Читать книгу Anna Atoom en die magnetiese meermin - Elizabeth Wasserman - Страница 7
ОглавлениеDie blouwalvis se reis
In ’n see ver weg van Anna s’n swem ’n blouwalviswyfie.
Die afgelope somer was die koue water rondom Antarktika haar tuiste. Sy het vet geword van die kril wat oorvloedig daar voorkom. Sy is ver dragtig, en instinktief mik sy na die warmer waters naby die kus van Chili. Dit is hier waar die blouwalvisse saamkom om hul kleingoed deur die kritiese eerste maande van hul lewens te troetel.
Die wyfiewalvis swem in volle vaart, soos ’n reusagtige onderwater-lugskip. Sy kronkel haar liggaam in stadige kurwes wat grasieus vloei van haar kop tot haar stert. Haar massa kloof deur die water en verplaas tonne daarvan om ’n sleurstroom te vorm wat die slik van die donker seebodem onder haar roer.
Ver bo die walvis se groot lyf filter flou sonlig deur die oppervlak. Sy hou haar oog op daardie blink skyf lig, want dit help haar om haar rigting te skat. Behalwe die son, hou die onsigbare patroon van die aarde se magnetiese veld haar ook op koers en lei haar na haar mikpunt.
Af en toe gee sy ’n lang laefrekwensie-roep: ’n paar reëls van ’n walvislied. As ’n mens hierdie geluid bo die water moes hoor, sou dit oorverdowend wees. Onder die water werk dit egter uitstekend as ’n kommunikasiemiddel.
Blouwalvisse
Blouwalvisse is die grootste gediertes wat nog ooit op aarde gelewe het; selfs groter as die grootste dinosourus van miljoene jare gelede. Maar ten spyte van hul reusagtigheid is hulle vreedsaam en skadeloos. Hul monde is klein en V-vormig, en amper weggesteek onderaan hul massiewe vierkantige koppe. Hul slukderms is skaars groot genoeg om ’n strandbal te kan insluk. Plankton en klein skaaldiertjies is hul kos, en dié filter hulle uit die ryk water van die oseane.
Die wêreld van die blouwalvis pas aan by die skaal van dié groot dier: diep, diep oseane wat oneindig strek rondom die planeet. Lang migrasietogte neem hulle duisende kilometers ver van die waters van een kontinent na die volgende. Onbewus van menslike stede en struwelinge trek hierdie reuse om ons aarde rond – vir hulle staan die tyd bykans stil.
Hierdie oerdiere kon egter nie die knelgreep van menslike ontwikkeling op die natuur vryspring nie. Teen die einde van die vorige eeu het roekelose walvisjagte die blouwalvis baie na aan die rand van uitsterwing gebring. Danksy internasionale ooreenkomste word die jag van walvisse nou baie meer beperk, en hulle getalle neem weer toe.
Water gelei klank veel beter as lug en “walvisradio” saai oor enorme afstande uit. Walvisse se ore is heelwat fyner ingestel as mense s’n, en hulle kan klank ook gebruik om onderwater struikelblokke en landmerke te identifiseer deur die eggo’s van hul note.
Die walvis weet presies waar sy is en waarheen sy op pad is. Wat haar betref, is sy alleen in die wye oseaan.
Sy is in haar element, en sy is tevrede.