Читать книгу Anna Atoom en die magnetiese meermin - Elizabeth Wasserman - Страница 10

Оглавление

Van koers af

Die blouwalvis is in die moeilikheid.

Walvisse het ’n kenmerkende manier om hulself loodreg in die water te draai met hul bolywe uit die water. Dit gee hulle ’n kans om die wêreld rondom hulle vir ’n oomblik te bespied. Die walvis doen dit nou gereeld, want sy soek die kus van Peru. Sy weet dit moet nou naby wees.

Maar sy sien niks nie, net die wye, oop see.

Sy stuur ’n lang, lae walvisroep uit na die oseaan rondom haar, en luister na die eggo van haar groot stem. Die seevloer is baie diep onder haar – veel dieper as wat dit behoort te wees. Sy het spesiale senuweeselle in haar brein en agter haar oë wat sensitief is vir die elektromagnetiese velde van die aarde. Volgens die berekeninge van hierdie gesofistikeerde sintuie behoort sy nou regoor die kontinentale rand van Suid-Amerika te wees, waar die water vlakker is.

Verward swem sy voort.

Haar kalfie gaan binnekort gebore word, en dan wil sy veilig wees, in bekende water en naby ander van haar soort.

Sy weet nie meer of sy haar sintuie kan vertrou nie, maar instinktief volg sy die lyne van die magnetiese veld wat sy waarneem. Sy weet dit nie, maar dit lei haar al verder en verder weg van waar sy wil wees, reguit na die besige skeepsroetes van Noord-Amerika.

Agter haar maak nog blouwalvisse dieselfde fout. Haar roep het hulle gerusgestel dat die trop op koers is, en hulle volg haar na die noorde.


Die magnetiese pole van die aarde

Dit is belangrik om te onthou dat die magnetiese pole van die aarde nie presies ooreenstem met die werklike (of “geografiese”) Noord- en Suidpool nie. Die magnetiese as van die aarde sit effens skeef en loop ook nie presies deur die middel van die aarde nie. Tans is die magnetiese Noordpool net meer as tweehonderd kilometer suid van die werklike pool.

En aan die ander kant van die aarde is die ware magnetiese pool weer noord van die werklike Suidpool.

Wat meer is, hierdie magnetiese as skuif voortdurend ’n bietjie rond. Deur die eeue heen het lawa vanuit vulkaniese uitbarstings die magnetiese oriëntasie van die aarde se as vasgevang. Wetenskaplikes kan hierdie rots nou gebruik om die geskiedenis van die aarde se magnetiese veld te “lees”, en so kon hulle vasstel dat die magnetiese as inderdaad elke miljoen jaar of so sommer heeltemal omkeer. Dan word die Noordpool suid, en die Suidpool noord. Praat van die wêreld op sy kop draai!

Die vorige ommeswaai van magnetiese pole was so sewehonderd en tagtigduisend jaar gelede. Wie weet wanneer dit weer gaan gebeur?


Anna Atoom en die magnetiese meermin

Подняться наверх