Читать книгу Elf dae in Parys - Elizabeth Wasserman - Страница 10
Оглавление’n Wolf in Parys
Die eetkamer van Chez Flaubert is in die kelderverdieping, onder die ingangsportaal. ’n Ry smal dakvensters gee flou lig vanaf die straatvlak.
Emma kyk na die pare enkels, broekspype en skoene wat sigbaar is soos voetgangers op die sypaadjie verby loop: hoë hakke, blinkgepoleerde leer en slonsige seilskoene.
Daar is drie lang tafels met geruite kleedjies, en ’n groot ysterkandelaar hang van die plafon af. Die vloer is gemaak van donker hout wat klank absorbeer, aangehelp deur die dubbele glas voor die vensters. Die geure van koffie en varsgebakte brood uit die kombuis sorg vir ’n gesellige atmosfeer.
Sy hou die ander toerlede dop soos hulle instap. Nes sy dra almal gemaklike jeans en hoodies, want hulle is nog nie gewoond aan die somerweer van die Noordelike Halfrond nie. Daar word gesels en stoele rondgestoot, maar dis meer gedemp as gewoonlik. Ten spyte van die opwinding van die nuwe omgewing is almal moeg ná die lang vlug en ’n paar gaap luidkeels.
Die maal begin met erdebakkies vol stomende bruin uiesop, bedien saam met baguettes, die lang Franse brode wat in mandjies op die tafels neergesit word en waarvan hulle hompe afbreek. Sop was vir Emma nog nooit so lekker nie. Sy is rasend honger.
“Lyk my ons het nog ’n wolf in Parys bygekry?”
Die stem agter haar laat haar omkyk. ’n Lang seun staan en lag vir haar met plooitjies om sy amperswart oë. Sy verstik amper in haar sop. sulke aantreklike ouens behoort verbied te word as kelners. Hy lyk kraakvars en skoongewas in ’n wit hemp, met ’n donkerblou voorskoot om sy middel vasgebind.
“Wolwe?” proes sy.
“Parys is ’n ou stad vol stories. Een van die strate hier naby is juis die Rue de la Brèche aux Loups – die steeg waar die wolwe snags inkom.”
“Is daar dan ’n gat in die stadsmuur?”
“Vra jy my? Jy’s die een wat ingesluip het!” terg hy en sit nog ’n paar brode in die mandjie voor haar.
Is dit nou Luc, mevrou Flaubert se seun? wonder sy. Die lapelwapen op sy hemp vang haar oog: ’n dowwe metaalskyf met patrone en inskripsies al om die buiterand.
“Wat is dit?” vra sy en wys daarna.
Hy glimlag geheimsinnig, maar bly haar ’n antwoord skuldig. Mevrou Flaubert verskyn in die deur wat na die kombuis lei en klap haar hande om almal se aandag te trek. “Luister, almal. Ná die sop bedien ons ’n slaai en dan ’n souttert met ham. Ons nagereg is ’n tipies Franse aarbeitert, daarna sluit ons die maaltyd af met ’n stukkie kaas. Dis die Franse gebruik om al hierdie geregte apart en op jou tyd te eet. Kos is belangrik hier en maaltye is die hoogtepunte van die dag … O ja, kan ek julle voorstel aan my seun, Luc?” Sy beduie na die kelner by Emma se tafel. “Hy sal julle meer vertel van die gewoontes van ons Parysenaars.”
Clarissa en haar kamermaat – Mandy van Sandton, onthou Emma – stamp aan mekaar en giggel. Bakvissies, dink Emma vies. Sy konsentreer hard daarop om nie weer na die kelner te kyk nie.