Читать книгу Speurhond Willem en die seerowers - Elizabeth Wasserman - Страница 8
4
Ons vertrek
ОглавлениеDie Donderdag voor ons vertrek, kom daar twee pakkies by ons aan.
Een van die pakkies is geadresseer aan Willem, en een aan my. Gelukkig maak ek die voordeur oop vir die afleweringsbode, anders sou my ouers seker gewonder het hoekom my hond ’n pakkie kry.
“Wat is daarin, Willem?” wil ek weet.
“Husse met lang ore,” sê Willem stuurs.
“Luister, ou kêrel,” waarsku ek. “Ek steek my nek uit vir jou deur jou in my bagasie weg te steek en jou op die skip te smokkel. Die minste wat ek van jou verwag, is redelike antwoorde op ordentlike vrae!”
“Jy klink nou so bietjie soos jou pa, nè?” grom Willem.
“Ag, los dit net!” sê ek vies.
Willem pak die pakkie sorgvuldig in sy rugsak in, saam met sy beertjie.
Hy gaan mos nêrens sonder sy beertjie nie.
Onder die bruin papier van my pakkie is nog ’n laag
vrolike geskenkpapier, en ’n kaartjie wat sê: “Happy Birthday!”
Dit is onderteken deur hoofkommissaris Cedric Servin van die Internasionale Speurdiens. Ek het hom as sersant Servin leer ken toe ek en Willem in Europa rondgereis het.
“Maar dit is glad nie eens naby my verjaarsdag nie!” roep ek verbaas uit.
Ek skeur die geskenkpapier oop en kry die beste presente ooit: ’n ligte verkyker en twee kortgolfradio’s. Dit lyk nie regtig na speelgoed nie.
Dit lyk duur en ernstig.
“Heel nuttig vir hierdie reis!” meen Willem. Hy bekyk een van die radio’s. “Kom ons gaan speel in die tuin en toets dit!”
Ek vat my fiets en ry tot amper aan die ander kant van ons voorstad, maar ek en Willem kan nog steeds lekker gesels. Die klank is so duidelik, dit klink of hy reg langs my staan. Die radio’s kan ook verskillende frekwensies opvang, en ons kan die winkelsentrum se sekuriteitswagte afluister. Hulle gesprekke is maar vervelig.
Ons speel so lekker, ek vergeet amper om klaar in te pak vir die seereis. Ek maak vir Willem ’n gemaklike plek in my skouersak. Ek neem ook ’n tas, waarin ek die meeste van my klere, soos ’n baaibroek en ’n paar hemde, pak. Dan sit ek Willem se rugsak in my tas.
“Versigtig daarmee!” sê hy vermanend.
“Jong, ek los jou by die huis as jy met my sukkel!” kap ek terug.
Die aand voor ons vertrek, gaan slaap ons almal vroeg. My ma, veral, is baie opgewonde.
In die middel van die nag word ek wakker. Willem se mandjie is leeg. Ek sluip stilletjies af met die trap om hom te gaan soek. Dalk het hy honger geword. Die gedagte aan koekies en melk laat my maag ook grom.
Willem is nie in die kombuis nie. Ek hoor sy stem in my pa se studeerkamer. Hy praat oor die telefoon.
Ek druk my oor teen die deur. Willem praat Engels, op ’n fluistertoon. Ek hoor hy sê iets van die operasie wat op koers is.
Watter operasie? Wie is siek?
Voor ek verder kan wonder, hoor ek hoe hy aflui. Ek maak dat ek wegkom kombuis toe, voordat hy my vang en daarvan beskuldig dat ek hom afluister.
Hy kry my by die yskas, besig om ’n stuk melktert sommerso met my hand uit die bak uit te eet.
Hy swaai sy stert. Willem is mal oor melktert.
Sonder om ’n woord verder te sê oor sy middernagtelike telefoongesprek, eet ek en Willem die hele melktert op.
* * *
Die volgende oggend vroeg, toe die mis nog oor die see lê, vat my pa ons hawe toe. My ma het ’n nuwe rok aan. Ek het my drasak oor my skouer. Dit het ’n gaaspaneel bo langs die ritssluiter wat sorg vir genoeg vars lug vir Willem, en hy kan daardeur uitloer as hy wil.
Die Sonata oortref al my verwagtinge. Dit lyk soos ’n reuse, luukse hotel wat op die water dryf. Oral skarrel matrose in wit pakke rond, en toeriste in bont vakansieklere staan op die dekke en gesels.
’n Netjiese dame ontmoet ons op die dok. My ma wys haar ons kaartjies en paspoorte, en sy merk ons name op die lys af. Iemand laai ons tasse op ’n trollie.
My pa lyk klaar haastig om terug te kom by sy kantoor. Hy gee ons elkeen ’n druk en ’n soen, en ons stap met die loopplank op.