Читать книгу Anna Atoom en die magnetiese meermin - Elizabeth Wasserman - Страница 11
ОглавлениеGevange!
Ton sukkel om asem te haal.
Iets druk teen sy gesig: dit is koud en slymerig, en dit ruik nie lekker nie.
Hy raak ook bewus van ’n pyn tussen sy skouerblaaie. Hy probeer beweeg, maar sy hande is styf agter sy rug vasgebind.
Langsamerhand raak sy gedagtes weer helder. Hy raak bewus daarvan dat die vloer onder sy linkeroor vibreer met die diep klank van ’n kragtige enjin. En ja, die wêreld beweeg stadig op en af, effens heen en weer.
“Ek is in ’n boot,” dink hy, “en styf vasgebind, met my gesig vasgedruk teen ’n dooie vis.”
’n Mens kan verstaan dat dit nie ’n gedagte is wat hom veel vreugde verskaf nie!
Die herinneringe aan die vorige aand sak stadig terug in sy seer kop. Daar was die man wat hom aangeval het in die Seerower se Baard, en net daarna het iets teen sy agterkop ontplof.
“Skarminkels!” brom hy teen die dooie vis. Hulle het hom van agter af bekruip. Maar wie is “hulle”? Onrus roer in hom: hy wil-wil hom verbeel dat hy die eerste aanvaller herken het net voor hy met die bottel gemoker is. Hy weet vir wie daardie vent werk, en dit laat hom nog meer ongemaklik voel.
Hy kyk rond in die donker en kom agter dat iemand gaaf genoeg was om ’n ou sak oor sy kop te gooi. Hy kan bykans niks sien nie. Woede stroom soos koue ys deur sy are. Wie weet hoe laat is dit al? Die kinders moet ontbyt kry! Professor Sabatina sukkel om te konsentreer sonder koffie, en sy is gewoonlik heeltemal te besig om eens daaraan te dink om vir haarself te maak.
Ton bekommer hom dikwels oor sy werkgewer. Sy neem haar werk heeltemal te ernstig op. Hy kan verstaan dat dit belangrik is om die aarde se klimaat dop te hou, maar mens moenie vergeet om so nou en dan die alledaagse sonskyn te geniet nie.
En op MonPetit-eiland skyn die son bykans elke dag!
Hy probeer sy hande loswikkel, maar dit is onmoontlik. Die toue sny net dieper om sy polse.
“Dink!” raas hy met homself.
Hy draai sy kop weg van die onwelriekende vis. Iets skerps vang die punt van sy linkeroor en haak dit geniepsig. Hy voel ’n druppel bloed afbiggel deur die stoppelbaard op sy wang.
Baie, baie versigtig verken hy die skerp voorwerp met die punt van sy tong.
Net soos hy gedink het!
Sy kussing is ’n yslike swaardvis, en die lang saagbek van die gedierte strek gevaarlik uit net onder sy linkerwang.
Versigtig rangskik Ton sy groot lyf tot sy arms teenaan die skerp swaardbek van die vis is. Dan begin hy sy hande versigtig op en af beweeg.
Hy het al baie dinge in sy lewe gedoen, en dit is nie die eerste keer dat hy ongewone metodes gebruik om uit moeilike situasies te ontsnap nie.
Maar hy het sowaar nog nooit tevore ’n vis se hulp nodig gehad nie!