Читать книгу Lente in die najaar - Elsa Rall - Страница 4

~ 1 ~

Оглавление

Dorothea sit op die kinders se ou swaai onder die groot akkerboom in die agterplaas. Sy sit half versigtig, want sy is nie seker of die swaai nog haar gewig sal dra nie. Dis ook baie lanklaas dat iemand hier geswaai het en die hele agterplaas toon tekens van agteruitgang.

Die kinders is groot en landuit. Albei het hulle heil en fortuin in die buiteland gaan soek en is op die oomblik nog salig onbewus van die familieverwikkelinge hier aan die tuisfront.

Sy trap met haar een voet in die sand vas en gee die swaai effens momentum. Sy het dadelik toe sy by die huis kom haar netjiese klere uitgetrek en sit nou kaalvoet in haar gemaklikste ou huisrok en neem haar lewe in oënskou.

Die skeisaak is ongelooflik vinnig afgehandel. Sy was skaars twee minute in die getuiebank en het net twee vrae beantwoord, toe die regter sê dat die ooreengekome skeibrief ’n uitspraak van die hof gemaak word en dus nou wettig is. Met ’n kopknik in haar rigting is die afgelope twee-en-twintig jaar onder die mat ingevee. Haar oorheersende gevoel is een van verligting. Sy het geen idee wat sy nou gaan doen nie, maar ten minste is sy vry om self te besluit.

Sy was amper agtien en pas klaar met skool toe sy Werner by ’n vriendin se verjaarsdagpartytjie ontmoet het. Hy was al in sy twintigs en ’n werkende man. Baie aantreklik, en vir haar die verpersoonliking van die sterk, manlike tipe wat in al die liefdesromans beskryf word as die ideale een.

Sy was nog in die proses van werk soek, want vir verder leer was sy glad nie lus nie. Sy was die eerste om te erken dat wanneer dit by skoolwerk kom, sy nie van die fluksste was nie. Die meeste skoolverslae oor haar het gemeld dat sy ’n goeie brein het wat sy nie ten volle benut nie. Nóú weet sy natuurlik dat haar brein destyds in ’n totale toestand van onbruik verkeer het – dis net haar hormone wat aktief was.

Werner het haar van haar voete af gevee en binne twee maande was hulle verloof. Haar ouers het dit teen hulle sin maar gelate aanvaar, want haar eie kop sou sy in elk geval volg. Dit was o so romanties dat Werner beslis verklaar het dat sy vrou nooit sal hoef te werk nie, want hy sal sorg en die besluite neem.

Sy snork onvroulik en trap vas dat die swaai kan ophou beweeg, want sy voel sy gaan naar word van die gewieg. Ook maar goed, want die toue gee net mooi op dié spesifieke oomblik die gees. Sy beland met ’n skok op haar sitvlak met swaai en al, die twee toue wat soos woedende slange krul en val en om haar kop en lyf tot ruste kom. Sy bly sit in ’n hopie, plat op die aarde. Dis stellig simbolies, want sy het net so vinnig moes afkom aarde toe nadat sy en Werner kort voor haar negentiende verjaarsdag voor die kansel ewige trou aan mekaar beloof het.

Sy het toe wel nooit gewerk nie. Altans, nie buite die huis nie. En besluite hoef sy ook nooit te geneem het nie – hy het dit eenvoudig nie geduld nie. Sy woord was wet en klaar.

Aan die begin het sy blymoedig die huiswerk self gedoen in hulle klein woonstel en met liefde vir haar heer en meester die heerlikste etes gekook. En alleen ná ete die kombuis aan die kant gemaak sodat hy rustig voor die televisie kon ontspan. Selfs toe sy hoog swanger was met Werner junior, kon sy geen hulp van hom verwag nie, want die hoof van die huis was verhewe bo alledaagse take.

Terwyl sy nog in die hospitaal was met klein Werner se geboorte, het manlief hulle meubels laat verskuif na hierdie groot ou huis in die voorstad. Hy het dit vir ’n appel en ’n ei bekom, want dit het opknapping nodig gehad. Deur die jare is die opknapping wel gedoen, meestal deur haar, want Werner was suinig, byna ongelooflik suinig. Hy het geweier dat sy ooit ’n huishulp aanstel, want dit was geldmors.

Selfs toe Anke skaars ’n jaar ná klein Werner gebore is, moes sy steeds alles alleen doen. Gelukkig het sy teen daardie tyd al iewers ’n goedkoop tweedehandse wasmasjien bekom, sodat sy darem nie meer die doeke met die hand moes was nie. Die huis was steeds met net die allernodigste gemeubileer, en die kaal houtvloere in die vertrekke het haar met hol klanke gespot oor haar onrealistiese drome.

Sy het mettertyd geleer om met die minimum klaar te kom sodat sy darem so ’n bietjie van die huishouding se toelaag kon afknyp om te spaar vir nuwe gordyne of ’n los mat hier en daar. Sy moes letterlik van elke sent rekenskap gee, en met die twee groeiende kinders het dit baie dae klippe kou gekos om hulle pa te oortuig dat sekere dinge eenvoudig gekoop móét word.

Hy het darem aan die begin die voortuin met gras beplant, en gelukkig was daar ’n hele paar gevestigde bome, sodat die tuin nooit te sleg vertoon het nie. Die gras moes sy en klein Werner maar later self sny om dit netjies te hou.

Die kinders was al albei tieners voor sy aan haarself erken het dat sy Werner lankal nie meer liefhet nie en nog minder respekteer. Hulle het nie juis rusie gemaak nie, want sy het baie vinnig geleer dat dit vrugteloos is om met haar man te probeer argumenteer of hom van ’n oortuiging te laat afsien. Hy het hom min aan die kinders gesteur en eintlik net van hulle bestaan kennis geneem wanneer hulle een of ander prestasie behaal het waarmee hy kon spog. Hy was koud, liefdeloos en byna ongelooflik selfgesentreerd. Hy het gelukkig ook min erg gehad aan die fisieke sy van die huwelik, want sy het later glad nie meer daarvoor kans gesien nie.

Sy en die kinders het ’n hegte verhouding, en gelukkig was beide eintlik maklike tieners. Daar was min van die storm-en-drang waaroor haar paar vriendinne so kon kla, maar al twee kon nie wag om uit die huis pad te gee toe hulle klaarmaak met skool nie.

Die gedagte om Werner te verlaat en haar eie potjie te probeer krap het baiekeer sy kop uitgesteek, maar dit was prakties net nie moontlik nie. Sy was vir niks opgelei nie en ook nie meer jonk nie, en haar kinders was darem taamlik versorg en geborge.

Dat die kinders wel deeglik bewus was van die feit dat haar lewe allesbehalwe maanskyn en rose was, het klein Werner duidelik laat blyk toe hy eendag in sy matriekjaar ewe droog verklaar: “Ek wonder nog al die jare wat Ma in die ou drel gesien het om met hom te trou.”

“Dis jou pa, my kind!” het sy hom vermaan, maar sy kon nie help om te lag nie, want sy het baie dae self gewonder. Sy het weer begin dink dat wanneer Anke eers uit die huis is, sal sy ’n “move maak”, soos die kinders sê.

En toe spring hy haar voor! Twee maande gelede het Werner een middag vroeg huis toe gekom, en terwyl hy sy eerste koppie koffie by die kombuistafel sit en drink, het hy ewe rustig maar beslis verklaar dat hy ’n egskeiding wil hê.

Sy was uit die veld geslaan, hoewel hulle lankal nie meer regtig as man en vrou saamgeleef het nie. Hy het baiekeer in die stad oorgebly wanneer hy laat moes werk, maar sy het nooit vermoed dat daar ’n ander vrou is nie, daarvoor was hy te passieloos. Nou moes sy uitvind dat hy al vyf jaar gelede ’n woonstel in die stad gekoop het en nogal heelwat daaraan bestee het om dit so gerieflik as moontlik vir hom in te rig.

Hy het bloot bygevoeg dat sy prokureur haar sal kontak, want hy wil die saak so gou moontlik en met die mins moontlike teenkanting afgehandel hê. Toe het hy fluit-fluit uitgestap om te gaan stort. Sy kon maar net bly sit en haar kop in verwondering skud.

Sy het toe vir die eerste keer in baie jare haar eie kop gevolg en self ook ’n prokureur se raad gaan vra met Werner se dagvaardiging in haar sak. Sy was eintlik bereid om alles net so te aanvaar om die saak so gou moontlik afgehandel te kry, maar het darem gevoel dat hy beter as net twee studiepolisse vir die kinders voorsiening moes maak.

Sy was hoogs verbaas om te hoor dat sy die ou huis kon kry, seker omdat hy die tweede eiendom as sy tuiste beskou. Sy het darem ook ’n ryding wat haar eie is – al twaalf jaar gelede tweedehands gekoop ná maande se gewroeg deur Werner of dit regtig noodsaaklik sou wees om die kinders na en van al hulle aktiwiteite te vervoer.

Die goedige ou prokureur het haar ingelig dat hy Werner ken en dat hy ’n báie ryk man is. Volgens die prokureur was sy beslis geregtig op ’n groter deel van sy fortuin as wat hy blykbaar bereid is om af te staan, veral aangesien hý die een is wat die egskeiding wou hê. Sy wou eintlik niks van hom hê nie, maar die prokureur het haar oortuig dat sy ten minste ’n billike bedrag vir haarself moes eis, al gebruik sy dit net vir noodgevalle.

En toe het sy eers regtig oor die saak begin dink en besef dat sy gruwelik afgeskeep en misbruik is al die jare; dat sy vir minder as die karigste minimumloon feitlik soos ’n slaaf moes werk. Sy het die prokureur opdrag gegee om soveel as moontlik vir haar te beding. Hy het haar ook aangeraai dat sy Werner moes dagvaar, omdat dit die bedinging sou vergemaklik.

Sy het nie een van die sessies bygewoon nie, maar die ou kêrel ken blykbaar sy storie, want Werner het uiteindelik ingestem tot ’n stewige eenmalige bedrag vir haar en voldoende voorsiening vir die kinders. Hy het kort ná sy aankondiging permanent in sy woonstel ingetrek en sy het hom nie weer gesien nie. Ook nie eens vandag by die hof nie.

Hier waar sy nou plat in die stof van haar eie agterplaas sit, lyk haar toekoms bra dynserig. Maar een ding staan soos ’n paal bo water: geen man sal ooit weer die voorreg hê om namens haar besluite te neem of haar voor te sê wat om te doen nie. Sy het die reg verdien om op haar eie twee bene te staan … as sy nou net hier kan opkom!

Dorothea skink ’n tweede koppie tee en trek ’n stuk papier nader om haar planne en opsies neer te skryf.

Hier wil sy nie langer bly nie, so die eerste ding om te doen is om die huis in die mark te sit. Sy sal stellig taamlik ver kom met haar deel uit die egskeiding, maar sy weet sy moet gaan werk, anders sal sy kens raak. Dus ook ’n ander blyplek soek, maar dit sal afhang van watter werk sy kry en waar.

Laasgenoemde is natuurlik die éintlike kwessie. Sy het tik en boekhou op skool geneem, maar wat sy daarvan onthou, is gevaarlik. Deesdae is boekhou nou ook ewe deftig rekeningkunde. Wat kán sy doen? Sy kan kos kook en klere maak en ’n huishouding op die spreekwoordelike skoenveterbegroting aan die gang hou … Maar dit wil sy nóóit weer doen nie. As dit van haar afhang, loop bly sy nou in ’n hotel en lewe van kamerdiens!

Sy kry lag vir haarself en staan op om haar gesig in die spieël in die gang te gaan bekyk. Sy sal beslis iets omtrent haar voorkoms moet doen, want soos sy nou lyk, sal niemand sweerlik belangstel om haar vir enigiets aan te stel nie.

Gelukkig het sy nie probleme met haar gewig nie; sy weeg nog feitlik dieselfde as die dag toe sy getroud is. Dis haar gesig en hande en hare wat skreiend afgeskeep is en wat aandag op ’n groot skaal vereis.

Sy besluit om na die naaste kafee te stap en ’n koerant of twee te koop, net om ’n idee te kry van die soort werk wat beskikbaar is. Sy hoef nie ’n vreeslike groot salaris te verdien nie, dit moet net ’n werk wees wat haar uit die huis wegneem en weer ’n slag tussen gewone, normale mense laat beweeg.

Lente in die najaar

Подняться наверх