Читать книгу Soetloop - E. Kotze - Страница 9
6
ОглавлениеAnna en Dol het ook geeneen sin vir die boeke nie, en ná standerd ses val Dol by ant Jettie Abel se losieshuis in. Anna beland in die pastorie, waar sy onder die vlerk van Dominee en Mevrou ’n godvresende opvoeding kry.
Dominee is nie begaan oor haar nie, eerder oor die res van die Prins-gesin. Daar loop kwaadwillige stories rond dat die seun sy rug op sy ouers gekeer het. En die ouers self … Ellen gee darem nog katkisasie, maar Claas! Daar’s nie ’n stuiwer vir kollekte nie, maar altyd ’n trippens vir ’n bottel wyn.
Dominee sug. ’n Maklike lewe het die mense nie. Nog drie kinders op skool: Antonie en Claasie en Susanna. En onder die tafel met die kat in die arms klein Kattie, soos hulle haar noem. Wat hy nog daar in die huis gaan doop het. Tomasina. Buitengewone naam. Buitengewone omstandighede ook, ’n spesiale toegewing van die kerkraad. Probleem met vervoer hoofsaaklik, die Prinse is afhanklik van geleenthede dorp toe. ’n Mens verwag tog nie ’n vrou van Ellen se ouderdom moet met ’n kind in die arms so ver stap nie. En Claas se twee donkies en mankoliekerige ou karretjie op die onbegaanbare pad …
Huisbesoek aan die Prinse stel Dominee uit tot dit nie meer kan nie. Moet hy dit nou vir die arme mense nog moeiliker maak deur die skinderstories aan die lig te bring en hul privaatheid oop te vlek? Die dilemma waarin die stomme Ellen haar bevind, kon sy tog nie voorsien het nie. Watter keuse het sy destyds gehad toe sy op De Hoop voor ’n vurk in die pad te staan gekom het? Hoeveel moed kos dit nie om van dag tot dag as bywoners op Laaggelee ’n bestaan te moet maak nie?
Wat sy nodig het, besluit hy, is nie kritiek of teregwysing nie, maar bemoediging.
Met die huisbesoek laat hy sy kar en perde by Sam Laumbaart op Nuwepos, waar hy die middag geëet het. Smaaklik gestoomde hotnotsvis met ’n bottersousie en witrys, en uieslaai daarby. Die gemeentevroue doen wonderwerke met die middele tot hul beskikking. Hy is weer eens bewus van hoe geseënd hulle as pastoriepaar is met alles wat hulle uit die gemeentelede se hand ontvang, so ruimhartig dat dit soms vir hom smaak die vroue besteel hul mans. Die versoeking is groot om nie soos Sam eers ná ete ’n rukkie te rus nie, maar dis ’n taamlike distansie na Laaggelee toe en die sandpad is dik.
Ellen sien hom van ver af aankom. Eers net ’n beweging, dan ’n voorwerp, ’n gedaante op die middelman van die tweespoorpad. ’n Kind wat huis toe kom? wonder sy. Toe duideliker die swart manelpante in die wind … Satan of gesalfde?
Dan sien sy dis maar net die dominee.
Met bewende hande trek sy die waterketel oor die vuur, gaan kamer toe en kam haar hare, stap uit op die stoepie.
“Mevrou Prins …”
Dominee aarsel. Is dit nou te formeel? Maar om haar op die naam te noem weer te familiêr … Tog nie, haar dogter woon immers by hom aan huis.
“Ellen,” verbeter hy en haal sy hoed af, vee die sweet met ’n wit sakdoek van sy voorkop.
Sy steek haar hand uit. “Goeiemiddag, dominee. So in die hitte? Kom binne.”
’n Lawende koelte kom hom tegemoet deur die venster wat see se kant toe oopmaak.
Sy bied hom ’n stoel aan. “Kan ek koffie maak?”
“Net ’n bietjie water, asseblief.”
Sy maak ’n glas vol uit die wateremmer onder ’n doek. Bied dit op ’n piering aan. Te laat onthou hy hoe brak dit is.
“Die koffie smaak beter,” sê sy toe sy die uitdrukking op sy gesig sien, ’n siniese trek om haar mond. “Vir tee dra ons soet water van die see af aan as ons die slag gaan was. Of Claas bring van Kalkrug af.” Ook maar net af en toe.
“Ja, dit neem seker tyd om daaraan gewoond te raak.”
“Vir party, ja. Ander sluk swaar – Anna het net melk gedrink. Gaan dit goed met haar?”
Dominee glimlag goedkeurend. “Ja, ja, sy’s ’n flukse meisie. My vrou is baie tevrede met haar. En so ’n mooi stem, saans by die huisgodsdiens. ’n Mens hoor ook net goeie dinge van Dol. Elke biduur saam met suster Jettie in die kerk.”
Die prysrede word onderbreek toe Kattie woedend aan die skree gaan toe Kat haar oor die arm krap. Dominee kry ’n kwaai kyk toe hy probeer troos. Eindelik kry Kattie haar sit op haar ma se skoot.
Voor Dominee met die pastorale gesprek kan begin, val die skoolkinders by die deur in en is die vrede daarmee heen. Hulle sit aan by die tafel en Claasie begin vir hulle kos uit die pot by die vuurherd skep.
“Dis dan nou die laaste drietjies?” vra Dominee. “En nog hierdie enetjie,” met ’n handgebaar na Kattie.
Ellen knik. Die ander is almal uitgeplaas. ’n Vreeslike woord, klink asof dit oor weeskinders gaan. Daarom het sy by elkeen wat die huis verlaat dit ingeprent: Moenie vergeet waar jy vandaan kom nie. Jy het ’n pa en ’n ma. En jy is ’n Prins, onthou vir oupa Nicolas en ouma Elisabet.” Al was dié ’n Laumbaart.
“Jy’s so ’n moedige vrou, Ellen,” sug Dominee.
Hy sluit af met Skriflesing en ’n gebed waarin die Prinse aan die Here opgedra word, Claas en Ellen en elke kind. Ook vir Nieko vergeet hy nie.
“Moenie moed verloor nie,” sê hy ná die Amen. “Soos die verlore seun sal hy terugkom.”
In dié opsig kan Ellen hom reghelp. Het die storie dan nog nie sy ore bereik nie? Seker omdat dit nie kwaadwillig genoeg is nie.
“Nieko is mét ons seën weg, Dominee. Hy’s goed geholpe by Duitse boere in die Kaap.”
“En hy kan in Duits tel! Ein, swein, drein, veer, fûûf!” val die kinders om die tafel weg.
Ellen moet glimlag. “Verskoon tog maar, die kinders kan so uitgelate wees.”
Die godsman neem sy hoed en staan op. Voor hom strek die steil kliprug wat hy nog moet uit om by sy kar en perde te kom. Sy lakense pak reeds so vol stof, die wit boordjie sny in sy nek.
“Die kinders kan die donkies inspan,” sê Ellen. “Hulle is nie te onwillig as ’n mens hulle eers aan die loop gekry het nie. Claasie, gaan help julle vir Antonie. En vat vir Dominee weg.”
Daarby maak sy ’n meelsakkie halfvol droëperskes. Vars van die plaas af met ’n geleentheid gekom. En nuus van haar suster dat die asma Pa die winter so beetgehad het, hy’s regtig sleg en Ma kry nie slaap nie. Albei al in die sewentig, stap aan vir tagtig.
Ja Here Vader, dink Ellen toe sy die slingerende donkiekarretjie agternakyk.