Читать книгу Speurhond Willem en die seerowers - Elizabeth Wasserman - Страница 10

6
Vreemde gebeure

Оглавление

Ek kry gou my seebene. Die skip het absoluut alles waarvan mens kan droom: ’n speletjiesarkade, twee swembaddens en ’n hele paar restaurante met die heerlikste kos.

Ek geniet my gate uit en vergeet amper van Willem. Eers laat die aand kom ek weer terug in ons kajuit, effens songebrand en doodmoeg. My ma is steeds besig om iewers te rinkink, en ek gaan kuier vir my hond in sy linnekamer, gewapen met ’n braksakkie vol lekker eetgoed uit die restaurant.

Ek klop saggies aan sy deur en draai die handvatsel. Die deur is oop.

Willem lê opgekrul in ’n hoek op ’n klomp handdoeke. Hy lyk trietsig. Skielik spring hy op en hang by die oop kajuitvenstertjie uit.

Willem is seesiek!

Druipstert kruip hy terug na sy lêplek. Ek bars uit van die lag.


“Nou toe nou, ou kêrel!” spot ek hom. “Lyk my jy is geen matroos nie!”

Hy kyk my net verwytend aan.

“Kom,” sê ek, “ek vat jou vir ’n stappie op die dek. Vars lug sal jou goed doen!”

Hy knik sy kop instemmend. Sy oë hang. Hy kry homself baie jammer.

“Ek het nooit geweet dit is so erg nie!” kla hy. “Maar ek moet ’n draai loop. Jy het my heeldag alleen hier gelos! Hoe het jy gedink moet ek maak? My blaas raak vol, jy weet, en . . .”

“Oukei, oukei! Kom ons gaan!”

Ek loer by die deur uit. Daar is niemand in sig nie. Die passasiers wat nie alreeds slaap nie, dans bo in die disko.

Ons sluip af in die gang en op met die trappe na die boonste dek toe.

Dit is ’n pragtige stil maanligaand. Die ligte van Kaapstad het lankal agter die horison verdwyn, en ons is besig om langs die ooskus van die land op te vaar.

Willem voel gou beter. Sy stert wip weer op en hy hol ’n paar draaie. Hy lig sy been teen ’n pilaar, en toe . . .

“En wat dink jy moet ek daarmee maak?” vra ek vies.

“Het jy nie ’n plastieksak saamgebring nie?” kap hy terug.

Maar voordat ons daaroor kan redeneer, hoor ons stemme nader kom.

“Gou!” sê ek. “Spring hier in!”

Ons kruip weg in ’n kas waar skoon handdoeke en stoelkussings gebêre word. Die stemme kom nader.

Ek herken dadelik een van hulle. Dit is Preston, die aaklige kelner. Hy praat met iemand. Dit is ’n man met ’n diep, growwe stem en ’n Franse aksent.

“Jy beter sorg dat alles hier op die boot gereed is. Ek gaan môre by Durban aan wal om die laaste reëlings met Robberts te tref. Ek kan dit nie waag om hom te kontak hier van die boot af nie. Onthou net, as jy ’n fout begaan, sal jy swaar boet daarvoor!”

“Ja, ja, moenie worry nie!” sê Preston. “Ek weet presies wat ek moet doen. Alles sal reg wees. Jy kan maar relax.”


Die vreemde man gee ’n snork. Lyk my hy vertrou ook nie die kelner-vent nie.

Hulle staan nou vlak by ons, en ek kan hoor hoe een ’n vuurhoutjie trek. Kort voor lank ruik ek pyprook; ’n tabak met ’n kersiegeur wat nogal nie onaangenaam is nie.

“Jy moet my nou verskoon. Ek moet daai nare spul toeriste gaan bedien. Ek sal glad nie omgee as jy hulle almal vir die haaie voer nie, hoor!”

Ons hoor die kelner se voetstappe wegstap in die donker.

Skielik swets hy vreeslik.

“Wat is fout?” vra die diep stem van die onbekende man met die Franse aksent.

“Ek het in iets getrap! Dit is sowaar hondepoef! Ek sweer dit is!”

“Nonsens! Jy verbeel jou! Hier is geen honde op die skip nie. Maak dat jy wegkom en gaan doen jou werk!”

Steeds swetsend blaas die kelner die aftog.

Die ander man staan nog in die donker en rook. Na ’n rukkie stap hy ook weg in die rigting waarin die kelner verdwyn het. Sy voetstappe raak stil, en ek sien ’n flitslig deur die skrefie van die kasdeur skyn. Hy inspekteer die dek.

“Sowaar!” sê hy saggies.

Na ’n rukkie klop hy sy pyp uit oor die reling en hy stap weg.

Willem sal versigtiger moet wees met sy toiletgewoontes!

Speurhond Willem en die seerowers

Подняться наверх