Читать книгу Speurhond Willem en die seerowers - Elizabeth Wasserman - Страница 7
3
Voorbereidings
ОглавлениеTerug in my kamer, wag Willem op my.
“Het dit toe so gewerk?” wil hy weet.
“Hoe bedoel jy? Het wat hoe gewerk?” Ek verstaan glad nie wat my hond bedoel nie.
“O, ek bedoel maar net, hoekom lyk jy so opgewonde?”
Ek vertel hom alles, skoon uitasem van blydskap. Maar skielik tref dit my dat daar geen rede vir Willem is om my vreugde te deel nie. Hy sal nou alleen by die huis moet bly en saans my pa geselskap hou. En my pa gaan so hard werk aan hierdie nuwe opdrag van hom dat ek maar net hoop hy onthou om vir hom en Willem iets te kry om te eet.
Maar Willem lyk glad nie afgehaal nie. Inteendeel, hy lyk heel in sy skik.
“Nou ja, dan moet ons dadelik begin voorbereidings tref!” sê hy.
“Ons?” vra ek. “Wat bedoel jy, ons?”
“Ons, ja,” sê Willem ferm. “Ek kan julle natuurlik nie alleen laat gaan nie. Ek moet julle oppas. Dit is my werk.”
“Nee, Willem!” probeer ek keer. “Troeteldiere word nie op sulke bote toegelaat nie. En ons het geen beskerming nodig nie, dankie! Dit is heeltemal veilig op so ’n boot.”
“O nee, dit is nie!” maan Willem, en hy waai die nuwe boek deur die lug wat met die oggendpos aangekom het. Die boek oor die seerowers.
“Seerowers is opnuut bedrywig in die Indiese Oseaan,” preek hy. “Net ’n paar maande gelede is ’n passasiersboot net soos die een waarop jy en jou ma nou gaan reis, naby die Seychelle-eilande deur seerowers aangeval. En nou die dag ’n olietenker ook. Die seerowers werk vanaf die kus van Somalië, en hulle klink vir my na ’n gevaarlike spul. Daar is geen kwessie hieroor nie, ek gaan saam!”
Ek probeer nog protesteer, maar ek ken al my hond. Hy is baie hardkoppig, en hy kry altyd sy sin.
Naderhand begin sy argumente die oorhand kry.
“Maar Willem, selfs al wil ek jou saamvat,” (sy stories oor die seerowers klink nogal rof, en ek begin wonder of dit nie maar beter sal wees as hy wel saamgaan nie) “hoe gaan ons dit regkry? Jy kan nie sommer net ’n bont Hawaise hemp aantrek en aan boord stap nie. Hulle sal jou summier van die skip afgooi. Ek sê jou mos, honde word nie toegelaat nie!”
“Dit sal nie die eerste keer wees dat ek in jou bagasie wegkruip nie,” sê Willem ongestoord. “Dra my net tot op die boot, ek sal vir die res sorg.”
Ek is seker hy sal.
Willem is nie ’n gewone hond nie.