Читать книгу Elf dae in Parys - Elizabeth Wasserman - Страница 6

Оглавление

Hoe dit alles begin het

Toe Emma die eerste keer gehoor het van die toer na Frankryk, het sy haar skaars daaraan gesteur.

“’n Reis na Parys?” het sy vir Salome gesê. “Dis omtrent nommer 86 op my lys van dinge-wat-ek-graag-wil-doen-of-hê.”

Salome het haar verstom aangekyk. “Is jy mal? Wie wil nou nie Parys toe gaan nie?”

“Wel, ek sê nie ek wil glád nie gaan nie. Net nie nou nie. Nie voor ek die eerste 85 goed uitgesorteer het nie.”

Wat was alles op daardie lys van haar? Eksamen. Atletiek. Mathew met die mooi blou oë. En haar ma en pa se dinge … Maar wat kan sy daaraan doen?

“Parys!” het Salome gesug. “Dis so ver, ver van hier!”

Dít het haar aandag getrek. Ver het skielik goed geklink. Hoe verder, hoe beter.

Maar Parys is tog steeds op dieselfde planeet of hoe – is dit ver genoeg?

* * *

“Ek dink dit sal goed wees as Emma ’n bietjie kan wegkom,” het sy haar ouma hoor sê. “Ek meng nie graag by julle sake in nie, maar die kind het baie hooi op haar vurk.”

Sy wou nie afluister nie. Sy was toevallig op pad kombuis toe, geruisloos in haar sokkies. Sy het buite die deur vasgesteek en geluister.

“Ek weet,” het haar ma gesug. “Ek is jammer. Ek weet nie mooi hoe om haar te hanteer nie. Dis moeilik vir ons almal.”

Haar ma en ouma Hebsodemma was besig om tee te drink, soos die twee se gewoonte is as hulle dinge bespreek. Bespiegel. Skinder.

Haar ma en ouma Hebs kom goed oor die weg, hulle het nie die gewone skoondogter-skoonma-struwelinge nie. Noudat haar pa koers gevat het, bring haar ouma nog meer tyd by hulle deur, kloek-kloek soos ’n hen met weerbarstige kuikens. Dit voel vir haar of ouma Hebs se wakende oog permanent op haar rug vasgenael is.

Dit troos haar en stel haar gerus, al sou sy eerder dood as om dit te erken.

“Die skool reël ’n toer na Parys. Net elf dae in die wintervakansie.”

Sy kon haar ore nie glo nie. Hoe weet haar ouma daarvan?

“Ek weet nie so mooi nie, Ma.” Haar ma se stem het vaag geklink, asof haar gedagtes iewers ver dwaal.

“Ek het nogal gewonder wat ek vir die kind kan gee vir haar sestiende verjaarsdag,” het ouma Hebs gepor. “Dis ’n belangrike een, sy word groot. Dis tyd dat sy die wêreld bietjie verken.”

“Op haar eie?” Haar ma se stem was skielik skerp.

“Waarom nie? Op sestien het ek al gewerk, ver van my ouerhuis af, en vandag se kinders is baie meer selfstandig. Boonop is daar selfone, jy kan elke dag met haar praat.”

Haar ma het nie geantwoord nie, net haar tee geroer.

“Emma, wil jy melktert hê?” het ouma Hebs skielik, harder, gesê.

Sy het gewip van die skrik en skuldig die kombuis binnegeskuifel. Hoe weet haar ouma altyd waar sy is?

“Nee dankie, Oumie.”

“Vars gebak. Met laevetmelk, spesiaal vir jou!”

Die tert het heerlik geruik, maar die kaloriesom beduiwel mos alles. Elke happie soetgoed word die dreigende botsel van ’n spekrol wat net ’n walvis sal begeer. ’n Mens kan nooit jou waaksaamheid verslap nie. Selluliet, verstopte porieë, hare met gesplete punte … dis die soort verskrikkings wat jou toekoms kan vernietig.

“Komaan, jy groei nog. En jy’s gans te maer soos dit is!”

Ouma Hebs het ’n dun skyfie tert op ’n bordjie gelaai en vir haar tee geskink in een van haar ma se ligblou porseleinbekers. Met ’n blerts melk en sonder suiker, net soos sy daarvan hou.

“Dankie, Oumie. Ek vat dit maar kamer toe, ek moet leer vir ’n toets môre.”

Sy het haar kamerdeur dig agter haar toegetrek. Op haar bed, met sy kop op haar kussing, het Willem wakker geword en sy stert gekwispel vir die melktert.

“Joune!” het sy hom belowe en haar op die kussings by die venster tuisgemaak, haar oorfone op haar kop geplak. In haar kamer kan sy die wêreld met al sy probleme ’n bietjie terugskuif. Musiek is haar troos, nie melktert nie, maar sy het eers ’n stewige hap gevat voor sy die res vir die spanjoel gevoer het.

Maar wegkruip in jou kamer stuit nie die gang van die lewe nie. Voor sy geweet het wat haar tref, was sy op pad na Parys. Sy het uiteindelik min sê gehad in die besluit.

“Toe, Emma, ’n vakansie sal jou goed doen!”

“Maar wat van Ma?”

Vandat haar pa uit die huis getrek het, voel sy soort van verantwoordelik vir haar ma. Nie dat haar ma dit agterkom nie, sy verdrink haarself in haar werk. Altyd besig, besig. Kop hoog, ken in die lug.

“Ek is piekfyn. Ons kan Skype of Facetime of wat mens ook al deesdae gebruik. Jy kan foto’s vir my stuur met WhatsApp of wat ook al. Dis net elf dae.”

“En wat van Willem?”

“Ouma Hebs het belowe sy sal met hom gaan stap, elke middag. Jy voer hom in elk geval te veel soetgoed. As jy terugkom, is hy sommer weer hups.”

* * *

Salome wou vrek van jaloesie.

“Parys! Die stad van lig en liefde! O, ek wens ek het ook ’n ryk ouma gehad!”

Maar Emma was min lus. Sonder haar beste vriendin? Hoe kan dit pret wees?

Net vyf ander kinders van haar skool gaan saam, en sy is nie maats met een van hulle nie. Drie van hulle ken sy skaars. Die skool is groot en dis maklik om net van ver af van iemand te weet, veral as julle nie ’n klas deel of saam sport doen nie.

Van die ander twee meisies weet almal in die skool.

Tombisa Alemayehu is nogals iets. Daar is haar hare: ’n yslike bos vlegseltjies wat sy elke dag in ’n ander formasie rangskik. Almal is jaloers op daardie hare: so anders, so eksoties. Daar is haar houding: regop soos ’n kers. Sy sweef rond in die skoolgange soos ’n model wat met ’n boek op haar kop rondloop, haar dikraambril op die punt van haar neus. Die onderwysers hanteer haar asof sy ’n Afrika-prinses is (haar ma is blykbaar ’n diplomaat iewers in Wes-Afrika). Sy kan vyf tale vlot praat.

“Hoekom wil sy saamgaan?” het Clarissa gesnou. “Haar Frans is dan perfek!”

Clarissa is die ander meisie van wie almal weet. Die klas se flerrie, ’n blonde bom wie se skoolrokkie altyd ’n aks bo die voorgeskrewe lengte sit. Sy word konstant omring deur haar gevolg Barbie-nabootsers, ’n giggelende maskarabende. Met ’n spul swaapagtige seuns wat om hulle draai soos brommers om ’n trop perde. Sy beroem haar op ’n kas vol ontwerpersklere en het ’n tong soos Tabasco.

Clarissa was natuurlik eerste om haar naam op die toerlys te skryf.

“My pa het belowe hy sal my genoeg sakgeld gee om te shop tot ek drop. En die nagklubs in Parys is blykbaar smoking!”

“Ek dink nie klubs is op julle itinerary nie,” het Salome bitsig gesê. “Die Louvre, ja. En sewentig ander museums. Juffrou Lategan sal julle nooit onder haar ysterklou laat uitglip nie.”

As Salome maar kon saamgaan! Sy weet altyd wat om te sê. Maar sy het nie Frans as vak nie. En boonop sal haar ouers nooit hul enigste dogter saam met ’n trop hiënas aangetrek soos skoolkinders na die vreemde stuur nie (haar ma se woorde).

Juffrou Lategan, die Frans-onderwyseres, is Emma se heel laaste keuse vir ’n chaperone. Want juffrou Lategan is vir seker weird. Salome reken sy kort net ’n man in haar lewe, maar volgens Emma sal die manier waarop Lategan aantrek, en haar gewoonte om in ’n beswyming te gaan oor die simpelste gediggie of blommetjie, enige normale man deur die klankgrens laat bars so vinnig sal hy weghol.

Emma het nie eens die program behoorlik gelees nie, net haar kanse bereken om die toer te oorleef:

•Sewentien kinders van verskillende skole in die Kaap en Gauteng.

•Vier onderwysers.

•Elf dae in Parys.

•Dis darem somer in Europa.

Die slegste is dat sy op haar eie moet gaan. Sonder Salome. Sonder Mathew, die liefde van haar lewe, al weet hy dit nie. Sonder Willem, en ouma Hebs, en sonder haar ma.

“Grootword is ’n eenrigtingstraat,” het ouma Hebs gesê. “Jy kan nie omdraai nie, Emma. Vorentoe! En dis tyd dat jy so ’n entjie alleen gaan loop. Wie weet watter avonture daar op jou wag?”

Maar dit voel soos ’n verbanning. Sy wil bly. Tog, ’n klein stukkie van haar hart wil ook gaan. Dalk, net dalk, sal alles anders wees as sy terugkom.

Elf dae in Parys

Подняться наверх