Читать книгу Speurhond Willem en die seerowers - Elizabeth Wasserman - Страница 6
2
Teëspoed
ОглавлениеMy ma begin bykans onmiddellik inkopies doen.
“ ’n Aandrok of twee – want die etes op die boot is deftig,” sê sy. “ ’n Baaipak, en ’n nuwe sonhoed.”
My pa skud net sy kop.
Maar ’n week voor hulle moet vertrek, kom hy een aand met ’n baie lang gesig by die huis.
“Vroulief,” sê hy op ’n versigtige stemtoon. “Kan ek vir jou ’n glasie wyn inskink, dan kom sit jy so ’n bietjie hier by my?”
My ma vermoed dadelik onraad.
“Wat is dit, Wynand? Sê my sommer reguit en los die mooipraatjies!”
“Wel, jy sien . . .” Hy is duidelik diep in die moeilikheid. Hy stamel nie gewoonlik so nie. “Daar is probleme by my werk. Jansen, wat die oorname van die Wilkens-maatskappy moes behartig, het skielik siek geword. Hulle het my toe gevra om dit te doen.”
“O, maar dit is fantasties, liefie!” My ma glimlag nou
breed. “Dit beteken ’n moontlike bevordering vir jou! Ek weet hoe lank jy al op so ’n kans wag!”
Nou glimlag my pa darem so effentjies.
“Ja, dit is waar. As ek hierdie saak goed hanteer, kan dit my loopbaan ’n goeie hupstoot gee. Maar daar is een probleem . . .”
My ma se gesig val sommer dadelik. Sy weet wat kom.
“Ja, ek is jammer, liefie. Ek moet onmiddellik begin werk hieraan, en dit is hoogs onwaarskynlik dat ek klaar sal wees voor volgende Vrydag.” Hy kyk na die punte van sy skoene, soos iemand wat iets stouts gedoen het.
“Ek het gedink Adriaan kan in my plek gaan?” stel hy versigtig voor.
Ek kan die tweestryd op my ma se gesig sien. Sy is duidelik erg teleurgesteld. Ek kan sien sy oorweeg dit sterk om by die huis te bly, saam met my pa.
Ek sien ek moet vinnig spring.
“Toemaar, Ma,” sê ek asof dit ’n groot opoffering is. “Ek sal maar saamgaan. Ter wille van Ma se kans om Mauritius te sien. Dit sal vir my ook baie leersaam wees!”
“Ja,” beaam my pa. “Julle vertrek Saterdagoggend vroeg, Maandag is ’n vakansiedag, en die Sondag daarop is julle weer terug. Dit beteken Adriaan sal net vier skooldae mis. En hy sal baie meer ondervind op so ’n reis as wat hy in daardie paar dae in die skool sal leer!”
My ma kyk my berekenend aan.
“Dit is seker so, ja,” sê sy. “As ek met die skoolhoof praat, sal hy waarskynlik sy toestemming gee, net vir hierdie een spesiale geval.”
Hulle redekawel nog so ’n halfuur lank oor die saak, maar uiteindelik besluit hulle dat ek in my pa se plek saam met my ma op die bootreis na Mauritius sal gaan.
Jippie!