbroekie terug op sy plek. Doef-doef! klop haar hart met harde slae.

Buite staan almal om Nieko. Hy wil ry, maar kom ook nie weg nie. Oom Michiel vra uit en hy vertel van sy groente en die waatlemoen en spanspek wat nou ryp word. Volgende jaar wil hy wingerd plant.

“Waar nou weer?” Ant Esther nooi hom nie in nie, maar wil darem nuuskierig weet.

“Op Rietvlei, tante, ek huur van die Louws.”

“Ek wil al sê. Julle het mos nie grond nie.”

“Ja, is ek nie gelukkig om vrugbare grond en volop water te huur te kry nie. As ’n man lus het vir werk.” Sy skouers beur teen sy blou hemp, en dié keer noem hy haar niks.

“Ja, julle wat nie Duits-Wes toe is nie, het die voordeel om te kan woeker. Arme Miekie …”

Cecilia klik haar tong ongeduldig. “Mammie, hou tog op om vir Miekie jammer te kry. Hy het daardie nuk in hom, en jy kan hom nie keer nie.”

Haar rok skuif tot bo haar knieë toe sy haar voet op die hoë trappie lig. “Wanneer laas het ek op ’n muilkar gery?”

“Cecilia!” roep ant Esther onthuts. Maar sy sit reeds.

“Ek voel sommer lus en ry saam.” Sy lag koket met Nieko. “Hoe ver is Rietvlei?”

“Die vraag is hoe kom jy terug? Jy sal tot volgende week moet oorbly.”

“Ek gee nie om nie, laat ons gaan!”

“Ek ook!” roep Janet toe hy vir Kattie optel en klouter agterna.

’n Hele muilkar vol laggende meisies op die Sondagmiddag. Hy gooi hulle by die hek af.

“Reken, so verwaand, om voor om te kom. Met ’n paar esels,” pruttel ant Esther.

“Maar uitgevrete diere, blink van haar,” antwoord oom Michiel.

Kattie waag dit nie om iets te sê nie. Sy is steeds versigtig, want sê nou die pantie ruik na vinkelbos?

Daar lê bondels wolle onder die beddens. Niemand het aan die kant gemaak terwyl Kattie weg was nie. Die katspoortjies lê asvaal op die voorhuistafel.

Onderwyl Cecilia besig is met naaldwerk, vra sy uit na Nieko. Het hy ’n meisie?

Kattie wil eers haar skouers optrek, maar vertel dan van die Duitse meisie van Philippi waarmee die susters Nieko heeltyd gespot het.

“Is sy mooi? Het julle haar gesien?”

Kattie knik.

“Aag, issie waarie,” sê Janet jaloers. “Hy sal haar tog nie na daardie ou huis van julle bring nie, ’n mens kan sien julle is arm …”

Sonder om te dink, lig Kattie haar hand en gee vir Janet ’n taai klap. Op die ronde wit deegwang lê vier rooi vingermerke afgeteken.

Sy kry van ant Esther die pak waarvan sy tot sover net gehoor het. Sy spartel nie eens om weg te kom uit die knyptang waarin haar kop vasgeklem word nie.

Plotseling word Cecilia se vakansie kortgeknip. Sy het te kenne gegee sy bly ’n maand lank, maar hier daag die Engelse kêrel op, in ’n wit langbroek en baadjie en panamahoed.

Tot Esther se ontsteltenis kom hy padlangs aangestap, en dit so warm en stowwerig. Geleentheid tot by die vurk gekry, waar hy summier afgelaai is. Deur wie, kan hy nie sê nie. Blasted old backvelder!

Moet hy nou in die buitekamer slaap, vra Esther onthuts, tussen die geweers en swepe en goed? Tog nie in die vrykamer nie? En wat eet hy? Nee wat, porriets en melk nes hulle almal. En ’n braaibroodjie gemaak op die Bolinder se plate.

Lotjie word opgekeil in die kombuis, die eier moet nog sag wees. Sy dreig om te trap. Loop, sê Esther vermakerig voor die spoggerige jong man, waar jy vandaan kom, is nog, en beter!

“Dis net vir ’n dag of twee, Mammie,” sê Cecilia ongeduldig. “Ons gaan saam terug, Stanley kom help my trek.”

“Trek? Waarheen? Woon jy dan nie meer in die Kaap nie?”

“Ja, Mammie, net na ’n groter kamer, nader aan my werk.”

“Kamer? Het jy dan nie ’n huis in Seepunt nie?”

Cecilia rol haar oë. “Good heavens, Ma! Die Heroldts is jóú vriende, ek het by hulle loseer. Maar ek moes ’n meer bekostigbare blyplek soek, wat ek nou in Woodstock gekry het.”

By die gedagte dat sy moontlik op straat uitgeskop en sonder werk is, tuimel die mooie, slimme Cecilia byna van die troontjie af waarop Esther haar geplaas het. Dit sal nou ’n terugslag wees! Cecilia is nie ’n goedkoop kind nie, haar geleerdheid het hulle ’n fortuin uit die sak gejaag. Hulle verwag dat sy haar skuld sal begin afbetaal.

Dít moes Esther nie gesê het nie. Cecilia klim behoorlik op haar perdjie.

“Beteken dit niks dat ek my hele vakansie om sit en klere maak het nie?” snou sy. Tot ’n paar sakvoorskote vir die kokvrou, omgepipe met Duitse sis.

“En Stanley?” Die jong Engelsman met die ontwykende bruin oë en lang ooghare soos ’n korhaan kom ook onder die loep.

“Wat van hom, Ma?”

Ja, wat? Wie is hy? Wat is sy plan, wat doen hy, hoe lank ken sy hom?

Vir Esther is dit nou ’n saak van lewe of dood; sy is gewoond om haar bors uit te stoot, te spog. Wat is dit skielik met Cecilia? So parmantig, uitdagend!

“Hy’s ’n kunstenaar, Ma, toneelspeler. Ons was saam studente, ek ken hom van amateurteater af.”

Dan is hy op die stage? Vir Esther ruik dit na agterstraat en riool, en ja, die ergste skande wat ’n dogter oor haar huis kan bring.

“Werk jy dan nie in die bank nie? En ons weet van niks!”

Onthuts en vol agterdog beskou sy haar dogter wat veronderstel was om haar tyd agter die boeke deur te bring. Dit verklaar dan die kiekies van Cecilia en haar vriende, pieknieks tussen die dennebome bokant Kampsbaai, die verspotte kleredrag, een van die mans glad met ’n tulband om sy kop, soos ’n koelie …

“A showgirl?” Cecilia se mond vertrek. “My dear Mummy, dis wat ek van julle mense nie begryp nie. So naïef, regte niksgewoonde plaasjapies! This is not the Victorian age, when the stage was synonymous with prostitution.”

“Reken, so vile, how can you humiliate me so?” In krisistye slaan Esther oor na ’n Engelse dialek wat sy glo haar ’n trappie hoër as die boereklas plaas.

Hoe kyk sy weer die mense in die oë? tier sy voort. Vir Dominee en die landdros, die familie, ja, selfs die werfvolk wat alte graag agter die baas en nooi se rug skinner!

Twee dae later is hulle sak en pak weg, Stanley Roberts in dieselfde wit mondering waarmee hy gekom het. Hy sit voor langs oom Michiel op die karbankie, Cecilia agter in die skaduwee van die kapkar op die deurgestikte leersitplek, haar handsak styf op haar skoot vasgeknyp, met die kontant wat haar pa in haar hand gestop het.

“Ant Esther was nog so gaaf, toe jaag sy hulle weg. Laat vat, sê sy, sieks, dat ek my kamer skoonmaak,” blaker Kattie uit toe sy die Vrydagmiddag by die huis kom. Sy’t nie nog gewag vir Claas om haar te kom haal nie, net in die pad geval ná skool, sonder ’n gedagte aan die kwaai bulle tussen die dik slaaibosse.

“Al Stanley se kooigoed is afgetrek en apart gewas, en die vrykamer se vloer met Lysol geskrop. Gefoemmegyt, sê Lotjie, ons moes doeke om ons gesigte knoop voor ons daar ingaan. Die bulsak het sy heeldag op die stoepbank gegooi om te lug.”

Wat nou van Nieko? wonder Kattie. Sy vertel hoe Cecilia aan Nieko se arm gehang het die middag toe die muilkar hulle so heen en weer oor die plaaspad geskommel het.

“Ag, sies vir jou,” trek die susters hul neuse op. As dit van die Prinse afhang, kan Cecilia Laumbaart maar uitskei en klaarkry. En as sy haar visier op Nieko stel, sal dit ’n teleskoop tot op die maan moet wees, en dan is dit nóg te naby.

Op De Hoop mis Kattie haar, die lekkerruiksepie in die porseleinbakkie. Sy hou van Cecilia met haar rooi lippe en naels, haar mooi klere. En sy sal vir niemand vertel van die swart broekie wat sy onder Stanley se kooi uitgevee het nie. Dis nou hare, vir geheel.

Van die pak slae wat sy by ant Esther gekry het, sê sy ook niks. Dit was die moeite werd.

Soetloop

Подняться наверх