Читать книгу Anna Atoom en die magnetiese meermin - Elizabeth Wasserman - Страница 9
ОглавлениеWaar is Ton?
Anna stamp die sand van haar kaal voete af en stap in die huis in. Agter haar ratel Brak se onsigbare metaalpote oor die houtvloer.
“Ton!” roep sy. “Ton, jy moet kom help! Ek sukkel met iets …”
Ton antwoord nie, maar Pip, Anna se klein BioTron-boetie, kom aangedraf en gryp haar om die knieë. Hy babbel iets in sy irriterende brabbeltaal.
“Blisser brab-boe!” sê hy.
“Ag stop dit!” snou sy suster hom toe. Dit is lastig om ’n broer te hê, selfs al is hy half masjien, half mens en selfs al kan hy daarom die ongelooflikste goed doen, soos groot rotse optel en sy asem langer as ’n dolfyn onder die water ophou. Dit sal dalk help, dink Anna, as hy net ordentlik kan leer praat. Ten minste sal hy haar dan kan vertel waar Ton is.
“Ton!” roep sy weer.
Steeds antwoord hy nie.
Dis vreemd, dink Anna. Ton is altyd daar om enige wens van die Atoom-familie te vervul. Miskien is hy in haar ma se laboratorium?
Skielik sien Pip die dodo’s raak waar hulle rondskrop in die groentetuin. Hy hardloop dadelik om hulle te gaan terroriseer. “Fyn!” sê Anna vir die onsigbare Brak. “Ten minste is ons nou van hom ontslae! Kom ons gaan na die laboratorium toe, ou kêrel, en kyk of ons jou probleem daar kan uitsorteer.”
Hulle stap af na die boothuis op die strand, so ’n entjie van die huis af. Dit is hier waar die ingang is tot die geheime ondergrondse laboratorium en die grot waar die Onderwater-verkenner en die JetKopter gehou word. Die blink metaaldeur van professor Sabatina se laboratorium is onlangs toegerus met ’n Persoonlike Herkenner, en dit herken dadelik Anna se breingolfpatroon. Die deur swaai oop. Brak glip blitsvinnig tussen haar bene deur – hy het geen breingolfpatroon wat herken kan word nie en weet hy moet sy kans gou waarneem. Maar Anna kan hom nie sien nie. Sy struikel en stamp haar toon hard teen sy onsigbare agterpoot.
“Deksels!” roep sy vies uit.
Haar ma hoor haar nie. Sy is verdiep in haar werk. Die hologram wat die beeld van die aarde in die middel van die skemer laboratorium uitbeeld, gloei met die groen en bruin kleure van die vastelande, die smaragblou van die oseane en die warrellende wit wolkemassas. Dit is die AardWag, ’n gesofistikeerde instrument waarop die beeld van omgewingsveranderinge dwarsoor ons planeet aangetoon word. Die professor sit op haar stoel wat op die silwer spoor rondom die AardWag gly.
Anna stap tot reg onder haar en roep harder.
“Ma! Weet Ma waar Ton is?”
Professor Sabatina draai om op haar stoel. Haar silwergrys hare staan orent in alle rigtings en sy loer oor die silwer halfmaanraam van haar bril.
“O, hallo daar, skattie!” Sy frons effens. “Ton? Nee … hy kom bykans nooit hierheen nie – sy werk is mos om na julle te kyk en die huis uit te sorteer. Is hy nie in sy kombuis nie?”
Anna trek haar skouers op.
“Kan Ma my dan help?” vra sy.
“Wat is verkeerd?”
“Wel, dis Brak …”
“Brak? Waar is hy?”
“Hy is hier.”
Brak blaf. Die professor se oë soek na hom in die donker hoekies van haar laboratorium. Gewoonlik gee die dowwe fluoressensie van sy ooglense hom weg, selfs in stikdonker.
“Ek sien hom nie?”
“Presies! Hy is onsigbaar!”
Professor Sabatina frons.
“Ek het sy onsigbaarheidsprogram geaktiveer en …”
“Ja, dit is moontlik. Ek verbeel my Uranus het vir hom die sagteware ingebou wat die materiaal waarvan hy gemaak is, kan laat ioniseer om die atome …”
“Ma, net nie nou ’n wetenskaples nie, asseblief!” smeek Anna.
“Dit is sekerlik niks ernstigs nie, liefie. Jy moet maar net weer die instruksies volg om die program om te keer en hom weer sigbaar te maak. Ek moet sê, dit werk nogal goed!” Sy kyk weer ’n keer of wat rond, maar draai gou weer terug na die AardWag. Anna kan sien dat haar ma reeds besig is om belangstelling in haar probleem te verloor.
“Ek weet nie waar die aanwysings is nie, Ma. Ek het die boek verloor, en nou het ek nie meer die kode om die onsigbaarheidsprogram om te keer nie,” erken sy beteuterd. Sy verduidelik aan haar ma hoe dit gebeur het.
Die professor sug.
“Dit is tien teen een die werk van een van die reusekrappe wat daar woon,” sê sy. “Hulle doen dit: hulle soek rond na enigiets wat na kos lyk en sleep dit in hul gate in. Om een of ander rede hou hulle van plastiek, en jou boek is net klein genoeg dat een van die groter krappe dit kon wegsleep!”
Anna lyk twyfelagtig.
“’n Krap, Ma? Is jy seker?”
“Nee, ek is nie seker nie, maar wat anders kan dit wees? Hier is niemand behalwe ons op die eiland nie.”
Min dinge verbaas professor Sabatina se noukeurige wetenskaplike brein. Sy verstaan die wêreld deur al die feite in oënskou te neem en dan gevolgtrekkings te maak. In hierdie geval het daar ’n boekie in ’n plastieksak verdwyn op ’n strand waar daar niks anders lewendigs was as krappe nie. Dit is ook bekend dat hierdie krappe gedurig aan die aas is vir enigiets eetbaars. Die verklaring is dus dat ’n krap hom misgis het met Anna se boek en dit vir kos aangesien het.
Indien dit waar is, hoef mens net die gedrag van die krappe te ken om te voorspel wat van die boek gaan word.
“Die krap sal weldra uitvind dat Brak se boekie nie ’n goeie aandete is nie,” stel sy haar dogter gerus. “Die kans is goed dat hy dit weer uit sy gat sal stoot. Jy moet maar net môreoggend douvoordag weer daar gaan kyk.”
“Maar wat van Ton, Mammie?” vra Anna. “Jy weet, hy is gisteraand na die hoofeiland toe om voorrade te gaan haal, en ek het hom nog glad nie vandag gesien nie. Hy het nie vir ons ontbyt gemaak soos gewoonlik nie!”
“Geen ontbyt vanoggend nie?” vra professor Sabatina verbaas. Sy het ligdag reeds na haar laboratorium toe gekom, nadat sy net ’n vinnige koppie koffie vir haarself in die kombuis gemaak het. Sy frons bekommerd. “Dit is sowaar vreemd!”
Professor Sabatina wikkel ’n skakelaar op die paneel langs haar stoel. Die stoel sak stadig af tot op grondhoogte. Sy staan op en stap na haar dogter toe. Anna is reeds amper so lank soos sy. Sy vryf haar dogter se pennetjieshare nog meer deurmekaar.
“Kom ons gaan soek na Ton!” glimlag sy gerusstellend. “Of nog beter, kom ons vra sommer net vir Maks. Hy weet alles!”
“Dankie, Ma! Ek gaan kyk solank in die groentetuin. Dalk is hy daar iewers!”
“Goeie plan, en moet asseblief nie …”
Maar sy is te laat. Anna het reeds die deur van die laboratorium hard agter haar laat toeslaan.
“Maks, weet jy waar Ton is?” wil professor Sabatina weet.
Die diep stem van die superrekenaar kom uit die luidsprekers wat weggesteek is in die mure van die ondergrondse laboratorium.
“Ton?” vra Maks skaapagtig. Niemand het hom nog ooit hierdie vraag gevra nie – almal weet altyd waar Ton is.
“Ja, Ton!” antwoord die professor geïrriteerd.
Maks raadpleeg sy massiewe geheuebanke. Dit help min – hulle bevat geen nuttige inligting oor waar Ton hom bevind nie.
Hoe rekenaars werk
Net soos ons, het rekenaars ook energie nodig.
Mense eet kos, rekenaars gebruik elektrisiteit of batterye.
Mense dink met hul breine, rekenaars gebruik mikroskyfies. Ons neem inligting in met ons sintuie (oë, ore, ensovoorts), terwyl ’n rekenaar afhanklik is van inligting wat ons op ’n sleutelbord intik. Gevorderde rekenaars (soos Maks) kan ook ander vorme van inligting verwerk, soos beeld en klank.
Die inligting word verwerk tot ’n eenvoudige kode wat bestaan uit oneindige kombinasies van die syfers 1 en 0. In hierdie vorm kan rekenaars inligting verwerk en stoor.
“Ton het gistermiddag gaan voorrade haals op die hoofeiland, volgens sy normale skedule. Brandstofs, politoers vir die stoep en meubels, koffie, … ”
“Ek vra nie vir sy kruidenierswarelysie nie, Maks!”
“Na sy inkopies gaan hy soms na die Seerower se Baard, ’n gesogte kuierplek in die hawe …”
“Gmf!” snork professor Sabatina. Wat weet rekenaars nou van sogenaamde “gesogte kuierplekke”? Die Seerower se Baard, sowaar!
“Dus behoort hy nou terug te wees in sy kombuis, besig om koekies te baks!”
“As dit die geval was, Maks, was ons nie op soek na hom nie. Werklik, soms wonder ek of jy so intelligent is. Het ons waarlik al daai miljoene dollers betaal sodat jy vir my kan sê Ton is in die kombuis, besig om koekies te bak, nadat ek reeds uitdruklik vir jou gesê het hy is NIE in die huis nie?”
Kan rekenaars dink?
Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord as mens nie eers besluit wat jy bedoel as jy van “dink” praat nie. Een manier om daarna te kyk, is om te sê ’n masjien kan dink wanneer hy iets in die omgewing kan waarneem, en dan op sy eie die nodige aksies kan uitvoer om die sukses te verseker van watter taak hy ook al geprogrammeer is om te doen.
Dink net: as jy aan die ontbyttafel sit en jy is honger, sal jy die melk en die graankos uit hul houers gooi, dit met ’n bietjie suiker meng en dit eet. Mens doen dit vanselfsprekend, maar die verskil tussen jou en ’n eenvoudiger vorm van intelligensie (soos jou hond, byvoorbeeld) is dat jy allerhande probleme sal kan oplos om die kos in jou maag te kry. As die melk suur is, sal jy ’n nuwe bottel uit die yskas gaan haal (of by jou ma kla, en sy sal dit vir jou doen). As die pap op is, kan jy dit neerskryf op ’n kruidenierslysie en nog gaan koop. Of jy kan ’n alternatief kies, soos roosterbrood.
Om intelligent te dink is dus om oplossings te skep vir die probleme wat jy teëkom.
Masjiene kan ook geprogrammeer word om allerhande oplossings te kan “uitdink” volgens algoritmiese programme soos die een hierbo wat die ontbytkoskeuses verduidelik, maar eers wanneer hulle op hul eie nuwe oplossings kan formuleer, kan ’n mens begin praat van kunsmatige intelligensie.
Hoe dikwels dink jy regtig?
“Jy het dit nie gesêe nie!” stry die rekenaar. “Jy het gevrae waar hy is. En, terloopse, sesmiljoen vyfduisend driehonderd en twintig dollars en vyftien sent: dit is wat my prosesseerders en my silikoonskyfies gekos het wat moes werks aan daardie simpel vraag!”
Professor Sabatina sug.
Wat gaan aan? Ton raak nooit weg nie. Hy is altyd getrou, altyd byderhand as hulle hom nodig kry.
“Kom ons maak ’n paar telefoonoproepe,” stel sy voor.
“Telefoonoproepes?” vra Maks verontwaardig. Hy is geskok. “Jy praat nou van daardie stuk outydse toerusting wat die ondersese kabel na die hoofeiland gebruike om boodskappes so primitief van een stuk hardeware tot ’n andere rond te stuures, sonder ordentlike elektronikas?” Sy grammatika raak sommer nog meer deurmekaar van skone verontwaardiging.
“Ja, Maks, die telefoon!” antwoord professor Sabatina. “Ons het een iewers, ek weet. Maar waar is dit?”
Dit is ’n vraag wat Maks wel maklik kan antwoord. Hy het ’n plan van die laboratorium (en al die ander geboue op die eiland) in sy geheuebank.
“Daar is eene op jou lessenaar in die hoeke links agters, daar is eene in die eetkamer van die groot huis, en daar is eene in Ton se spens.”
Die professor gebruik selde haar lessenaar. Dit is bedek met ’n dun lagie stof. Sy vind die telefoon agter ’n klein papierberg van onoopgemaakte pos.
“Gee gou vir my die telefoonnommer van die Seerower se Baard, Maks.”
Maks voel beledig. Hy is nie ’n telefoonboek nie!
“72568,” kla hy, “en daardie inligting het jou sesmiljoen vyfduisend driehonderd en twintig dollars gekos, en vyftien sent ekstra!”
“Ag, bly stil, Maks!”
Sy bel die nommer. Die kroegman antwoord. Daar is nog nie veel kliënte dié tyd van die dag nie, maar inderwaarheid slaap hy sommer in die kroeg, op ’n rol komberse wat hy onder die toonbank bêre.
“Hy sê Ton was wel gisteraand daar,” rapporteer sy, “maar daar was ’n skermutseling en hy het hom daarna nie weer gesien nie. Dit is baie vreemd. Wat op aarde kon van hom geword het?”