Читать книгу Elf dae in Parys - Elizabeth Wasserman - Страница 14
ОглавлениеDie vioolspeler op die brug
’n Effense trilling in die lug, asof ’n wolk elektrisiteit in haar rigting sweef. Emma voel die musiek nog voor sy die note kan uitken. Kevin steek ook vas en draai sy kop skeef, soos ’n hond wat sy baas in die verte hoor fluit.
Die suiwer vioolklanke ryg deur die kombers van lawaai wat die stad oordek. Emma tel die pas van die ritme; haar brein torring die note los van die rumoer om haar, tot dit vorm aanneem as ’n duidelike melodie. Een van Liszt se Hongaarse rapsodieë?
Ouma Hebs luister gewoonlik na klassieke musiek in haar motor, en die rapsodieë is ’n gunsteling. “Klassieke musiek is nie net kerkmusiek nie, Emma!” sê sy gewoonlik voor sy die volume opdraai totdat die binnekant van haar motortjie wil bars van al die onstuimige klanke.
Die rapsodieë is oorspronklik geskryf vir klavier, maar nou word die deuntjie gespeel op ’n enkele viool, en dit kom van iewers agter ’n groep omstanders aan die voet van die Pont des Artes. Hulle loop nader. Emma moet op haar tone staan om oor die koppe te sien.
Die vioolspeler is ’n meisie. Sy sit kruisbeen, kiertsregop, met haar gesig gekantel na die son. Sy dra ’n kimono van grys sy, geborduur met rooi drake. Haar oë is toe. Haar blinkswart hare is in ’n rol op haar kop gestapel, met ’n paar slierte wat langs haar wang af hang. Sy wieg liggies op maat van die musiek en die strykstok in haar regterhand blits soos ’n hommelby oor die snare.
Skielik maak sy haar oë oop en kyk reguit na Emma. Vir ’n oomblik voel dit vir Emma asof sy ’n paar sentimeter bo haar skoene gelig word om bo die sypaadjie te sweef. Is dit net die effek van die musiek op ’n Sondagmiddag in Parys, of is daar ’n vreemde betowering in die vioolspeler se donker oë? wonder sy verward.
Die meisie hou op speel en laat sak haar kop. Die oomblik is verbreek. Die klein skare klap entoesiasties hande. Die hopie munte in die vioolkassie voor haar op die sypaadjie groei vinnig.
Kevin trek aan Emma se mou. “Kom, ons raak agter!”
Die vioolspeler begin met ’n nuwe deuntjie wat Emma nie herken nie. Sy sukkel om haar los te maak van die betowering van die musiek. Kevin het ook ’n salige uitdrukking op sy gesig, asof ’n stukkie van die hemel vir hom gewys is.
Die deuntjie volg hulle soos hulle agter meneer Thompson en Tombi aan stap.