Читать книгу Lente in die najaar - Elsa Rall - Страница 9

~ 6 ~

Оглавление

Theuns sit die pen neer en haal sy bril af om sy oë te vryf. Hy bly ’n paar oomblikke so sit met sy kop in sy hande.

Hy weet nie wat hom besiel het om die vroumens te vra om die werk te tik nie. Van sy studente sou maar te dankbaar en gewillig gewees het om dit te doen. Hy het nou sweerlik ’n lat vir sy eie bas gesny. Sy is heeltemal te gou om haar mening te lug en hom met veroordelende oë aan te kyk. Dis baie sprekende en mooi, warm bruin oë, omraam met kort, digte swart wimpers …

Hy tel stadig sy kop op. Dis die eerste vrou se oë, en eintlik alles omtrent haar, wat hy werklik raaksien na Sonet. Daar is iets omtrent haar wat sy aandag vasgevang het: ’n lewendigheid, ’n amper uitdagende “ Vat my soos ek is, of laat staan” wat hom prikkel.

En hy wíl nie so voel nie! Dit het hom byna vier jaar geneem om gewoond te raak daaraan om weer alleen te wees, en dis maar eers van onlangs af dat die leemte nie meer so fel is nie. Hy sien eenvoudig nie kans om weer iemand naby aan hom toe te laat nie. Om die risiko te loop om van voor af seer te kry nie.

Hy skud verdwaas sy kop. Waar gaan sy gedagtes nou heen? Dorothea de Waal gaan bloot sy verhandeling tik. Hy sal haar heel waarskynlik selde te siene kry, indien ooit. En dit sou in elk geval nie ’n goeie idee wees om een spesifieke student te vra om die tikwerk te doen nie. So sy besluit was tog die regte een; hy hoop net sy kan die werk doen.

Hy wil net weer begin werk toe hy besluit om eers te gaan kyk wat Gerhardus doen. Hy wéét hy moet eintlik meer aandag en tyd aan sy seun bestee, maar dis net soveel makliker om die seer op die agtergrond te skuif wanneer hy hom in sy navorsing verdiep.

Dorothea sien glad nie haar omgewing raak terwyl sy terugry nie. Haar gedagtes spring half onsamehangend rond en toe sy by die huis stilhou, gaan sy nie eers in nie. Sy stap reguit oor na Ellen se huis, waar sy hoop om ’n bietjie helderheid te kry. En waar sy weet praktiese, plat-op-die-aarde-insigte altyd gegee sal word.

Ellen maak die deur oop nog voor sy kan klop.

“Hallo, vriendin! Wat was so belangrik op ’n Sondagmiddag dat jy nie eens kon kom groet nie?” Sy wag nie op ’n antwoord nie, maar omhels Dorothea en trek haar by die deur in.

“Kom, die tee het nou net genoeg getrek. Koos het ’n ent gaan stap om sy litte te rek, so ons kan lekker skinner.”

Dorothea lag en voel hoe haar stywe nekspiere skietgee. Ellen het nog altyd dié uitwerking op haar gehad en hulle verstaan mekaar besonder goed.

“Het julle lekker gekuier? Dit klink so. Ek is baie bly julle is terug, ek het al erg begin verlang.”

Sy trek ’n stoel uit en gaan sit by die kombuistafel terwyl Ellen die tee skink.

“Nou toe, vertel,” sê sy. “Is jy nou eindelik ’n geskeide vrou en weer jou eie baas?”

Terwyl hulle in die volgende halfuur die teepot leeg drink en nog vars tee maak, vertel Dorothea in die fynste besonderhede wat alles die afgelope ses weke met haar gebeur het. Sy moet dit só doen, want Ellen dring altyd aan op elke enkele detail.

Haar vriendin is verheug om te hoor dat Dorothea amper ’n halfmiljoen rand en die huis gekry het. Sy is egter minder bly dat Dorothea reeds die huis verkoop het, hoewel sy kan verstaan waarom dit vir haar nodig was om dit te doen.

“Jy sorg net asseblief dat jy nie te ver wegtrek nie. Ons moet ten minste nog twee maal per week kan kuier, anders sal ek dit nooit hou nie. Koos is ’n wonderlike man, maar nou nie juis die flinkste van gesprekvoerders nie, soos jy weet.”

Die agterdeur gaan oop en Koos verskyn. Hy is korterig en stewig, met ’n rooi borselkop en laggende blou oë.

“Ek draai my rug vir ’n halfuur, dan word daar van my geskinder. En dit ná ek hierdie ondankbare vrou die afgelope ses weke op die hande gedra het en altyd net gedoen het wat sy wou,” terg hy.

Hy loop om die tafel en soen Dorothea op die wang wat sy vir hom hou.

“Middag, Dottie. Dankie tog jy is nou hier om te luister. My ore is moeg!”

Dorothea lag. Die wonderlike verhouding tussen Ellen en Koos is die een ding wat haar nog altyd laat vashou het aan die geloof dat haar omstandighede nie noodwendig die norm is nie. Dat man en vrou tog in harmonie kan saamleef sonder dat die een die ander wil oorheers, en dat hulle ná jare van saamwees nog steeds beste vriende én geliefdes kan wees.

“Die ongeluk is dat sy binnekort sal moet trek, want sy het die huis verkoop. Wanneer moet jy uittrek? Jy kom natuurlik hier bly totdat jy ’n geskikte plek gekry het. En sy gaan vir ’n bedonsde professor of ’n ding sy verhandeling tik, want sy is nou rekenaargeletterd!” vertel Ellen al die nuus in een asem.

Koos trek ’n stoel uit en gaan sit by die tafel. Hy lig die teepot op om te voel of daar nog tee is en trek sommer Ellen se leë koppie nader.

“Wag, ek gooi net ’n bietjie kookwater by, dis nou seker te sterk,” sê Ellen en staan op om nog ’n koppie te kry. “ Wil julle nie iets eet nie? Hier is nog ’n bietjie padkosbeskuit oor.”

“Nee, dankie,” lag Dorothea. “Die ‘professor’ se seun het my so ’n groot stuk roomaffêre laat eet dat ek goed versadig is.”

Terwyl Koos sy tee drink, vra hy Dorothea uit oor die prys wat sy vir haar huis gekry het. Ook waaraan sy dink vir ’n ander blyplek en hoeveel sy wil betaal. Sy vertel hulle dat sy besluit het om ’n ander kar te koop, en vra Koos wat hy dink ’n goeie koop sal wees.

Hulle kuier lank en gemeensaam om die kombuistafel. Ellen meen Dorothea moet haar net nie aan Theuns Steyn se nukke steur nie. Sy moet eenvoudig kyk hoe sy vorder met die tikwerk en intussen begin aansoek doen vir ’n meer permanente werk.

Dis byna donker toe Ellen en Koos saamstap tot by Dorothea se tuinhekkie. Sy staan hulle ’n wyle en agternakyk terwyl hulle terugstap. Dis heerlik dat hulle tuis is. Dis die enigste ding wat sy gaan mis van haar lewe in hierdie huis: die feit dat sy enige tyd kon oorstap om ’n bietjie normaliteit te ervaar.

Die res van die aand pak sy met ’n plan in. Skoon gordyne en linne en handdoeke lê reg om in die bokse te kom. Die sit- en eetkamermeubels wat sy wil verkoop, skuif sy na een vertrek.

Teen elfuur is sy in die kombuis besig om te kyk waarvan sy ontslae kan raak. Daar is heelwat goed wat sy gemeen het om mettertyd aan haar kinders af te smeer, maar sy gaan nie daarmee trek nie en sy gaan dit ook nie langer opgaar nie. Alles wat sy nie absoluut weet sy weer gaan gebruik nie, moet weg. Miskien sal die meubelman daarin ook belangstel.

Sy stel uit om te gaan slaap, want sy is wawyd wakker en weet sy sal net lê en rondrol.

Eindelik, amper eenuur en ná ’n lang, warm bad, klim sy in die bed. Sy lees totdat die boek oor haar gesig neersak. Sy skakel die lig af en wil nog wonder of sy die tikwerk sal kan behartig, toe slaap sy vas en droomloos.

Lente in die najaar

Подняться наверх