Читать книгу Elf dae in Parys - Elizabeth Wasserman - Страница 5
Voorspel
ОглавлениеDie eerste ding waarvan sy bewus raak, is die koue. Dit sypel deur haar vel tot in haar ruggraat. Sy maak haar oë stadig oop.
’n Deurdringende pyn klop in haar agterkop.
Sy probeer regop kom, voel-voel met haar hande langs haar. Sy lê op ’n klam, harde oppervlak, en haar duimnael krap teen iets wat voel soos die kop van ’n spyker of ’n skroef.
Waar is sy?
’n Sirene loei ver weg. Sy raak bewus van die geruis van verkeer en ander stadsgeluide, ver onder haar. Dan hoor sy iets: ’n nuwe geluid.
Klop-klop. Klop-klop.
Hoewe? En daarmee saam die geskuifel van sagte pote.
Moet sy roep sodat hulle haar kan kry? Maar wat as dit gevaar bring?
Moet sy eerder wegkruip? Of vlug?
Wat maak sy hier, en hoe het sy hier gekom?
* * *