Читать книгу Anna Atoom en die magnetiese meermin - Elizabeth Wasserman - Страница 8
ОглавлениеOntvoering!
Ton sit in ’n kroeg in Victoria, die hoofstad van die Seychelle-eilande.
Moet net nie dink dat Victoria soos ’n gewone woelige hoofstad lyk nie! Dit is ’n rustige klein dorpie, en dit bestaan uit kwalik meer as ’n bondeltjie sjarmante huise, winkels en ’n groot oop mark. Die dorpie lê knus teen die voet van ’n pragtige groen berg, waar rookkolomme geurig teen die hange trek soos die bosbewoners die klam blare wat hulle vanoggend op hul werf bymekaargevee het in smeulende bondels verbrand.
Die tropiese plantegroei dring immers altyd nader!
Vanaf die kaai van Victoria se hawe strek die water glashelder en vol krioelende seelewe. Die sustereilande lê los verspreid rondom hierdie hoofeiland: sommige van hulle naby, ander versteek agter die horison.
Een van hulle is MonPetit, die eiland waar die Atoom-familie bly en waar die internasionale organisasie GROEN (die Geografiese en Ruimtelike Organisasie vir Ekologiese Navorsing) hul weerstasie het, beman deur professor Sabatina en die superrekenaar Maks.
Ietsie meer oor die Seychelle-eilande
Miljoene jare gelede, in die tyd van die dinosourusse, het die kontinente uitmekaar geskuif om die groot vastelande te vorm soos ons dit nou ken.
Tussen Indië en Afrika was daar ’n hoë bergreeks wat onder die see ingesak het. Die pieke van die bergreeks was so hoog dat sommige van hulle vandag nog steeds bo die oppervlak van die see uitsteek. Deesdae staan dit bekend as die Seychelle-eilande.
Daar is omtrent honderd en vyftig van hierdie eilande verspreid net suid van die ewenaar: sommige is van graniet, maar van die meer afgeleë eilande bestaan uit koraal.
Die klimaat is tropies, met volop reën, en die plantegroei is ruig en eksoties. Die spitse van die groter eilande is bedek met pragtige reënwoude, vol blomme en vrugte. Goue strande en warm kristalhelder water voltooi die prentjie waarvan die meeste mense maar net kan droom.
Dit is die enigste huis wat Anna en haar BioTron-boetie Pip nog ooit geken het.
Dit is ook waar Ton nou woon.
Ton is lief vir sy werk, want hy is lief vir die Atoom-familie, al is hulle sekerlik ’n bietjie vreemd. Met die vader van die familie, admiraal Abraham Atoom, nog permanent in die ruimte sedert die ongeluk wat die molekules van sy liggaam kwesbaar gemaak het vir swaartekrag, het die spulletjie sowaar iemand nodig om hulle op te pas!
Maar soms raak ’n man moeg vir skottelgoed en kinderstreke (om nie eens van Anna se toenemende tienertruuks te praat nie), en dan moet hy ’n bietjie wegkom, kroeg toe.
Die kroeg is donker en rokerig. Dit is ’n plek waar ’n kokkerot en ’n seerower ewe tuis langs mekaar kan sit. Mens kry sulke kroeë in hawestede dwarsoor die wêreld en hulle deel almal een eienskap: ’n slegte reputasie. Hier word stories uitgeruil, smokkelplanne beraam en soms vloei die bloed saam met die alkohol, want skermutselings is volop. Die aand het nog skaars begin, maar reeds dreun die lug van die diep gebrom van stemme, en nou en dan ’n skor gelag. Dit is ongemaklik warm en bedompig, maar genadiglik verdoesel die rook die sweetreuk van die fris matrose met hul onwelriekende drankasems.
Ton voel egter gemaklik en ontspanne hier. ’n Lagie sweet blink op sy groot, gladgeskeerde kop, maar sy donker pak is netjies gepars, soos altyd, en die naels van sy reusehande wat die bierglas sagkens troetel, is perfek geknipte wit halfmane. In die swak lig is sy netheid darem nie te opvallend nie, en selfs tussen die skurwe, bebaarde karakters met hul growwe baadjies en gehawende T-hemde lyk hy heel tuis.
Hy is besig om een of ander tegniese punt van seekatvang met Renard te bespreek. Renard is ’n ou vissermanvriend van hom, maar vanaand bly sy oë wegdraai na iets of iemand net agter Ton se linkerskouer. Ton draai om om te sien wat sy vriend se aandag so vasvang, en op daardie oomblik bespring iets groots hom en gee hom ’n hou teen die kop met ’n leë whiskybottel!
Ton is ’n groot man, maar die hou tref hom onverwags en hy tuimel van die smal kroegstoeltjie af. Vir ’n oomblik is hy totaal uit die veld geslaan. Dan kom hy vinnig tot sy sinne en raap homself blitsig op. Hy gryp sy aanvaller se enkels netjies onder hom uit met ’n grasieuse laagvat.
Die ander man val dat hy so hik.
Oombliklik is elkeen in die kroeg deel van die geveg. Niemand weet eintlik waaroor dit gaan en wie geslaan moet word nie, maar dit is van mindere belang. Die hoofsaak is dat daar ’n geveg is, en alles wat beweeg, word ’n teiken. Die lawaai in die kroeg styg tot ’n oorverdowende vlak. Stoele word flenters geslaan oor koppe, bottels trek rond soos missiele in ’n grensoorlog en vuishoue klap links en regs.
Die kroegman kruip agter sy toonbank weg. Hy slaan sy arms oor sy kop en kan maar net hoop dat daar iets van sy besigheid sal oorbly. Hy is gewoond aan hierdie gevegte: die maande op die oop see is vervelig en sy kliënte is altyd gereed vir ’n bietjie aksie, veral na so ’n paar doppe.
Hy weet dat alles gou sal oorwaai, en dit is ook so. Die tropiese hitte help om almal gou moeg te maak vir baklei en een vir een begin die matrose weer na heel bottels soek om die inhoud daarvan te drink, eerder as om dit te vermors op ’n buurman se kop. Bloed drup nog uit vars snye en blou swamme swel in blink bulte oor growwe gelaatstrekke, wat die lelike spul nog leliker laat lyk. Die kroegman grinnik, stoot nog ’n paar koue bottels bier oor die toonbank en begin weer glase uitvee met ’n vuilgrys lap.
Voort met die werk!
Hy merk dat die stoel waar Ton netnou nog gesit het, nou leeg is. Hy wonder wat van die groot nutsman van MonPetit-eiland geword het. Vanuit sy wegkruipplek agter die toonbank kon hy nie sien of Ton deelgeneem het aan die geveg nie, maar nou is hy skoonveld.
Die kroegman skud sy benerige skouers en gaan voort met die harde werk om die klomp matrose vinnig genoeg van drank te voorsien.
Sy nag gaan nog lank wees!